Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: KATEGORIE: Nogmaal die TAAL

Deur Toom
Datum gepubliseer: 15 Maart 2017 Aantal woorde: 575 202 Kere gelees 3

KATEGORIE: Nogmaal die TAAL

Ek maak kapsie teen allerlei modes en modetjies: Die datum verkeerdom skryf: Wanneer is (of was) 02/04/06? En 06;02;04? En 04.06.02? (Een van die kombinasies is my verjaarsdag, maar welke?) Wie het hierdie onsin die volk aangebind? Is dit alweer ‘n versoek om die neo-liberalistiese afgode te paai?

Die maande het tog name, nie waar nie? In langvorm” praat ons van die eerste, tweede, vyftiende (dag van of in) Mei. Waarvandaan kom die onaard, op twaalf Mei, op twintig Desember te sê? Dis býna so sleg soos op die twintigste twaalfde. Nog erger is kale twintig twaalf. Kom dit per dekreet van bo, om aan te pas aan die (oombliklik-heersende) amerikaans-engelse wêreldtaal-bombastiek? „Nine-eleven. Of wil iemand van nog ‘n kultuurskat afstand doen – ten bate van die ekonomie”, die nuwe afgod, aan wie alles geoffer moet word? Die táálekonomie?

As kind het ons (in die tweede taal) geleer om die germaanse woord liewer as die romaanse (die anglisisme) te kies.

In my jeug was ek treurig dat die volwassenes so arm gepraat het. Daar het ek geweet” dat die kinders van destyds die goeie ontwikkeling sou voortset, dat iets groots daaruit sou word. Uit die taal, die mooie, in die ek „vernar” * was – en is. Vandag is dit vir my ontstellend om te hoor hoe die destydse kinders in die media praat en skryf, asof hul taal ‘n waardelose weggooiding is: Die hoogopgeleide en -betaalde joernaliste, doktore, segsmanne en -vroue van organisasies, kerke, partye en verenigings praat van die sitjiasie/sittiejasie wat hulle voorvind. Vir die één Engelse woordjie, situation is daar ‘n rykdom begrippe, wat elkeen deur ‘n eie woord aangedui word: Toestand, verhouding, penarie, nood, aktuele stand, omstandighede, (gelukkige of ongelukkige) omstand, gegewens, soos dit momenteel / oombliklik uitsien . . ; is ons te lui om te onderskei tussen dìt wat bedoel is (wat ons eintlik wil sê) en dìt wat op alles dui, maar self onbeduidend bly?

Omdat die druk- of uitsaaitermyn naderruk? (Is dit ‘n verskoning?)

Eens op ‘n tyd het die gegewe politiese samestelling daartoe gevoer dat baie aankondiginge en uitinge oorspronklik in Afrikaans (waarskynlik van ‘n minister) gemaak en dan vertaal is. (Mense het tóé al gekla dat Afrikaans in ‘n vertaaltaal verkom.) En hoe is dit nou, as die meeste tekste eers Engels uitgegee, en dan in die inheemse tale vertaal word? Dit het nie beter geword nie. (Die Engelse vertalers het die teks immers in proper English” omgeset – mét alle nodige sintaktiese veranderinge.)

Al lankal bemerk ons, dat baie van die nuwe woordskeppinge, nie net in ons inheemse buurtale nie, Engelse leenwoorde is.

In ons tyd word leenwoorde oral op die wêreld uit Engels gehaal. Vroeër was dit Frans, nog vroeër was dit Italiaans. So word vertel hoe ‘n bepaalde woord in die duitse taal aangekom het: Balkon kom so-en-soveel jare gelede na die Duitsers uit Frankryk waar dit balcon geheet het. (So ‘n mooi woord en so ‘n mooi teenstand kán slegs uit so ‘n mooi taal kom!) Hierdie pragwoord kom na Frankryk uit Italië, waar dit balconne genoem is. En so kry Duits sy eie woord in veranderte vorm terug, wat eeue daarvoor na Italië uitgewander het: Balken, die houtbalk.

As ek weereens so bangerig oor die invloed van die wêreldtaal praat, voer my net my eie voorbeelde voor!

* [Is „vernar” ‘n Afrikaanse woord? Ek het aanskynend dikwels vertaalprobleme. Nou goed dan: „verlief.”]

©.14e.Maart2017………………………..…ooOoo……………………………………….(2006)tje




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 153
    Kommentaar telling: 157

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 42 gaste aanlyn

    Bydrae Totale