Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: KATEGORIE: MOONTLIKLIKHEIDSVORMS 1: Moontlik is Alles

Deur Toom
Datum gepubliseer: 15 Junie 2017 Aantal woorde: 796 158 Kere gelees 3

MOONTLIK is Alles

As Daan maar net sélf kon gekies het, sou hy alleen die onvrugbare droë plaas met eie middels gekoop het. Maar soos dit nou maar is, het hy geen keuse gehad nie. Want, om die nodige geld in die hande te kry, moes hy die onmoontlikste vrou op die dorp trou — ‘n voorwaarde van sy vennoot, haar vader — anders sou hy waarskynlik dog nog op die ou end op sy neus geval het.

Deur te bereken of en hoever die kontantwaarde van die veestapel en die reën-/droogte- en ander klimaat-verhoudings, gepaard met… Ag, maar dit sou elke boer mos gedoen het. Blind sou niemand so ‘n kontrak aangegaan het nie. Dis net dat, ás jy die een of ander klein besonderheidjie sou misgesien het, sou die hele kaartehuisie om jou ore inmekaar kon tuimel. Blind moes hy gewees het. Nee, nie blind nie, maar ook nie alleswetend nie.

Want juis dít kon nou gebeur aangesien die hoë reënwolktorings hulle vrag op die uitgedorde aarde kon kom neerstort en alles wegspoel. Tot op die ouklip. Saam met die gebarste damwal. Die dongas. Die dinge wat hulle voor die volgende reën, vooruitsigtelik in twee, drie jaar, klaar en in orde wou gehad het. Dit alles kan gebeur mits die wolk nie oor hom weg verbytrek nog vóór dit sou aflaai nie. Óf uitdraai, wat nie waarskynlik is nie. Dan was sy droom maar net ‘n droom gewees en sou ‘n herinnering, ‘n meer-of-minder gure herinnering bly. Sy droom, hulle droom, om ‘n vakansieplaas met private wildreservaat, casino, gholfbaan te kon opbou. Uit die niet te kon opbou, so te sê.

Soos dinge nou staan, lyk dit asof al die masjiene en gereedskap wat onder in die groot donga staan en wag, weggespoel of minstens met slik toegespoel kan word. Dan was dit ‘n suiwere geldmorsbelegging, en om dit weer skoon te maak en te repareer en in stand te bring sou waarskynlik sy eie en skoonpa se kapitaal ver oorskry. Veronderstel hy self sou nog kapitaal hê, let wel.

En as die storm sou kom en alles sou wegspoel, alles sou vernietig, sou daar tog nog hoop vir die toekoms wees? Het hy nie sélf geweet waar hulle die boorgat moes aanlê nie? Waar die sterkste druk van onder en die beste natuurlike beskutting op die oppervlakte sou wees nie? Waaruit duisende-der-duisende kubiek kon spuit nie? Nouja honderde. Maandeliks, ja weekliks. Daar sou genoeg water wees vir ‘n hele paar jaartjies nadat ook hy in die ou begraafplasie uit toeka se tyd plek moes gaan inneem. Water om die dam te kan vul, nadat die wal herstel, versterk en verhoog sou wees. Om die marina te kan aanlê, die gholfbaan, die renbaan. Alles.

En die huisie hier? Tja, soos hy hier op die stoep staan en toekyk hoe die dreunende, dreigende blitsfront al hoe nader marsjeer, hoef hy nie alte bang wees dat dit nie kan standhou nie. Op ‘n klein hoogtetjie, hoër as die water kan aanstyg, en uit baksteen met stewige fondamente. Sou mos die ergste storm kan weerstaan. En as alle drome en planne werklik sou inmekaarstort, kon die huisie nog altyd skuiling bied vir ‘n jong paar wat ‘n boerdery wou aanvang. Klara lyk asof die plaaslewe haar beter sou pas as om ontvangsdame in ‘n miljoenêrsghetto te moet wees.

Hét sy nie opgebloei (Moet dit nie „oopgebloei” wees nie?) en almal gewys – veral haarself – dat sy ‘n prag van ‘n boerevrou sal kan word nie? Sou graag wil sien hoe sy in vyf of tien jaar haar man sal kan staan. Hier op die droë vlakte sonder krag en TV en inkopies om die hoek.

En hy self? Sal so ‘n stadsjapie hier in die wildernis, veraf van die wêreldse genot en gemak kan teregkom? Sonder ervaring, sonder opleiding, buiten die diploma van ‘n aandskool? Maar wat help dit nou, as die ergste sou kom? En ‘n sentimentele liefde vir die digkuns nie te vergeet nie. Sou ons só ons ‘n nasie kon bou? Maar sou dit nie ‘n uitdaging wees nie? Seker sou hulle swaarkry. Seker sal skoonpa iemand wil gaan aankla. Seker mag daar droë jare kom. Maar daar sou ja water wees! Wat die mense totnogtoe nie kon geweet het nie. En onderkant die donga kon mos spoelgrond ontstaan. Om te ploeg! Moontlik, moontlik. Alles is mos moontlik.

Uit die kombuis hoor hy, „Ko-offie!” en gaan na binne. Wie was dit nou weer, Opperman, Van den Heever? Moet by Digters en Digkuns gaan naslaan:

Met dof sware plof, soos koeëls in die stof, slaan die eerste druppels neer…

Ag, ja: Jan F. Celliers, „Die Vlakte”.

[Konjunktiewe – moontlikheidsvorms]

©.11e.Maart2017___ …ööÔöö… ___________.2013.tje

 




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 149
    Kommentaar telling: 148

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    2 Lede, 90 gaste aanlyn

    Bydrae Totale