Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Donderdag: MY VRIEND KROHN

Deur Toom
Datum gepubliseer: 23 Junie 2017 Aantal woorde: 630 54 Kere gelees 1

Donderdag: MY VRIEND KROHN

My vrou het die naweek haar suster gaan besoek, en die Saterdagnamiddag was uiters vervelig; toe gaan ry ek deur die veld en woud van die Lünebürger Heide agter Hamburg,” sê my duitse vriend Krohn. Êrens het hy op ‘n dorpie koffie gedrink, koerant gelees, sigarette gerook.

Nou vind in Duitsland in die lente en herfs sogenoemde „paddawanderinge” plaas; die paddas stroom in hul duisendtalle van hulle aangestamde woonvleie en damme terug na hul broeiplekke toe – of omgekeerd –, en by tye kan dit op die pad gevaarlik glibberig wees. Daar sien hy voor hom op die pad ‘n hele skaar groenbruin springers wat oor die rybaan streef, en hy hou ewe geduldig aan om dit te laat verbytrek. Soos my vriend Krohn daar in sy kar sit en wag bemerk hy ‘n padda wat op die middelstreep sit en met reusagtige oë na hom oploer. Hy self kyk verveeld êrens en nêrens heen.

Die padda sê, „Krohn,” sê die padda. „Neem my saam, Krohn,” sê die padda.

Wat is my vriend Krohn se verbasing groot. Hy kyk gou om, maar daar’s niemand wat kon gepraat het nie. Hy’s alleen in die kar. Hy wil net die kar in rat gooi en wegry, daar sê die padda weereens:

„ Neem my saam. Krohn!” sê die padda.

My vriend Krohn sê „Gmpff!” en kyk weg en druk op die petrol. Daar spring die padda deur die oop venster binne-in die kar in en sit langs hom op die voorste bank. My vriend Krohn sê niks nie en ry verder. Hy neem daarvan g’n notisie nie. Hy dink net, as hy by die huis aankom, gaan hy daai ding uit die kar uitsmyt. By dié verkeersopkoms is dit juis nou nie moontlik nie.

By die huis aangekom kan hy die padda nie vang nie, en hy sluit dit eenvoudig in die garage toe. Maar as hy op die drumpel staan en vroetel met die sleutels – daar is dit weer, die padda.

Neem my saam, Krohn,” sê die padda.

Maar hy skuif die dier met die voet eenkanttoe. As hy net aan die tafel wil gaan sit om brood en kaas te eet, sit die padda op die stoel regs van hom.

Gee my iets om te eet, Krohn,” sê die padda.

My vriend Krohn het in sy lewe nog nooit so onnosel gevoel nie, maar hy gee ‘n stuk brood met die een hand aan en met die ander hand pak hy die padda en gooi dit so ver uit die venster as wat hy kan – tot op buurman se werf. Dan maak hy die venster toe en trek hom uit om te gaan slaap. As hy van die badkamer terugkom, sit die padda op sy kopkussing. Hy gryp dit en gooi dit weer met alle krag by die venster uit. Hy maak lig uit en as hy sy kop op die kussing draai, voel hy iets koud en nat naas sy gesig.

Ek is ‘n prinses, Krohn, ” sê die padda. „Soen my. Dan sal jy sien.” Die padda sê: „Soen my, Krohn,” sê die padda.

Nou voel my vriend Krohn werklik dom, maar hy fantaseer so ‘n bietjie en verbeel hom, dis maar net ‘n kindlike luim, en hy maak sy lippe op ‘n plooi en voel iets aaklig, koud daarteen druk.

! Ka – boem !

! Bliksem ! Donder ! Rook en swafel !

! Ka – bats !

! Die Heks en die Duiwel se Stiefmoeder !

! Ka – DOEF !

„En wat soek hierdie vrou in my bed?” wil sy vrou ewe kil weet, sy wat ‘n bietjie vroeër as verwag van haar suster huistoe gekom het.

Dít, as antwoord op jou vraag,” sê my vriend Krohn, „hoekom ek vandag nie ‘n getroude man is nie.”

©22e.Junie2017__________≈≈≈ʘʘ≈≈≈_________(Aug.’11)tje




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 129
    Kommentaar telling: 130

    Dag-ook, alhoewel ek miskien 'n bietjie baie oor taalkwessies en filosofie mag redekawel, het ek NIE 'n graad of soiets in  taalkunde of wysbegeerte nie. Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, van biertjies op die stoep, dagblaaaie en vaktydskrifte en die gans normale daaglikse waansin. Sommiges het bly kleef. Weiniges.Sedert meer as veertig jare woon ek in Duitsland; het vrou, kinders, kinderssekinders, huis, hond gehad, katte ook, heimwee. Tweekeer het ek in hierdie tyd heimatverlof geniet.Eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies, stowwerige uitdrukswyse nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol.Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.- Oupa, nie alles wat lekker is, is soet nie. Proe maar hierdie klawerblad - dis mos lekkersuur, nè?So leer ons hopelik van mekaar. Groetnis vanToom

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 77 gaste aanlyn