Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: IS DIT DIE MOONTLIKHEID?

Deur Toom
Datum gepubliseer: 16 Julie 2017 Aantal woorde: 2081 704 Kere gelees 5

 

Is dit die Moontlikheid?

In ons tyd, in ons kultuursirkel, hier in Europa is daar seker skaars nog iemand wat nie van die mag van die wetenskap oortuig is nie. Ons word reeds die een geslag na die ander opgevoed in die wete dat die wetenskap die probleme oplos waaronder die mens­heid ly, dat die oplossings wat die wetenskap nog nie gevind het nie reeds aanstaan – en alte gou gaan ons van nóg ‘n euwel bevry word. So geniet ons voordele waaraan geen beskawing voor ons sou kon dink nie – en menige in die teenwoordigheid beny ons dit: Ons water is suiwer en vloei deur kilometerlange pype na ons stewiggeboude behuising, wat met elektries aangedrewe gereedskap uitgerus is, wat ons moeite spaar en byvoorbeeld die water warm in die bad laat vloei. Ons voedsel is gesond en voedsaam en word deur kenners gekontroleer, wat liewer reusagtige hoeveelhede laat vernietig voordat hulle toelaat dat ons verkeerde voedsel inneem. Die vlak van ons gesondheid is so hoog dat ons lewensverwagting dubbel en drievoudig so hoog is van bevolkings wat ons higiëne nie ken nie. Ons beskawing toon baie ander voordele wat uit wetenskap en tegniek ontstam: Bv. vinnige, betroubare verkeersmiddels op harde paaie en spore, goed-betaalde werkplekke, egte geld waarmee ons begeerlike dinge kan koop, goeie — al hoe beter wordende — onderwys vir ons kinders wat dus die voordele kan uitbou en vermeerder.



Hoe presies die wetenskaplike vooruitgang is, kan ons op die vlak van die oorlogvoering aflees: In vroeëre tye het die leeraanvoerders sonder skrupel hul eie vegters wat in handgemenge met die vyand was, deur beskut beseer, en het die dood van ‘n hele troep in koop geneem. Deesdae het ons onbemande rakete wat instand is om doele oor honderde van kilometers aan te pyl en met ‘n trefsekerheid van een meter te verniel. En dit sonder verlies van menselewens. Daar bestaan lankal sulke fynvoelige bewagstelsels wat ‘n „bliep” langs die landebaan as mens kan identifiseer; deur die trilling kan bepaal word of manlik of vroulik. Afweerrakete met radarstuurinrigting kan in die lug draai om ‘n vlugtende vyand agterna te sit. Ons het vinnige vliegtuie met ‘n sprokiesagtige „towermus” wat onsigbaar maak sodat hulle van die vyand se radar amper of glad nie waargeneem kan word nie. Hierdie gevegsmetodes word uit ‘n groot afstand deur ‘n dosyn sateliete ondersteun wat in wentelbane in veilige hoogte op so ‘n manier draai dat elke plek op aarde te alle tye deur minstens twee sateliete dopgehou kan word. Ongeag hoe die weer is, kan ‘n oorlogsmissie met sodanige uitrusting bedags en snags gevlieg word. Een van die doele van die moderne wetenskap is om ons van die natuur se boeie en kettings te bevry; in die oorlog van die Nuwe Tyd het ons díé doel tot ‘n aansienlike mate bereik.



Onwillekeurig ontstaan vrae oor die gebeurtenisse in Jugoslawië:

° Hoe is dit moontlik dat die bombardering van Serbië slegs by nag en slegs by goeie weer kon plaasvind? — Weet ons mos sedert jare en dekades dat ons seuns oor die beste logistiek en wapens van alle tye vervoeg, wat alle voordele van die moderne wetenskap soos vlieg onder alle weersomstandighede, nag- en instrumentevlieg en die virtuele onsigbaarheid insluit.

° Sou dit nie moontlik gewees het nie om die vierhonderd beskikbare gevegsvliegtuie in die eerste dae — in die eerste nag! — doelgerig in te sit en die driehonderd identifiseerde pantsers, saam met ‘n honderd ander doele van die aanvallende leer in Kosovo te vernietig, pleks die hoofstad van die omstrede provinsie, wat bevrý sou moet word, in puin te verwandel? — Weet ons mos dat ons wapens tegnies meerwaardig en volmaak is.

° Is dit moontlik dat die Serbe met voorbedagte raad ‘n kinderhospitaal neëntig sentimeter van ‘n werkswinkel vir die produksie van belangrike oorlogsgoed kon opgerig het? — Weet ons mos dat die akkuraatheid van die wapens en logistiek onoortreflik is; ongelukkigerwys is daar nog steeds een meter onpresiesheid. Sulke serbiese opset is oënskynlik krimineel, ja psigopaties, nie waar nie?

° Is dit moontlik dat dieselfde psigopate hul staatsgrense sonder toestemming verskuif het, wat daartoe gelei het dat ons bomme in ‘n buurland ontplof het?

° Is dit ooit moontlik dat siviele vlugtelingtrekke gebom is, pleks van militêrdoele? – Weet ons mos wat vir ondersteuning ons ouens geniet, hoe sorgvoudig die beplanning en uitvoering gewees is. Beslis het die psigopate onskuldiges as beskutting vooraangedryf!

° Is dit egter die moontlikheid dat die ambassade van ‘n staat „per abuis” aangeval is omdat ons ouens op die verkeerde spoor gekom het weens ‘n stadplan van 1990? — Weet ons mos . . .



Sê maar, wat weet ons hoegenaamd? (As ek ‘n ou stadplan uit my Stuttgart-tyd uithaal, is dit uit nostalgiese redes: Ek sou nooit op die dowwe gedagte kom om dit aan iemand te leen sodat hy dekades later in die stad teregvind nie!)

Wat ons „weet”, weet ons uit bewerings in koerante en leerboeke wat ons nie kan ondersoek, nie kan bewys nie; tweedens „weet” ons van die oorlog hoofsaaklik dit wat die sogenoemde „amptelike bronne” ons vertel, wat soveel beteken as die militêrse propaganda-apparaat: Die bond van duitse joernaliste het nog in die eerste dae van die oorlog gewaarsku om nie ‘n ieder en ‘n elke berig uit die oorlogsgebied sommerso te glo nie: Dit sou nie moontlik wees om by alle berigte te proef of hulle waar is of nie. (Juis so was dit ook destyds in Irak.) Ondertussen sou daar kontakte met geloofwaardige mense in die oorlogsgebied wees.

Maar wat beteken hier „oorlogsgebied”? Amptelik heers geen „oorlog” nie! Wat dit is, weet ek nie, maar oorlog is dit na bewering nie: As die son skyn is dit nie dag nie, as dit reën is dit nie nat nie. As die bomme val is geen oorlog nie. Per dekret. Punt. Uit.



Hoe was dit nou weer met die psigopate? Miskien is daar werklik sulkes, nie net diegene in Belgrad nie, maar ook diegene in Brüssel, en veral diegene in Washington. ‘n Hele skaar.



Watse spook dwaal hier om? Die aantal vliegtuie het in die duisende aangestyg, dienooreenkomstig die getal nagtelike terreuraanvalle, dooies en verminktes, diegene in lewensgevaar weens geneeskundige onderversorging en elektrisiteit-uitval, mense sonder huisvesting en weeskinders — maak nie saak aan watter kant hulle getel word nie. Die hoogste politici van die verdedigingsalliansie van die westelike state maak verklarings wat niks minder as bedreigings is nie. Daarby het die meeste gely, en ly nog, wat gered of bevry moes word. Sou moes word.

Dit klink soos die kind wat in Januarie verjaar en tussen Kersfees en Nuwejaar stelselmatig al sy geskenke verniel omdat dit bang is iemand sê, dit het soveel speelgoed, vanjaar kry dit niks meer nie. Dus — is die logiek — as ons die duur wapens het, hoekom mag ons nie daarmee speel nie? Want, as ons die wapens nie inset nie, is dit nie moontlik om te bewys dat hulle hul beloftes inhou nie, en tweedens dat al hoe minder parlementslede, by dié staatskuld, bereid is om ons oorlogsministeriums verder sulke astronomiese bewapenings­begrotings toe te stem.

Nog ‘n vergelyking is die offisier wat uit die oorlog teruggekeer en ‘n muis in sy kombuis gevind het. Hy het met ‘n kannon oralom geknal tot die huis inmekaargesak het. Toe was hy tevrede dat daai muis nie weer gaan steur nie. Om in jou eie huis onsin te pleeg, is een ding, maar as die boukontrakteur in ander mense se kombuis knal, is dit minstens onsedelik, of miskien ja krimineel? Natuurlik sal daar ‘n paar bure wees wat bly is oor die slag tussen die onbeleerbare en die muis in die kombuis, en die daad op een of ander manier as bewonderenswerd aansien; ongelukkig sal daar ook ‘n paar families wees, besonders die wat in die huis saamwoon wat gaan bang wees — weens die kinders. Begryplik — maar ‘n bietjie porselein gaan mos immer stukkend. Ongelukkig, ja ongelukkig. In ieder geval gaan die leweransiers vir die opdragte bly wees as die heropbou plaasvind.

Soos die finansies nou staan.



In die politiek is ‘n lobby ‘n groep met behoeftes wat by die wetgewer kom voorstel en sy wense by die parlementslede voordra. Die suksesvolste lobbies is samestellings van kapitaalsterk nywerheids- en finansinteresses — magtige konserne met internasionale betrekkings, nedersettings oral op aarde en politici uit verskillende partye en state in die bestuur. Juis hulle is dit wat weens „die stand van die finansies” of weens hul skuld „aan die aandeelhouer” (wie hy ook al mag wees) onvoorwaardelik ‘n oorlog nodig het, oftewel wat sulke oorloë moet vorentoedryf. Want vir hierdie firma-konglomerasies is dit noodsaaklik om moontlik hoë dividende aan hul aandeelhouers uit te betaal; net dat ons ons moet vra of oorlog en die produksie van wapentuig die geskikste middels is „om die wins te maksimeer” om die eienaars van besliste papiertjies te bevredig. Daar vra elkeen of hy of sy tot die besorgte bure of die jubilerende leweransiers behoort . . . Is ons seker dat dit nie met ons ook kan gebeur nie?

Dit sou nie vanpas wees nie, waarlik ‘n hoon, om hier van moraal of religieuse houding te praat. Want die kapitaal ken geen moraal nie, dit is sy eie godsdiens. Afgodediens.



Waarvoor die oorlog (wat nie sou gewees het nie) goed kon wees? Om ‘n diktator in die knieë te dwing, en hom en sy aanhangers daartoe te bring dat hulle ophou met die volksmoord op meer of minder weerlose onderdane. Goed so, ons stem saam! Ons begrip van mensewaarde, wat die demokratiese denke van die nuwe tyd ontspreek, verbied ons die gedagte van ‘n alleenheerser. As ons soiets vermoed, voel ons verplig met alle middels daarteen aan te gaan, soos byvoorbeeld in Libië, Chile, Irak — of Jugolslawië.

Het ons origens hoegenamd ‘n reg om ons politiese, sedelike, geloofs- maar veral ons ekonomiese opinies op ander mense af te dwing? Dis ‘n vraag wat menige mense stel, byvoorbeeld by die ontwikkelingshulp: Weeg die goeie wat ons bring op teenoor die bose wat saam ingesleep word? Verdere vrae: Hoe standvas is ons oortuiging dat juis óns kultuur die andere oortref? Kan ons op ‘n ander kultuur as geheel gevolge trek aan die hand van één leierspersoonlikheid as „verteenwoordiger”? Glo ons werklik dat ons daardie „verteenwoordiger”, wat oortuig is van sy reg, met geweld gaan onderkry? Het ons sielkundige wete soseer nagelaat? Of vergeet ons wat ons geleer het, wanneer dit nie in ons momentele denkskema pas nie?

Weet ons tog(?) uit die biologieonderrig, dat die swakker dier (soos byvoorbeeld ‘n muis) as alles hopeloos is, teen sy vervolger (hier die kat) gaan draai en uit twyfel tot die bittereinde gaan veg, al is dit slegs sekondelank. Verder weet ons van diegene volke en stamme wat „met die rug teen die muur” tot die laaste neerlaag geveg het, en van die enkelinge wat tot selfoplossing „hul man gestaan het”. Meestens word agterna in die voortsetting van die storie moraliseer: „En so moet ook jy jou standvas tot jou geloof / volk / koning / ensovoort beken!”

En presies so maak dit meneer Miloseviç in Serbië. Net dat ons nie sy geloof deel nie. Dit maak nie sy geloof sonder twyfel vals en ons geloof regtig nie; slegs anders. Ons kan nie aanstoot neem dat hy anders glo nie, eerder hóé hy sy geloof uitoefen, aldus hoe ander mense daaronder moet ly; hoe hy met sy geloofsbroers daardie geloof tot uitdruk bring. Na alle berigte sou dit besonders gruwelik gewees het. (Hoe betroubaar is die berigte? Hoeveel vertroue kan ons die beriggewers skenk?)

Hier ontstaan die volgende vraag: Deel ons die geloof van diegene wat ‘n nie-oorlog bedryf, wat oor duisende van sekere kilometers voor die virtualiteit van ‘n televisieskerm plan hoe hulle hulself kan rykmaak aan die weeropbou van die verwoesting (wat hulle en hul volgelinge, die westerse politici, veroorsaak het).



Is dit moontlik dat iemand ons almal, nie net die Jugoslawe nie, iets in die nes gelê het? Van die westerse, nie net die oosterse propaganda-apparaat nie, van die finansie-haaie wat snuf van gewin in die neus gekry het? Van mag-gieriges wat hulle „invloedsfeer” nuut opdeel, wat „die kaarte nuut uitdeel” afwagtend op die nuwe rondte?

Dit is die moontlikheid dat ek en jy ook op ‘n koekoek se eier sit, waarvan die grootte eers na maande en jare geskat kan word.



©4e.April2016……….(2&6glftje21april99mglkorrigf)tje

[Soos ons sien, is hierdie ‘n ou opgewarmde artikel wat vandag so aktueel is soos destyds!]




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. neels

      April 12, 2016

      bie dankie Toom jou werke is altyd leersaam

    2. profiel foto van Evelyn van der Merwe

      Evelyn van der Merwe

      April 12, 2016

      Interessante slotreël om aan te kou. Dankie vir die deel.

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 140
    Kommentaar telling: 133

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 22 gaste aanlyn