Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: DIE VYF MILJOEN RAND MOORD HFSTK 12

Deur neels
Datum gepubliseer: 21 September 2017 Aantal woorde: 1094 48 Kere gelees 1

HOOFSTUK 12

Toe Chantal de Beer Kas en n vrouekonstabel voor die deur sien staan weet sy dat haar uur geslaan het. Dit is net of sy haarself nie sover kan kry om die veiligheidsdeur oop te sluit nie maar toe Kas haar vra om oop te sluit dat hulle kan inkom sluit sy die deur tog oop dat hulle kan inkom terwyl sy na hulle kyk.

“Juffrou de Beer ek arresteer jou op aanklag van moord op Laurika Botes. Alles wat jy sê kan as getuienis teen jou gebruik word. Jy het die reg om te swyg en jy het ook die reg om te vra vir regshulp. Konstabel deursoek haar en boei haar”.

Kas sluit die woonstel en word Chantal ten aanskoue van die bure weggeneem. By die stasie gaan hulle eers aanklagkantoor toe waar Chantal se vingerafdrukke geneem word en Kas n moord dossier open.

Toe hulle in Kas se kantoor kom en Chantal vir Antoinette daar sien weet sy dat sy geen uitkomkans het nie, maar haar oë spoeg vuur toe sy vir Antoinette kyk.

Kas gaan sit agter sy lessenaar en neem die verklaring op wat Antoinette uitgeskryf het. Toe hy die verklaring begin lees is dit vir hom opmerklik dat sy dit honderd persent perfek in n netjiese handskrif geskryf het, hy sal nie eers nodig hê om dit oor te skryf nie.

Na die gewone aanhef van Antoinette se besonderhede begin sy verklaar:”Langes Naude woon al vier maande by my nadat ons in n nagklub ontmoet het. Ons het in hierdie tyd minnaars geword en het Langes gereeld finansieël tot ons huishouding bygedra. Ek het nooit gevra waar die geld vandaan kom nie alhoewel ek vermoed het dat hy met verdowingsmiddels smokkel.

Die laaste tyd het sy bydrae opgedroog soos hy al meer begin drink het en ek het hom begin aanspreek daaroor.

Verlede Sondag het hy n oproep ontvang waarop hy meegedeel het dat hy iemand moet gaan sien vir n taak wat hy moet uitvoer wat hom n hele paar rand in die sak kan bring. Met sy terugkeer het hy my meegedeel een van sy ou kennisse, Chantal de Beer, hom vyf duisend rand aangebied het as hy met haar minnaar se vrou se motor se remme peuter sodat sy kan verongeluk.

Ek het hom gewaarsku dat hy met vuur speel en dat hy moet afsien van die idée. Hy het my nie geantwoord nie en het ek aanvaar dat ek hom oortuig het.

Maandag, terwyl ek gaan werk het as tydelike kelnerin by n eetplek, het hy weggeglip en dit gaan doen”.

Ek het eers bewus geword daarvan toe ek in die koerante gelees het van die ongeluk. Toe ek hom daaroor konfontreer het hy erken dat hy dit gedoen het. Hy het my met die dood gedreig as ek iets sou verklap en ek het dit dus nie gerapporteer nie”.

“Na die verskyning van Langes se foto in die koerant het hy my Vrydag gestuur om n honderd duisend rand van juffrou de Beer te eis vir sy stilswye. Omdat ek bang was vir sy doods dreigement het ek dit gedoen”.

Toe ek vanoggend in die koerant lees van Stefan Botes se arrestasie het ek besef dat ek niks verder met hierdie komplot te doen wil hê nie en dat ek Langes Naude so gou moontlik uit my lewe wil hêen het dus die saak aan die ondersoek beampte gerapporteer”.

Kas sit die verklaring neer en kyk vir Antoinette: “Juffrou du Bois ek kan jou natuurlik aankla vir dwarsboming van die gereg op grond van dat jy inligting weerhou het. Ek gaan dit egter nie doen nie want jy gaan n belangrike getuie in die saak word. Ek gaan jou nou huis toe stuur en hou jouself asseblief more beskikbaar as ek jou nodig het in die hof, alhoewel ek twyfel”.

Na Antoinette se vertrek versoek Kas dat Langes Naude na sy kantoor gebring word. Toe Langes onder bewaking van n konstabel sy kantoor inkom mors Kas nie tyd nie.

“Meneer Naude, ek het Antoinette du Bois se volledige verklaring oor jou rol in die ongeluk waarin Laurika Botes dood is. Ek het n getuie wat jou gesien het toe jy met die motor gepeuter het en ek stel net in een ding belang. Ek wil weet wie het jou die opdrag gegee om met Laurika Botes se motor te gaan peuter”.

Langes weet hy is vas en antwoord hy: “Chantal de Beer het my vyf duisend rand betaal daarvoor”.

Kas kyk vir Chantal: “Daar het ons dit juffrou de Beer. Wil jy dalk n verklaring aflê of wil jy swyg”.

Met n glimlag dink Chantal by haarself: “Nou maar goed. As ek dan sink sink Stefan Botes saam met my vir dit wat hy aan my gedoen het.

Sy knik haar kop: “Kaptein ek sal n verklaring aflê waarin ek gaan verklaar hoe ek en Stefan Botes saam beplan het om iemand te huur om met Laurika se motor te peuter sodat die remme ingee”.

Nadat Chantal haar verklaring afgelê het en weggeneem is selle toe is dit Langes se beurt.

Langes is so mak soos n lammetjie en begin Kas sy verklaring afneem. Daarmee klaar word Langes terug geneem selle toe en dit is weer redelik laat toe Kas by sy huis kom waar n fronsende Annetjie hom hande in die sye inwag: “Daardie breë glimlag op jou gesig spreek boekdele bloedhond. Vertel, vertel ek is so nuuskierig dat ek met myself nie raad weet nie”.

Nadat Kas haar alles vertel het neem Annetjie die dossier en begin al die verklarings bestudeer terwyl Kas vir hulle kos inskep. Annetjie se kos is feitlik koud toe sy die dossier neersit en vir Kas kyk: “Ou grote kom ek vertel jou sy lieg. Botes is onskuldig aan hierdie een. Hierdie agterstraat bakvissie het kop verloor, ek vermoed nadat sy van die groot polis gehoor het, en het besluit om op eie houtjie iemand te huur om met Laurika Botes se motor te peuter. Sy het gedink sy gaan wegkom hiermee maar ongelukkig vir hulle almal het Dawid Vermeulen kop gehou toe hy tot die besef gekom het dat daar iets fout was met haar motor toe sy volspoed in daardie vragmotor vasgery het”.

Kas se kommentaar is: “Ek kry Stefan Botes eintlik jammer. Hy moes nie kop verloor het en die vroumens probeer vermoor het nie. Ek twyfel ook nou sterk daaraan dat hy enigiets met sy vrou se ongeluk te doen gehad het maar nou is dit slaaptyd.




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van neels

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 169
    Kommentaar telling: 1104

    Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 28 gaste aanlyn

    Bydrae Totale