Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: KUBERLIEFDE

Deur neels
Datum gepubliseer: 3 Junie 2017 Aantal woorde: 2030 89 Kere gelees 2

Soggens vroeg is die O.R. Tambo lughawe n miernes van bedrywigheid soos mense wat vlugte haal en van vlugte aankom kom en gaan.

In die ontvangslokaal staan n langerige lenige bruin gebrande man met n weerbarstige kuif wat knaend oor sy oë val effens senuweeagtig rond met n groot plakkaat aan n stok met n naam op in sy hande. Sy oë dwaal vir die soveelste keer na die groot elektroniese bord toe en dan na sy horlosie toe, hy is n hele uur te vroeg vir die Lufthansa vlug van Frankfurt af.

Dirk Welgemoed is n plaas seun en het maar vroeg gery omdat hy bang was dat hy in die verkeer gaan vasval en dan gaan hy laat wees om die klein en fyn Walentina, daar uit die verre Rusland hier te ontvang.

Daar is groot opgewondenheid in hom om Walentina te ontmoet en besluit hy om n vinnige koffie in die koffiekroeg te gaan drink om die tyd om te kry. Dit is seker nog n hele twee ure se wag want nadat die vlug geland het moet hulle nog deur die doeane proses kom. Met Walentina kan dit dalk n rukkie neem want sy kom sak en pak want sien.. sy en Dirk gaan eerskomende Saterdag trou.

Dirk het haar nog nooit persoonlik ontmoet nie en is hulle verhouding, wat oor twee jaar onstaan het, n tipiese kuberliefde.

Dirk het nog nooit tyd gehad om werklik ernstig vrou te gaan soek nie want hy wil nie saans uitgaan nie. Hy wil nie sy ma, wat saam met hom op die groot saaiplaas daar in Wes-Transvaal bly, alleen los nie omdat hy met die golf plaasmoorde in die land bang is vir n plaas aanval op haar as hy nie daar is nie.

Hy glimlag oor sy koppie koffie, wat intussen bedien is, by homself as hy terugdink aan hoe hy Walentina op skype ontmoet het.

Van pure verveeldheid het hy op skype begin rondkuier en het hy die aand so bietjie rondgekyk wie aan lyn is toe hy op Walentina se profiel af gekom het. Die foto van die fyn klein blondekoppie by die profiel het dadelik sy aandag getrek en sy hart het n slag gemis.

Hy het nie regtig reaksie verwag nie maar stuur hy toe vir haar n blommetjie. Hy kon sy oë nie glo toe sy met n mannetjie wat hande klap antwoord nie.

Toe die groot gesels daarna uitbreek het hulle die kuber ruim warm gesels. As gevokg van die tydsverskil moes hulle soms op die onmoontlikste tye gesels maar dit het hulle nie afgesit nie. Daar is ook gedurig fotos uitgeruil maar het hulle nooit van aangesig tot aangesig gesels nie omdat nie een van die twee webcam gehad het nie.

Hy moes haar alles van hom vertel en het sy hom vertel dat sy in n klein dorpie naby Stalingrad bly. Sy is n gekwalifiseerde verpleegsuster en in die dorpie se hospitaal werksaam. Sy het hom vertel dat sy n weeskind is en dat haar ouers in n motor ongeluk dood is.
Hulle vriendskap het gegroei en na n jaar was Dirk Welgemoed tot oor sy ore verlief op die klein en fyn Walentina daar in die verre Rusland

Die vriendskap het op daardie stadium in elk geval oorgeloop in n verhouding en het hy besluit om die bal aan die rol te sit in goeie boere Afrikaans want Walentina het intussen leer Afrikaans praat ook.

Die aand nadat hy die besluit om die bal aan die rol te sit het hy sy liefde vir haar op skype verklaar: “Walentina ek het jou lief met my hele hart en wil met jou trou. Sal jy Suid-Afrika toe kom en met my trou?”.

Daar was seker n hele tien minute stilte en het Dirk yskoud geword want nou het hy sy hand oorspeel was sy eerste gedagte.

Hy wou net sy rekenaar afsit toe Walentina se antwoord kom: “Ja my groot seun in verre Suid-Afrika ek sal met jou trou want ek lief jou sommer baie en wil by jou wees”.
Sy ma was dadelik teen hierdie gedagte gekant: “Dirk dit kan mos nie. Jy ken haar dan nie en dan nog daar uit Rusland uit! Hoe gaan jy haar hier kry, dit gaan jou mos baie geld kos”.

Dit was egter nie net sy ma wat teenkanting gehad het nie. Om Walentina in Suid-Afrika te kry was nie maklik nie en het hy besluit om af te sit na die Russiese konsulaat toe. Daar het hy homself lieflik vas geloop teen die amptenary en moes hy n aansoekvorm invul om Walentina in Suid-Afrika te kry. Hy moes ook Binnelandse sake toe waar dit darem bietjie beter gegaan het met al die papierwerk wat nodig is.

Walentina moes dieselfde paadjie in Rusland loop. Sy moes n slag Moskou toe om by die Suid-Afrikaanse konsulaat aansoek te doen vir n visum en het sy dit gekry. Na al die moeite was die antwoord dat as gevolg van n tekort aan verpleeg personeel in Rusland daar nie toestemming gegee kan word nie.

Hulle was verpletterd maar het Walentina besluit sy gaan die sakie nie daar los nie. Sy het trein gevat Moskou toe. Sy het Dirk laat weet dat sy n paar dae nie beskibaar gaan wees nie maar hy moet nie bekommerd wees nie, sy gaan met goeie nuus terugkom. Dit was n week later wat sy Dirk laat weet het sy het toestemming gekry. Sy wou egter nie uitlaat oor hoe sy dit reg gekry het nie en het Dirk belowe sy sal hom vertel sodra sy op Suid-Afrikaanse bodem is.

Terwyl die Boeing besig is om hoogte te verloor vir die aanloop vir sy landing op die O.R.Tambo lughawe sit die fyn blondekoppie by die venster en uitstaar. Haar gedagtes gaan onwillekeurig terug na die dag in Stalingrad toe die nors beampte haar verwittig het dat haar aansoek om na Suid-Afrika te gaan geweier is. Hy wou ook geen redenasie verder met haar voer nie en haar Moskou toe verwys met die hoop dat dit haar sal ontmoedig.

Dit het egter die teenoorgestelde uitwerking gehad. Sy het verlof geneem en afgesit Moskou toe met die trein om haar saak te gaan stel.

By Binnelandse sake het sy by n verveelde vaal amptenaartjie beland. Sy het die brief aan hom oorhandig wat hy hopeloos te lank na haar sin intens bestudeer het nadat sy aan hom verduidelik het dat sy die antwoord hersien wil hê Sonder n woord het hy die verwysings nommer afgeskryf en haar gevra om weer die volgende dag te kom.

Die volgende dag het sy weer by die verveelde amptenaartjie beland. Hy het tydsaam die dossier voor hom opgeneem en begin deurblaai. Toe loer hy vir haar oor die rant van sy ou brilletjie en trek los: “Jy behoort jou te skaam om so n versoek te rig. Jy was n weeskind wat deur moedertjie Rusland groot gemaak is. Moedertjie Rusland het jou laat oplei en nou skop jy moedertjie Rusland in die tande met hierdie ongehoorde versoek. Pleks dat jy n goeie Russiese man vat om mee te trou en baie kinders vir Moedertjie Rusland in die lewe bring om jou dankbaarheid te betoon”.

Hierdie was vir Walentina net te veel maar het sy kalm gebly: “Kameraad ek het gedink dat sedert Gorbatjof se glasnot dinge verander het en die ystergordyn verdwyn het en ek het hom lief”.

Die amptenaartjie het weer vir haar geloer: “Dinge het verander. Voor Gorbatjof sou jy in Siberië beland het om genees te word van hierdie lawwe denke van jou. Nou kry jy met n skropbering kameraad. Die antwoord is nee”.

Toe het Walentina ontplof. Sy was nog besig om die mannetjie te vertel presies wat sy van die hele burokrasie dink toe die aantreklike man die kantoor instap. Duidelik n ander klas met sy netjiese skoene en pak klere van n duur snit. Hy het al n rukkie gestaan en luister voordat Walentina van sy teenwoordigheid bewus geraak het. Haar mond het vinnig toegeklap en het die man tot by ou valetjie se lessenaar gestap en die dossier opgetel.

Sonder n woord het hy deur die dossier begin blaai en toe vir ou valetjie gekyk: “Jy bly maar dom en onnosel Ivan. Geen wonder jy kom niks verder as wat jy is nie. Natuurlik kan juffrou Tsjoegoenowa Suid-Afrika toe gaan. Om met die man van haar drome te trou. So romanties dink ek en dinknet aan al die propaganda waarde van so n goedkeuring”.

Die man het die dossier onder sy arm vasgeknyp en vir haar gewys om saan met hom na sy kantoor toe te kom. Hulle is toe die gang af tot by die man se kantoor waar hy haar vriendelik gewys het om te sit. Stadig het hy deur die dossier geblaai en toe op sy rekenaar geklim en n brief begin tik. Nadat die drukker twee velle uitgespoeg het het hy hulle gestempel en onderteken. Een het hy in die dossier geplaas en die ander een aan haar oorhandig: “Daar is jou toestemming juffrou. Ek hoop jy gaan baie gelukkig wees in Suid-Afrika. Pragtige land. Ek was vir vyf jaar daar aan die konsulaat verbonde. Jy kan nou maar gaan aansoek doen vir jou paspoort, sien jou visum is klaar goedgekeur”.

Van blydskap het Walentina die arme man n klapsoen gegee en afgesit om haar paspoort aansoek in te dien wat sy n week later in haar hande gehad het.
Toe was dit net bedank, haar persoonlike goed pak en die woonstelsleutels inhandig en weer trein vat Moskou toe om te emmigreer.

Die tieng wat aankom as die liggie aankom om hulle gordels vas te maak ruk haar gedagtes terug. Nadat sy haar gordel vasgemaak het kyk sy na die opkomende son deur die venster. Ten spyte van die feit dat sy dood moeg is, dit was n lang vlug van Moskou af tot in Frankfurt en nou weer tot hier, begin sy baie opgewonde raak..

Dood op tyd staan Dirk en wag toe die mense deur die uitgang begin bondel met sy naambord omhoog. Sy hart sak in sy skoene toe hy die groot vrou deur die ingang sien kom met haar bagasietrollie. Die reëling was dat Walentina n blou bloes met n swart romp sal aanhê met n geel kunsblom op die bors vasgespeld, presies soos die klein olifant wat nou deur die ingang kom en dadelik dink hy dit kan nie wees nie.

Duisend gedagtes jaag deur sy kop. Sy ma gaan hom behoorlik uittrap want sy het hom knaend gewaarsku teen bedrog. Meisies wat ander meisies se fotos gebruik en daar was juis n artikel in n tydskrif daaroor. Hy hoor al sy mede boere die spot met hom dryf op die veilings.

Dit is net daar waar Dirk besluit hiervoor sien hy nie kans nie. Hy laat sak die naambord en draai om om te loop. Hy sal maar sê dat hy ingeloop is en daar niemand was nie maar vir hierdie een sien hy nie kans nie.

Met die hangende bord wat nou die naam na agter wys staan hy die ingang en betrag. Baba olifantjie het hom duidelik nie opgemerk nie en beweeg uitgang toe en dan besluit hy om te wag dat sy wegkom voor hy loop.

Iemand raak hom aan en hy kyk om. Daar staan sy, Walentina met n breë glimlag, klein en fyn soos op haar fotos met haar bagasietrollie tot barstens toe gelaai “Hallo Tirk, jy het my naam ondarstaboe mmm. Hier is ek Walentina en wau jy weghardloop mmm’.

Dirk voel of die aarde onder hom oopskeur maar dan word die naambord laat val en is hulle in mekaar se arms as twee jaar se liefde en verlange uiting vind.

Toe hulle mekaar los is Dirk se eerste vraag: “Hoekom het jy so lank geneem Walentina”, vra hy om sy eie verleentheid te verberg.

“Ek het ampoer laste uit vliegtuig gakom was amper hielagter”, antwoord sy en begin hulle aanbeweeg uitgang toe met Dirk wat die bagasiewaentjie sttot en n opgewonde Valentina wat aan sy arm hang




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. profiel foto van Okatopi

      Okatopi

      Junie 3, 2017

      Pragtig geskryf Neels

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van neels

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 155
    Kommentaar telling: 1102

    Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 66 gaste aanlyn