Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ODE AAN DIE HERINNERING

Deur Toom
Datum gepubliseer: 10 Julie 2017 Aantal woorde: 459 641 Kere gelees 5

ODE AAN DIE HERINNERING

[Eerstmaals op INK: 1. April 2016; my eerste plasing]

Soos ek hier voor my venster sit en droom,

en dis binne warm en buite ryp en sneeu,

daar hoor ek van die woud se donker soom

hoe die rawe kla en skreeu;

Dit koer nie soos die tortelduiwe,

dit gil en krys soos die wiel van die wa

wat oor die klipgrond-afgrond skuiwe

ewig ver, doer in my Afrika.

En ek dink aan die zoem van die tsetsevlieg,

daar hoor ek hiëna se snikkende roep. . .

as ek nou eerlikwaar moet bieg:

Ek verlang na my oupa se stoep!

Daar het ek etlike langaande destyds geluister

na die bosveld se roemoer en klanke

in al vinniger toenemende duister:

Gebrul en gefluit, geknor, die getjanke.

Dink maar, selfs die roep van afskuwelik hadida

kom my voor soos ‘n lied uit ‘n heerlike droom —

en ek wens, ek wens en verlang na Suid-Afrika,

waar die reier staan — en droom vir my droom.

Dis die droom van ‘n heeltemal anderse wêreld,

van die son met die geur van smeulende vleisbraai hout

of kerrie so skerp, die sweet om my neus maak pêrels —

wanneer niemand eers dink aan die woordjie „koud”;

waar die helder dag vinnig opkom, en hy kom om te bly,

en die nagdonker heel later ‘n kombers kom bedel;

die gesig van die maan straal oor die ganse kontrei

geteken met ink op sy blasronde skedel.

Maar in hierdie uiterste, koudste hoek van die hel

waar alles so stram is, dit breek maklik af

— daar ís soiets, laat ek jou mooi vertel —

daar hoor ek die lied van die jakkals se blaf . . .

Hier, waar die berkebome vol nagryp tot namiddag

opgery staan langs die padrand soos bruide

voor ‘n chinese massa-huwelik met duisend pare,

daar trek my hart soos ‘n speer na die suide . . .

Niks kan verdelg die ysige koue wat kruip deur die vingers

die tone, die knieë, die heupe (verstyf en verroes)

tot in die buik, in die borskas waar die hart lê en tril:

Gaan ek die winter oorleef? Of ek wil?

My kamer’s vol kleure – daarbuite is’t grou.

Deur die pype kom warmte – teen die uiterste kou.

Dis wat binne is wat besluit, dis die eintlike wil

wat sê, „Jy moet uithou, net uithou. Dis netnou April!”

Of ek wil? Of ek wil? Ek moet net wil!

☼☼☼☼☼

©1. April 2016…..☼☼☼☼☼⬡⬡⬡☼☼☼☼☼……………tje

[Hierdies het ek al Februarie geskryf, toe dit nou werklik koud was; toe kom die mislike newelige ,winter aan die kus’. En nou issital April. Vandag skyn iets daarbuite — ja, die son! Verbeel jou, die son!!!
Origens so lank sukkel arme ou analfabeet ek om lid te word. Nouja, so is dit, laat dit so wees.]




  • TEMAS
    6 Kommentaar
    1. profiel foto van Anze

      Anze

      April 2, 2016

      sjoe dis so mooi en vol nostalgie.. mens voel jou diep verlange na ons pragtige sonskynland!

    2. neels

      April 2, 2016

      Soos Anze dit stel, vol nostalgie

      • profiel foto van Koekekranka

        Koekekranka

        April 17, 2016

        Al klink dit ookal hoe romanties om daar elders in Europa te vertoef, sien ek nie kans vir die sneeu en sy koues nie. Nee wat,, jy maak my sommer weer kans sien vir ons winterrypies! Maar mooi bly my vriend en namens ons Land sê ek voorbarig dankie vir jou teurlied vol verlange, Laat mens maar weer besef hoe dankbaar ons hier behoort te wees!

    3. profiel foto van Evelyn van der Merwe

      Evelyn van der Merwe

      Junie 29, 2016

      Aitsa Toom, hoe gaan grawe jy darem nou hier vir ‘n woorskildery soos min. Knap gedaan.

    4. profiel foto van Anze

      Anze

      Junie 29, 2016

      Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Winter nostalgie projek

    5. Kiekies

      Julie 1, 2016

      Wat ‘n puik-puik briljante gedig uit Oom Toom se pen!!

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 129
    Kommentaar telling: 130

    Dag-ook, alhoewel ek miskien 'n bietjie baie oor taalkwessies en filosofie mag redekawel, het ek NIE 'n graad of soiets in  taalkunde of wysbegeerte nie. Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, van biertjies op die stoep, dagblaaaie en vaktydskrifte en die gans normale daaglikse waansin. Sommiges het bly kleef. Weiniges.Sedert meer as veertig jare woon ek in Duitsland; het vrou, kinders, kinderssekinders, huis, hond gehad, katte ook, heimwee. Tweekeer het ek in hierdie tyd heimatverlof geniet.Eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies, stowwerige uitdrukswyse nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol.Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.- Oupa, nie alles wat lekker is, is soet nie. Proe maar hierdie klawerblad - dis mos lekkersuur, nè?So leer ons hopelik van mekaar. Groetnis vanToom

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 66 gaste aanlyn