Jongste aktiwiteit:

DIE WIEL DRAAI HFSTK 8

Die winter breek aan en op n koue wintersmiddag sit Marietjie met haar dagboek voor haar en lees die inskrywing wat sy so pas gemaak het weer n slag deur. Sy wil die dagboek bêre voor Elsabe inkom want sy wil nie hê dat Elsabe lees wat sy geskryf het nie.
“Liewe dagboek. Dit is koud vandag, die winter het met mening toegeslaan Dagboek nog n jaar en n half dan is ek en Elsabe klaar met skool en kan ons Bethlehem toe gaan. Dagboek jy moet nie giggel nie hoor maar ek wil jou iets vertel. Die liefde tussen Elsabe en Hans blom behoorlik. Die twee vry mekaar vuurwarm op papier en die stoom trek nog behoorlik uit die koeverte uit as sy hulle oopmaak. Soms giggel sy en bloos bloedrooi maar ek sal nie weet wat hy vir haar skryf nie want ek mag nie sien nie. Ek hoop regtig hulle dinge werk uit want Elsabe het haar hele hart op Hans verloor en sy is n wonderlike meisie, so saggeaard en so weerloos. Ai dagboek ek wens deesdae dat daar iemand in my lewe ook kom wat vir my sulke vurige briewe kan skryf en die bloed deur my are jaag maar ek weet my beurt sal kom.
Hy skryf vir my elke slag as hulle Kroonstad toe werk en hulle by Boskop verbygaan hy elke slag in sy hart ons belofte dat ons Boskop gaan terug kry herhaal. Ek dink nogal dat Elsabe n waardige boervrou sal uitmaak”.
Marietjie maak haar dagboek net betyds toe voordat Elsabe inkom en vra: “Mag ek ook sien wat jy geskryf het of het ons nou geheime vir mekaar”.
Marietjie skud haar kop: “My geheim want ek mag mos nie die briewe wat Hans vir jou skryf lees nie. Sien jy slaap tot onder jou kussing met die jongste een en word hulle mos sorgvuldig toegesluit”.
Elsabe bloos bloedrooi en sê net: “My geheim”.
Marietjie kyk Elsabe ernstig aan en vra dan: “Gaan jy nog saam met my Bethlehem toe as ons klaar is met skool volgende jaar. Ons moet besluit wat ons gaan doen. Ek het gewonder of ons nie moet aansoek doen vir klerke in die goederekantoor nie. Hulle soek glo knaend klerke want die jong meisies trou en dan hou hulle sommer op werk ook en moet vervang word. Jy sal seker gou moet vervang word want Hans sal natuurlik gou troukoors kry”.
Marietjie moet woes koes vir die vlieënde kussing wat toe teen die spieël vasklap vir n antwoord.

Hans bly op die hooflyne stook en is dit op n gru wintersmore wat die roepman hom twee uur kom roep vir die oorlaaitrein Modderpoort toe. Die oorlaaitreine gaan net tot op Modderpoort en boek daar af om die volgende dag terug te keer, die Bloemfontein mense werk weer die oorlaaitreine van Bloemfontein af tot op Modderpoort en boek daar af omdat die Bethlehem Bloemfontein trajek so n lang trajek is en so baie rangeerwerk het.
Die wolke hang laag oor die lug, dit is pikdonker soos die wolke die sterre verduister. Toe hy op sy fiets klim loko toe sny die koue om sy ore terwyl hy loko toe ry. Hier en daar brand n lig in n huis maar voel dit spookagtig stil. Oudergewoonte stop hy n oomblikkie voor die loods waar die lokomotiewe se swart lywe vanmore uitstaan teen die koue, bewolkte lug onder die geel ligte in die loods. In die roosterkantoor gekom teken hy aan en sien hy stook vir “Klein voete” Slabbert, n man wat bekend is dat hy maar n haastige man is maar ook een van Bethlehem se topdrywers is. Hy het ook sy eie gereelde lokomotief.
Hans gaan trek store en gaan laai die gereedskap op 2895, Slabbert se gereelde lokomtief en begin voorberei.
Hy het net begin toe Slabbert se kosblik op die voetplaat neerplof en hy inklim met n: “More maat, lyk my ons gaan n helse trip hê. Ek ken hierdie wêreld en ek sê vir jou as ons more terugkom gaan die wêreld spierwit lê”.
Hans groet terug en gaan aan met sy voorbereidings, hy ken ook hierdie wêreld en hy stem saam met sy drywer.
Nie lank nie of hulle is reg en beweeg Slabbert vinnig kontrolepunt toe om uit te bel. Die sinjale gaan op en kruis hulle oor hooflyn toe om terug te hardloop werf toe om te gaan koppel. Toe die rangeerder hulle vasmaak wag die kondukteur, toegewikkel in sy dik swart jas met die kraag oor die ore geslaan, al vir hulle om die vrag aan te gee, nie n swaar vrag nie, 700 vir 94 asse. Hy begin sommer dadelik aanstryk na die hitte van sy kondukteurswa toe waar die stofie al gesellig brand om hom warm te hou.
Toe hy by sy kondukteurswa kom fluit Slabbert dadelik weg en wag hulle n paar oomblikke tot die kontrole rangeerder hulle vir die seinhuis aangegee het en fluit hy weer toe die rangeerder hulle n groen lig gee. Groen lig van die kondukteur af en word die omsteller wiel drie draaie na regs gegee. Sand word gegooi en Slabbert trek oop om met sissende silinderkrane in beweging te kom. 2895 tel die vrag maklik op en storm hulle die stasie deur met n wit rooksuil wat op maat van die geblaf in die lug bly hang. Hans vang die houer met die order by die stasievoorman, haal die order uit en gooi weer die houer af. Hy gee die order vir die drywer, regs skuif die seinhuis op die punt van platform 3 verby.
Die drywer vou die order oop en lees dit vlugtig en gee vir Hans om te kontroleer; “A order Slabberts toe maat”. (Bethlehem Bloemfontein lyn was telegraaforders tot op Sannaspos en van daar af van Schoor)
Hulle kontroleer vinnig die roetesinjaal voor en dan sit Slabbert bietjie rem aan om oor die wissels af te kruis op die Bloemfontein lyn. Oor die wissels trek hy weer oop en begin die klim Retiefsnek en Barnea toe. 2895 vat dit gemaklik en rol die vinnige geblaf oor die veld met die wit rooksuil wat spierwit teen die grou bewolkte lug bly hang om met die tyd te verdwyn.
Die Retiefsnek Barnea bank is n stywe bank en moet n stoker kromstaan om die vraatsige vuur te bly voer. Die eerste verposing kom eers as hulle begin afsak Slabberts toe waar hulle eers moet rangeer en loko vat voordat hulle verder gaan Fouriesburg toe.
Voor hulle kan ry kruis hulle eers n trein van voor af en is dit toe die stasievoorman die A order Fouriesburg toe bring wat hy hulle sê dat die drywer van die trein wat hulle gekruis het op n stukkie papier, wat hy afgegooi het, geskryf het dat dit lig sneeu tussen Slabberts en Fouriesburg. Halfpad tussen Slabberts en Fouriesburg ry hulle in die sneeu in wat soos n grys kombers op hulle neersif, baie lig maar genoeg om die spoor glad te maak. Die dag breek grou aan en Slabbert merk op teenoor Hans: “Kyk daar na die Malutis toe. Hulle is toe onder die wolke maat. Hierdie jaar gaan dit sneeu soos lanklaas”.
Hulle haal Fouriesburg sonder moeite en begin hulle dadelik met hulle rangeerwerk wat nie baie is nie. Klaar met die rangeerwerk vat hulle loko en voel die vuurysters soos stukke ys in Hans se hande toe hy die klinkers breek en die dooie as in die vuurkis deurkrap. Net voor die vuurkis is dit warm, van agter af sny die koue deur murg en been. Met daardie groot vuur en al kan dit bitter koud word op die voetplaat. Hans haal die opgerolde seiltjie ook uit en hak dat agter hulle bo aan die kap maar die seiltjie bly opgerol anders is dit in die pad as hy moet stook. Die seiltjie word net laat sak as hulle stil staan.
Nadat hulle die passasierstrein vanaf Bloemfontein gekruis het val hulle in die pad Generaalsnek toe met n A-order. Dit bly lig sneeu maar het hulle nog geen moeite met die vrag nie. Op Generaalsnek sit hulle twee trokke af en kry n kruisorder om n goederetrein op Kommandonek te gaan kruis en dan Ficksburg toe. Op so n onbemande kruisplek moet hulle voor die wissels stop en die kondukteur moet kom oopsluit en hulle inbring. Daarvoor het Slabbert nie tyd nie en sê vir oom Dolf toe hy die order bring en hy dit gelees het: “Ons sal oopsluit en sommer klaar intrek oom, dan kan oom die ander trein kom inhaal”.
Die tempo van die sneeu begin toeneem en toe hulle voor die wissels op Kommandonek stop kraak die sneeu al onder Hans se voete toe hy die wissels gaan oopsluit en omstel dat hulle in die uitwykspoor kan intrek. Die sneeu vorm vinnig n wit kors oor sy skouers en vang hy die lokomotief sommer in die verbygaan en op die voetplaat merk hy op: “Dit is koud, vandag verkluim ons nog”.
Di seiltjie word dadelik laat sak, vensters toegetrek en die vuurkis oopgemaak vir n bietjie hitte terwyl die kondukteur vorentoe kom om die ander trein in te haal.
Hulle staan nie baie lank nie of die ander trein is daar. Nadat hy deur is wys oom Dolf vir hulle dat hulle kan vorentoe kom, die wissels is reg en gee hy vir Slabbert die order Ficksburg toe wat die ander trein saamgebring het.
Oor die wissels moet weer gestop word dat oom Dolf die wissels kan omstel en inklim, die arme man lyk soos n spierwit wandelende gees van die sneeu op sy skouers”.
Ficksburg het altyd baie rangeerwerk en is daar nie genade nie, die wiele moet rol. Die kondukteur en die stasievoorman moet maar in die vallende sneeu rondploeter en die sneeu slaan yskoud in hulle gesigte vas want die vensters moet oop dat hulle die handseine kan sien. Wat die rangeerwerk nog moeiliker maak is die yskoue askaste op die trokke en moet die trokke elke slag geplaas word waar hulle moet wees, hulle wil nie self loop nadat hulle losgemaak is nie.
Dit is al middag toe die rangeerwerk voltooi is en moet hulle eers terugstaan vir die passasierstrein om verby te kom. Dit is n welkome verposing in die bittere koue en word die seiltjie gesak en die vensters toegetrek tot die stasievoorman hulle order bring om die passasierstrein te volg en die ander passasierstrein op Owanty te gaan kruis.
Die sneeu val nou met mening en begin die wit kombers wat die Oos-Vrystaat bedek al dikker word. Op Owanty trek hulle in die uitwykspoor in om vir die passasiersrein te wag wat twintig minute later tussen die witbedekte bome deurkom met n spierwit rooksuil wat die lug op maat van die geblaf inseil naderkom. Oom Dolf bring die trein in en ruil orders. Die rytuie wat by hulle verby beweeg het al n yslaag op die dakke en onder die rytuie is die spierwit stoomwolke wat uit die verwarmingspype onder die rytuie ontsnap soos wit wasemwolke.
Na die kruising is dit Gumtree toe waar hulle net twee trokke afsit en dan is dit Clocolan toe waar hulle weer n trein kruis nadat hulle die rangeerwerk voltooi het. Die laaste end Modderpoort toe begin dit al moeiliker gaan en vreet die vuur die kole want die spoor is nat en glad. Ten spyt van die ligte vrag trek 2895 swaar.
Dit begin al skemer word toe hulle die terrein op Modderpoort intrek en dit sneeu nou met mening. Die sneeukombers word al dikker en Slabbert se kommentaar is: “Ons gaan more n helse trip hê huis toe”.
Nadat die rangeerder hulle losgemaak het is dit loko toe om te gaan vuur skoon maak en water vat. Dan is dit om die driehoek om te draai en die loko onder die koolsteier in te trek dat die arbeiders die kolewa weer vol steenkool kan laai. Modderpoort is n subdepot en is daar nie loodsmanne wat dit doen nie, treinpersoneel moet dit self doen.
Dit is drie moeë manne wat die ruskamers, gebou van sink en plank binnemure, binne strompel en dadelik in die kombuis saam met die Bloemfontein personeel om die stoof saamkoek. Eers word daar stories uitgeruil terwyl hulle kosmaak voor hulle gaan stort en dan word daar ge eet. Ten spyte van die warm stoof bly die kombuis koud.
Uiteindelik bed toe maar is die kamers ook maar bitter koud en voel die komberse nat en klam. Hulle lê maar klappertand tot hulle uiteindelik warm word en aan die slaap raak tot hulle twee uur geroep word om weer aan diens te gaan terug Bethlehem toe.
Toe die roepman hulle twee uur roep sneeu dit nog steeds en lê daar n dik sneeukombers oor die aarde. Klaar aangeteken gaan haal hulle die lokomotief in die bibberende koue om oor te kruis werf toe om te gaan koppel. Hulle staan n halfuur lank om 2895 onder vol stoom te kry en kry hulle n A order Clocolan toe om die passasierstrein te volg.
Hulle haal Clocolan sonder probleme en is daar nie veel rangeerwerk nie. Met die rangeerwerk voltooi kry hulle weer n order om die passasierstrein te volg wat nog nie op Ficksburg aangekom het nie. Toe die stasievoorman die order vir hulle gee merk hy op: “Wees op die uitkyk vir 81, moes al op Ficksburg gewees het”.
Met n koplig wat die donker deurpriem om teen n sneeukombers vas te skyn val hulle in die pad. Die spore lê spookagtig oor die wit sneeukombers en langs die spoor lê die sneeu hoog opgestapel. Hulle is al n hele ent weg toe Slabbert na die kante toe wys; “Sy het vasgeval. Hier moes sy stop dat die stoker eers die sneeu kon wegwerk. Ons is nou net hier by n hoop sneeu verby.
Oppad Clocolan toe teen die bank klap die skoot toe hulle n knalpatroon aftrap. Slabbert maak effens toe en Hans gooi die graaf neer om saam op die uitkyk te wees.
Nie lank nie of die twee skote van twee knalpatrone klap en voor hulle doem n spierwit figuur met n rooi lig uit die sneeugordyn op, 81 se kondukteur.
Slabbert sê sommer dadelik; “Kom ons gaan vorentoe oom. Ek wil met die voorste drywer gaan gesels dat ek julle kan help stoot as hulle weer reg is”.
Hulle trek vorentoe tot teen 81 se remwa en Slabbert spring af om vorentoe te hardloop: “Maak n helse vuur maat”, is sy laaste opmerking voor hy al hardlopend in die sneeukombers verdwyn.
Na n hele rukkie is Slabbert terug: “Net soos ek gedink het, hulle het vasgesneeu. Die stoker moes nou eers n klomp sneeu wegwerk wat te hoog teen die baanruimer opgestoot het en n stuk lyn skoonmaak. Oom maak ons vas en sit die briek deur. Ek gaan saam en het klaar met Danie Strauss voor gereël dat ek julle stoot tot op Ficksburg. Ek sleep hierdie paar trokke wat ons aan het saam”, sê hy vir die kondukteur.
Die kragmeting tussen die natuur en die mens en sy masjien begin in alle erns toe oom Danie wegfluit voor en Slabbert met n kort fluit antwoord. Stadig maar seker kom hulle in beweging, Slabbert trek haar in die boonste mik en met n dawerende geblaf begin hulle stoot en oom Danie begin trek voor. Die stoomdrukmeter ruk met elke blaf liggies en die spoedmeternaald begin gou op twintig kuier. Die geskraap van Hans se graaf in die kolewa met elke graafvol kole wat hy skep en in die vuurkis inskiet is in reëlmaat met die geblaf deur die skoorsteen.
Hulle gaan Gumtree deur en breek die dag oor hierdie toneel van die trein wat teen n slakkepas voortgaan toe die vakuummeter skielik na nul toe val. Slabbert maak dadelik toe en kom hulle tot stilstand, oom Danie het gestop om eers weer die stoker die sneeu te laat wegwerk. Slabbert jaag vir Hans vorentoe om te gaan help en gooi hyself die vuur weer aan tot Hans terug is.
Dit het opgehou sneeu en is Hans driekwart verkluim van die koue toe hy weer inklim. Die trek begin weer dadelik en is hulle gou weer aan die gang. Die dag breek verder en n plaasboer wat langs die spoor bly en deur die venster loer is saam met sy vrou die getuie van die krag vertoon wat voor hulle verby beweeg. Twee swart dawerende 15E lokomotiewe met stoomwolke wat hoog die lug ingepomp word, en oor die veld bly hang, op maat van die geblaf en stoomwolke wat oral langs die rytuie uitpeul. Asof dit n nagedagte vorm krul n swart rokie by die kondukteurswa agter se skoorsteen uit.
Na nog n stopslag haal hulle Ficksburg uiteindelik. Oom Danie stop voor die huissinjaal sodat Slabbert kan losmaak en trek dan in. Dit is n verbaasde stasievoorman wat vinnig tweede pad trek toe hy nog n trein voor sy sinjale sien, hy het hulle nie so vinnig verwag nie.
Op Ficksburg word kajuitraad gehou. Die trein wat vir hulle gewag het se drywer sê dat dit meer sneeu na Bethlehem se kant toe en dat die swaar passasierstrein dit nie gaan maak Bethlehem toe nie. Oom Danie begin klaar bekommerd raak oor die kole posisie ook.
Na konferensie met bedryf, wat die diens verder gekanselleer het, word besluit dat Slabbert sy vrag op Ficksburg gaan los en op die passasierstrein moet gaan. Die Bloemfontein man, wat hulle gekruis het, gaan sy vrag ook los en kyk of hy losloko Bloemfontein kan haal.
Met dubbelvoorspan op 81 gaan dit nou beter maar verloor hulle nog tyd want hulle moet twee keer stop dat die stokers eers die opgehoopte sneeu kan wegwerk. Hulle stop op Fouriesburg vir lokovat en dan is dit Slabberts toe waar hulle weer loko vat. Intussen het dit opgehou sneeu en het n snerpende koue wind van Lesotho se kant af opgesteek wat die wolke begin wegdryf.
Dit is net nadat hulle uit Slabberts uit weg is wat hulle weer n slag die sneeu moet wegwerk maar klim hulle die Retiefsnek Barnea bank stadig maar seker uit. Vir die enkele passasier wat dit waag om sy venster oop te maak is die beloning die twee spierwit stoomkolomme voor wat die lug ingestuur word met koppelstange wat stadig op en af oor die groot trekwiele beweeg. Teen die bank moet hulle n slag stop om opgehoopte sneeu weg te werk en moet die stokers met hulle grawe bietjie grond uit die hard gevrieste grond skep om onder die trekwiele te gooi want die sandkaste is al leeg soos hulle sand gegooi het.
Van Barnea af is dit afdraande tot in Bethlehem n kan Hans en Slabbert agteroorsit. Oom Danie ry die briek voor om te keer dat hulle nie weghardloop nie. Kort kort val die vakuumnaalde soos oom Danie die remme aansit om die spoed af te bring.
Twee uur die middag trek hulle Bethlehem in, sewe ure laat maar die mens en sy masjien het gewen.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed