Jongste aktiwiteit:

Resensie: Die film, KRUISWEG

Die film, KRUISWEG

In elke rooms-katolieke kerk is die „Pad van Lyding” van die Heer afgebeeld. Dit is in die vorm van veertien tafelbeelde of vlakskulpture wat langsmekaar aan die muur hang. Die gang van Pontius Pilatus tot die graf. Dit begin voor naas die altaar en loop na agter, sewe prente met passende bybeltekste aan die een muur, dan die ander muur langs tot voor terug. Die oorsprong lê waarskynlik in die middeleeue, toe die mense nie kon lees en skryf nie, en skilderye, standbeelde en soortgelykes nodig gehad het om te begryp wat in die bybel staan. Dit het oral op die aarde deel geword van die binne-inrigting, ongeag hoe die buitekant lyk, waar dit staan, waaruit dit gebou is, ens.

[Der Kreuzweg (Dt); 2014; r: Dietrich Brüggemann; d: Lea van Acken (Maria, 14 jaar oud), Franziska Weisz (haar moeder), Klaus Michael Kamp (haar vader), Florian Stetter (pater), Lucie Aron (Bernadette, au-pair-meisie); Moritz Knapp (Christian, skoolvriend), e.a.; boek: Anna en Dietrich Brüggemann; vanaf 12 jare; 1 uur 47 minute.]

Maria en haar familie behoort aan ‘n besonders strenge roomse gemeenskap✽. Sy neem haar geloof erns en probeer hartstogtelik om in haar daaglikse lewe na die beginsels te leef wat haar ouers en die pater haar bygebring het. Sy kom onder sterk druk weens die radikale onderskeid tussen die streng reëls van haar gesin, besonders haar stokstyf moeder, en die wêreldse lewe wat sy as skoolkind voer. Sy het geleer om stetig teen alles wat boos is te veg, en dit beteken ook sulke kleinighede soos pop-musiek en half-kaal aan sport-onderrig deel te neem. Daarvoor word sy natuurlik verspot. Sy is tussen die twee wêrelde vasgevang en word daarby stadigaan fyngemaal; sy erken dat sy moet kies: Óf ‘n wêreldse bestaan, óf sy moet haar geheel-en-al aan Jesus wy.

Wie My wil navolg, verloën hom self en neem sy eie kruis op.

En daar begin Maria se lydensweg . . . tot in die graf.

Daar is veertien „stasies”, erkenbaar deur enige gelowige Christen. Ons verhaal het aldus veertien „kapittels”, van Pilates se oordeel, oor die plek waar Hy struikel, waar iemand Sy las dra, waar Hy Sy moeder sien, waar Hy twyfel. . . En dit word vertel in die volgorde van die bybel, soos die prente rondom die binnekant van die kerk dit aandui: Die kruisweg van die veertienjarige Maria, wat haar besluit gevat het. Sy loop nie deur die strate van Jerusalem nie, maar ons volg haar in haar daaglikse lewe. Dit begin met die voorbereiding vir haar „Firmung”, haar aanneming as lidmaat van die kerk. Die onder­rigtende pater betoon hoe ‘n ware Christenmens bereid moet wees om vir sy Heer te sterf as dit nodig mag wees. Dit neem Maria woordelik aan, en dis asof sy net daar haar vonnis gehoor het.

Elke stap, elke „stasie” word besoek. Die Lydensweg van die Heer word omgeset in die doen en late van ‘n klein meisiekind; alles wat sy doen en laatstaan, word, in haar bewussyn, opgeblaas tot ‘n nabootsing van dit wat haar Heer vir haar voorgemaak het.

Dis nie ‘n „mooi” film nie, die onvermydelike einde word reeds in die eerste tonele aangedui. Dis ‘n beeld van die siel van ‘n kind wat volwasse moet word en dit tog nie word nie, van ‘n oordrewe iets (gelowigheid, geregtigheidsgevoel, eersaamheid, dweepsug, . . ?) van ‘n kind se hulplosigheid in die begripswêreld van die volwassenes. Dis ‘n roep in die donkerte na hulp, na troos, raad, sterkte, na ‘n rigtingwyser. Dis iets wat mens laat dink, hoe goed dit is dat ek daardie stadium oorleef het. En: Is ek ‘n beter mens geword? Mens het die ondervinding, kon ek net maar gou daar inklim en ‘n paar skewe dinge tereg ruk!

Hier het ons weer ‘n besonders interessante vertelstyl of kamerategniek . . . Nee, daar ís geen kamerategniek nie! Die kamera bly staan op een vlek en die figure beweeg soos in die teater op ‘n toneel, van kant na kant, van bo na onder van hoek tot hoek. Die figure is egter verskillend groot op die breë skerm: In die onderrigskamer groot genoeg om alle kinders en die pater te omvat; as sy gaan bieg, vul haar kop die een helfte van die beeldskerm en die priester se venstertjie die ander; in die motor sit ma en dogter langsmekaar, en die straat flits deur die agtervenster verby soos hulle deur die stad ry; in die sportsaal hardloop die kinders daar agter heen en weer en sy staan hier voor in gesprek met haar onderwyser . . . Die „Statiónen” word met die betreffende bybelteks kort ingelei, die begeleidende teks van die muurprente in die kerk. Daar is geen na-opnames nie, geen zoom, geen wegdraai om te kyk wat in die ander deel van die kamer te sien is nie, geen agter-iemand-na loop, hoegenaamd geen kamera­tegniek of -beweging nie. — Buiten in die laaste toneel voor die oop graf, waar die kamera in die lug opgaan en ‘n blik uit die hemelse perspektief aanbied en dan weer afsak en na bo kyk. (Waar die siel heenwandel?)

‘n „Sterk” film. ‘n Film waar baie mense gesê het dat hulle agterna etlike minute lank verstom was. ‘n Film waaroor die toeskouers lank en intensief in die internet-platforms geskryf – en gestry – het. Die meeste toeskouers het vier of vyf sterre toegedeel.

Ek ok: Vyf.

✽ Die fiktiewe streng-roomse broederskap „Die heilige Paulus” is ekstra vir die film uitgedink.

©.2016.___________c]:o(٤.✽✽✽✽✽.(o;[>________________tje

[Op INK.org:4e.Aug2016][woes 16 Jan 2016]




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Fanus Strydom het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak