Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Molshope

Deur Paula
Datum gepubliseer: 5 Julie 2017 Aantal woorde: 1951 48 Kere gelees 3

Molshope
“Moenie ‘n berg van ‘n molshoop maak nie”. Dis ‘n gesegde wat ons almal op skool geleer het. In elk geval dis wat ek geleer het rofweg twee jaar nadat die dinosourusse uitgesterf het toe ék op skool was.
Dis ‘n baie interressante gesegde. Vir die wat nie weet nie – dis wat jou ma gese het as jy ‘n gat so diep soos ‘n bomkrater in jou knie geval het en volgens jou die been net bokant die knie geamputeer moes word. Sy het dan Dettol in die gat gegooi, ‘n pleister daaroor geplak en vir jou gesê: “Moenie ‘n berg van ‘n molshoop maak nie. Hou op tjank en gaan speel.” Dit beteken dus moenie iets erger maak as wat dit is nie.
Nou, molshope kom in trappe van vergelyking voor. Molshope, molsheuwels en molsberge – nie die berge waarin hope gemaak word nie maar berge van die begin af.
‘n Molshoopsituasie kan soos volg beskryf word: Gestel jy is op pad na ‘n belangrike vergadering toe met ‘n paar grootkoppe. Terwyl jy op hoëhakskoentjies in die gang aftrippel mors jy swart koffie op jou nuwe wit sybloes wat spesiaal vir die okkasie aangeskaf is. Omdat jy baie modebewus is en ‘n goeie indruk wil maak het jy genadiglik die oggend ‘n swart ontwerperserp om jou nek gegooi omdat dit dan so mooi met die wit bloes kontrasteer. Behalwe vir die feit dat jy seker is jou bates is vir die res van jou lewe geskend deur die stomende koffie en jy ten minste tien veloorplantings gaan benodig, slaag jy daarin om die serp vernuftig te drapeer om die koffievlekke te verberg en die vergadering verloop sonder voorval. Jy het suksesvol daarin geslaag om nie ‘n berg van ‘n molshoop te maak nie.
‘n Molsheuwelsituasie is iewat moeiliker om te beskryf want van hier af raak dit ingewikkeld omdat die grense tussen hope, heuwels en berge bietjie kan oorvleuel, afhangende van die persoonlikhede van dié wat betrokke is. Hoewel die situasie hierbo beskryf vir party mense molsheuwels of –berge kan wees, veronderstel ons dat ons te doen het met die gemiddelde, toerekeningsvatbare volwassene. Dus, om terug te keer na die scenario hierbo: Gestel jy is op pad na ‘n belangrike vergadering toe met ‘n paar grootkoppe. Terwyl jy op jou hoëhakskoentjies in die gang aftrippel mors jy swart koffie op jou nuwe wit sybloes wat jy spesiaal vir die okkasie aangeskaf het. Terwyl die allerverskriklikste swetswoorde by jou mond uitborrel loop jy jouself trompop teen die grootste kop van almal vas wat op pad is na dieselfde vergadering as jy. Die koffie wat nie op die nuwe bloes gemors het nie, mors op sy deftige pak klere en boonop trap jy skeef sodat jy koffiebeker en al ‘n swaneduik binne-in sy arms maak. Gelukkig is hy ‘n lang, sterk man met ‘n sin vir humor en terwyl hy met ‘n vinnige beweging voel of jou bates nog op hulle plek is, plaas hy jou netjies terug op jou voete en vra vir JOU omverskoning omdat hy ingedagte was en jou nie gesien het nie. Jy drapeer die swart serp vernuftig en hy vryf halfhartig met ‘n spierwit sakdoek oor die koffiekolle wat glad nie sigbaar is op sy pikswart baadjie nie. Jy het nog ‘n paar minute om in die badkamer tot verhaal te kom voordat die vergadering begin. Die vergadering verloop sonder voorval. Molsheuwelsituasie suksesvol hanteer.
‘n Molsbergsituasie is ‘n situasie wat jou laat wens dat jy glad nie die betrokke dag uit die bed geklim het nie. Hier het ‘n mens senuwees van staal en uiterse wilskrag nodig om nie heeltemal te verkrummel in ‘n hoop aan die voet van die molsberg nie. Hou egter weereens in gedagte dat sekere persoonlikhede beter toergerus is as ander om sulke situasie te hanteer. Gestel jy is op pad na ‘n belangrike vergadering toe met ‘n paar grootkoppe. Terwyl jy op jou hoëhakskoentjies in die gang aftrippel mors jy swart koffie op jou nuwe wit sybloes wat jy spesiaal vir die okkasie aangeskaf het. Terwyl die allerverskriklikste swetswoorde by jou mond uitborrel loop jy jouself trompop teen die grootste kop van almal vas wat op pad is na dieselfde vergadering as jy. Die koffie wat nie op die nuwe bloes gemors het nie, mors op sy deftige ligbruin pak klere en boonop trap jy skeef sodat jy koffiebeker en al ‘n swaneduik binne-in sy arms maak. Ongelukkig is hy skaars groter as ‘n sesjarige kind en julle beland in ‘n onooglike knoop van arms en bene plat op die vloer terwyl sy kop met ‘n sieklike geluid op die teëls klap. Hy is so uit soos ‘n kers en jy is bang hy is dood. Jou enkel is pynlik verstuit en die eens hoë hak van een van jou ontwerperskoene is in drie stukke gebreek. Terwyl jy sukkel om orent te kom en dit oorweeg om mond-tot-mond asemhaling op die grootkop toe te pas begin hy snaakse rukbewegings maak en sy oë fladder oop. Hy kom steunend regop en vryf ‘n knop so groot soos ‘n eier op sy agterkop. Hy kyk onbegrypend na jou en jy sien hoe sy brein stadig die situasie opsom en sy gesig vertrek van woede. Jy weet sommer dat hierdie situasie nie gered kan word nie. Hy slaag daarin om op sy voete te kom en dan sien hy die toestand van die pak klere – oortrek met swart koffiekolle. Hy bulder vir sy sekretaresse oor sy selfoon om onmiddellik die vergadering te kanselleer. Al die ligamente in jou enkel is geskeur en jy spandeer drie pynlike dae by die huis om jou wonde te lek voordat jy met ‘n maanstewel weer teruggaan werk toe. Jou naam is modder in die maatskappy, die bevordering waaroop jy gehoop het is neusie verby en jy begin ander werk soek maar gelukkig teen daardie tyd het die grootkop afgekoel en die vergadering herskeduleer. Alles loop goed af en die ergste nadraai is dat jy nog ‘n paar maande moet wag op die bevordering.
Die oortreffende trap van ‘n molshoop het niks met hope, heuwels of berge te doen nie. Dit is ‘n molskernontploffing. Jy WEET onmiddellik en sonder enige twyfel wanneer dit gebeur. ‘n Hele kolonie molle word eensklaps hemelhoog die lug ingeblaas. Dit is net bloed, hare en molliggaamsdele wat in ’n sampioenwolk in die lug bokant jou kop uitdy en wanneer jy tot verhaal probeer kom, val alles in ‘n radio-aktiewe gemors op jou neer. So ‘n situasie het die potensiaal om die hele loop van jou lewe te verander. Dit is uiteraard baie moeilik om so ‘n situasie te beskryf maar, ter illustrasie, sal ek poog om dit hier te doen.
Gestel jy het ‘n belangrike vergadering met ‘n paar grootkoppe geskeduleer. Die aand vantevore sit jy die uitrusting wat jy beplan om te dra netjies bymekaar. Die nuwe wit sybloes wat spesiaal vir die okkasie aangeskaf is teen die helfte van ‘n maand se salaris gly luuks deur jou vingers en jy kan nie wag om dit aan te trek nie. Jou PowerPoint aanbieding is perfek op jou skootrekenaar en alles is in die haak. Jy maak ‘n lekker koppie Kamomiletee om jou te ontspan en klim vroeg in die bed om ‘n goeie nag se slaap te kry.
Gedurende die nag is daar ‘n kragonderbreking en jou elektriese radiowekker gaan nie af nie. Jou selfoon wat jy as voorsorgmaatreël ook gestel het was ingeprop by die muur en het dus ook nie gelaai nie. Die battery het deur die nag gesneuwel en daardie alarm het natuurlik ook nie afgegaan nie. Jy skrik ‘n hele uur laat wakker. Die krag is nog steeds af en dit beteken ‘n koue stort en hare wat nie met ‘n krultang onder beheer gebring kan word nie. Jy praat jouself moed in en probeer nie paniekerig raak nie. Jy bly vir jouself sê om nie ‘n berg van ‘n molshoop te maak nie maar die situasie is vinnig op pad na molsheuwelstatus.
Jy jaag teen ‘n ongelooflike spoed om klaar te maak en wanneer jy uiteindelik met jou nuwe wit sybloes in jou motor sit besef jy dat jy dit dalk nog betyds vir die vergadering gaan maak as jy alle snelheidsgrense oortree en miskien ‘n paar voetgangers die ewigheid inhelp. Wanneer jy die sleutel draai is daar net ‘n klikgeluid. Nou heeltemal vervaard draai jy die sleutel en gee petrol. Die kar begin brul soos ‘n vasgekeerde leeu en spring vorentoe, teen die motorhuismuur vas. Daar is nie tyd om uit te spring en die skade te besigtig nie. Jou motor ry nog en jy trek weg, wetende dat jy nou ten minste vyf minute laat gaan wees vir die vergadering. Die grootjie van alle verkeersknope wag op jou en terwyl die allervreeslike swetswoorde by jou mond uitborrel krap jy in jou handsak vir jou selfoon om die grootse kop te laat weet dat jy gaan laat wees vir die vergadering. Die kompartement waar jou foon gewoonlik slaap is leeg. Skielik onthou jy dat in jou haas en in die kerslig vanoggend jy vergeet het om jou selfoon en skootrekenaar in te pak. Daar is geen manier waarop jy in die verkeer kan omdraai huistoe nie en daar is geen manier om enige lewende siel te verwittig dat jy gaan laat wees nie. Die situasie het nou eskaleer tot molsbergstatus.
Jy daag uiteindelik bedremmeld en ontnugter ‘n uur en ‘n half laat by die kantoor op. Met die intrapslag kan jy aan die houding van die ontvangsdame sien dat hier vandag bloed gaan vloei …. joune. Sy lig jou in dat die grootste kop jou onmiddellik wil spreek. Jy besluit jy kan maar net sowel ‘n koppie swart koffie kry op pad na jou teregstelling toe. Terwyl jy op jou hoëhakskoentjies in die gang aftrippel mors jy koffie op jou nuwe wit sybloes. Die woorde wat by jou mond uitborrel sal ‘n matroos sy kop in skaamte laat sak. Jy loop jouself trompop teen die grootste kop vas wat vervaard in die gang afgestorm kom. Die koffie wat nie op die nuwe bloes gemors het nie, mors op sy deftige Italiaanse pak klere en boonop trap jy skeef sodat jy koffiebeker en al ‘n swaneduik binne-in sy arms maak. Hy pluk sy arms weg en gee ‘n paar tree agteruit. Jy slaan op die vloer neer, romp oor die kop, skoen se hak in drie stukke en enkel definitef gebreek. Jy probeer red wat te redde is en kry die romp af tot onder jou knieë. Die grootste kop se gesig is ‘n gevaarlike pers kleur en hy is so kwaad dat hy geen word kan uitkry nie. Sy adamsappel beweeg op en af maar geen geluid kom by sy mond uit nie. Jy wil flou word van die pyn en gee nie meer ‘n snars om watse kernafval op jou neerrëen nie. Die ontvangsdame kom in die gang afgehardloop en gee een kyk na die petalje. Jy gil vir haar om ‘n ambulans te bel – eerstens vir jou gebreekte enkel en tweedens omdat jy oortuig is die grootste kop is besig om ‘n hartaanval te kry.
Jy spandeer ‘n week in die hospitaal. Jou enkel word met metaalpenne weer aanmekaargeflans en jy begin soek vir nuwe werk. Jy dink daaraan om onder ‘n skuilnaam by ‘n familiesupermark op ‘n klein dorpie ‘n kasregister te gaan slaan.
Jy weet in jou hart jy het ‘n molskernonploffing oorleef en as jy dit kan oorleef kan jy alles oorleef en nooit, maar nooit, sal jy weer ‘n berg van ‘n molshoop maak nie. Die lewe is te kort en mens se senuwees te kosbaar.




  • TEMAS
    5 Kommentaar
    1. profiel foto van Koekekranka

      Koekekranka

      Julie 6, 2017

      Soms ongelooflik hoe mens vermoeid word om te lees, te luister en om end-uit behoorlik te versaan tot op die einde! En hier kom jy in my na-dag en filosofeer die wete wat ons almal van weet maar skandelik nalaat: Die lewe is kort… Inderdaad!
      Baie. baie dankie vir hierdie puttige vemaning!

    2. profiel foto van Paula

      Paula

      Julie 7, 2017

      Baie, baie dankie dat jy tyd gemaak het om dit te lees en dankie vir die positiewe terugvoer.

    3. profiel foto van Toom

      Toom

      Julie 10, 2017

      Daar’s woorde wat ek ook versamel, om in ‘n taaltirade daaroor los te brand.
      Dankie vir die aanwysing hóe om met sulke dinge om te gaan!
      Baie mooi, baie presies, baie humorvol — en dis waarskynlik wat die belangrikste is.
      Nogmaal dankie.
      GvT

    4. profiel foto van Paula

      Paula

      Julie 10, 2017

      Baie dankie! Bly jy het dit geniet. Is dit nie heerlik om met woorde te speel nie?

    5. profiel foto van Jaco M

      Jaco M

      Julie 13, 2017

      Haha berge van vergelyking.
      Goed geskryf – jy moet een doen oor koppe in byneste ook 😂

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Paula

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 2
    Kommentaar telling: 5

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 74 gaste aanlyn