Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: KATEGORIE: TAAL — KÅMPIOETERSPRAAK

Deur Toom
Datum gepubliseer: 25 Maart 2017 Aantal woorde: 694 127 Kere gelees 2

KATEGORIE: TAAL — KÅMPIOETERSPRAAK

Drie tale kan ek praat en skryf – taamlik goed, as ek my ‘n bietjie selflof mag bedien – naamlik Afrikaans, Duits en Engels; met Fanagalo kan ek waarskynlik genoeg raadbraak om my juis onverstaanbaar te maak.

Maar teen Kåmpioeterspraak kom ek nêrens aan nie. En besonders as mense met my in hierdie dialek wil praat, kom ek volkome van die baan af, of dit nou Engels, Duits of Vertaalafrikaans is. Wanneer iemand my vertel, dat ek die bates op my rekening (dit wil sê: my geld, geld!) nur kan êkses as my bankkaart gelienk is, ondervind ek ‘n gevoel soos ‘n olietenker met ‘n reuseskeur onderlangs: Help my, ek verdrink! Ek het my eie swaarverdiende geld uit die land waar ek dit verdien het, op ‘n rekening in my tuisland(!) oorgeplaas, waar ek dit wil uitgee, dit wil sê, in die lokale ekonomie invoeg, ten bate van die nasie – en van ook, natuurlik! Iemand verdink my wel dat ek ‘n miljaardesware swendelaar is, wat die nasionale ekonomie moedswillig gaan omvérwerp!

By die hoofstadkantoor van my bank kom iemand en spreek my aan asof ek ‘n naakte oerwoudbewoner is, wat nou die dag eers aan die lig van die beskawing gekom het en gooi met elektroniese dataverarbeidingsterminologiese vokabulaar. (In die afdeling langsaan in die opeplankantoorkompleks hoor ek ‘n stem in die telefoon verklaar dat iemand – wat nie aanwesend is nie – nie „the business acumen” het om ‘n besigheid oor te neem nie. „Skryf dit eenvoudig so aan haar; kyk ons of sy „the gall” het om na te vra”! Aanmatigender kan dit dog nie aangaan nie, en ek dink: Arme, matrieklose poppetjie, met jou vyftig, of hoeveel jare van lewenservaring is jy aan hierdie dames-van-wêreld – wat jong genoeg is om die speelmaatjies van jou eie seuns te wees – uitgelewer!)

En so sit ek duskant die gipsskeiwand en neem my voor nie weer my medeburgers met Fanagalo te beledig nie. Ek moet sê, dat daar wel afrikaanse woorde is, wat gebruik word: link is seker koppel, excess of access meen ek, is wanneer iemand teveel gedrink, teveel vroue ruïneer en teveel motors stukkendgery het – een van die twee, maar watter een? Maar dit bring my nie nader aan my geld nie: Eers moet met hoofkantoor telefoneer word – buite my gehoor goddank, anders sou ek moes aanhoor of èk genoeg acumen van die een of ander soort het, om ‘n rekening te mag voer – te màg voer.

Ek moet bely, dat die simpatiese jong vrou (díe enetjie by my laaste besoek in die takkantoor) my werklik menslik aangespreek het, nadat ek haar verklaar het dat ek ‘n mens uit vlees en bloed is, met stinkvoete en haaruitval, dat my kar ‘n klaprige ou wrak is en dat ek dors het. En dat ek niks besit as tyd nie. Sy het haar sigtelik bemoei, om die vaktaal in haar rekenmasjien se venster in mensetaal om te set, en het nie aan haar neus langs op my afgekyk nie. Ek waardeer dit, en het haar agterna gevra of sy van kindsbeen af die datum onderste bo leer skryf het. Nee, dìt moet hulle net by die werk; as sy self ‘n brief skryf, skryf sy dit altyd soos dit behoort, met die naam van die maand voluit en die jaar aan die einde. Geen wonder nie, dat sy in staat was om met my te praat. Daarby was díegene in die binnestad afwysend.

En die vrou aan die betaalvenster? Die pure vreugde: Hulpvaardig bo alle verwagtinge! Maar ook het my effens so aangekyk, asof ek waarskynlik van my oppasser weggeloop het, en het daarop aangedring, dat ek by die volgende besoek beslis aan haar venster moet kom, sodat sy my weer kan bedien. (Ag, so? Nee, sóveel sexappeal vertrou ek my nie aan nie!)

Desondanks lê my geld nog êrens in die kelders van die bank, en ek betaal maandeliks verder horrènde somme aan sogenoemde diensgeld. Ek mag (ek mág!) ‘n sakgeldjie af en aan onttrek. Dis mos mooi, nê?

Van die bankmense, meen ek.

©.25e.Maart2017____________$¥£ȽɎ₧₤₣€Rc___________(2005).tje




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 140
    Kommentaar telling: 133

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    4 Lede, 86 gaste aanlyn