Jongste aktiwiteit:

DIE WIEL DRAAI HFSTK 1

HOOFSTUK 1

Dit is n snikhede warm dag toe Hans Struwig, sy suster, Marietjie, in Desember 1960 voor die spoorweg kinderhuis in New Canada vir oulaas groet. Die huisvader sit in sy motor vir hom en wag om hom stasie toe te neem vir die lang reis Bethlehem toe waar hy gaan begin werk as n stoker op die spoorweë. Hans is nou n seun van agtien jaar oud en het al die terugslae wat hom en sy suster getref het hom geweldig terug gesit. Hy het net st. 8 gemaak nadat hy twee jaar in st 8 deurgebring het. In teenstelling met sy slimkop suster het Hans maar gesukkel in die skool om te leer maar Hans kon werk.
Vir oulaas kyk hy vir sy vyftienjarige swartkop suster, langerige meisie met die lang swart hare en blou oë, mooi gesiggie met vol lippe. Haar liggaam is besig om tot sy volheid te kom en kan Hans sien dat sy suster n beeld van n meisie gaan word, net soos hulle ma.
Dan druk hy haar teen hom vas: “Ek sal jou nie vergeet nie Marietjie, ons het net mekaar in die lewe. So gou as ek op my voete is kom haal ek jou lang vakansies en as jy matriek gemaak het kom haal ek jou permanent. Ek sal ook gereeld vir jou skryf en laat weet hoe dit gaan”.
Marietjie druk hom teen haar vas: “Moet my nie vergeet nie Hans, jy is al wat ek het”. Sy los hom en kyk hom met haar betraande blou oë aan voordat hy omdraai en vir oulaas vir haar waai voor hy in die motor klim. Lank nadat die motor verdwyn het staar sy dit nog agterna voordat sy omdraai en na haar kamer toe gaan om hierdie oomblik van hartseer met haar dagboek, wat sy al jare, sedert die plaas verkoop is, hou, te deel.
Die kamer is n eenvoudige kamer met net 2 beddens, 2 hangkaste en n spieëltafel, wat sy met haar kamermaat, Elsabe Steenberg, n pragtige blondekop met die mooiste lang blonde hare wat sy altyd so in n gerf oor die een skouer dra, deel. Elsabe gaan dood oor Hans en as sy kansie kry is sy maar by hulle. Sy en Elsabe kom goed oor die weg en sy is seker daarvan dat Hans ook maar n sagte plekkie vir Elsabe het. Elsabe het Hans vanmiddag ewe skamerig in die gang met n drukkie kom groet toe sy saam met Hans uitgestap het.
Sy gaan sit voor die spieëltafel, trek die laai aan haar kant oop en haal die dagboek uit. Voordat sy egter n inskrywing maak neem sy eers haar eerste dagboek op, dit is n ou skool oefeningboek, en begin daarin blaai. Die eerste inskrywing wat sy lees is die inskrywing wat sy die aand by kerslig gemaak het toe hulle plaas verkoop is: “Liewe Dagboek. Ek het vandag besluit om n dagboek van my lewe te begin hou om my altyd te herinner aan alles wat met my gebeur in die lewe. Ek verstaan nie mooi wat vandag hier gebeur het nie. Dit was vir my vreemd, die klomp mense wat hier was en die man met die wit jas wat so vinnig praat en kort kort iemand sy hand opsteek tot niemand hulle hande opsteek nie en hy met sy hamer op iets slaan. Ek kan onthou almal het om die buurman, Willem Roets, vergader en sy hand geskud. Ek het later gehoor dat hy die plaas gekoop het.
Dit het heeldag so aangegaan en het vragmotors alles begin oplaai en wegry tot hier niks was nie. Al wat ek verstaan is dat die plaas verkoop is saam met alles, die paar beeste en die paar skape wat nie gesteel is nie, die twee trekkers en implemente, ook mamma se meubels, omdat pappa bankrot gespeel het en hy nie meer die skuld by die bank kon betaal nie”.
Sy blaai na die volgende dag se inskrywing: “Liewe dagboek. Ons het verlede nag op die vloer geslaap onder die paar komberse wat ons het. Ons het vandag stasie toe geloop met die tasse wat ons klere in het, want pappa wou op die spoorweg gaan aansoek doen vir werk. Gelukkig het iemand ons met n bakkie opgelaai en ons by die stasie afgelaai. Ek glo nie mamma sou dit gemaak het nie, sy was baie gedaan. Ons was gelukkig en het hulle pappa sommer op die goedereloods as dagloner aangestel. Die oom met die swart uniform met die goue strepe op die skouers het belowe dat hy sal aanbeveel dat pappa vas aangestel word sodat ons n huis kan kry. Hy het in elk geval vir ons tydelik n huis gegee. Dit is nie n wat wonderse huis in vergelyking met ons huis op die plaas nie maar mamma sê dit is beter as niks. Die mense in die spoorwegkamp was baie behulpsaam om vir ons bietjie kruideniersware te gee toe hulle hoor dat ons niks het nie. Ons gaan maar vir eers op die vloer slaap want hier is ook nie meubels nie. Ons het darem nog komberse wat die bure vir ons gegee het. Die buurvrou het vir ons aandete gegee om ons welkom te heet”.
Sy dink vir n oomblikkie terug aan hierdie tragiese dag vyf jaar gelede, sy was toe n dogtertjie van tien, Hans n seun van dertien, toe die dinge gebeur het. Pappa en mamma het oornag oud geword en het hierdie dinge aan mamma gevat, sy wat altyd so gesteld op haar voorkoms was en so netjies was. Mamma was n mooi vrou en het sy altyd gesorg dat Marietjie ook net die beste aantrek en nou het hulle omtrent net die klere aan hulle lyf gehad.
Hulle plaas was net buitekant Bethlehem langs die treinspoor, n spogplaas maar het daardie verskriklike brand in 1954 alles vernietig, tot die stoor met daardie jaar se oes nog in die stoor. Sy onthou die middag vaagweg toe die weer so swaar opgekom het en die weerligstrale aan mekaar geflits het. Blykbaar het n weerligstraal die stoor getref en aan die brand gesteek. Die verskriklike wind het die vlamme aangejaag en dit in die dorsvloer langs die stoor, waar die dorsmasjien gestaan het, laat inspring. Die hoop stronke en blare wat die masjien uitgeblaas het was droog en het eerste vlam gevat en toe in die veld ingespring.
Toe die bure die rook gesien het was hulle te laat om te kom help en kon hulle net help om die vlamme van die huis af weg te hou. Die voorbrande al met die plaasgrense het verhoed dat die brand na die ander plase versprei en het net Boskop afgebrand. Genadiglik het die werkers se huise ook die brand vrygespring maar onthou sy wat baie snaaks was was die feit dat twee van die werkers na die brand net spoorloos verdwyn het. Sy onthou dat die speurders dae lank in die afgebrande stoor rondgekrap het maar kon hulle niks kry wat op brandstigting dui nie, die weerlig was verantwoordelik.
Wat ook gekeer het dat die brand nie na die ander plase versprei het nie was die treinspoor en die spruit. Die buurman aan die eenkant, Willem Roets, het sy plaas beskerm met n groot voorbrand wat hy die vorige dag gemaak het maar niemand het iets daarin gesien nie.
Hulle kon net die huis red en het die son die volgende dag oor n swart verskroeide aarde opgekom.
Pappa het blykbaar geld by die bank gaan leen om weer aan die gang te kom maar het die droogte en die misoes die volgende jaar hulle finaal gebreek. Die bank wou nie nog geld leen nie en het pappa laat bankrot verklaar om alles te verkoop om hulle geld te kry. Sy was toe tien jaar oud en Hans dertien.
Dit was toe pappa op die goedereloods in Bethlehem begin werk het as n arbeider. Harde werk maar het hy ten minste werk gehad. Hulle het aangegaan en is daar elke maand n meubelstukkie bygekoop en het hulle kos op die tafel gehad. Pappa het toe n rangeerder geword, tot die noodlot twee jaar later weer toegeslaan het en pappa voor n trein beland het. Niemand weet wat werklik gebeur het dat hy voor die lokomotiewe beland het wat besig was om in die rangeerterrein in te trek terwyl hulle besig was met rangeerwerk nie.
Sy sit die oefeningboek terug en trek die volgende dagboek uit om die inskrywing van daardie noodlottige dag te lees: “Liewe dagboek. Ons harte is stukkend vanaand. Pappa het vandag voor n trein beland en is hy nie meer met ons nie. Vandat hulle ons vanmiddag kom vertel het is dit net n kom en gaan van mense en ek kan sien mamma is gebreek vanaand. Ek het net gehoor sy sê vir iemand dat sy nie weet waarheen nou nie. Die spoorweë sal wel n bietjie geld uitbetaal maar hoe lank gaan dit ons aan die gang hou tot dit op is”.
Sy blaai bietjie verder: “Ons het Pappa vandag begrawe. Sy kis was maar n eenvoudige kis en daar was maar min mense. Mamma was stukkend en het bitterlik by die graf gehuil. Dagboek ek dink sy wil nie meer lewe nie, sy wil na pappa toe gaan”.
Marietjie maak die dagboek toe en staar deur die venster en dink aan die aand, drie maande later, toe mamma die aand gaan slaap het om nie weer wakker te word nie. Mamma het oornag oud geword en was dit of sy alle wil om te lewe verloor het. Marietjie het haar die oggend ontdek toe sy haar gaan wakker maak het. Sy het Hans dadelik gaan roep wat die bure gaan roep het. Die dokter se bevinding was dat sy n hartaanval gehad het. Dit was vir haar en Hans n groot skok en was dit vir haar of sy n hele week lank in n dwaal was. Sy was vaagweg bewus van gesprekke wat die welsynwerker met hulle gevoer het en dat daar op die ou einde besluit is om hulle in die kinderhuis op New Canada te sit omdat haar pa n spoorwegman was. Daar is minder kinders as in die weeshuis op Bethlehem en was die gevoel dat hulle hier ook beter versorg sal word. Die ou paar stukkies meubels is glo later verkoop en is die opbrengs daarvan, saam met die bietjie geld wat in die bank was, in n trust vir haar en Hans geplaas vir die dag as hulle die lewe moes betreë. Die spoorweë het n mooi bedraggie uitbetaal na pappa se dood en het hulle ook n klein maandelikse toelae gekry.
Hulle was goed versorg in die paar jaar wat hulle nou hier is en het die gevreesde dag, die dag as haar en Hans se paadjies skei, nou aangebreek.
Sy en Hans was maar altyd na aanmekaar. Vandat sy haar verstand gekry het het sy maar na hom opgesien en was maar gedurig saam met hom. Saam het hulle nog met die bus Bethlehem toe gery, skool toe, saam het hulle in die populierbos langs die treinspoor gespeel. Sy kon haar altyd verluister hoe Hans vertel dat hy eendag die vlaktes gaan platjaag want hy gaan n treindrywer word. Hulle het baie dae sit en treine kyk as die rasende en blaffende blink ysterperde met hulle vragte verbyjaag. Dan het Hans hulle met verlangende oë agterna gestaar en het sy sy droom met hom gedeel want sy sou vir hulle huis gehou het. Hulle sou op Boskop gebly het en as Hans nie die vlaktes platjaag nie sou hy geboer het en sy sou hom gehelp het om die boerdery aan die gang te hou. Kinderdrome wat in n middag se tyd verpletter is.
Sy het lang redenasies met Hans gehad omdat hy so ver wou weggaan. Sy wou gehad het dat hy liewer op een van die Randse plekke moes gaan werk maar hy wou nie: “Marietjie ek wil terug daar na ons wêreld toe, ek sal nooit in hierdie stede kan aanpas nie”, was sy antwoord.
Sy gee n lang sug en trek haar dagboek en pen nader om te begin skryf: “Liewe dagboek. Nou is Hans weg Bethlehem toe om daar te gaan werk as stoker. Ek voel so leeg binne in my hart dagboek, hy is al wat ek in die lewe oor het. Ek verlang vanmiddag so bitterlik na pappa en mamma. Hoekom dagboek, hoekom het hierdie dinge met ons gebeur? Ek kan dit nie verstaan nie en kon dit nooit verstaan nie. Na mamma se dood was Hans my anker in die lewe en nou is hy ook weg en gaan ek hom so min sien tot ek ook klaar is met skool”.
Haar emosies raak vir haar net te veel en sak sy met haar kop op haar arms neer en begin sy huil, nie eers Elsabe, wat intussen ingekom het, se vertroosting help nie. Sy eet sleg die aand en gaan klim vroeg in die bed om met haar eie gedagtes aan die slaap te raak.
Vir Marietjie raak dit n lang Desember maand en is veral Kersfees vir haar n marteling. Alhoewel die huis ouers hulle bes doen om dit so aangenaam moontlik te maak vir die paar kinders wat daar is is dit vir Marietjie net te veel. Dit is net Elsabe se vriendskap wat haar staande hou en haar kort kort verseker dat Hans van hom sal laat hoor, sy moet net kans gee en nie so bekommerd wees nie. Sy verlang na Hans wat nog nie n woord van hom laat hoor het nie, sy verlang na haar ouers.
Sy kom eers na Kersfees tot rus toe Hans se brief die dag aankom. Dit laat Marietjie baie beter voel want nou het sy verbinding met Hans. Sy lees Hans se brief n paar keer en kan dit nie genoeg lees nie.
Daardie aand skryf sy in haar dagboek: “Liewe dagboek. Ek het vandag n brief van Hans af gekry. Hy sê dit gaan goed met hom en dat hy in die spoorwegkoshuis op Bethlehem bly. Dagboek dit voel vir my so goed om van hom te hoor, ek was so bang dat hy my gaan vergeet en alleen hier los. Nou weet ek hy sal my eendag kom haal as ek klaar is met skool om n nuwe lewe daar saam met hom te gaan begin.
Nou verstaan ek hoekom hy Bethlehem toe is, hy het vir my geskryf dat hy ons plaas wil terug hê, al vat dit hoeveel jaar en moet hy werk dat hy neerslaan en ek gaan hom help en ondersteun in sy voorneme”.
Dieselfde aand skryf sy vir Hans n brief terug.

Liewe Hans,

Ek is bly dit gaan goed met jou en dat jy geskryf het. Ek het Kersfees so bitterlik na jou verlang want dit was alleen sonder jou. Die huisouers het hulle bes probeer om Kersfees vir ons so aangenaam as moontlik te maak maar daar is maar daardie gemis aan iemand wat jou eie is. Ek was so bekommerd omdat ek niks van jou hoor nie en het begin dink dat jy jou sussie vergeet het, maar dan sê die stemmetjie in my dat jy dit nooit aan my sal doen nie.
Hans ek ondersteun jou ten volle in jou voorneme en ek doen n belofte aan jou vandag dat as ek die dag klaar is met skool en daar by jou is ek saam met jou sal werk tot ons die plaas terug het. Ek stem saam met jou, dit is ons grond en hoort by ons, nie by vreemdelinge nie.
Het jy al pappa en mamma se grafte gaan besoek? Ek wil hê dat jy hulle grafte gaan besoek. Ek weet pappa het n grafsteen gekry want ek kan onthou dat mamma gesê het dat die spoorweë vir een betaal het maar ek weet nie of mamma n steen gekry het nie. Asseblief Hans gaan kyk en laat weet my of sy n steen gekry het
Elsabe het gevra ek moet vir jou sê groete as ek vir jou skryf. Sy mis jou net so baie soos ek.

Marietjie.

Die volgende dag loop sy dorp toe om Hans se brief te gaan pos en is daar weer n lied in haar hart.
Oujaarsaand is sy die ene vrolikheid want sy weet dat 1961 n mooi jaar gaan wees. Sy moet hard leer in die jaar sodat sy st. 8 goed deurkom en dan is dit net twee jaar tot matriek en dan kan sy na Hans toe gaan om saam met hom te werk dat hulle Boskop kan terug kry.
In haar verbeelding rys Boskop weer in haar gedagtes op. Die imposante huis met sy stoep reg rondom, die groen grasperk voor die huis met mamma se pragtige blomtuin wat sy so trots op was.
Agter die huis anderkant die vrugteboord was die stoor en die skaapkraal langsaan en die melkstal eenkant waar pappa altyd sy Friesbeeste gemelk het. Die romery se melk vragmotor het altyd soggens en saans van plaas tot plaas gery om die kanne melk kom haal Bethlehem toe.
By die vrugteboord was die sinkdam waarin hulle altyd gaan swem het met sy windpomp langsaan.
Hierdie tyd van die jaar was altyd die mooiste tyd van die jaar as pappa se mielies so groen wuiwend op die land gestaan het en hulle gereeld saam met hom mielielande toe gery het om te gaan kyk hoe vorder die mielies.
En toe die verkriklike brand daardie Augustus maand en die droogte daarna wat alles vernietig het. Jare se werk en sweet wat in vlamme opgegaan het en die droogte wat die opstaan poging vernietig het. Sy kan verstaan hoekom Hans dit wil terug hê en in haar hart neem sy haarself weer voor om te help, daardie grond behoort aan hulle.
Sy kan nog onthou hoe pappa altyd vertel het dat die Struwigs al baie jare op Boskop is. Na die brand was hy nog vol moed en het hy vertel hoe sy oupa Struwig na die Anglo-boereoorlog ook maar net n afgebrande plaas gekry het toe hy teruggekom het van kommando af. Daarom kan hy ook weer opstaan en sal hulle Boskop weer opbou en in sy volle glorie herstel. Sy glo hulle sou dit reggekry het ook as dit nie droogte en die misoes die volgende jaar was nie. Die bank wou nie nog geld leen nie en het hulle alles verloor. Sy glo tog dat as die bank vir pappa weer n lening gegee het alles sou regkom en pappa die lening sou terugbetaal, dan kon hulle lewens vandag soveel anders gewees het. Pappa en Mamma sou nog daar gewees het en sy en Hans sou n vry en kommer lose lewe gehad het.
Die Struwigs is trotse mense het haar pa hulle altyd geleer en laat hulle deur niks onderkry nie en is daardie trotsheid in hulle gene. Sy voel dit elke dag aan want noudat sy ouer raak en meer verstandig raak kan sy daardie trots in haar ook voel deurslaan en sy weet in Hans is dit soveel sterker. Hy sal hom nie laat onderkry in die lewe nie en is sy vol vertroue dat Hans sy doel, later met haar hulp, as sy eers daar is, sal verwesenlik.
Na die inskrywing voel sy beter, bêre haar dagboek en staan op om haarself in die spieël te beskou. Sy is tevrede met wat sy sien, sy trek altyd onder die omstandighede so goed aan as wat sy kan, en dan belowe sy haarself dat sy eendag soos mamma gaan wees. Net die beste gaan vir haar goed genoeg wees. Marietjie Struwig sal sorg dat sy vir Bethlehem gaan wys wie sy is die dag as sy terugkeer Bethlehem toe. Toe sy op die bed gaan sit om Hans se brief in die bedkassie se laai te bêre kyk sy lank na die foto van haar pa en ma wat op die bedkassie voor haar bed staan. Haar pa was n groot sterk man en haar ma n langerige lenige vrou. Dit is toe sy hulle belowe dat sy en Hans Boskop gaan terug kry, al moet hulle werk dat hulle neerslaan: “Pappa, Mamma ek en Hans sal Boskop terugkry vir die Struwigs. Julle arbeid sal nie verniet wees nie. Boskop is die Struwigs se plaas wat nou in vreemde hande is maar sal weer die Struwigs se plaas word. Daarvoor sal ek en Hans sorg”.
Elsabe kom ook die kamer in en Marietjie glimlag vir haar en sê: “Ek het vir Hans laat weet dat jy groete stuur en hom mis”.
Elsabe vlug bloedrooi uit die kamer uit want in haar hart het sy n ontsettende liefde vir Hans maar sy sal dit nooit teenoor iemand erken nie. Meisies van vyftien jaar oud kan skaam wees oor die geheime liefde in hulle lewe.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed