Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Drade van die hart

Deur Engelroeper
Datum gepubliseer: 26 April 2017 Aantal woorde: 1973 150 Kere gelees 3

Binne in die koevert was ‘n pragtige sewejaartjie. Versigtig haal hy die stukkie verouderde papier wat saam met die geparste blom gebêre was, uit. Ek sal jou nooit vergeet nie. Liefde vir altyd. Sarah Speelman, is die enigste woorde in netjiese vet letters geskryf. Met drie kruisies onderaan. Die geluid van ‘n deurklokkie versteur die stilte. Haastig druk Benjamin die koevert met kosbare inhoud terug in die boks. Dit moet seker Henning wees, dink hy en stap haastig in die rigting van die voordeur.
“Hello my ou maat, is jy reg vir ‘n potjie verloor vanmiddag?” spot Henning met die intrapslag.
“Nie, so maklik nie, ou pellie! Ek kry gou my raket, dan ry ons.”
“Hoe gaan dit met jou en Brenda? Julle nog ‘n ‘item’?” vra Henning in die ry. Die gedagtes aan die koevert hunker nog by Benjamin.
“Ja-nee, die dinge loop nog mooi…” antwoord hy vaag, maar hy kan sien Henning gaan nie sommer die vraag laat staan nie. “Ons gaan môre-oggend weer saam kerk toe. Ons sal julle daar sien. Parkeer sommer hier, dan is ons lekker naby” en beduie met sy regterhand om Henning se aandag van die onderwerp se verskuif.

“Sê bietjie ‘jy’…” stem van agter in die kerkgang.
“Nei man, djy wiet mos ekke praat nie soosie Kapies nie!” Spot Benjamin toe hy Henning agter hom gewaar.
Brenda wikkel haar hand los uit dié van Benjamin en soengroet vir Sonja wat langs Henning staan.
“Wat het jy van die diens gedink?” vra Sonja terwyl sy Brenda nuuskierig eenkant toe trek. “Lyk my dit gaan goed met julle twee. Raak dinge al ernstig?” ‘n Rooi blos slaan op Brenda se bruin wange uit en geen antwoord is nodig nie. Haar oë vertel alles. “Onthou net, as julle trou, moet ék die bruidsmeisie wees. Ek het julle immers aan mekaar voorgestel.” giggel Sonja.

Terwyl hy vir Henning wag, staar Benjamin deur die venster van die koffiewinkel na die verbygangers. Die winkelsentrum is woelig, soos sy gedagtes.
“Hoekom so ingedagte meneer Johnson?” Henning kan in sy vriend se blougroen oë sien die vraag het hom onkant gevang.
“Dink sommer aan die dinamiese lewe van die vrugtevlieg.” Probeer hy sy ongemak wegpraat. Intussen kan hy nie ophou dink aan die koevert met die spierwit papierblom nie. Waar begin ‘n mens soek? Benjamin probeer sy gedagtes wegskeur van die knaende vrae in sy binneste. Sal hy dit waag om hierdie dierbare vriend in sy vertroue te neem. Hulle ken mekaar reeds vyf jaar, eers as Bybelstudie groeplede, later as muurbalmaats en nou beste vriende.
“Weet jy dalk waar groei ‘n sewejaartjie?” verbreuk Benjamin die ongemaklike stilte.
“Wat? Waar groei ‘n kleuter van sewe? Ek verstaan nie?” Henning skud sy kop.
“Nee man, dis ‘n blommetjie. Jy weet daai blommetjies wat lyk of dit van papier gemaak is.” sê-vra Benjamin.
“Nee my vrind, daai kan ek jou nie vertel nie. Jy al vir Dr Google gevra?” Die spot speel oor die aantreklike man se gesig.
“Wanneer werk ons weer ‘n potjie muurbal in? My voete jeuk om die houtbaan aan te durf.” verander Benjamin vinnig die gesprek en wonder hoekom hý nie al daaraan gedink het om die wêreldwye web te raadpleeg oor die raaisels wat hom snags wakker hou nie.

Gefrustreerd kyk Benjamin na die skootrekenaar voor hom. Genade, mens sou dink dit sal makliker wees om in ‘n stad soos Bloemfontein ‘n opsporingsagentskap op die web te kry, Wag-‘n-bietjie…. Hy beweeg nader aan die skerm asof hy sodoende beter sal kan sien. “LAF Agency, Specialists in finding your lost love.” lees hy hardop en skribbel die naam Mariaan Anderson en haar kontaknommer op ‘n notablaadjie. Hy sal moet wikkel. Henning sal nou enige tyd opdaag vir hulle muurbal afspraak.

Die kantoordeur swaai oop en Nico van Bredenkamp kom uitgestap.
“Brenda, kry asseblief die lêer van meneer Ben von Solms en bring dit na my kantoor.” Al is Nico reeds in sy laat vyftigs, kan Brenda sien hy moes aantreklik gewees het in sy jeug. Iets van sy oë herinner haar aan iemand, maar sy kan nie haar vinger daarop sit nie. Brenda is steeds oneindig dankbaar vir die werk wat sy as aktetikster streep ontvangsdame by Van Brendankamp en Vennote kon kry. Ná haar verbreekte verlowing, het hierdie werk vir haar sekuriteit en ‘n vreemde kalmte gebring. Haar lewe lank knaag die gevoel van verwerping aan haar siel, veral omdat haar pa die gesin verlaat het toe sy twaalf jaar oud was. Haar ma moes alleen sukkel om haar en haar twee jonger broers groot te maak. Haar werkgewer het op ‘n vreemde manier vir haar ‘n vaderfiguur geword.

“So, is hierdie koevert met geparste blom en briefie al wat jy het?” vra Mariaan. Benjamin sien hoe kwyn die liggie van hoop aan die einde van die tonnel.
“Jip, dis al.” sê hy sonder om op te kyk.
“Goed, laat ek kyk wat ek kan uitvind, dan kom ek terug na jou.” probeer sy so positief as moontlik klink. Mariaan het al duisende van hierdie gevalle gesien. Mense wat na jare begin soek na ‘n geliefde. Verbruinde foto’s, geparste blomme, briefies op flettertjies papier, alles kosbaarhede wat soos dun garedraadjies die hede met die verlede moet verbind. “Meneer Johnson, ek verseker jou ons agentskap het ‘n negentig persent sukses ratio en jy kan gerus wees jou inligting sal konfidensieël en professioneel hanteer word.” Sy neem Benjamin se besonderhede af voordat hy die kantoor verlaat.

“Middag meneer, kan ek help?” vra die ontvangsdame toe Benjamin die glasdeure van die vennootskap opstoot.
“Ja, ek is hier vir Brenda Broodryk.” Met ‘n hart wat in sy keel klop. Hy en Brenda se verhouding het die afgelope ses maande verdiep. Dit is vir hom belangriker as ooit om die spoke van die verlede te verdryf. Hy durf nie hierdie vrou se hart breek nie, sy het al soveel seerkry in haar lewe gehad.
“Hello, ek het nie besef hoe laat dit is nie. Wag jy al lank?” Sy soen hom skamerig op die wang en gee hom ‘n drukkie.
“Nee, nou net hier gekom. Is jy gereed, kan ons gaan?”
“Net een oomblik, ek kry gou my handsak.”
Benjamin stap huiwerig agterna en stop dan skielik in die gang. ‘n Groot foto teen die muur het sy oog gevang. Hy staan met sy gesig amper teen die prent en gee dan ‘n tree terug.
“Pragtig, nie waar nie?” Onverwagse mansstem langs hom.
“Ja, baie mooi. Dit lyk soos daardie papierblomme wat hulle in die rangskikkings gebruik.” Benjamin skrik toe hy Nico van Bredenkamp se oë sien.
“Van Bredenkamp, aangenaam.” Nico steek sy hand na Benjamin uit.
“Uh, Benjamin, Benjamin Johnson.” Sukkel hy die woorde uit.
“Die foto is geneem op my pa se plaas buite Harrismith, waar ek grootgeword het. Die blommetjies word…”
“…sewejaartjies genoem.” Voltooi hy Nico se sin.
“Verlorenkraal, dit was die naam van die plaas. My pa het die blomme van die Kaap af ingevoer en vir ‘n ruk lank daarmee geboer. Weet jy waar kom die naam vandaan?” Dit lyk of hulle mekaar reeds jare ken. Brenda kom om die hoek gestap.
“Meneer, ek gaan gou uit vir ete. Ek sien meneer het my vriend ontmoet.” Sy begin in die rigting van die glasdeure stap. Instede van saamstap, steek Benjamin in sy spoor vas en draai na Nico.
“Hoekom word hulle so genoem, meneer?”
“Noem my gerus Nico. En om jou vraag te antwoord, die blommetjies verdwyn ná sewe jaar van die veld en die proses van aanplanting moet van vooraf begin word.”
“Baie interessant. Ek het dit nie geweet nie. Aangenaam om u kennis te maak. Ek sal Brenda voor twee by die kantoor terugbesorg.”
“Geniet die ete julle twee. Goed om Brenda se vriend uiteindelik in lewende lywe te ontmoet. Ek het al begin dink jy is net ‘n pigment van haar verbeelding.” Grap Nico soos hulle wegstap.

Die gelui van ‘n selfoon deurklief die stilte in die kantoor. Mariaan LAF vertoon op die selfoonskerm. “Benjamin Johnson goeiedag. Hello Mariaan, goed dankie. Nee, ek is alleen, jy kan maar praat. Ja. Uhu. Ja. Jy het haar opgespoor? Waar?” Mariaan praat aan die anderkant van die lyn, terwyl Benjamin luister en stadig op die kantoorstoel neersak. “Dankie. Goed, ek kry jou daar, dan praat ons verder.” Hy druk die afknoppie van die sel en laat sy hand stadig na sy skoot sak. Vir etlike minute sit hy in stilte en staar na die koevert op die lessenaar.

Hier rus Sarah Gertruida Solomon – néé Speelman
Geliefde eggenoot en moeder.
17-09-1967 – 20-03-2014
So lees die woorde op die grys marmergrafsteen. Mariaan kan sien die oomblik is besig om Benjamin te oorweldig. Daarom stap sy ‘n ent weg en gaan staan met haar rug na hom gekeer.
Soveel onbeantwoorde vrae, soveel wat ek haar nog wou vertel, dink Benjamin met trane wat oor sy wange stroom. Drie jaar te laat. Kon hy nie maar vroeër by Mariaan uitgekom het nie? Hy het die laaste vyf jaar geleef vir die oomblik wat hy sy biologiese ma sou ontmoet. Hy het die ontmoeting al honderd maal in sy verbeelding uitgespeel. Sy vertel hom van sy pa en hoekom sy hom as baba opgegee het. Sy hou hom vas en verduidelik hoe sy elke liewe dag aan hom gedink het.
Het hy broers en susters? Waar is sy ouma en oupa? Duisende onbeantwoorde vrae maal deur sy gedagtes. Meer vrae as wat hy op hierdie oomblik kan hanteer. Tydens hulle telefoniese gesprek, het Mariaan verduidelik sy ma het in Kimberley grootgeword, maar sy het as sestienjarige haar ouerhuis verlaat en na Harrismith verhuis vir beter werks-geleenthede. Dis hier waar sy Benjamin ná geboorte in die hospitaal agtergelaat het.
“Ek het huweliksrekords vir jou ma met ene Joe Solomon in die hande gekry, en sodoende die spoor gevolg tot waar ons nou staan.” verduidelik Mariaan. Sy het tot by Benjamin gestap waar hy ingedagte voor die grafsteen gehurk was.
“Dankie, Mariaan. Hoe kan ek ooit my waardering vir jou bewys?”
“My rekening is in die pos meneer Johnson. Maar nou moet jy my verskoon, ek het nog ‘n paar vermiste persone op my te-doen lysie vir die dag.”

Brenda se oë skiet vol trane. Sy gryp na haar handsak om ‘n snesie nader te raap.
“Ek is jammer, ek wou jou nie ontstel of hartseer maak nie.” Probeer hy troos.
“Hoekom het jy my nie vroeër vertel nie? Ek sou jou gehelp soek het.” Snikkend. Sy weet nie of sy oor Benjamin se lewensonthulling of haar eie gevoelens van verwerping huil nie. Die trane is reinigend en haar gemoed voel skielik ligter. “So het jy iets oor jou pa uitgevind?” Dis hierdie vraag wat die laaste week swaar op Benjamin se skouers druk.
“Al wat Mariaan kon uitvind was dat my ma, voor my geboorte, op ‘n plaas buite Harrismith gewerk het. Die geboortesertifikaat sê Vader onbekend.” Hy haal ‘n dokument uit die oorvol en gehawende voulêer. “Hierdie is die opname dokument van die hospitaal. Die dag toe ek gebore is. Die persoon wat my ma by die hospitaal aangebring het, het ook die rekening van die bevalling betaal. Ek kan nie mooi uitmaak nie, die vorms is nog op ‘n ou tikmasjien gedoen. Kyk jy bietjie.” Hy druk die papier in haar hande.
“Ver, ver-lo-ren k-kraal,” klank sy die woord uit. “Waar het ek al hierdie naam gehoor?” Brenda snak na haar asem. “Nou maak alles sin. Die sewejaartjie in die koevert, die plaas se naam, die oë.”
“Nee, nou het ek jou heeltemal verloor.”
“My liewe Benjamin, kom kry jou goed, ons moet ry.” Opgewonde. Terwyl sy opstaan en haar handsak gryp.
“Waarheen gaan ons?”
“Ek wil jou iets… iemand… gaan wys. Jy sal nie jou oë glo nie.”




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. profiel foto van Anze

      Anze

      April 27, 2017

      Baie dankie vir jou deelname aan die INK en SA Vryskutskrywer kompetisie, sterkte en mag die beste persoon wen!

    2. profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

      Ronel Janse van Vuuren

      April 30, 2017

      Dis ‘n goeie storie.

      In so ‘n kort stuk moet jy by een persoon se ervaring bly, anders as jy te veel rondspring tussen karakters maak jy jou leser deurmekaar. Besluit uit deur wie se oë jy die verhaal wil vertel: as dit Brenda is, kan sy dalk dink dat Benjamin dalk ontrou is a.g.v. haar eie ervaringe en dit sal alles in ‘n ander lig stel (sy sien dalk Mariaan se naam en nommer op sy selfoon en dink die ergste, ens.). Deur by een karakter te bly kry die storie diepte.

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Engelroeper

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 1
    Kommentaar telling: 0

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 94 gaste aanlyn