Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Hersenskim

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 30 April 2017 Aantal woorde: 1756 94 Kere gelees 6

Dit was die dag toe die maan geval het. Alles het verander… Die doodskrete vul haar kop en haar oë skiet oop. Haar asemhaling is vlak en dit voel asof haar hart wil weghardloop.

Die maan skyn nog helder in haar spieël. Daardie dag het nog nie gebeur nie. Em sluk swaar en herinner haarself dat die hersenskimme van die toekoms nie altyd waar word nie.

Tog… Hierdie een was anders.

‘Wat het jy gesien?’

Em kyk weg van die maan na waar die swart kat op die divan in die hoek lê, sy blou oë gloeiend in die donkerte.

Haar asemhaling steeds vlak, kyk sy terug na die spieël.

‘Die maan gaan val. En almal gaan sneuwel.’

‘Wanneer?’

‘Gou.’

Hul oë ontmoet vir ‘n oomblik voordat die kat verdwyn. Sy weet nie wat die Feetjie Kat kan doen om haar visioen te voorkom nie, maar sy hoop hy is suksesvol.

Uitputting oorweldig haar en sy val terug op haar bed, vas aan die slaap.
#
‘n Geweldige rumoer maak haar wakker. Die son skyn helder deur die venster en brand al die vrees weg van die nag. Hoekom haar gawe om die toekoms te sien haar net in die aand pla weet niemand nie, maar sy wil nie te diep daaroor dink nie.

Sy vee haar hare uit haar gesig. Dit voel asof klein, stoute kaboutertjies haar hare deurmekaar gemaak het terwyl sy geslaap het. Haar glimlag verdwyn die oomblik toe sy agterkom dat die Feetjie Kat regtig nie in haar kamer is nie.

Hy het haar hersenskim ernstig opgevat.

Die stemme wat haar wakker gemaak het word al hoe harder. Em gluur deur die venster na waar verskeie wesens in haar tuin bymekaar gekom het. Die Feetjie Kat staan tussen hulle, sy swart pels duidelik tussen al die sagte lente kleure.

Em maak haar oë toe, vryf haar gesig en sug saggies.

Al die opwinding wat gewoonlik plaasvind wanneer sy ‘n visioen gehad het is die groot rede waarom die Feetjie Kat by haar woon. Sy moes geweet het dat hy nie ‘n kans soos dié sou laat verby gaan nie.

Sy maak haar kamerdeur oop en loop in die leef vertrek in. Die stowwerige boeke staan al weer orals rond. Em ignoreer dit en trek die deur agter haar toe, maak die deur reg langs dit oop en stap die badkamer in. Sy hou daarvan dat haar huis so klein van buite af lyk, maar dat elke deur na ‘n nuwe vertrek lei.

Partykeer is dit goed om met magiese wesens bevriend te wees…

Dit vat haar nie lank om klaar te maak vir die dag nie. Sy gooi die voordeur oop en laat die son haar verwelkom voordat sy uit die huis tree.

Die tuin is vol lente blomme – en vol Feë.

Bosnimfe wat geklee is in die blare en blomme van hul bome, piepklein woudkabouters wat deel word van die struike waarin hulle staan en vuil-vos-kabouters wat lyk asof hulle nou-net uit hul jakkalsgate gekruip het sonder om te bad stry hard oor wat elkeen gehoor het van haar visioen.

Em weet dat meeste van hulle in die woud woon wat agter haar huis uitstrek. Na alles het hulle die huis vir haar gegee en versorg hulle haar tuin.

Sy voel amper uit plek uit met haar denim broek, tekkies en T-hemp. Om die enigste mens tussen so baie Feë te wees is nie altyd maklik nie.

Almal word stil toe hulle haar gewaar.

‘Is dit waar?’

‘Wanneer gaan die wêreld eindig?’

‘Wat gaan ons doen? Ons kan nie terug gaan na Feërie nie!’

Em gluur vir die Feetjie Kat wat duidelik dink alles is snaaks soos hy almal dophou om te sien hoe hulle reageer. Dit lyk vir haar asof hy al die opwinding net te veel geniet.

‘Luister,’ sê sy so hard, tog rustig, as wat sy kan. ‘Julle weet dat nie al die hersenskimme van die toekoms waar word nie. En –’

Terwyl sy praat word alles skielik donker soos nog ‘n visioen haar vat.

‘Wanneer is dit nuwemaan?’ vra sy skielik.

‘Môre aand.’

Sy sluk swaar.

‘Dis wanneer die maan gaan val.’

Almal praat gelyk, paniekbevange, terwyl Em probeer om regop te bly.

‘Tyd om die druïdes te laat weet,’ sê die Feetjie Kat met ‘n grynslag.

Em krap haar kop waar dit weer so verskriklik jeuk agter haar oor terwyl al die Feë stry – feetjies en druïdes is nie mal oor mekaar nie. Hulle hou aan en aan, die chaos word net erger, haar kop jeuk meer en die Feetjie Kat hits almal aan.

‘Genoeg!’ gil sy om oor die geraas gehoor te word. ‘Ons het al die hulp nodig wat ons kan kry.’

‘Sy’s reg,’ sê een van die bosnimfe en verwyder ‘n woudkabouter uit haar hare. ‘Die kat kan hulle laat weet.’

‘n Algemene gemor word van die res gehoor. Tog stem hulle almal saam: hulle het hulp nodig en die Feetjie Kat kan na die druïdes daarvoor gaan.

‘Tussentyd sal die res van ons vir die oorsaak soek,’ sê ‘n donkerbruin woudkabouter wat Em tot dusver glad nie gewaar het nie.

Almal luister vir hom en Em vind haarself alleen in haar tuin. Sy gaan sit op die klipbankie en laat toe dat die vrees van ‘n visioen in helder daglig haar oorweldig. Maak nie saak wat sy vir die Feë gesê het nie, sy is seker dat die maan gaan val voordat enigiemand weet hoekom.
#
Dis skemer. Dis amper tyd vir die nuwemaan om haar verskyning te maak. En as Em se visioen reg is: tyd vir die maan om te val.

In die twee dae wat hulle gehad het om uit te vind waarom die maan skielik hard wil kennis maak met die aarde, kon niemand enige rede vind nie en dus kon niks daaromtrent gedoen word nie.

Nie eens die druïdes kon aan iets dink nie.

Almal van die woud is bymekaar by die menhirs in ‘n sirkel op die heuwel. Die skadu’s van die regop rotse laat Em se kopvel kriewel. Die druïdes het hulle genooi na hierdie plek vol bonatuurlike krag. Sy sluk swaar met die wete dat as hulle suksesvol wil wees hulle al die magiese kragte tot hul beskikking moet gebruik.

Al moet hulle saam met die druïdes in hul laslappie vloerlengte mantels werk.

‘Ontspan jy nou, Siener. Daar’s ‘n goeie rede dat ons pers mantels van verskillende materiaal gemaak is: elke pant het ander toorkrag in. En dis van die sterkste magiese kleur gemaak. Ons gaan nie vannag verloor nie.’

Sy hoop die druïde is reg: na alles het hulle besluit om die maan se krag te benut om hul almal te red.

‘n Paar woudkabouters trek aan haar broek en lei haar na die middel van die menhirs. Die res van die Feë pak blomme en takke om die rotse terwyl hulle saggies sing en in sirkels draai.

Em kan nie anders as om haar oë toe te maak teen alles wat sy sien nie. Al maak die beelde wat sy dán sien haar net banger.

Die groot, geel maan wat al hoe nader kom totdat dit voel asof dit haar insluk. Vuur wat uit die aarde spoeg. Feë, diere en mense wat brand voordat hulle vergaan. Stukke rots wat sommer net is in die buitenste ruim – daar waar die Aarde en maan eens was.

Sy maak haar oë weer oop. ‘n Bosnimf vee haar trane af – trane wat sy nie eens van bewus was nie.

‘Vanaand,’ begin die hoof druïde, ‘gaan ons –’

Hy tuur in die verte in en almal draai hul koppe om te sien wat sy aandag getrek het.

Die Feetjie Kat kom soos blits aangehardloop. Em het gedink dinge loop net té glad. Maar dalk, net dalk, weet hy iets…

Dis al amper te laat – agter die kat kan sy al die groot, geel maan sien wat wil-wil die grond raak.

Uitasem kom hy tot stilstand in die middel van die menhirs, reg langs Em.

‘Kaboutermannetjies het al die gladde swart stene uit die mensewêreld gesteel en aan ‘n belangrike Donker Fee verkoop in Feërie.’

‘Wat?’

Hy gluur vir die vuil-vos-kabouter.

‘Daar’s nie tyd nie! Kom! Gou!’

Em volg nie alles wat die druïde so vinnig beveel nie. Al haar aandag is op die kat wat lyk asof hy enige oomblik kan omval.

‘Hoe?’

Hy kyk vir haar en dit lyk asof hy glimlag.

‘Ek’s ‘n kat.’

‘Kom julle twee! Tyd om te dans!’ ‘n Bosnimf gryp Em se hande en trek haar saam in die sirkel van dansende druïdes en Feë in.

Hulle dans om die sirkel van menhirs terwyl die druïdes iets in ‘n vreemde taal sing en die vuil-vos-kabouters op hout xilofone speel wat om hul nekke hang. Dit voel vir Em asof hulle die dans van die dooies doen met die hol klank van kletterende bene as musiek.

Sy giggel. Die beeld is nie so ver van die waarheid nie.

Die maan kom al hoe nader. Die see het al lankal stil geword en dit maak dat die liedjie wat die druïdes sing en die vuil-vos-kabouters speel harder klink as wat dit moet op die heuwel.

Em kyk om haar waar sy dans saam met die wesens van die woud en kan nie help om te wonder of alles vergaan omdat sy hersenskimme kry nie.

‘n Nuwe klank kom by die musiek waarop sy dans. Dis asof iets val op die gras om hulle.

‘Kyk,’ sê die Feetjie Kat wat agter haar in die danssirkel is. ‘Al die gesteelde stene kom terug na die wêreld waar hulle hoort.’

Sy kyk mooi na die donker gras en kan net-net die glans van swart stene sien in die maanlig.

Al die Feë en die druïdes dans vinniger, meer uitgelate en opgewonde soos hulle ook agterkom dat die stene terugkom.

Skielik voel dit asof sy terug gedruk word op die grond. Sy kyk om haar en sien dat dit nie net sy is nie: almal sukkel om te beweeg. Em se oë skiet dadelik na die maan: sy is besig om haarself weg te druk van die aarde.

Woerts! gaan die maan terug na haar regte plek in die hemelruim. Al die wesens en mense lê plat op die grond as gevolg van die skielike lugleemte.

Hulle lag. Hard. Uitbundig. Vrolik. Hulle was suksesvol.

Dit was amper die dag wat die maan geval het.




  • TEMAS
    1 Kommentaar
    1. profiel foto van Anze

      Anze

      Mei 1, 2017

      Baie dankie vir jou deelname aan die INK en SA Vryskutskrywer kompetisie, sterkte en mag die beste persoon wen!

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 39
    Kommentaar telling: 244

    Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar.My wêreld draai om my twee Rottweiler seuns – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my blog https://ronelthemythmaker.wordpress.com/.

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 91 gaste aanlyn