Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: KATEGORIE: Musiek en Musikaliteit in die TAAL

Deur Toom
Datum gepubliseer: 19 Maart 2017 Aantal woorde: 723 140 Kere gelees 8

KATEGORIE: Musiek en Musikaliteit in die TAAL

Waarop staan of berus die kuns van die musiek, van gesang, van die taal, van spraakkuns, drama? Al hierdie kunsvorms het ‘n gemeensame noemer – die asem, oftewel die asemhaling. Maar, hoor ek iemand sê, dìt is eerder tegniek as wat dit kuns is.

Regso! Die kuns word op die tegniek opgebou. As daar geen strukture is waaraan die kunswerke hulle kan vashou nie, dan sak die aangestrewe kuns soos ‘n rankboon sonder stellasie inmekaar. Byvoorbeeld: Sonder die tegniese middels soos vaste oppervlakte, stowwe wat kleur in hulle massa opneem en ‘n moontlikheid om die sodanig gekleurde stowwe op die oppervlakte aan te bring, kan ‘n mens nie ‘n skildery tot stand bring nie. Vra ons waar die kuns van die skildery lê, dan sê ons ewe vlot in die komposisie of opmekaar-inmekaar-werking van lyn, vorm en kleurgewing, van kontrasterende helder- en donkervlaktes. . . Maar sonder die tegniese „onderbou” kom geen skildery tot stand nie.

By musiek, skouspel, dans en ander uitvoerende of daarstellende kunste is die tyd ‘n komponent. En ons kan nie buite die tyd asemhaal nie. Die teenoorgestelde is ook waar: Sonder asem (dis die lewe), geen tyd nie en dit beteken die dood! Die asem verskaf nie net die ritme nie, maar die moontlikheid dat ritme kan ontstaan: Die ritme van die asem gepaard met díe van die hartslag, van dag-en-nag, die maan- en planeetsiklusse, die jaar se seisoenomloop – en alle ander moontlike natuurlike ritmes wat nadergetrek kan word. Mense wat ander kunste beoefen, dui ook aan, dat die natuurlike ritmes vir hulle werke nodig is: So byvoorbeeld argitekte, beeldhouers, stadplanners en andere, wat „statiese”, „bewegingslose” werke tot stand bring. (Kenners sê dat die kuns nie die voltooide werk is nie, maar die proses van voltooiing van die werk – die werk áán die werk. Op hierdie manier kom aldus ‘n tydverskyning ook in die beeldende kunste voor.)

Ritme, of beter, die ritmiek behoort tot die tegnieke en tegniese vaardighede of bekwaamhede, wat alle kunstenaars saam met hulle materiële, stoflike gereedskap benodig. En die ritme weerspieël hom by uitstek in die asem. In die uitvoerende kunste kom die kunstenaar nie van die vlek weg as hy nie asemhaal nie.

So beweer ek, dat die asemhaling die fondament of draer van die uitvoerende kunste is.

As dit die geval sou wees, word daar tog nog geen kunswerk geskep slegs deurdat iemand daar staan en asemhaal nie. Hy moet bewus die ritmes – alle ritmes waaroor hy beskik – insit, teen mekaar inspan en met mekaar laat saamspeel om kuns te skep.

Elke spreker, of op die verhoog, in die parlement, op die dek van ‘n skip, saans in die slaapkamer van ‘n kleuter, of in ‘n kaffee by koek en rooibos, moet sy asemwerktuig beheer. ‘n Radio-spreker het dit omsomeer nodig dat hy van die werking van sy stem bewus is, van modulasie – van hardop en sagkens, betoon en loslaat, van die fyn beweging tussen vinnig en stadig, van pouse maak en hastig vorentoe spoed. Van klaar en duidelik uitspreek of, soos iemand wat verslaap het, brabbel. . .

My opvatting hiervan maak dit vir my smartlik om te hoor hoe ‘n nuusleser kort voor die einde van die sending al hoe hastiger word om die gegewe aantal woorde (lettergrepe, letters!) afgelees te kry, byna oor sy tong struikelend, aan die verkeerde plek in die teks na asem snappend. Dis ‘n soortgelyke ondervinding, wanneer die reklame-flitse so kort opmekaar aangehardloop kom, dat dit partykeer lyk asof twee produkte gelyktydig verkoop word. Dan is dit uitasem (asemloos) en die luisteraar kan nóg die daarbiedings geniet nóg die mededelings verstaan nie. Dis moontlik dat hy nou eers reg nie meer die produkte wil koop nie!

(Origens, as ek die vervaardiger van die lekker klein ertjies in ons magies” was, het ek ‘n paar jaartjies gelede die radiofirma gedagvaar weens onordentlike uitvoering van ‘n opdrag, en dit meer as ‘n maand lang, sover ek geluister het!)

[Ter verduideliking: In ‘n reklamesending vir blikkiesgroentes in die radio het ‘n meisietjie die trappe van vergelyking opgesê en by lekker was die genoemde ertjies „uitmuntend”. (BONG! Loop koop, mense!) Maar dit was voor en agter so ingewikkel in ander produkte dat ek nie geweet het, wát smaak so uitmuntend, skoenpolitoer of motorolie of wat?!]

©18e.Maart2017……………….ooOoo…………………….(2016)tje




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 140
    Kommentaar telling: 133

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 25 gaste aanlyn