Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Memories are made of this

Deur Barbara
Datum gepubliseer: 17 April 2017 Aantal woorde: 191 92 Kere gelees 5

Memories are made of this

So maak die blêrkassie ons Sondae wakker
“Alle volke loof die Here” weergalm in die huis
van Mamma en Pappa se kamer af
dwarsdeur tot in die kombuis

Pappa bring koffie vir almal in die bed
Mamma druk die hoender in die oond
Pappa vra of ek my versie ken
oë kamstig kwaai, maar dit is ek gewoond

en ons drie tittewy en teeze en tof
sykouse en haai-polfaais en al daai goed
ag en ons maak beurte om dikbek te wees
want in die Dopper kerk dra meisies mos hoed

na kerk lees ons almal saam die Rapport
boude en blaaie oor die sitkamervloer gesaai
lees oor Ben en Babsie en die Skim
daarna die blokraaisels in die Slingervel getry

tafel gedek met lapservette en ‘n spierwit doek
en Pappa heel ernstig as hy die seën vra
dan geniet ons die bruingebakte hoender
en ingelegte vrugte met lekker dik vla

en Sondagmiddag as die grootmense rus
speel ons Strauss se walse en Echoes of Budapest
op Mamma se plate geballet, gedans en gedirigeer
so kosbaar die beeld in my hart inge-ets.

© Barbara Smit – 13/4/2017




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. Charlie Graham

      April 19, 2017

      Heerlike herinneringe! Alle volke loof die Here was tot nou toe een van my gunsteling programme en het my dikwels amper laat gemaak vir kerk as daar nog iets moois speel as ons al by die kerk stilgehou het! Sien sommer die “outydse” prentjies van sixties/seventies gesinne in my gedagtes. Goed geskryf met goeie rym en ritme.

    2. profiel foto van Barbara

      Barbara

      April 19, 2017

      dankie! Jip dit was heerlike tye 🙂

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Barbara

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 81
    Kommentaar telling: 41

    Gebruikers Aanlyn

    3 Lede, 47 gaste aanlyn