Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: KATEGORIE: Driedeling – TAALkwessie

Deur Toom
Datum gepubliseer: 27 Maart 2017 Aantal woorde: 639 115 Kere gelees 1

KATEGORIE: Driedeling – TAALkwessie

In besondere kringe (ek hoop nie dis sonderbare kringe nie!) heers die mening dat ‘n eeu, ‘n jaarhonderd, driedelig is, dat die eerste derde so te sê ‘n aanvang of hernuwing daarstel, dat die tweede verwend word om die nuut-gewonne kennisse en erkentnisse te verwerk en begryp (konsolidering, in moderne taalgebruik), en die derde deel om alles wat tot daartoe geword het, toe te pas en uit te leef. Daarna begin ‘n nuwe kringloop in die nuwe eeu.

Nadat ons ‘n eeu afgesluit het, meen dié denkwyse dat die nuwe geslag politici, kunstenaars, wetenskaplikes ensovoort die nuwe paradigmas of geselskapsgrense moet afsteek. Gewoonlik word as basis ‘n deel van die ou stelsel behou, maar dikwels word ‘n aantal sulke „boustene” nie raakgesien nie of min geag en weggelaat.

ΞѲΞ

Aan die begin van die neëntiende eeu het die Britte die Kaap annekteer, en die stryd om burger- en taalregte het ‘n nuwe impuls gekry. Om die middel van die eeu was die meeste trekke onderwegs en die eerste republieke is al proklameer. Aan die einde daarvan het twee vasgestaan en het egte stede (of, nouja stadjies) as regeringssetel gehad, met ‘n klas opgeleide mense, vaklui sê ons (baie uit Nederland, sommige uit Duitsland), vir die opgawes wat eenvoudige mense nie kon behartig nie; menige burgers het hul kinders laat studeer om hierdie leegte uit die eie geledere aan te vul. Die Britse Ryk het hom vasgelê op sy beleid om die kaart van Afrika van die Kaap tot Kaïro rooi te verf.

Aan die begin van die twintigste eeu toe die anglo-boere oorloë beëindig en die republiekboere verpletter was, het die Kapenaars met die „helpmekaar”-gedagte tot stabiliteit bygedra; die taalstryd gaan nog versterkter voort, gepaard met ‘n stryd om te oorleef – sosiaal en/of individueel.

Van die dertigerjare aan verkwik taal en sosiaalpolitiek hulle so sterk, dat party-, kerk- en taaltoegehorigheid byna nie uitmekaar te ken is nie. Aan die einde van die eeu is die blanke Afrikaners, met min uitnames, so eng met hulle politiek verwikkel dat dit nie meer moontlik is om party, kerk en taal uitmekaar te hou nie.

ΞѲΞ

Maar! Die voorstaanders van die afrikaanse kultuur en taal erken deurgaans die gelykwaardigheid van die anderstaliges – nie net van die engelssprekendes nie, maar ook die veelvoudige bantoetaal-sprekendes en – in die verloop van jare – van die anderskleuriges se stryd om húlle erkenning. Deel van die apartheidsbeleid is die bevordering van hùlle tale en kulture gewees. Hoe sterk of deeglik of effisiënt dit tot uitvoering gekom het, staan op ‘n ander bladsy.

Nou wil dit my so voorkom, asof die nuwe siklus ‘n nuwe aanloop wil neem. Nie dat die Afrikaners – bruin of wit – núwe taalvaardighede moet ontwikkel nie, maar dat ou gegéwens op ‘n nuwe wyse ingespan word. Myns insiens is dit tyd dat die trotse Afrikaners, wat na soveel eeue van smart en pyn nog altyd op hul eie voete staan, regop en opreg die stryd vir die beregtiging van die ander inheemse tale aanknoop. Alle sprekers van al ons tale kan uit die suksesse en mislukkings van die laaste paar honderd jare iets leer, juis om hulle eie taalstryd te bevorder.

Wie het nie alte lank gelede vertel hoe haar vader in ‘n winkel bediening in Afrikaans geëis het, om dan – toe iemand eindelik gevind kon word wat die taal verstaan – in vliesend-perfekte Engels die skoene te koop?

ΞѲΞ

©27e.Maart2017………. ooΞѲΞoo… ……………(2005)tje

[Nou het die geleentheid gekom om die ander medeburgers, die medetaalstryders oor alle taal-, volks-, kultuur- en andere grense weg, touwys te maak, te ondersteun en te bevorder. Ek ondervind dit as ‘n plig (ja, ‘n christelike verpligting) om ons medeburgers daartoe te verhelp dat hul kinders ‘n paar jaartjies langer as slegs tot in die derde klas moedertaalonderwys mag geniet.]




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 140
    Kommentaar telling: 133

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    4 Lede, 54 gaste aanlyn