Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: In die gees van Paasfees – skuins voor Paasfees

Deur Karin Muller
Datum gepubliseer: 12 April 2017 Aantal woorde: 287 89 Kere gelees 3

Opwinding en afwagting was duidelik op hul gesiggies te sien toe hulle die klokkie by die hek druk.

Vir die komende vakansie wou hulle geld insamel. Die feit dat leerlinge geld insamel, was nie vir haar vreemd nie. Daar was altyd skooltoere of sporttoernooie wat ’n sakgeldjie vereis het. Hul eie kinders het ook al planne beraam om ’n ekstratjie bymekaar te maak.

Hierdie keer was dit anders. Die twee laerskoolseuns het beduie dat hulle deur middel van kulkunsies geld insamel.

“Sal tannie asseblief kyk?” het die donkerkop gevra. “En as tannie daarvan hou, kan tannie vir ons ’n skenking gee?” het hy bygevoeg.

Natuurlik wou sy kyk.

“Ons bly net hier onder in die straat,” het die jonger een beduie terwyl hy ’n 50 c-stuk laat verdwyn. Terwyl sy glimlaggend kyk hoe hy geesdriftig dit wat hy geoefen het vir haar uitvoer, het sy begin wonder wat hulle met die geldinsameling beplan. Waarskynlik om ’n rolprent te gaan kyk. Of ’n nuwe rugbybal. Of ’n paar pakkies lekkergoed.

“Wat beplan julle met die geld wat julle bymekaar maak?” het sy onverwags gevra.

Die twee seuns het nog breër geglimlag.

“Ons gaan ’n boek skryf wat ander kinders kan leer hoe om hierdie kulkunsies te doen,” het die langste een trots gesê.

Sy het haar beursie gaan haal. Of die projek ’n werklikheid gaan word of nie, is nie vir haar van belang nie. Die feit dat hulle iemand anders se lewe wil verryk deur iets van hulself te gee – dít is belangrik.

As ’n mens stil word en daaroor dink, pas dit wat hulle beplan so reg in die gees van Paasfees – so skuins voor Paasfees.

http://www.netwerk24.com/ZA/Noordkaap/Nuus/in-die-gees-so-skuins-voor-paasfees-20170411-2




  • TEMAS
    1 Kommentaar
    1. profiel foto van Anze

      Anze

      April 12, 2017

      Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April ope afdeling projek 

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Karin Muller

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 14
    Kommentaar telling: 4

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 26 gaste aanlyn