Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: DROOGTE – Lank, lank gelede

Deur Toom
Datum gepubliseer: 3 Augustus 2017 Aantal woorde: 648 60 Kere gelees 3

[Het ek reg verstaan? Is die droogte verby? Gedeeltelik miskien? Elkgeval, hierdie staaltjie het my skielik tebinne geskiet. Gesondheid en ‘n lang lewe, wens ek julle. GvT]

DROOGTE Lank, lank gelede

België is ‘n besonders merkwaardige landjie. Eintlik is dit nie ‘n land, een land nie, maar twee streke van twee buurlande wat uit geopolitiese redes aanmekaar genaai is deur die grootmoonthede van ‘n vorige eeu. Tot vandag toe sê sommige mense nie dat hulle Belgiërs is nie, maar Walloniërs of Vlaminge. Twee heeltemal verskillende volkies wat nootgedwonge onder één vlag moet leef: In die Suide die nasate van gevlugte of „uitge­skopte” Hugenote uit Frankryk, in die Noorde „verstote” Rooms-katolieke uit Nederland. (Ek was daarby toe ‘n pater by ‘n internasionale kongres met simultaan-tolke as eerste in die mikrofoon gesê het. „Eindelik kan ek in my eie land my eie taal praat…” na honderde jare! So gou kan die heimwee jou onder die gordellyn tref, eina!) België is eintlik drietalig want daar’s ‘n distrik of twee aan die Oosgrens van waar die Koning-Boudewijn-Autobaan oor Brüssel na die kus loop. (Die pad het ‘n naam in aldrie tale; maar ek het nie meer die vertalings paraat nie!) Die duitse afdeling bly onaangeroer, maar waar die pad ‘n kort ent deur Vlaandere of Wallonië loop, word die blou anderstalige rigtingstafels verrinneweer.

Soiets soos „But not in my house”, maar op groot skaal!

Die Wallone het name soos Dupré, Labuscagne, Madeleine, Malherbe (in Holland omgedoop in Kwaadgras!), Tredoux en Du Toit (sê Duu Toea) by voorbeeld. Baie Vlaamse name stam uit die linnewebersbedrywe aan die kus, ondermeer die kleure waarmee hulle gewerk het, De Grijs, De Bruijn, (De) Swart, De Wet(!) My taalkollega vir Frans was ‘n Vlaming (Maar wie op hierdie aarde wil Vlaams leer?) met ‘n mooi walloonse van, soos ‘n blom so mooi. Eintlik was hy van huis uit kommunis en het in die tweede Wêreldoorlog onder die nasionaal-sosialiste swaar gely. Toe hy om ‘n pensioen in sy tuisland aansoek doen, ervaar hy dat hy as „voorbestraf” geld: Ondermynende, destruktiewe aktiwiteite in oorlogstyd, staan in sy lêer met ‘n hakekruis­stempel! Hy moes toe bitter veg om sy „misdaad” in ‘n „verdiens” om te wandel.

Sjoe! Eindelik is die inleiding verby. Het absoluut niks met die inhoud te doen nie. Man-o-man-o-man! Of miskien tog?

Kollega M het familie gehad wat na Suid-Afrika geëmigreer het. Hy sê hulle praat „zuid-afrikaansch”. Toe hy die eerste keer by hulle in Vanderbylpark opdaag, klop hy aan die deur en sê vriendelik, „Goede morgen, . . .” Dadelik word die deur voor sy neus toegeklap met die woorde „Ons koop niks nie!” Hy moes nog ‘n paar keer klop vóór hulle hul oom uit oorsee herken het.

Mijnheer M het vertel hoe daar droogte geheers het, en Dr. Malan, die destydse Eerste Minister, het ‘n biddag vir reën uitgeroep. Almal, sê hy, almal zuid-afrikaansch, engels, wit, swart, kleurling, nederduits, anglikaans, pinkster, rooms, jood, moslem, hindoe maar almal, pelger op die gegewe Sondag na die gebedshuise oral in die land. „Al-mal!”, ook hy en sy zuid-afrikaansche familie. En het gebid en gebid en gebid.

Na kerk loop hy en sy Zuid-Afrikaners huistoe en bemerk op die horison ‘n wolk, „soos ‘n man se hand, so groot” wat al hoe groter word, al hoe groter. Nog voor hulle by die huis aankom is dit al diep donker, en as hulle by die hek instap val die eerste druppels neer. Die laaste een kom binne, en dit reën. En dit reën. En dit reën.

En dit giet. . .

Met wydoopgesperde oë en mond vertel hy, „En dit het gewerk! En dit het gereën! Werklik! Ongelooflik! Maar dit het gereën! Na die biddag het dit gereën.”

Hy wat soiets nog nie beleef het nie, kan dit eenvoudig nie glo nie.

©25e.Juli2017≈≈≈≈≈≈≈≈≈≈≈≈≈≈≈≈≈≈≈≈≈≈≈≈≈(2015)tje




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 142
    Kommentaar telling: 133

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    2 Lede, 75 gaste aanlyn