Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die Wensmeester

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 7 Oktober 2017 Aantal woorde: 3316 19 Kere gelees 2

Al die kerse was aangesteek, tog kan die lig nie deur die donkerte breek nie. Vandat die laaste magiese gedierte gejag en in die kasteel se binnehof doodgemaak is vir almal om te sien is die spieëls dof en het vuur opgehou om lig te gee.

Die sonlig is gedemp, maar dit was beter as die ewige skemer van die kasteel. Selfs die velde buite die venster wat altyd vol lewe was is dood. Net ‘n paar bome het dit reggekry om nog ‘n bietjie groenerigheid te hou in die laaste paar weke.

Alyssa se maag grom hard en trek haar gedagtes terug na die hede. Nie eens haar stywe korset kan die dier stil maak nie.

‘Prinses? Jy moet weg bly van die vensters af.’

Sy kyk ‘n laaste keer vir die son en loop terug in die skadu’s in. Sy was omring deur kandelare gevul met brandende kerse. Tog wil die donkerte nie wyk nie.

Die Domovoi sug dankbaar soos hy die gordyne toemaak. Alyssa weet dat sy ‘n bietjie moeilik is die laaste ruk. Sy voel asof sy enige oomblik kan knak en iemand se kop afruk. Hongerte kan enigiemand wild maak, selfs ‘n prinses. Hierdie hongerte het al gemaak dat haar onderdane begin oproerig raak. Dit het ook gemaak dat haar ouers gegaan het om advies van die sterkste towenaar te soek. Hulle is al vir ‘n lang ruk weg.

Kerse gaan dood.

Alyssa se oë vlieg na die hoek van die kamer. ‘n Ander Domovoi het ‘n paar doodgemaak.

Sy sluk swaar, maak ‘n deursigtige kreukel reguit op die brokaat wat oor die hoepel wat haar rok maak strek en loop weg.

Om die knegte met hul grys baarde te kan sien voorspel al klaar onheil. As hulle eers kerse begin doodmaak…

Sy sidder liggies soos sy by die skemer gang afloop. ‘n Spieël vang skaars haar weerkaatsing wat in goud en pienk blomme op ‘n silwer-goud agtergrond aangetrek is. Selfs die rok kan nie lig hou of gee nie.
#
Alyssa dwaal doelloos deur die kasteel. Daar is nie veel vir haar om te doen nadat sy haar hare in stywe krulle gedoen het en aangetrek het vir die dag nie. Selfs om te lees kan nie haar aandag aflei van die alewige hongerte nie.

Sy was alleen onder die gewelfde dakke behalwe vir die stof en die Domovoi. Al die ander het al lankal die kasteel verlaat om magiese gediertes te jag. Meeste is dood. Die res… hulle was nooit weer dieselfde nie. Al die lag, lig en lewe het stadig uit die kasteel geloop en dit leeg, koud en donker gelos.

Nie eens die blomme het lewendig gebly nie.

Haar maag kla hard. Alyssa kners op haar tande, sy gaan nie ingee aan verhongering nog voor sy haar twee-en-twintigste verjaarsdag gemaak het nie. Sy tel die kandelaar langs die gedroogde blomme op, versigtig om die kant by haar elmboë weg te hou van die gedempte vlamme en loop by ‘n gang af wat sy nog nooit vantevore gesien het nie.

Die lug ruik anders. Soos nat grond. Haar hart klop vinniger soos sy in die donkerte inloop.

Tapiserieë en skilderye wat fantastiese gevegte en magiese gediertes uitbeeld vul die mure. Die mees vreesaanjaend is een van ‘n swart hond. Sy ken dit al kan sy nie die gedierte se naam onthou nie: dit jag siele om aan te smul in die onderwêreld.

Sy sidder en loop verby die tapiserieë en skilderye sonder om weer na dit te kyk.

‘n Spieël staan skeef. Sy kan skaars haar weerkaatsing daarin sien. Sy skuif dit en dit swaai oop soos ‘n deur. Die nat grond reuk word sterker. ‘n Koel wind kom uit die donkerte uit.

Sy is nie seker of sy moet ingaan nie. Maar sy is verskriklik verveeld daarmee om doelloos deur die kasteel te dwaal met ‘n knaende hongerte. En hierdie gaan haar nie enigsins naby die oproermakers buite vat nie.

Sy maak haar skouers reguit en tree die geteëlde gang binne. Alyssa hoop dat haar flikkerende vlammetjies nie uit sal gaan nie. Skemer is beter as die stikdonker onbekende.
#
Die krinoline onderrok maak hard beswaar soos sy teen die steenmuur druk. Alyssa het die kandelaar agtergelaat toe die kerse uitgebrand het. Nie dat sy dit meer nodig het nie. Ametisse binne die rowwe grys steenmure van die tonnel gee genoeg lig vir haar om te kan sien. In party plekke groei wortels deur en selfs ‘n paar mauve rose groei oor die steenmure. Wel, die rose kon eintlik enige kleur gewees het. Alles lyk pers in die tonnel. Sy was seker daarvan dat haar rok donkerder word. Maar dit kan al die stof wees, dink sy met berou.

Sy vloek haar skoene soos sy oor die ongelyke grond skuifel. Blou-pers lig trek haar aandag weg van gedagtes waarin sy die mans wat hoëhakskoene ontwerp het hang. Skedels met kerse in vorm die res van die gang. Alyssa stop. Dit word al hoe grilleriger. Sy kyk terug, maar kan niks sien nie. Sy haal diep asem en beweeg voorentoe.

Die misvormde skedels gee haar ‘n goeie idee waar sy is, maar sy wil nie té veel daaroor dink nie.

Soos die gang tot ‘n einde kom vul die reuk van nat grond die lug. Alyssa loop in ‘n pragtige tuin in. Metaal bome en juweel blomme is orals. Die vrugte wat aan die perfekte gevormde bome groei ruik verskriklik lekker. Alyssa se maag grom. Die versoeking om te eet wat nie aan haar behoort nie is baie sterk. Tog het sy die stories gehoor: as jy die kos van Feërie eet behoort jy aan die Feë. Sy bol haar vuiste en beweeg aan.

Sy gaan nie aan enigiemand behoort nie.
#
Bene saamgesnoer met ametisse en kerse trek haar oog toe sy die kasteel wat aan die tuin hoort binne stap. Sy kan haar weerkaatsing in die kandelaber sien. Alyssa vernou haar oë om te probeer sien of haar hare regtig reguit geword het tydens haar reis.

Iets anders vang vinnig haar aandag.

‘n Man sit op ‘n troon van kristal en hou haar met verwondering dop. Hy het verrassende sonbruin vel vir iemand wat ondergrond woon. Hy kan nie veel ouer as sy wees nie. Vir een of ander rede is sy hemp vreeslik deurskynend – elke tatoeëermerk kan duidelik deur die wit materiaal gesien word.

‘Spinnekopsy,’ sê hy met ‘n grynslag. Die verbasing van haar skielike verskyning is al lankal weg.

Sy kyk weg. Die collage van rose, horlosie gesigte en slangkoppe is in haar oë gebrand. Sy kort hare, na die kant geborsel, saam met sy skadu baard is so anders van die skoongeskeerde gesigte van die mans wat sy ken. Sy ligbruin oë vonkel vrolik. Sy kan nie help om sy gespierde bou te sien terwyl sy probeer uitwerk hoekom hy bekend lyk nie.

‘Jy’s die Wensmeester,’ sê sy skielik toe die vae herinnering na vore kom. ‘Jy kan die hongersnood in my land stop.’

Hy trek sy gesig. ‘Ek verkies “Dagda” oor “Wensmeester”.’

‘Goed dan, Dagda, kan jy die gewasse weer laat groei?’

‘Ek het al vir oor ‘n duisend jaar geleef. Ek het ontelbare mense sien leef en sterf. Hoekom moet ek oor jou en joune omgee?’

‘Hoekom nie? Dit lyk vir my asof jy vassit, nes ek.’

‘Vassit?’ Sy wenkbrou lig.

‘Ja. Nie een van ons kan ons kastele verlaat nie.’

‘En tog is jy hier.’

Sy is nie seker hoe sy dit weet nie, seker die volksverhale wat haar goewernante haar vertel het toe sy groot geword het wat nou al hierdie nonsens na vore laat kom.

‘Wat bied jy aan in ruil?’

‘Wat bedoel jy?’ Sy kyk op van haar skielike blink swart skoene; haar hart klop té vinnig onder sy intrigerende blik.

‘Ek is bereid om my mag te gebruik om graan en gras te laat groei. Maar ek wil iets in ruil daarvoor hê.’

Alyssa sluk swaar. Daar was iets omtrent die manier wat hy na haar kyk wat haar ongemaklik maak.

‘Jy.’

‘Wat?’ piep sy. Ek maak nooit piep-geluide nie. Wat is dit? wonder sy ontsteld.

‘Ek wil jou hê.’

Haar hart klop vinniger as wat dit nog ooit gedoen het.

‘Jy intresseer my. Bly by my en jou mense sal nie meer honger ly nie. Bly by my en die vloek op jou land sal nie jou mense doodmaak nie.’

Dit klink wonderlik, veral in die warm stem waarin hy haar nooi.

‘Kan jy die vloek lig?’

‘Nee. Dinge moet reggestel word met dié wat verontreg is.’

Alyssa het geweet dit was net wensdinkery.

‘Moet ek hier, ondergrond, vir altyd bly?’

‘Nee. Jy kan kom en gaan soos jy wil. Net solank jy vir die grootste deel van jou lewe hier bly.’

Sy knik. Dit was beter as wat sy voor gehoop het. Al behoort sy nou eintlik aan hom. Sy kners op haar tande.

‘Jy sal goed bewaar word, natuurlik. Ek wil hê jy moet so lank as moontlik lewe.’

‘Bewaar…?’

‘n Spektrale hond verskyn uit die skadu’s. Sy oë glim soos warm kole. Alyssa knipper haar oë en die die gedierte word ‘n groot hond met rooi oë. Skrikkerig, maar nie naastenby so vreesaanjaend soos die gedierte wat sy gedink het sy gesien het nie.

‘Barguest sal mooi na jou kyk.’

‘n Groot man met dik spiere en ‘n rowwe swart baard loop die vertrek binne.

‘Verskoon tog, Meester. Maar jy word benodig.’

Dagda knik en die man loop.

‘As jy my sal verskoon?’

Alyssa knik vinnig en hy verlaat die vertrek.

Sy was nog besig om die mure van kristal en steen te bewonder en die hond wat oor haar waak te ignoreer toe onaardse skreeue die lug skeur. Sy tree weg van die muur af; haar oë soek orals vir wat dit kon veroorsaak. Die geluide kom van die rigting waarin Dagda verdwyn het.

Sy weet sy moenie, maar sy hardloop. Sy kan nie in die onderwêreld bly nie, maak nie saak die ooreenkoms wat sy gemaak het nie. Sy kan steeds die skreë van Dagda se gevangenes hoor.

Barguest volg haar saggies. Dit pla haar dat hy haar nie probeer keer nie. Maar miskien was die groot hond net so ontsteld oor wat Dagda doen as wat sy is.

Alyssa hardloop by die eerste gang af wat sy vind. Dit het mure van glimmende spieëls. Sy hou op hardloop. Haar voorkoms was anders. Haar hare was nie in stywe krulle om haar kop nie, haar rok was regtig swart en sy dra nie meer die korset of swaar materiaal van vroeër nie. Die van-die-skouer-af, langmou rok met baie valle is gemaak van sy-chiffon.

‘n Skimmedier met vuur vir oë deel skielik haar weerkaatsing se plek. Sy gil nie – sy val flou.
#
Haar maag wat grom maak haar wakker. Sy lê nog in die gang van spieëls. En die vreesaanjaende spektrale hond staar nog na haar.

Maar dit val haar nie aan nie. Dit probeer nie haar siel vat nie.

Sy sit regop en voel iets warm teen haar rug.

‘Barguest,’ fluister sy.

Sy kyk oor haar skouer en sien die amper gewone swart hond agter haar staan presies waar die skimmedier in die spieël se weerkaatsing is.

‘Is dit hoe jy regtig lyk?’

Hy grom saggies.

Alyssa sluk en staan op. Wat sy nou weet verander niks nie. Sy moet weg. Sy hardloop by die gang af. In ‘n deursigtige muur van pyn in.
#
Hierdie keer is dit die reuk van yster wat haar wakker maak. Sy is in die arms van die tweeling van die man wat haar en Dagda vroeër onderbreek het. Hy ruik soos metaal.

Ten minste is dit nie bloed nie, dink sy bedroef.

‘Dwerge is nie afleweringslaaities nie,’ hoor sy hom mompel soos hy haar terug dra na die kamer wat sy van gevlug het.

‘Kan jy asseblief ophou om weg te hardloop?’ vra Dagda vererg toe die Dwerg haar neersit en loop. ‘Tot die toorkrag sy pad na die oppervlak gewerk het om jou wens waar te maak is dit té gevaarlik om deur die tonnels te loop.’

Alyssa hou hom versigtig dop.

‘Nee, ek is nie die een wat jou seermaak nie. En ek is beslis nie besig om jou hier te hou nie. Jy kan gaan sodra die towerspreuk klaar is.’

‘Ek het gedink…’

‘Ek verstaan. Jy het stories oor my gehoor en besluit dat ek ‘n wensgewende monster is.’

Alyssa voel skaam toe sy die pyn oor sy gesig sien flikker.

‘Die skreë?’

‘Ons almal het ‘n rol om te speel.’

Sy wag vir hom om te verduidelik, maar dit lyk nie asof hy wil nie.

‘Die spektrale honde, soos Barguest, maak seker dat die siele nie ontsnap nie. En hulle gaan haal hulle in jou wêreld as hulle doen.’ Dagda sug. ‘Alles gaan dood. Maar niks word verwoes nie. Al vier my kastele werk soos ‘n russtop tussen hierdie wêreld en die volgende. Party siele vat ‘n bietjie langer as ander om getoets te word.’

‘Getoets?’

‘Is hulle goed, is hulle sleg of is hulle iets tussenin?’

‘Die skreë?’

Hy knik. Sy uitdrukking maak dit duidelik dat hy nie gaan uitbrei nie.

Alyssa is nie seker wat sy oor dit moet dink of voel nie. Maar hy is reg: elkeen het sy rol om te speel; hare is om pligsgetroue prinses te speel.

‘Aandete?’

Alyssa se maag grom en haar mond trek saam terwyl dit met spoeg vul. Maar sy moet weerstaan.

‘Kom nou. Kos gaan nie ‘n verskil aan ons ooreenkoms maak nie. Barguest sal seker daarvan maak.’

Sy kyk na die vreesaanjaende hond. Hy knik onbespeurbaar. Dit was goed genoeg vir haar. Kos het nog nooit so goed gelyk nie.
#
Grasspriete vul die dooie landskap met die eerste tekens van lewe. Onkruid, met dorings en pers blomme, groei orals.

Maar die blare val van die bome af.

‘Wat is dit, Barguest?’ vra sy saggies.

Dit is dae sedert sy die ooreenkoms met Dagda gemaak het. Sy het gehoop dat hierdie vinnige reis na haar koninkryk al haar vrese sal wegjaag. Maar dit…

Die swart hond staar net na haar.

‘Sal hy weet?’

Die hond draai om en wag vir haar om te volg. Hulle het skaars die gang na die onderwêreld bereik toe hulle deur Domovoi omring word.

Barguest grom kwaai.

Alyssa kan sien dat iets lelik verkeerd is. Al die Domovoi het rooi oë en kyk smalend na hulle.

Sy hardloop; Barguest hou die knypende knegte van haar af. Haar hoëhakskoene klip-klap oor die geteëlde vloere en maak dit onmoontlik om weg te kruip. Sy weet sy moet terug na Dagda se ryk gaan. Sy weet dat sy veilig daar sal wees.

Deur die donker steen gang hardloop sy met Barguest aan haar sy; die Domovoi is nie vêr agter nie.

‘Help!’ gil sy toe een van die Domovoi haar arm gryp en dit hard druk.

Barguest duik die bebaarde kneg van haar af. ‘n Ander een trek haar hare.

‘n Dosyn Dwerge verskyn. Sy het nooit gedink dat sy verlig sal wees om hulle te sien nie.

‘Hardloop!’ gil hulle en hou die Domovoi besig.

Alyssa het nie die aanmoediging nodig nie: sy hardloop reguit na die kasteel toe. Reg in Dagda se arms in.

‘Jy is nou veilig,’ sê hy gerusstellend.

Sy tree vinnig uit sy omhelsing uit.

‘Hoekom het hulle my aangeval?’ Sy vryf die blou kol op haar arm.

‘Wanneer laas is hulle gevoer?’

‘Hulle het seker boontjies en wat ook al hulle bymekaar kon skraap geëet – nes ek.’

Dagda skud sy kop asof sy iets snaaks en laf gesê het.

‘Domovoi eet net melk en brood.’

Alyssa kan nie die laaste keer onthou wat sy een van die twee gehad het nie. En as die daaglikse ete van boontjies haar steeds honger genoeg gelos het om koppe af te ruk…

‘Domovoi is verdraagsaam en geduldig. Maar wanneer hulle knak –’

Voetstappe eggo oor die vertrek. Twee Dwerge tree binne.

‘Hulle is teruggedryf, Meester.’

‘Goed.’

Alyssa voel verskriklik selfbewus toe hulle weer alleen is en Dagda se oë vasnael op haar wond. Nie eens die lang moue van haar rok kan dit wegsteek nie; hulle is na alles deursigtig.

‘So, jy moet miskien weet dat jou towerspreuk nie behoorlik gewerk het nie.’ Sy verduidelik alles wat sy gesien het voordat die Domovoi haar aangeval het.

‘Die blare het afgeval?’ vra hy terwyl hy op en af deur die ametis verligte vertrek loop.

‘Ja. Net die gras groei. En ‘n vreemde onkruid met pers blomme.’

Dagda kyk skielik op.

‘Onkruid? Nie koring nie?’

Alyssa weier om haarself te herhaal. Die Wensmeester lyk bekommerd.

‘Jou mense se onnoselheid het geen perke nie. Deur al die magiese gediertes te jag het hulle die karpoi weggedryf. En dis hoekom geen koring of graan in jou koninkryk vir die laaste jaar groei nie.’

‘Karpoi?’

‘Graan geeste.’

Iets in die bejammerende kyk wat hy haar gee laat Alyssa se vel kriewel.

‘Nie eens jou toorkrag kan nou werk nie, nè?’

Hy loop weer op en af.

‘Jy het vantevore gesê dat dinge reggemaak moet word. Hoe?’

‘Toorkrag en magiese gediertes was gejag. Nou moet dit verwelkom word.’

‘Die Domovoi is steeds in my kasteel.’

‘Hulle is aan jou gebind deur hul lojaliteit. Maar in tyd gaan hulle regtig gemeen word.’

Alyssa snork. Duidelik deur aangeval te word deur hulle tel nie op Dagda se gemeenheid-skaal nie.

‘Hoe kan toorkrag en magiese gediertes verwelkom word in die koninkryk? Ek neem aan om “welkom” te sê en seker te maak niemand maak meer jag op hulle nie gaan nie genoeg wees nie?’

Dagda kyk weg voordat sy sy uitdrukking kon lees.

‘As jy my koningin word sal ons huise verenig en toorkrag sal heeltemal verwelkom word.’

Alyssa draai weg. Sy weet wat hy sê is die waarheid. Veral omdat Barguest nie stry nie – hy lyk amper gelate. Om in hierdie vreemde ametis verligte kasteel te wees was nie soveel anders as om in die kasteel te wees waarin sy woon nie. Ten minste hier het sy Barguest. En Dagda.

‘Is dit ‘n formele huweliksaansoek?’

Hy hou haar dop, sy uitdrukking bewaak.

Sy kyk nie weg nie.

‘Alyssa, sal jy my vrou wees?’

‘Ja.’

Dadelik skud die hele kasteel. Die spieëls verloor hul onaardse skynsel. ‘n Gedierte gemaak van ametis val van die dak af.

‘Sal jy, Alyssa, prinses van die wêreld daar bo, Dagda vat as jou man?’ vra dit.

Sy knik vinnig; sy ignoreer haar verbasing.

‘Sal jy, Dagda, koning van die wêreld hier onder, Alyssa vat as jou vrou?’

‘Ja.’

‘Wel, daar is julle,’ sê die gedierte en verdwyn.

‘Dis dit?’ vra Alyssa.

‘Ja. En dis bindend, moenie bekommer nie.’

Barguest verander in sy skrikkerige vorm met swart rook wat aan hom klou. Die kasteel ruk. Alyssa klou aan Dagda sodat sy nie val nie.

‘Wat’s aan die gang?’

‘Ons wêrelde word een.’

‘En dis ‘n goeie ding?’ vra sy terwyl sy dink aan die wandelende siele.

‘Barguest en sy soort sal nou regtig werk hê om te doen. En die vloek op jou land is gelig.’

Alyssa sluk. Als het so vinnig gebeur. Was dit regtig net ‘n paar dae sedert sy per ongeluk in die onderwêreld ingedwaal het?

Alles hou op skud. Sy kyk om haar. Die kasteel is helder verlig. En skoon. En gevul met haar onderdane wat deelneem aan ‘n fees.

‘Ek het vir jou gesê hulle sal nie weer honger ly nie,’ sê Dagda met ‘n glimlag; sy oë vonkel vrolik.

‘Jy het.’

Sy glimlag terug. Vir die eerste keer in haar lewe voel sy gelukkig.

Wie sou dink om af te dwaal en wense te maak sal so goed uitdraai? dink Alyssa voordat sy haar man soen.
##




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 52
    Kommentaar telling: 241

    Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar.My wêreld draai om my twee Rottweiler seuns – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my blog https://ronelthemythmaker.wordpress.com/.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 36 gaste aanlyn