Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die lang slaap

Deur Ernst
Datum gepubliseer: 23 Mei 2017 Aantal woorde: 116 87 Kere gelees 2

Die lang slaap

Ysreën stroom uit jou mond –
asof dit nie koud genoeg is nie,
glasige oë weerkaats
laatherfs in wit en geel.

Vlamme lek my vingers,
ek voer die berghutkaggel,
ʼn gravitasiekolk
sluk my in.

“Sal ek vir ons koffie maak?
Die wind het opgestaan,
laat ek jou enkels toegooi.”

ʼn Potlood krap op papier,
ek kyk hoe jy gedigte skryf
— jy sê dis briewe aan God.

Bring vir my ‘n ou lap
van die duurste sy,
‘n stoflap dan
vir die spinnerakke in my kop.

Gedagtes het grys en stil geraak,
ek vryf ‘n ruit met my jasmou
en kyk hoe sneeu jou toetrek —
vir die nag van die lang slaap.

© Ernst Fernando dos Santos




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. profiel foto van Inkmoderator

      Inkmoderator

      Mei 23, 2017

      Ernst, ek volg jou werk op INK met groot entoesiasme. Dit is altyd heerlike om op ietsie nuut van jou af te kom. Jy het jou eie groot skoene om vol te staan want, as ek reg onthou, was jy ‘n wenner tydens laasjaar se toekennings.
      Met hierdie vers stel jy weer eens nié teleur nie.
      Ek het hom so paar keer gelees en het twee baie klein voorstelle vir jou oorweging:
      1. [Strofe een]
      Ysreën stroom uit jou mond –
      asof dit nie koud genoeg is nie,
      glasige oë weerkaats
      laatherfs in wit en geel. [laatherfs moet hier verwys na ‘n spesifieke periode van herfs nie waar nie? – daarom is dit funksioneel om die woorde te koppel, of hoe?]

      2. Die laaste sin van jou vers, waar die crux lê, trap ritmies moeilik. Ek stel voor jy vernader dit na:
      ‘vir die nag van die langste slaap’ of iets soortgelyks.

      Ek is gaande oor jou vers en dit is ‘n vreugde om in jou talent te mag deel.

      Skryfgroete
      IM

    2. profiel foto van Ernst

      Ernst

      Mei 23, 2017

      Aaaah baie dankie IM, net die grootste waardering. Jy’s reg ek het ‘gedig van die jaar’ gewen 🙂 Nogsteeds vir my ‘n groot eer.

      Natuurlik is jy reg oor ‘laatherfs’ en ek kan wraggies nie onthou hoekom ek gedink het dit moet twee woorde wees nie.

      Ek hoor jou insake die slot maar ek gaan nog bietjie daaroor nadink as jy nie omgee nie.

      Dit is regtig ‘n voorreg om jou gedagtes rondom my verse te mag ervaar.

      Weereens dankie 🙂

      Groete

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Ernst

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 22
    Kommentaar telling: 30

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 20 gaste aanlyn