Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Kasteel van Glas

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 7 Augustus 2017 Aantal woorde: 2134 213 Kere gelees 7

Warrelende herinneringe word skielik gestop en vervang met die gewone uitsig van verstrengelde plante. Mae sit regop, neutedoppe vlieg orals, woedend soos sy soek vir die indringer.

‘Genoeg, my koningin, dis nou al lank genoeg,’ sê ‘n stem uit die skadu’s.

‘Wat will jy hê?’ sis sy.

‘Om my plig teenoor Feërie te verrig.’

‘Gmf!’

Sy draai weg en sien dat die vloer vol stukkies kos is.

‘Jy het genoeg tyd gehad om die Feë wat jou verlaat het te treur. Nou is dit tyd om weereens ‘n koningin te wees.’

Mae trek haar knieë tot teen haar bors en slaan haar arms daarom.

‘Jy verstaan nie, Cian.’

‘Hoekom jy die Donker Koning gelos het om te doen wat hy wil? Nee, ek verstaan nie.’

‘Jamie het weggegaan…’

‘En dis ‘n verskoning om toe te laat dat jou onderdane swaar kry? Het jy enige idee wat aan die gang is in Feërie en in die mensewêreld vanaf jy wentel in jou verdriet. Selfs die Banshees ween oponhoudelik…’

Sy kyk skielik op. ‘Wat?’

‘Jy het hulle beveel om die einde van alle liefdesverhoudings te treur,’ herinner hy met ‘n bietjie afkeur in sy stem.

Mae kan die veraf geween hoor wat die Assassyn van praat.

‘Kom, my koningin, dan sien jy vir jouself.’

Sy laat toe dat hy haar na die waterval lei. Haar voorkoms is skrikwekkend: ‘n rok wat eens op ‘n tyd wit was, is bedek met vlekke van verskeie vrugte, haar rooi hare lyk soos ‘n kraaines, of dalk ‘n Pixie nes… En vir een of ander vreemde rede reik haar hand uit na ‘n okkerneut wat in haar hare vassit – sy pluk dit uit en eet dit.

Mae kyk skewebek weg.

‘Daar’s nog,’ sê die Assassyn en lei haar na die poel waarin al die water van die waterval bymekaar kom.

Sy kyk af na die rimpels op die water en sien eers niks. Dan… die water wys alles buite haar lushof.

Ontwortelde bome, Feë wat weghardloop van riviere wat hul oewers oorspoel, Boomnimfe wat om die oudste eikeboom vergader is – hul gesigte ernstig en bekommerd – en ‘n groot gat gevul met woede, pyn, prag en al die ander goed wat in harmonie in Feërie gevind kon word nou in onmin.

Sy bewe en tree terug.

‘Ciarán het ons lande verdeel?’

‘Ja, my koningin. Nes jy voor ingestem het.’

Mae staar oor die verwoesting van Feërie. Alles is gebreek; ‘n weerkaatsing van die Feë Koningin se emosies.

Sy wil so hard soos die Banshees ween. Sy’t toegelaat dat haar wêreld verwoes word. Hoekom? Sy gluur vir die see van onmin. ‘n Gesig dryf oor dit.

Jamie is weg. Hy gaan nooit weer terug keer na Feërie nie. Die vrou wat hom lief het is so gebroke soos die wêreld om haar blyk te wees. Sy het so hard probeer om hom te kry om te bly. Maar sy besef nou dat dit ‘n verlore geveg was nog voordat dit ooit begin was.

Mae vryf haar skielike koue hande saam. Terwyl sy haar gunsteling herinnering oor en oor gespeel het in haar kop, het haar kragte rond gevlieg en gedoen wat dit wou.

Vir weke moes diegene wat in Avalon woon die verwoesting oorleef wat sy gesaai het.

‘Ek het gedink dat ek die verlede kon herskryf. Maar…’ sy sug en draai na die Assassyn. ‘Ek het alle herinneringe van hom weggestoot, Cian. En tog kom dit als terug na my. Elke kyk, elke omhelsing.’

‘Ek dink dis ‘n goeie ding, my koningin. Hoe anders gaan jy heel word as jy nie jou pyn aanvat nie?’

‘Wat weet die Assassyn van genesing?’

‘Meer as wat my koningin van bewus is,’ antwoord hy eenvoudig.

‘Ek gaan hom altyd lief hê, Cian. Hy’t elke deel van my hart gevul.’

‘Miskien sal sy mag oor jou eendag minder word. Dan kan jy die koningin wees wat jy nog altyd veronderstel was om te wees: nie die koue of die passievolle koningin wat ons mee moes saamleef sedert jy verlief geraak het vergete tyd terug nie. Miskien vind jy dan balans.’

‘Ja, balans is belangrik vir ons as Feë, dan nie?’

‘Dis hoekom ek bestaan.’
#
Nadat sy haarself skoongemaak het, wandel Mae deur Feërie. Terwyl sy haarself in ‘n kasteel van glas gehou het weg van haar onderdane het hulle gely.

Deur haarself in herinneringe van ‘n liefde wat weggegaan het te verdiep, het sy die liefde wat sy het afgeskeep: Feërie.

Sy blaas saggies haar asem uit en al die bome om haar staan weer regop en druk hul wortels diep in die grond in. Sy knip haar oë en al die bosse kry weer hul blare terug en papawers skiet orals op met hul welige rooi blomme.

Sy hou ‘n blou konyn dop wat die papawers gelukkig snuffel. Hy laat haar dink aan die blou van Jamie se oë. ‘n Veld vol blou papawers veskyn skielik waar daar oomblike terug net die oorblyfsels van ‘n groot storm was.

Mae glimlag soos nog van die blou konyne opdaag om die blomme te waardeer. Dit voel goed om haar foute reg te maak.

Hoe meer sy daaraan werk om Avalon te laat terugkeer na hoe dit was voordat die Galno hulle verlaat het, hoe meer kan sy voel hoe haar onderdane juig omdat sy terug is. Selfs die Boomnimfe en hul bome sing jubelend.

Dis liefde bely in die mooiste neurie-klank, sug sy genoeë. Sy het weer die vrede van die liefde wat sy het teruggekry.

‘n Snak na asem trek haar aandag na die Feë wat saamgekom het in die weiland onder haar.

‘n Fee, hoog swanger, het sopas die plek waar pers-blou blomme die grond bedek tussen so baie bome ingetree.

Die swanger Fee dra ‘n sagte swart broek met kant afgewerk. Die moulose bloes is die ligste lila wat ook met kant afgewerk is. Oor dit dra sy ‘n gehekelde donker lila-pers wol toppie met klokvormige moue.

Haar amper skouerlengte hare is donker blond met strepe van sonlig daarin. ‘n Donkerpers blom met lila bespikkel rus bo een van haar ore. Sy lyk dolgelukkig.

Die wonder om ‘n Fee – ‘n onsterflike wese – te sien wat verwagtend is met nuwe lewe, bring trane na Mae se oë. Sy tree terug voordat hulle haar kan sien. ‘n Trots van Indië spruit uit voor haar, vol wit blomme. Sy hou die Feë dop wat verheug is oor die swangerskap en wat die verwagtende ma verskeie blyke van waardering gee.

Jaloesie drup van haar en knetter op die grond waarop sy staan.

Verbaas, struikel sy terug. Sy was nog nooit jaloers op enigiemand nie. En tog staan sy daar, oorlopens toe vol met jaloesie. Sy maak haar oë toe en soek vir die rede daaragter.

Jamie, fluister sy naam deur haar. Sy’t drome gehad van ‘n familie saam met hom.

Haar oë skiet oop en sy staan regop. Jamie is weg. Hy het sy keuse gemaak. Nou is dit haar beurt.

Sy is ‘n sterk, onafhanklike, magtige vrou. Sy het nie die een man wat sy ooit lief gehad het nodig nie – veral nie wanneer hy haar nie nodig het of wil hê nie.

Mae draai haar rug op die partytjie en loop in die skoenlapper woud in. Die reuk van salie en ander kruie vul haar sintuie soos ‘n nuwe begeerte – een om die droom van familie en liefde te vervang – begin bou in haar.
#
Die Feë Koningin staan in die middel van haar lushof, die reuk van bloureën blomme oral om haar. Die soet blom is bedwelmend. Op haar linkerhand vang ‘n ring op haar middelvinger die lig wat deur die plante kom. Dit is die Ring van Mag: die ring waar sonlig in maanlig vasgevang is. Op die oomblik lyk dit soos ‘n silwer ring oortrek met robyne. Maar dis ‘n ring wat mag het in Feërie en in die mensewêreld. Dis die Ring van Lig: die een ware gewyde voorwerp van die Helder Hof.

‘n Baie lang tyd gelede het dit opgedaag in die poel van die waterval voor Mae in ‘n poeierblou ringboks met ‘n lila strik. Van waar dit gekom het, weet sy nie. Maar Ciarán het eens op ‘n tyd skertsend gesê dat Feë nie die enigste wesens is wat in die nag ronddrentel nie.

Om aan die Donker Koning te dink maar haar magteloos woedend.

Selfs haar ring kan nie balans terug bring na Feërie nie. Sy weet sy moes nooit vir Ciarán toestemming gegee het om die twee Howe te skei met ‘n kloof in Feërie nie. Wie weet wat voorlê vir mens en Feë noudat daar geen balans meer is nie?

‘U het ons ontbied, my koningin?’

Mae draai om. Al die Banshees van Feërie en selfs dié wat na die mensewêreld gesluip het staan in haar lushof.

‘Dit is tyd dat julle ophou treur oor verlore liefde. Niemand is bang vir julle nie. Nee, julle moet doodsbodes word.’

‘Verskoon tog dat ek dit sê, my koningin, maar Feë gaan nie sommer dood nie.’

‘Dis tyd vir dit om te verander. Stem jy nie saam nie, Ankou?’

Die Koning van die Dode tree uit die skadu’s uit. Sy is bly dat hy haar uitnodiging aanvaar het. Die Banshees verloor alle kleur en word so wit soos haar gas.

‘Inderdaad, skone dame. Ek sal julle almal die Kreet van Dood gee. Maar,’ hy kyk na hulle deur vernoude oë, ‘julle mag nie mens of Feë doodmaak sonder toestemming van een van my luitenante nie. As julle my veronagsaam, sal ek julle op ‘n rit saam met ‘n Dullahan stuur.’

Hulle almal bewe.

Mae dink dis ‘n paslike reaksie op Ankou se dreigement. Sy luitenante maak selfs vir haar ongemaklik.

‘Die Bewaarder van die Sluier wag vir julle: sy sal vir julle jul instruksies gee.’

Met daardie woorde van die Koning van die Dode verdwyn die Banshees. Mae weet dat hulle in tyd hul nuwe werk sal geniet.

‘Ek is beïndruk, Mae. Om met vrees te heers… Niemand sal jou ooit weer beproef nie. Nie eens Ciarán nie.’

‘Ek’s nie seker of ek daarvan hou dat jy my planne goedkeur nie…’

‘Dis tyd vir jou onderdane om jou te vrees soveel soos hulle jou lief het. Dis die enigste manier om hulle te keer om jou gesag uit te daag.’ Hy hou haar veelseggend dop. ‘So, watse ander maniere het jy gevind om Ciarán se fout te gebruik?’

‘Ek weet nie wat jy bedoel nie,’ sy kyk weg en hoop dat hy regtig nie weet nie.

‘Toe die Skeur gevorm is het dele van Feërie in die mensewêreld opgedaag. Alle Alleenloper Feë was ook soontoe gestuur. En daar is geen manier om dinge terug te laat gaan soos dit was nie.’

Mae sug. ‘Jy is baie oplettend.’

‘O, dis niks. My koninkryk het ook uitgebrei…’

‘Ek sal dit met jou deel, Ankou: dit was ‘n paar mensejare terug besluit dat Mens en Feë nie meer sal saam woon nie. Ons het dit so gemaak dat hulle heeltemal vergeet het dat ons bestaan. Maar nou…’ Sy haal haar skouers op.

‘Nou is dele van ons wêreld in hulle s’n,’ maak hy die gedagte klaar. ‘Wat’s die plan?’

‘Hulle het ons alreeds niks meer as volkskunde gemaak nie. Om ‘n klein dingetjie hier en ‘n klein dingetjie daar te doen om ons onsterflik in hul gedagtes te maak…’ Sy grynslag. ‘Hul herinneringe, verhale en verbeeling sal ons toorkragte sterker maak.’

Ankou buig diep. ‘Jy is werklik weergaloos, Koningin Andromeda.’ Sy formele woorde weergalm deur Feërie en die mensewêreld. ‘Wanneer jy my nodig het, roep net.’

Mae knik en hy verdwyn weer in die skadu’s in.

‘n Kolletjie kleur trek haar oog in die waterval: die Banshees is alreeds besig om pret te hê in die mensewêreld.

‘Is jy seker van hierdie plan, my koningin?’ vra die Assassyn.

‘Ek is. Die enigste manier om my onderdane te beskerm is om weg te loop van my gevoelens vir ‘n man wat my nie waardeer nie. Ek moet beter doen vir my onderdane, Cian. Ek moet ophou my energie mors op iets wat nie werk nie.’ Sy voel trane brand in haar oë.

‘Jy het ‘n hele koninkryk wat jou lief het, my koningin. Moet nooit alleen of ongelief voel nie.’ Hy buig en verdwyn weer.

Mae glimlag. Die Assassyn is reg. Sy laat die son toe om haar trane weg te brand voordat sy na die volgende fase van haar plan beweeg: Feetjie Bome.
##
*Hierdie storie is deel 3 van ‘n nuwe 3 deel storie wat parallel afspeel met “Die Avonture van Saphira die Feetjie Hond”.*




  • TEMAS
    1 Kommentaar
    1. profiel foto van Anze

      Anze

      Februarie 28, 2017

      Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Liefde projek 

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 52
    Kommentaar telling: 241

    Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar.My wêreld draai om my twee Rottweiler seuns – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my blog https://ronelthemythmaker.wordpress.com/.

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 74 gaste aanlyn

    Bydrae Totale