Jongste aktiwiteit:

Hond se gedagtes

Hond se gedagtes

Janee, ek moes dit geweet het. Daai klein bruin bliksem moes nie hier kom rondsnuffel nie. Die baas het hom gesê om te voesek, maar hy het teruggekom. Ja, in dieselfde nag het hy weer deur die gat in die heining gekuip. Ek en die susters het hom ook gesê hy moet voersek, maar nou ja, dit het nie gehelp nie. Die ding is, hy’s so flippin sexy. Daai bruin lyfie en daai fris spiertjies op sy voorbeentjies, ai toggie. Ek het so lanklaas so lekker gevoel, so lanklaas soveel aandag gekry en ek was so vreeslik gereed vir hom. Toe die susters slaap het ons in die houtskuur gaan kuier en hy was tog so versigtig en sensitief. Dit was nege weke gelede en toe sit ek en sus Tryntjie met poepense, en die bruin kêreltjie is nêrens te sien nie, tipiese hond, maar nou ja.

Donderdagaand het ek geweet dis tyd. My lyfie is rond soos ‘n bal en ek sukkel om te slaap. Die arme tepels hang soos klein teesakkies en my rug wil afbreek as ek sit of hardloop. Die susters is nie baie ingenome met my of Sus Tryntjie nie. Annatjie sê sy wil niks hiermee te doen hê nie en Katryn is tjoepstil. Jackie, wat in die huis slaap, is so vol van haarself dat sy net grynslag as sy ons sien. Ek het nou die dag gehoor sy sê vie Annatjie sy voel skaam oor ons nou in die ander tyd is. Skaam, vra ek jou, skaam vir wat? Die klein teef, slaap elke aand in die huis op die baas se bank terwyl ons hier buite moet slaap, en as hulle haar uitsluit is dit heelnag se gekerm en geblaf en gehuil, geen ordentlike hond kan dit met so ‘n opgesmukte teef hou nie. Bruinmannetjie wou ook niks met haar te doen gehad het nie, gesê sy is ‘n tewerige teef, en ek blameer hom nie. As die baas met haar raas dan is dit mos stertjie tussen die bene en kruip en skaam houdings, partymaal piepie sy ook sommer ‘n plas. Nee wat, ek het nie veel ooghare vir haar nie. Ek en Tryntjie sal maar op ons eie regkom.

Ek het toe maar in die houtskuur op die ou stofbaadjie onder die gekraakde kas gaan inkruip. Daar’s net een inkomplek en dis droog en die ou baadjie is darem nog so ‘n bietjie sag. Ek het skaars my lê gekry toe begin die krampe. Julle moet verstaan dat dit nie my eerste keer is nie, so ek weet van kleintjies kry, was al ‘n paar keer op die plek. Met die krampe kom die vog en toe kom die eerste enetjie. Kort daarna die tweede enetjie en ek was nog besig om hulle skoon te lek toe is nommer drie ook daar. Almal is wit met bruin kolle en lyk na my. Ek is so trots op hulle. Nommers vier, vyf en ses het met mooi tussenposes gekom. Ek het net genoeg tyd gehad om elkeen skoon te lek voor die volgende ene kom. Ses kleintjies, almal gesond en lewendig, met geen afwykings of tekortkominge nie. Almal het dadelik instinktief geweet waar om my tepels te kry en die pynlike genot om my werpsel te voed was so absoluut aangenaam. Vir die eerste keer in baie weke kon ek weer lekker slaap.

Saterdagaand het Tryntjie ook begin kramp. Sy het ‘n gat onder die ou sleepwaentjie gevind en daar ingekruip. Ek hoor sy het ook ses gehad, maar ek bly weg daar, want ek weet hoe sy raak as sy eers gejong het, geen mens of hond kan naby haar kom nie. Sondagoggend toe ek gaan water drink het sy gegrom toe ek daar verbygaan. Ek wou nog kyk of alles goed afgeloop het, maar as Tryntjie grom weet ek dis beter om weg te bly. Ek het gehoor die groot man met die diep stem vertel dat sy ook ses gehad het en dat almal wel is. Hy het vir ons ‘n bak met eetgoed en ‘n bakkie water hier naby kom neersit. Ek het hom gaan dankie sê, en ek hoop hy onthou om die eetgoed elke oggend aan te vul. Hulle het weer gistermiddag vuur gemaak en die geur van braaivleis het my regtig laat kwyl. Die gedurige gesuip aan my tepels suig letterlik alle voedingswaarde uit my lyf. Ek het gaan kyk vir ‘n eetdingetjie by die vuur, toe gee die man vir my ‘n varkvel vol vet en ook ‘n stukkie vleis. Dit was so lekker, min, maar beter as niks. Hy het ook vir my en Tryntjie later die aand elkeen ‘n stukkie koue wors gebring. Ai, dis ‘n goeie man, maar ek weet ook nie, partymaal is hy so nors en onbeskof, veral as Annatjie aan sy tone lek. Ek dink nie hy hou daarvan nie.

So nou gaan ons aan, ek met my ses en Tryntjie met hare. Jackie en Katryn het al kom kyk, maar ek en Tryntjie het dit duidelik gemaak dat hulle niks hier verloor het nie. Vandag is Maandag, ek is seker die groot man gaan weer braai vannaand. Hy braai elke Maandagaand. Die baas is ook hier, hy kom net naweke hierheen, maar hy sal hopenlik ook seker vir ons ietsie spesiaal gee. Vannaand sal ek gaan kyk of daar weer ‘n stukkie vleis vir my is. Die kleingoed kom mooi aan, maar hulle suip al meer en meer, dus moet ek al meer en meer eet net om aan die lewe te bly. Die goedjies darem ook, hulle is so klein en so pragtig, vier wittes en twee grys lyfies met wit kolle. Ek wonder waar die bliksem van ‘n bruinmannetjie is en hoekom hy nie na sy kinders kom kyk nie, seker maar hoe honde is, oomblik se plesier en die res van die harde werk word aan ons dames oorgelaat terwyl hy in ander plekke gaan rondsnuffel en teef soek. Hy sal moet mooi praat as hy hier kom, ek gaan hom ‘n stuk van my idees meedeel, ‘n stuk wat hy nie van gaan hou nie.

Nou ja, dis namiddag se rustyd. Laat ek die gebroedsels tot ruste kry en probeer om self ‘n bietjie te slaap. Ons sal maar sien hoe dinge verloop en wat die baas met al die kleingoed gaan doen, maar vir nou woon ons op die stofbaadjie in die houtskuur onder die gekraakde kas.

©Grootvissie
Oktober 2017




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed