Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: HEILIGE GROND

Deur Kiekies
Datum gepubliseer: 27 April 2017 Aantal woorde: 1241 96 Kere gelees 2

Die wind waai ons weg in onse baai, maar ons wil graag buite wees. Die oorskiet somerdae is min, dit weet ons. Ons moet die laaste warm sonskyndae ten volle benut. Dus ry ons in ’n rigting waar die wind minder sal wees, al dan nie windstil nie. So beland ons op die R45. Weerskante het herfs die wingerde in goud, koper, robyn en jasper se kleure geverf. Ons draai regs in ’n grondpad af, na Babylonstoren. ’n Plaas waar ’n stukkie geskiedenis lewendig gehou is. Geskiedenis wat in 1692 uitgebroei was.

Parkering vir baie voertuie, is onder priële ingerig. Sommer met die stilhou-slag is ons al beïndruk. Ons moet ’n paar honderd treë deur die tuine, wat met presisie uitgelê en afgekamp is, stap. Na die Kweekhuis (Greenhouse) restaurant, vir middagete. Dis ’n wandeling deur die paradys.

Daar gekom, moet ons naam onderaan ’n lang lys gaan, om ons beurt af te wag vir ’n tafel. Ons gee egter nie om om in die rustige koelte onder reuse Eikebome te vertoef nie. Oral is daar bankies of muurtjies vir sitplek. Dit kon netsowel Babel van die Bybel gewees het, as ek luister na die tale wat vele uitlanders om ons gesels. In ’n kampie wikkel-stap drie yslike skilpaaie van heining tot heining agter grassies en blare aan, wat grootoog kindertjies aandra.

Die tyd vlieg as ek my so vergaap aan mense en ons word geroep. ’n Gedeelte van die restaurant is ’n opregte, oorgroot glas konservatorium. Behalwe dat daarbinne sitplek is, staan daar ook vele plante in rye. Dis glo die plantjies wat swaar gekry het in die amptelike tuin en bietjie verpleging nodig het. Die res van die tafels is in ’n oop tuin of plant-omheinde afskortings.

Ons bestel tuisgebakte ciabatta brood gevul met Parma ham en kaas wat op die plaas gemaak is. En vir ’n droë keel, ’n glasbottel vol tuisgemaakte ystee. Rooibos en mint met heuning uit die plaas se byekorwe. Genoeg om te deel. Op die tafel staan ’n bottel met yswater wat op-die-huis voorsien word om solank te teug terwyl ons wag. Hier is baie mense en ek vermoed die wag gaan lank wees.

Verbaas is ek toe my waterglas nog maar halfgedrink is en die kelnerin aantree met ons kos. Op haar linkerarm hou sy ’n outydse houtkrat waaruit sy ons kos pak. Die brood is in die plaas se kenmerkende Delft-geïnspireerde bedrukte papier toegedraai, wat sommer ook my plekmatjie word wanner ek dit oopvou. Om die pakkie is ’n spierwit katoen servet gerol en ’n mes en vurk saamgebind.

Saam met die brood word slaai in ’n glasfles bedien. Alles kraakvars vanoggend uit die groente- en kruietuin geoes. Varser as dit, groei nog iewers in ’n landery. In klein flessies gee sy ook tuisgemaakte tamatieblatjang en kruie-olyfolie. Ons eet en drink soos rojale.

Na ete stap ons deur die tuin. Dis heilige grond. ’n Tuin wat deur die oorspronklike Kompanje-tuine in Kaapstad aangespoor is, maar daar is ook verwantskap met die hangende tuine van Babilon. Daar is nie eers naastenby genoeg beskrywende woorde om dié asemrowendheid te beskryf, sonder om stroperig soetsappig, te klink nie.

Verskeie afskortings lewer kleiner tuintjies met eiesoortige plante. Eerste op ons pad wat met perlemoenskulpe bedek is, is die inheemse tuin en vetplantjies is my hart se punt. Dis moeilik om my hande tuis te hou, sodat ek nie ongemagtig stiggies vergaar nie. Mens, dis so mooi.

In die volgende blok is die bye en makadamia tuin. Op die hek word ons gewaarsku om liewer nie daar in te gaan nie, maar ek loer deur die hortjies om die malende bye te aanskou.

Langsaan is die moerbei meditasie tuin, waar ek en Bokka op een van die houtbanke in die skadu onder die moerbei plafon gaan gaan sit. Die son skyn net kol-kol deur die blare en takke, soos sterre aan die naghemel. Onwillekeurig word ons in stilte toegevou en onwillekeurig dink ek aan my Seuna-kind. Dis rustige gedagtes, sonder trane of pyn. Hoe wens ek ek kan so hoekie in my tuin hê.

Vêrder af met die tuinpaadjie ontdek ons die Pofadder. ’n Omraamde wandelpad wat soos ’n spelonk lyk en bestaan uit ’n staalraam wat bedek is met Balau-latte. Verskeie variante van die pragtige Plectranthus spesie met sy ragfyn blommetjies wat wissel van wolk-wit tot purper-pers, bedek die binnemure aan weerskante. Die vreugde stroom deur my oë en vul my binneste met lekkerkry en waardering vir God se handewerk.

Asof dit nie al oorvloedig genoeg is nie, spoeg die pofadder ons langs die stroompie uit wat deur ’n gangetjie tussen oeroue eikebome kronkel en oor marmer-gladde spoelklippe kabbel. Sommige bome is so oud dat die stam al heel hol is en ek verwag enige oomblik ’n Elfie om sy verskyning te maak uit ’n boomstam-huisie. Die kind in my huppel nou voor.

Ons volg die paadjie wat omsoom is met miljuisende en derjoene Clivia. Ek weet sonder twyfel dat ons in die lente weer moet kom kyk en stel my voor dat dit soos ’n oranje-geel, uitskop valle-romp behoort te lyk. Kan sommer nou-al nie wag nie.

Hier en daar swenk ons van die roete af om nog die turksvy-labirint, die bessie-bos, die hoender- en eendehokke te aanskou. Wewer nessies is op lang pale staangemaak langs die riete-ruskamer. Dis twee yslike geweefde kokonne met dik kussings om op te sit, wat aan ’n enkele ketting vanuit die riete-koepel hang. By die broodboom plantasie wat op ’n eiland van sy eie pryk, waar Cycads na die hemel reik met donker lowergroen swaaiende arms, eindig die wandelpad.

Ons moet links swenk in die rigting van die plaas se ingang, want die son trek al water en dis haas tyd dat besoekers die tuine moet ontruim. Ek stap vinnig ’n draai by die plaas donkies wat dit tog só geniet om hulle nekke en ore te laat streel en krap. En ek geniet dit om hulle te pamperlang. Bokka neem foto’s van die pragtige gewel geboue. Hy dink aan ’n nuwe skildery, sien ek. Eendag….as daar tyd is.

Daar is nou nog genoeg tyd om gou by die plaaswinkel in te glip. Dis verdeel tussen die delikatesse en rakke vol tuisgemaakte produkte. Onder andere kraakvars tuisgebakte brood, konfyte, blatjang, tee, souse, olies, kerse en seep. Aan die anderkant is die vleis seleksie, biltong, droëwors, kase en wyne.

Langsaan is ook die aroma winkel waar die verskillende geure olies mens beneweld laat. Olie onttrek uit orgideë, waterlelies, laventel en so baie meer. Olies wat vir aromaterapie en heling gebruik word. Ek is seker as mens lank genoeg stilstaan, sal enige kwaal of pyn vanself wyk. Dis ’n wonderlike reuk-sensasie en ervaring.

Ons moet beslis weer kom kuier. Volgende keer moet ons die tuin van genesing en die spekboom doolhof, wat die naam van die plaas uitspel, besoek. Ons het ook nie by die koejawel laning en die sitrus-, sagte vrugte- en olyfboorde uitgekom nie. Dalk moet ons sommer kom oorslaap in een van die gaste huisies. Ja, dis ’n plan.

Maar nou moet ons huis toe gaan. Toe ons later langs die koper sonsondergang oorkant die blou-groen oseaan ry, rangskik ek in my kop die wegneem-beelde, op die rakke van my herinneringe. Om enige tyd af te pak en weer met my geestesoog deur te kyk. Wat ’n onbeskryflike voorreg om hier in die Boland te mag woon. Dankie, Here. So baie dankie.




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. profiel foto van Okatopi

      Okatopi

      Junie 2, 2017

      So pragtig beskrywend soos altyd

    2. profiel foto van Ano

      Ano

      Junie 22, 2017

      Wil ook so ‘n hoekie he!!!

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Kiekies

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 25
    Kommentaar telling: 400

    Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

    Gebruikers Aanlyn

    3 Lede, 15 gaste aanlyn