Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: MEISIE MET DIE VIOOL

Deur neels
Datum gepubliseer: 9 Maart 2017 Aantal woorde: 2007 191 Kere gelees 1

Dit het na vioolmusiek geklink wat vanuit die solder gekom het net nadat Braam Eksteen die Land-Rover se masjien voor die ou opstal afgeskakel het. Feitlik dadelik hou die musiek op en na n paar oomblikke verskyn n aantreklike donkerkop met n spierwit rok, soom net bokant die knie, en n viool in die hand in die solderdeur om die Land-Rover aandagtig te beskou.

Braam voel sy hart mis n slag want vir hom is dit die mooiste wese wat hy nog aanskou het. Toe sy stadig die trappies afgestap kom voel Braam hoe n warm gloed in sy wange opstoot. Dit is of elke beweging wat sy maak, terwyl sy die trappe afkom, in hom inbrand en hom verlam laat.

Dit is eers toe sy voor die Land-Rover se deur staan wat Braam tot sy sinne kom en die Land-Rover se deur oopstoot om stadig uit te klim. Braam staan voor die meisie en steek sy hand uit: “Braam Eksteen”.

Toe sy haar hand in Braam se hand lê voel dit vir hom of die bloed soos resiesperde deur sy are jaag en hoor hy skaars haar: “Annelie Compaan en waarmee kan ek Braam Eksteen help”.

In n paar oomblikke neem hy die deurdringende swart oë wat deur hom kyk en die volmaakte figuur in. Die spierwit tande wat haar vol sensuele rooi lippe vertoon laat hom voel of sy bene onder hom gaan ingee maar dan ruk hy homself reg.

“Ek het toevallig deur die dorpie gery oppad see toe op my jaarlikse vakansie toe hierdie ou opstal my aandag getrek het. Mens sien nie meer hierdie tipe ou huise met n opstal in n dorp nie en het ek gestop om die huis te bewonder toe ek jou pragtige vioolmusiek uit die solder hoor kom. Ongelukkig kon ek nie verder luister nie want die engel wat die viool gespeel het het opgehou speel”, kry Braam dit uit.

Annelie betrag die aantreklike donkerkop man deeglik voor sy antwoord “Mmm het jy gehou van die bietjie wat jy gehoor het meneer Eksteen”.

“Baie, ek wens ek kan nog meer hoor. Ek is versot op viool musiek, veral ligte klassieke musiek, en terloops die naam is Braam”, antwoord Braam.

“Nou maar kom in Braam, dan maak ek vir ons bietjie koffie en dan speel ek n bietjie vir jou. Ek kan nie dat n bewonderaar van my musiek teleurgesteld verder reis sonder om aan sy begeerte te voldoen nie”, antwoord Annelie terwyl sy Braam aan die arm neem en saam met hom huis toe stap.

Die paadjie na die huis toe is kort met klein grasperkies weerskante en vrolike Afrikanertjies weerskante van die paadjie.

Terwyl hulle deur die huis stap raak Braam bewus van die outydse atmosfeer wat in die huis heers. In die gang hang ou familie portrette en die blink gepoleerde plankvloere kraak onder hulle voete. Die ligkandelaar in die gang is n pragtige outydse kandelaar in die vorm van die outydse kandelaars wat tot die atmosfeer bydra.

In die kombuis nooi Annelie hom: “Sit sommer hier by my by die tafel terwyl ek vir ons koffie maak Braam dan vertel jy my meer van jou. Ek is n vreeslike nuuskierige mens”.

Terwyl Annelie die ketel kook en by die kombuiskas staan, met haar gesig na Braam toe, begin hy vertel: “Daar is nie veel nie Annelie. Ek is maar n stadsjapie wat naweke platteland toe vlug want ek lewe in die wye natuur. Daar vind ek verkwikking vir my siel na n week se geswoeg agter tekenplanne van geboue want ek is n argitek van beroep. Ek is nou oppad see toe vir my jaarlikse vakansie”, som Braam sy lewe in kort op.

Die ketel kook en Anelie draai om terwyl sy vra: “Hoeveel suiker en melk Braam?

“Twee suiker en bietjie melk en dit is nou Annelie se beurt om meer van haar te vertel”

Vir n paar oomblikke staar Annelie deur die kombuisvenster terwyl sy vir hulle koffie maak sonder om te antwoord. Klaar koffie gemaak draai sy om en sit Braam se beker voor hom neer. Sy gaan sit aan die oorkant van die tafel en neem haar koppie op.

“Ek is maar n eenvoudige meisie. My ouers is twee jaar terug in n motorongeluk dood en ek het lewendig uitgekom. Ek het as enigste kind alles gekry. Die plaas verhuur ek vir n inkomste en bly hier in ons dorpshuis”.

Annelie sit haar koppie neer nadat sy n sluk geneem het en gaan aan: “Ek is maar n alleen mens en hier kom nie mense nie. Ek dink ek is in hierdie dorpie bekend as n kluisenaar maar ek gee nie om nie, hier leef ek my uit in my eie wêreld”.

Braam se nuuskierigheid is nou geprikkel: “Maar hoekom op die solder speel”.

Annelie glimlag en staan skielik op nadat sy nog n sluk koffie geneem het: “Kom ek gaan wys jou iets”.

Braam volg haar terwyl sy hulle by die huis uitlei en teen die soldertrappe op. Toe hy in die solder kom bly hy verbaas staan, dit is n volledige skilder ateljee met twee groot skilderye wat half voltooi teen n muur staan en een op die esel wat sy seker nie lank mee besig is nie.

Braam gaan staan voor die half voltooide skilderye. Die een is van n windpomp wat op die Karoovlaktes staan en die ander een is n portret van n meisie langs die see wat teen die ondergaande son staan met die sonlig wat haar vroulike lyne beklemtoon.

Dit is veral hierdie skildery wat Braam se aandag trek en besluit hy op daardie oomblik hy wil hierdie skildery hê as dit klaar is.

Hy draai om na Annelie toe: “Ek wil hierdie skildery koop as dit klaar is Annelie. Jy skilder ongelooflik mooi”.

Annelie glimlag: “Jy kan hom koop Braam, met plesier, en noem sy die prys”.

Braam voel n oomblik hy raak lam, dit is n duur prys maar dan knik hy sy kop vir Annelie: “Dit is reg. Ek sal jou my kaartjie gee dan kan jy my skakel as dit klaar is en ek kan dit kom haal. Maar nou vir daardie beloofde vioolmusiek”.

Hulle verlaat die solder en nooi Annelie hom in die sitkamer in: “Kom sit ek gaan net gou my viool haal”.

In die paar minute wat Annelie weg is beskou Braam die sitkamer. Teen die mure hang twee groot landskapskilderye, duidelik Annelie se werk. Die sitkamerstel is outyds en n stewige stel van hout gemaak met leerkussings van donkerbruin.

Toe Annelie terugkeer met haar viool sit Braam reeds in een van die stoele. Sy gaan sit regoor hom, knyp die viool onder haar ken vas en laat die strykstok op die snare rus: “Ek gaan vir jou een van my geliefkooste stukke speel. Franz Lehar se Wolgalied wat die verhaal van n Kossake soldaat vertel wat huis toe verlang”.

Vir Braam is dit of hy begin sweef saam met die musiek. Hy sluit sy oë en vertrek in sy gedagtewêreld saam met Annelie na n ander dimensie op maat van die musiek. Hy raak naderhand bewus daarvan dat sy Strauss se Verhale van die Weense woude speel. Annelie gly van die een lied na die ander oor op haar viool en skrik hy uit sy droomwêrel wakker toe hy in die gang die ou staan horlosie vyf slae hoor slaan.

Toe hy vervaard opvlieg kyk sy hom aan terwyl sy die strykstok vir laas oor die snare laat stryk.

“Kyk waar loop die tyd. Ek wou vanaand langs die see gaan slaap het maar ek sal nou n gastehuis moet gaan soek en daar oornag want dit is nou te laat om om verder te ry”, sê Braam terwyl hy opstaan.

Annelie sit haar viool neer en staan ook op: “Ek het n beter voorstel. Hier is baie slaapplek in hierdie huis en jy kan hier by my oornag. Dan maak ek vir ons n lekker ete, kuier n bietjie en gaan slaap dan. Ek geniet dit saam met jou Braam Eksteen en gaan nou selfsugtig wees en nog bietjie van jou tyd steel”, antwoord Annelie in n toon wat Braam laat besef dat sy nie nee vir n antwoord gaan aanvaar nie.

“Nou maar goed ek dink ons kan gerus die aand saam geniet want daar is niks wat my jaag nie. Dan kan jy vir my nog bietjie speel want ek is versot op jou musiek”, antwoord Braam met n glimlag wat Annelie se hart laat smelt.
“Deal. Gaan trek jou Land-Rover in die stoor terwyl ek gou vir ons n ete aan mekaar slaan. Ek wil nie dat die mense nou verkeerd van die kluisenaar meisie begin dink nie”, is Annelie se antwoord terwyl sy Braam aan die arm tot in die kombuis stuur waar sy die sleutel van n hak afhaal en aan Braam oorhandig.

Braam gaan trek sy Land-Rover in die stoor langs Annelie se Isuzu in, gryp sy tassie en is in n japtrap terug waar Annelie reeds met aand ete besig is. Sy gaan wys vir Braam die spaarkamer met die uitnodiging: “Gaan stort en vat jou tyd. Ek gaan n rukkie besig wees”.

Nadat hy gestort het gaan sit Braam in die sitkamer en wag vir Annelie wat seker ook gaan stort en aantrek het terwyl die kospotte op die stoof prut. Die heerlike geur van boerekos sweef deur die huis.

Na wat vir Braam soos n ewigheid gevoel het verskyn Annelie in die sitkamerdeur. Geklee in n spierwit aandrok met n lae hals wat haar stewige borste beklemtoon is sy prentjiemooi. Sy het eenvoudige oorkrabbertjies aan met n halssnoer van klein tieroogklippies om haar nek. Toe sy die sitkamer instap lyk dit of sy sweef en nie loop nie. Braam kan homself nie keer nie en toe sy na hom aangestap kom staan hy op en neem haar hand om haar langs hom op die bank neer te trek.

“Jy lyk asemrowend mooi Annelie”, is al wat hy kan uitkry.

Vir n oomblik lê sy haar kop op sy skouer neer: “Ek het baie lanklaas myself mooi gemaak vir iemand en het vanaand net die behoefte gehad om my vir iemand mooi te maak. Kom saam dan help my gou n romantiese tafeltjie dek en dan eet ons by kerslig”.

Braam help Annelie in die eetkamer om tafel te dek en kan hy sy oë nie van haar afhou nie. Die aandete, bestaande uit skaaptjops en groente, gaan heerlik af saam met n bottel Hanepoot wyn Annelie uit haar kas uitgehaal het. Hulle geniet die ete intens en leer mekaar beter ken oor die ete. Toe hulle uiteindelik klaar is en Braam wil begin afdek keer Annelie hom: “Ek wil die res van die aand saam met jou geniet. Sal more oor afdek en skottelgoed bekommerd raak as jy weg is. Kom ek gaan speel nog n bietjie vir jou want ek geniet dit om vir jou te speel”.

Dit is baie later in die aand wat hulle saam op die rusbank sit. Annelie het naderhand haar viool neergesit en sit hulle net langs mekaar in die al korter wordende kerslig. Dit is of nie een van die twee wil gaan slaap nie.

Braam is die een wat die stilte verbreek: “Hoekom kom jy nie saam met my see toe nie. Ek dink ons sal mekaar intens geniet daar langs die see”.

Annelie kyk vir Braam en neem sy hand in haar hand: “Ek sal saam met jou gaan op een voorwaarde. Ek wil jou daar langs die see skilder met die see in die agtergrond. Ons sal net eers moet skottelgoed was en ek sal paar goedjies moet inpak voor ons ry. Dankie Braam ek gaan graag saam met jou maar dan moet ons nou gaan slaap anders kom ons nie more uit die bed uit nie”

Neels Claasen

tel 0722663301

Fouriestraat 34

Kroonstad

9499

daar is nog nooit van my werke deur n uitgewers gepubliseer nie en het ek al my werke self gepubliseer




  • TEMAS
    3 Kommentaar
    1. profiel foto van Anze

      Anze

      Maart 7, 2017

      Baie dankie vir jou deelname aan die INK en SA Vryskutskrywer kompetisie, sterkte en mag die beste persoon wen!

      Kan jy asb net al die inligting wat SA Vryskutskrywer in die kompetisie reëls gevra het byvoeg onder jou inskrywing

    2. profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

      Ronel Janse van Vuuren

      April 30, 2017

      Woaw! Ek het die hele tyd gedink dis ‘n spookstorie – veral toe sy sweef en nie loop nie. Baie goed geskryf.

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van neels

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 152
    Kommentaar telling: 1102

    Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

    Gebruikers Aanlyn

    4 Lede, 44 gaste aanlyn