Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Engel langs my

Deur Elroux
Datum gepubliseer: 4 April 2017 Aantal woorde: 694 102 Kere gelees 8

Ek is nou vuisvoos huis-voos. Moeg gesoek na ‘n spreekwoordelike holte vir ons voet. Soos alle ouer mense is dit nodig dat ons afskaal en dit beteken natuurlik kleiner gaan. Ongelukkig kan Manlief en ek nie te klein gaan nie want ons moet steeds ons gestremde seun wat afhanklik is van ons versorg. Verder moet ons voorsiening maak vir ons weeskind wat op ons pad gekom het en reeds die afgelope sewe jaar vakansies by ons kom kuier. Dus moet ons kleiner plekkie eintlik drie slaapkamers hê! Glo my dit is nie maklik om in die tye wat posseël-grootte plekkies gebou word so ‘n sakpas, hart-pas plekkie te kry nie. Dit is nou al meer as ‘n maand lank vandat ons ons huis verkoop het wat ons soek en daar is nie veel tyd oor om ‘n aftree plekkie te vind nie. Nadat ons nou al menige klein en kleiner plekkies in komplekse en aftree oorde gaan besigtig het, is ek hier waar ek nou in die gemakstoel sit, moedeloos gesoek en gebid vir ‘n groot genoeg plek vir ons almal.

Wrewelrig wag ek vir die huisagent om te kom om ons nog ‘n plek te gaan wys. Ek het geen begeerte om nog ‘n plek te gaan besigtig nie. Tog bid ek woordeloos: “Ag Here kan daar dan nie asseblief tog hierdie keer ‘n plek met ‘n ekstra kamer vir ‘n weeskind wees nie, en dalk asseblief tog Here ‘n tuintjie?” Meeste van die plekke wat ons gesien het kyk mens teen ‘n muur of in die oorkantste eenheid vas. Ek weet nie of ek sonder ‘n stukkie natuur in my oudag sal kan leef nie. Ek voel weer die wanhopige gevoel in my keel opstoot, daardie gevoel van Prediker se sprinkaan wat homself met moeite voortsleep en nie weet waarheen om te gaan nie.

Voor my sien ek skielik ‘n skurwebas-boom met die vreemdste deurmekaar takke wat agter ‘n muur staan in ‘n rooi gloed gehul. Die boom se bas laat my aan perkament dink. Ek stap nader om beter te kan sien wat aangaan. ‘n Wonder-wêreld van gogga-goed wat deur voëls geëet kan word woon onder die skurwe bas wat plek-plek soos los velle aan die boom hang. Groen peule hang soos geskenke aan die takke en die nektar van die geel veeragtige blommetjies lok bye, torre en skoenlappers. Bo in die boom is voëlnessies met voëltjies van alle soorte wat vrolik tjirp en kos vir hul kleintjies aandra. ‘n Pragtige prentjie van oorvloed lewe en hoop vou soos ‘n visioen voor my oop. Die moedelose gevoel sypel stadig uit my as ek vol verwondering sien hoe God vir die voëltjies sorg. Ek kry die seker wete diep in my hart dat ons die regte aftree plekkie gaan kry, want soos die Bybel sê, as die Vader so vir die voëltjies sorg hoeveel te meer sorg Hy vir Sy kinders.

“Vrou word wakker die agent is hier. Ons moet ry.” Half teensinnig maak ek my oë oop. “Ag nee dit was net ‘n droom.” Tog weet ek in my hart dat die Here vir ons sal voorsien maar sê niks want Manlief met sy wetenskaplike brein sal nie verstaan nie . Die plek wat die agent ons die middag wys is die swakste ooit. Vuil en verwaarloos en op die hoek van twee besige hoofweë geleë, met geen skurwebas boom in sig nie.

Dit is eers 2 weke later wat ons ons aftree plekkie kry toe ons na ‘n huisie wat op ‘n pypsteel erf gebou is en in ‘n afgesperde aria geleë is gaan kyk. Albei van ons hou onmiddellik van die plek, en ja daar is ‘n ekstra kamer vir ons vakansie-kind en nog ‘n tuin daarby. Alles waarvoor ons gehoop en gebid het en nog meer. Toe ek by die slaapkamervenster uitkyk staan ek verstom. Trane van dankbaarheid loop oor my wange. Agter die muur langs die pad staan sy, my engel,  as ‘n lewende bewys dat die Here vir Sy kinders tot in hul grysheid sorg. Die Papierbas doringboom van my droom afgëets in ‘n rooi gloed van die sonsondergang.




  • TEMAS
    1 Kommentaar
    1. profiel foto van Anze

      Anze

      April 4, 2017

      Dankie vir jou GrysKrag inskrywing

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Elroux

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 137
    Kommentaar telling: 69

    'n Pretorianer van geboorte tot nou. Ek was 'n navorser en het die lewe van alle kante gesien en beleef. Ek is geseën met vier lieflike kinders en 'n wonderlike man. Op 68 jaar is ek in my herfstyd waar ek elke dag binne die genade van die Here leef. Om te dig gee betekenis aan my lewe en ek hoop dat my skrywes iets vir ander mense kan beteken.

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 36 gaste aanlyn