Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: KERSFEES in OORLOGSTYD

Deur Toom
Datum gepubliseer: 5 Junie 2017 Aantal woorde: 745 221 Kere gelees 2

KERSFEES in OORLOGSTYD

Na aanleiding van Neels Claassen se artikel (van 21e. Desember 2016) oor Kersfees 1942 in Stalingrad in die tweede wêreldoorlog het ek nog ‘n paar insidente nagevors. As iemand van nog ‘n ware begewenheid uit ‘n oorlog weet, kan hy my daarvan kom vertel. Of nog beter: Skryf dit self op!

*

Uit Heinz Konsalik se boek Die Hart van die Sesde Leër gee hy volgendes weer:

Die Duitsers het In die vroesomer van 1942 in Rusland inmarsjeer – met somerlike uitrusting, dit wil sê ook someruniform – en het verwag om die oorwinning in ‘n paar weke of maande weg te dra. Maar die Russe het vasgebyt en uitgehou, het regtydig ondersteuning van hulle wes-allieertes gekry en kon weerstand bied. Die Duitse Sesde Leër onder beveel van generaal Paulus is by Stalingrad omsingel toe die winter inbreek. Die paaie was gedeeltelik onbevaarbaar, die lugweg was seker nog oop, maar min kon vervoer word. Die front het tot in die stad inbeweeg.

In die Duitse stellings is dit maer uitgeteerde verflenterde troepe wat die bitter koue trotseer en ten spyte van hulle haglike omstandighede, Kersfees wil vier.

Hulle kersmaal bestaan uit hout wat opgekook word vir ‘n sop en perdevleis van die perde wat van die koue omgekom het.

In die hoofkwartier van von Paulus gaan dit nie veel beter nie, voedsel voorsiening is lankal nie meer moontlik nie . . .” skryf hy.

Luitenant-generaal Igor Rokosofski is die aanvoerder van die Russise Don Leër en het ‘n laaste massiewe aanval op die vermorselde Duitse oorblyfsels geplan. Toe hoor hy hoe die Duitse kersliedStille Nacht” op die wind na hom oorgewaai kom:

Stel die aanval 24 uur uit. Kom ons gun hulle hulle Kersfees want vir baie van daardie arme drommels sal dit hulle laaste Kersfees op aarde wees”.

Op 2e. Februarie 1943, skamele ses weke later, het hy die Sesde Leër tot oorgawe gedwing.

*

In November 2005 kom ‘n film in die bioskope oor die eerste Kersfees, 1914, aan die front in die Eerste Wêreldoorlog: Merry Christmas; ‘n film van die franse regisseur Christian Carion, oorspronklike titel Joyeux Noël. Die soldate in al drie leërs, frans, duits, brits, het op ‘n afsnit van die front uit die loopgrawe gekom om met mekaar Kersfees te vier. Aanskynend het dit by die Duitsers begin, toe hulle kersfeesliedere gesing en kersboompies onder in hul loopgraaf aangesteek het. Die boompies is op die kroon van die skutwal opgestel. En een of ander soldaat het oorgeroep na die anderkant. Engelse Christmas carols is gesing en die soldate het oor die borswering geklim om mekaar op niemansland die hand te gee. Die soldate op die aangrensende frontafsnitte het gesien wat gebeur, en oor ‘n breë front het die troepe mekaar gegroet en gelukgewens. ‘n Skot het begin doedelsak speel, twee manskappe – ek meen ‘n duitse en ‘n franse – het sokker gespeel. Toe die offisiere merk wat aangaan, kon hulle slegs self uitklim en die teenstaander salueer en die hand gee: Frohe Weihnachten! Merry Christmas! Joyeux Noël! Dit alles in die heilige Nacht, Christmas eve by maanlig nog voor die son uitkom.

Toe die hoë kokkedore daarvan hoor, moes die een of ander subalberterne offisiertjie geradestaan vir die dissiplinelosigheid in sy sektor. Ek meen ‘n franse luitenant is die doodsvonnis opgelê.

Vier jare later het die front skaars verander, maar een-of-ander grootmoondheid is tot oorwinnaar verklaar, en al die deelnemende volke en nasies het die room van hul volgende geslag jong mans begrawe.

*

Die beleëring van Mafeking. Wanneer was dit? 1899? 1900? Hoe ook al: Dit het Kersfees geword. Die Briite was omsingel en moes kyk hoe hulle gaan oorleef. Maar in „the last gentlemen’s war” het hierdie gentlemen geweet dat die ander gentlemen nooit ofte nimmer op die heilige kersfeesdag gaan veg nie — nie gaan oorlog voer nie. Aldus was die kerk vol en die garnisoen swak beman.

Midde-in die erediens egter hoor die insittendes kannonskote uit die verte. En dan die treffers hier voor die kerk op die markplein. Ongehoord! (Those damn’ Bores again. . . Now, now! No swearing in church, my dear!) Maar die erediens loop sy loop: (Óns laat ons mos nie deur ‘n handvol boere steur nie!) Na ‘n tydjie het die bombardement opgehou.

Nadat die laaste amen gesê is en die laaste toon uit die orrel afgeklink het . . . Wat sien hulle op die markplein? Oral lê gestrooi – ek weet nie hoeveel nie, miskien tien, twaalf, twee dosyn? — Plumpuddings, English Christmas puddings.

*

©.18e.Februarie2017…………..……………………………………tje




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. profiel foto van neels

      neels

      Februarie 19, 2017

      dankie toom dit was nou werklik interessant

    2. profiel foto van Anze

      Anze

      Februarie 20, 2017

      Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Liefde projek 

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 129
    Kommentaar telling: 130

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 24 gaste aanlyn