Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Kategorie: Gelaaide WOORDe

Deur Toom
Datum gepubliseer: 18 Maart 2017 Aantal woorde: 904 115 Kere gelees 3

Kategorie: Gelaaide WOORDe

Duits het ‘n woord verloor, ‘n afleiding van die grondwoord Volk: Die byvoeglike naamwoord völkisch. Ons woord is volks. So: „’n volkse eienskap”, iets wat met die volk te doen het. Die nasionaalsosialiste met hul koerant „Völkischer Beobachter “ (Volkse Waarnemer/Bespieder) het die begrippe Volk en völkisch tydens die derde ryk soseer holruggery dat die duitsers die tweede wêreldoorlog, oftewel die derde ryk, daarvan sat was. En nie net ‘n bietjie verskrik nie! Ek moet ‘n sin heeltemal ombou om by die punt uit te kom, want hulle wil glad nie verder luister nie. So ‘n woord is met ‘n besondere inhoud belas – of ewe „gelaai”. Soos ‘n hooiwa – of ‘n geweer.

In alle tale van die wêreld kom hierdie verskynsel sekerlik voor: Dit is met ‘n newebegrip sodanig belaste, verdraaide woorddoppies dat die oorspronklike betekenis soms glad nie meer hoorbaar is nie en staan moontlikewys eers as tweede betekenis in die woordeboek

In samehang met die politiese korrektheid is dit nie meer moontlik om sekere woorde uit te spreek nie. Dog meen ek dat dit reg is om ‘n atmosfeer of ‘n agtergrond te skep, deur byvoorbeeld te sê, „by die koelie op die hoek gaan koop”. Toe ek kind was, wás daar ‘n koelie op die hoek van die straat waar ons ingekoop het (op ‘n ander hoek was ‘n Griek, dan nog ‘n Portugees). As hy nog daar is, kan jy hom nie meer so noem nie. En dis reg so! (Die Portugees en die Griek tog!) Maar in ‘n storie oor die tyd, dryf so ‘n begrip weer aan die oppervlakte. Is dit verbode om dit as lokalkolorit (plaaslike kleurasie) in jou vertelling in te weef? Mag ons nie die swart gevaar van die dertigerjare noem nie? ‘n Koerantskrywer het onlangs met reg beswaar gemaak, dat opgevoede mense – „ook engelssprekendes” sê hy! – met sulke of soortegelyke onwelvoeglikhede op ‘n saamkoms loop smous het. Ek pledeer nie dat ons die woorde in ons daaglikse gesprek weer opneem nie, maar dat ons hulle, met die bewussyn dat dit „gelaaide” woorde of begrippe is wat uit die ewewig geraak het, mag verwend, as ons iets besonders wil sê, wil oordra, as ons iets wil beklemtoon.

En ek wil veral vermy dat die kinders in die skool onwaarhede deur ‘n paar sonderbare tannies opgedis word, soos hier by ons in Europa: Die woord Neger word nie meer toegelaat nie. Daar is nie meer negers nie, hulle moet nou as Afro-Americans gekenteken word, of beter, Amerikaners met buitelandse agtergrond (verbeel jou!). Toe ek ‘n Amerikanerin vra, sê sy, Of course I’m a negro! What else could I be? What? What kind of b(pieppiep!)t is this!Haar luim: Opgewonde tot woedend.

Hoe sê ek polities korrek Bantoe of Kleurling? Om soos die Europeërs almal Swartes te noem wat nie Engländer” is nie, is nie toetreffend nie. „Kleurlinge” en Indiërs ook die Maleiers en Khoi-mense aan die Kaap is daarvan bewus dat hulle nie „Swartes” is nie. Om nie eers van die San-mense in die woestyn te praat nie! As ek om watter rede ookal so iemand besonders wil uitwys, hoe sê ek dit? Of is my tong – en die tonge van almal – tot in die ewigheid gesnoer? En die lanies wat landwyd nog volop is? („Kyk die lemoene, my lanie: Suikersoet, twee sakkies vyf Rand!”). En mLungu?

Dan het ons transformasie: Beswaarlik bruikbaar buite die politiese samehang in Suid-Afrika; ook identifiseer en monitor, sogenoemde anglisismes wat as reserwespelers oral aangewend kon word, is in ‘n enge onbeweeglike jassie ingesnoer en waarskynlik slegs as politiese kleingeld nog verwendbaar.

Djihad beteken in die moslemwêreld ‘n reis na binne en dui op die inwendige stryd met die duiwel en op reiniging, ‘n begrip wat ook in die Christlike teologie aanvaarbaar is. ‘n Tweede betekenis is die sending, die uitdra van God se woord in die wêreld, soos dit in die Christenheid ook bekend is. Islam ken origens nie die begrip heilige oorlog nie. Die europese, Christelike deelnemers aan die heilige kruistogte, aangespoor deur die (rooms-katoliese) Weskerk, hét die begrip gehad en vir „die God van Liefde” geveg en geslag en gemoor. Ons hedendaagse begrip Djihad word bepaal deur dit, wat ons ‘n gevoellose joernalistiek met kortsluitings en chic afkortings oplê. Dis nie meer moontlik om rustig daaroor te praat nie: Die woord is met veronderstellings „gelaai”.

Vra ons wat al Kaïda beteken, vind ons dat ‘n bewering van ene George W. Bush, in die joernale voetgevat het – oor die omweg van amtelike uitlatings van die militêrs – sodat byna alles wat sleg en boos is so gekenteken word. Ons moet sy bewering op die 12e. of 13e. September 2001 gló: „Vertrou my, liewe landsburgers, glo my: Dis van so ‘n geheime aard, dat ek dit nie mag uitlaat of versprei nie.” (My vertaling).

Óf – ons glo dit nie!

Dis soortgelyk met die vertaling van die uitlating van ene mnr. Ahmedinedjad, staatspresident in Iran/Persië, wat sóú verlang het, dat Israël met atoomgeweld uitgeroei moes word. Joernaliste wat ‘n eie onafhanklike vertaling laat maak het, kom nie by die hoofredakteure êrens op die wêreld met hulle teendaarstelling vooraan nie. Dis te laat. Die eerste booshafte(?), onskuldige(?) vertaling bly staan. As ons dit nie self kan vertaal nie, moet ons dit glo.

Óf – kyk hierbo!

©.18e.Maart2017………..…ooOoo…………………………….tje

 




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 140
    Kommentaar telling: 133

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 49 gaste aanlyn