Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die Gerug is…

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 3 Augustus 2017 Aantal woorde: 2752 139 Kere gelees 2

Jamie MacKinnion loop doelgerig deur die dik plantegroei wat baie na ‘n tropiese woud lyk. Hy dink nie veel van Feërie se nuwe voorkoms nie. Waar dit eens soos die koue Caledoniese woude, kaal vlaktes, heivelde en berge gelyk het, staan net die Feë Koningin se nuutste gier.

Dit maak hom woedend. En dit voed die gerugte wat die rondte maak.

Eindelik maak hy dit tot die laaste stukkie heideland. Meeste van die Galno wag alreeds.

‘So, wat het die Koningin gesê?’ vra die leier van die Douglas familie sonder om te groet.

Almal skuif rond sodat hulle hom beter kan sien.

‘Dat Feëre hare is om mee te doen soos sy lus het.’ Sy’t eintlik baie meer te sê gehad oor die saak, maar die Galno het nie nodig om dit te hoor nie. Veral die deel waar daar soveel klagtes was dat alles altyd presies lyk soos wat die Glano – soos hy – wil hê dit moet.

‘Gee sy nie om hoe ons voel nie?’

Jamie kners sy tande. Hy wil nie na hulle hap nie. Al het hulle hom die belangrikste verhouding in sy lewe gekos: familie kom eerste.

‘Is jy seker?’ vra die leier van die MacGregor familie saggies. ‘Hulle vat dit nie so good nie.’

‘En hulle moenie,’ antwoord Jamie donker. ‘Al hierdie vetes teen haar wense het dit veroorsaak.’ Hy beduie rondom hulle na die nader-kruipende tropiese blomme.

‘Lente, Jamie,’ het die Feë Koningin gesê, ‘is dit nie wonderlik nie? Vir té lank het ons nou in die skadu van herfs geleef. Dis tyd vir verandering. Al my onderdane het dit nodig. Om my volle mag te wys sal almal herinner wie Koningin is.’

‘Dis net hoe ons is. Dink sy ons daag haar uit?’

‘Erger: sy dink ons veroorsaak die rusteloosheid tussen die ander in Feërie.’

Die MacGregor kyk bekommerd rond.

Jamie blameer hom nie.

‘Dis tyd vir ons om Feërie te verlaat,’ sê Faolan MacKeltar, leier van die MacKeltar familie, hard genoeg vir al die Galno om te hoor. ‘Ons kan in die mensewêreld, in Skotland, gaan woon waar kaal vlaktes en heidevelde in heideblommetjies oortrek is en geen wispelturige koningin dinge kan verander soos die bui haar pak nie!’

Jamie voel verslae. Hy sou erger gevoel het as daar ‘n gejuig was.

‘n Gemor kom van die skare.

Die soet geur van bloureën voer hom terug na twee weke vroeër toe die moeilikheid begin het.

‘Was dit regtig nodig?’ vra Jamie die Feë Koningin. Hulle is alleen in haar lushof getooi in bloureën. Die groot vergadering met belangrike Feë was eindelik verby. Maar hy is steeds briesend.
‘Ja. My onderdane is rusteloos. Van hulle het al na die mensewêreld verkas met die idee dat hulle meer beheer oor hul eie lewens daar sal hê.’

Sy sug en Jamie jeuk om haar vas te hou en te vertel dat alles wel sal verloop. Maar hy kry die gevoel dat, tenspyte van hul verhouding, dit nie goed ontvang sal word nie. Buitendien, sy het sy lojaliteit voor al die prominente Feë bevraagteken.

‘Jy besef dat hulle my uitgedaag het om jou lojaliteit op die proef te stel?’ vra sy.

‘Was dit nie genoeg nie?’

‘Duidelik nie. Jamie: jy moet die vetes onder die families stop of daar gaan gevolge wees.’

Hy hou haar dop, onseker oor hoe om vir haar te vertel dat dit ‘n lokval is: die Galno sal nooit ophou met hul vetes nie. Nie eens vir haar nie.

Snikke van die skare pluk hom terug na die hede. Die laaste van die heideblommetjies verander na sleutelblomme en gras. Dit stop by die onsigbare lyn wat die Helder en Donker grondgebied skei. Die Donker Lande is bedek met droë gras en eindelik met dik sneeu.

Almal kyk na Jamie. Hy hoop dat dit is omdat hy die leier is van die grootste familie en nie omdat hulle dink dat hy iets omtrent hierdie finale verandering kan doen nie. Dit was ‘n groot toegewing van haar om dit nie in wat ook al as lente blomme in die trope is te verander nie.

‘So… Ek raai ek stuur verkenners om vir ons ‘n nuwe tuiste te soek,’ sê die MacGregor soos die geel blomme in rooi, wit en kobalt hiasinte verander.

Jamie knik, verslaan.

#

Jamie voel hartseer soos hy van die vergadering af wegloop. Om Feërie te verlaat gaan iets in hom verewig verander. Maar die Koningin en haar kortsigtigheid los hom sonder veel van ‘n keuse.

‘MacKinnion.’

Jamie kom tot stilstand. Hy draai nie om na die ander man nie.

‘Goed dan. Ek sal dan al die praatwerk doen. Jy weet dat ander die Koningin se hand geforseer het en tog het jy haar nie verdedig nie. Ek weet nie wat tussen julle twee gebeur het nie, maar ek het nog altyd gedink dat jy vir haar sal oppas, maak nie saak wat nie.’

Jamie klem sy kaak en staar reguit voor hom uit. Die Assassyn sug.

‘Hierdie nuwe aksie wat die Galno wil vat is volslae verraad. Jy weet dit. As jy voortgaan hiermee en ‘n massa eksodus van Galno uit Feërie plaasvind, gaan daar oorlog wees. Jy is gewaarsku.’

Trane loop saggies. Sy trots het om die vrou wat hy lief het gekos. En nou kan dit miskien sy mense se dood veroorsaak.

#

Jamie loop op en af in die vergadering kamer in die Galno basis. Dit moet al duidelik aan die ander Feë wees dat iets aan die gang is, maar hy gee nie om nie. Met so baie van sy mense alreeds in die mensewêreld was dit beter vir die res van hulle om naby aan mekaar te bly.

Meer as net die komende eksodus weeg swaar op hom. Alhoewel wat hulle probeer almal se lewens kan kos, is dit die gewag wat hom kriewelrig maak. Dis al dae sedert hulle die verkenners uitgestuur het en hulle het nog niks terug gehoor nie.

‘n Rilling krioel oor hom en Jamie hou op stap.

Sy hart gallop, hy trek sy swaard saggies uit sy skede en glip uit die vertrek uit.

Dit is al laat genoeg dat amper almal in die basis aan die slaap is. Hy sein die wagte om die ander te waarsku: hy weet sommer net dat iets lelik verkeerd is.

Hulle sluip deur die basis, vertrek vir vertrek. Jamie vind die MacKeltar keelaf en sy moordenaar wat by die venster uitglip met ‘n groot grynslag.

Tyd voel of dit stil staan terwyl Jamie die bloed dophou wat uit die ander familie leier se keel drup. ‘n Geroggel van die MacKeltar se keel ruk hom uit sy onbeweeglikheid. Hy storm na Faolon se sy. Oë groot, hoor hy skaars wat die ander Fee sê voordat sy laaste asem hom ontsnap.

‘Vader!’

Jamie gee pad vir die MacKeltar se enigste seun.

‘Deursoek die gronde! Die moordenaar kon nie ver gekom het nie,’ beveel hy die ander Galno daar.
‘Die Assassyn het my pa vermoor?’

‘Nee. ‘n Ridder van die Donker Hof.’

Alhoewel die dood ‘n rare gebeurtenis is vir hulle soort, was dit steeds ‘n moontlikheid. En dit beteken ‘n kuiertjie van óf die Dullahan wat vir die koning van die dode werk óf ‘n besoek van Ankou homself.

Jamie kyk die donker kamer deur. Net hy, Ian MacKeltar en die gewese MacKeltar is oor nadat die ander op die jag gegaan het vir die Donker Ridder. Hy sidder. Die wesens van die Donker Hof kom nie sommer na Avalon nie. Daar moet iets verkeerd wees vir dit om te kon gebeur.

‘Baie meer as wat jy moontlik kan weet,’ sê ‘n stem uit die donkerte.

‘n Skaduwee beweeg uit die donkerte. Die koning van die dode het persoonlik gekom om die oorledene te vergesel. Hy raak aan Faolon se lyf en ‘n skadu styg op.

‘Julle mag die liggaam begrawe,’ sê die beenwit Fee.

Jamie knik, kaak geklem soos Ankou met Faolon se gees verlaat. Die Doodsfeë maak hom altyd bang.
Hy voel magtelose woede soos hy Faolon MacKeltar dophou totdat hy heeltemal verdwyn. Sy laaste woorde, dat daar ‘n geheime Feetjie Kring is wat van Avalon na die Berglande van Skotland lei, voel nog onwerklik. ‘n Poort van Feërie na die mensewêreld…

Ian MacKeltar se silwer oë glinster met ongegiete trane en pyn.

Jamie het nie baie van Faolan gehou nie, maar selfs hy is geskok deur die ander Fee se dood.

‘Ons het hom in die donkerte verloor. Ons vra om verskoning, my heer,’ sê een van sy luitenante vanuit die deur.

Jamie knik. Hy weet wie die ander leier vermoor het: Daray sal betaal vir sy dade teen een van Jamie se mense.

Hulle begrawe die liggaam van Faolon MacKeltar in die vroeë oggend lig. Heideblommetjies groei dadelik daaroor soos Feërie haar eie terug neem.

#

‘My verkenners het die perfekte heideland in die middel van Skotland gevind. Dis in die berglande. Ons kan ‘n vestingtoring bou en verder uitbrei soos ons die area verower.’

Jamie kyk oor die tafel na die MacGregor, iets in sy stem klink nie reg nie.

‘Is daar ander Feë daar?’ vra die nuwe leier van die MacKeltar familie agterdogtig.

‘Nee. Maar dis ongetem en niemand het aanspraak daarop nie.’

Jamie sug. Ten minste as daar ander Feë daar was sou dit veiliger gewees het om soontoe te trek. Aan die ander kant maak dit alles makliker. Veral om uit Feërie te sluip en ‘n nuwe tuiste te skep op niemandsland.

‘Reg so. Maar ons sal versigtig moet wees. Die Assassyn weet te veel,’ sê Jamie. Hulle het nodig om te weet dat hulle op enige oomblik kan sterf. Maar miskien was die herinnering van Faolon se dood genoeg.

‘Wat moet ons dan doen?’ vra die Douglas.

‘Stuur ons beste bouers en towenaars om vir ons ‘n vestingtoring te bou. Wanneer dit klaar is kan ons almal uit Feërie trek,’ sê die MacGregor. ‘Hulle sal dalk onsigbaar moet wees…’

‘Ons sal baie afweerende towerspreuke moet inbou,’ grom die nuwe MacKeltar.

Jamie verkwalik hom nie dat hy moeilikheid verwag nie.

‘Laat dit so wees,’ sê Jamie met ‘n soort finaliteit.

#

Dis al weke sedert hul bouers en towenaars gestuur het om vir hulle ‘n nuwe tuiste te bou. Jamie voel vererg soos die tyd aanstap. Hy het intussentyd orals gesoek vir die Donker Ridder wat vir Faolon vermoor het – sonder enige sukses. Hulle durf nie in die Donker Lande gaan om vir hom te soek met so min van hul mense in Feërie nie.

Hy loop deur Avalon en die veranderinge wat die Koningin te weeg gebring het irriteer hom nie meer so baie nie. Die lente blomme is eintlik mooi. Maar hulle verteenwoordig alles wat in sy lewe verander het, alles wat hy verloor het.

‘Jamie.’

Hy kom tot stilstand. Die wêreld verander al weer. Waar daar digte wolke was, is die lug nou getooi met sterre en ‘n vol maan.

‘Ek is werklik jammer dat dinge so ver gegaan het.’

Steeds weier Jamie om te erken dat sy daar is.

‘Dis nie nou tyd vir jou onuitstaanbare trots om te gebied nie, Jamie,’ sê sy saggies. Hy sou dit verkies het as sy gegil het – ten minste sou hy dan nie so sleg gevoel het omdat hy haar verraai vir sy mense nie.

‘Hierdie is so ‘n goeie tyd as enige, u Hoogheid.’

‘Hoekom so stroef? Is dit omdat ek die natuurskoon so verander het?’

Jamie kon hoor dat haar stemtoon hoër word. Hy het haar bemin vir langer as wat hy omgee om te onthou. Hy draai om, net om gekonfronteer te word deur haar traanblink oë.

‘Jy gaan weg, né?’

‘Ja.’

‘Is daar iets wat ek vir jou kan doen, as jou Koningin, ‘n laaste keer?’

‘As my Koningin, nee. Maar as die vrou wat ek lief gehad het vir my hele lewe… laat my toe om jou een laaste keer vas te hou.’

‘O, Jamie!’

‘Dis die laaste keer vir my om so te voel,’ sê hy terwyl hy haar vas hou, die reuk van bloureën wat altyd om haar hang is die beste wat hy al ooit geruik het.

‘Ons leef vir al té lank in hierdie oomblikke van lig. Maar vir die eerste keer besef ek dat jy imposant is: ek het geen reg om jou lief te hê nie. Ek wat net wapens kan gebruik en geen toorkrag nie. Ek is nie ‘n behoorlike metgesel vir die Helder Koningin nie.’

‘Jamie – ek’s jammer. Ek moes jou nooit behandel het soos… Ek moes jou behandel het soos die man wat ek lief het. Ek wens ek kon dit verander. Maar dis te laat, né?’ Sy trek weg van hom af en hou hom dop met haar traanblink oë.

‘Dit skeur my stukkend. Ek het probeer om jou te vergewe, maar dis net nie genoeg nie. En ek het al begin wonder of dit alles eg was…’

‘Jy kan nie iets voel wat jou hart nie wil voel nie. Jy weet ek het jou nooit gemanipuleer nie, nie waar nie?’

Takkies wat kraak en breek maak dat sy haar vorstelike masker terug in plek trek.

‘Gaan, vinnig. Wees veilig, Jamie.’

‘Ek sal jou altyd lief hê, Mae,’ sê hy voordat hy in die ruigtes verdwyn. Hy weet dat sy hom help om te ontsnap, maar hy het geen benul hoe om daaroor te voel nie.

#

Met sy hart wat wild gallop, spring Jamie in die stryd. Op een of ander manier het Feërie hom na die middel van die geveg tussen sy mense en die Helder Ridders gebring.

‘Wat is dit?’ vra hy die nuwe MacKeltar soos hulle rug-aan-rug veg.

‘Ons moet blykbaar gearresteer word.’

‘Sê wie?’

‘Ek.’ Die Assassyn val Jamie aan.

‘Weet die Koningin?’

‘Nee.’

Jamie knik en hou aan om te veg. Hy val op die grond. Die Assassyn mik om hom dood te maak. En stop.
Verward, kyk Jamie rond. Bloureën het skielik om en op hom begin groei. Dit vorm sommer ‘n muur tussen sy vegters en die Helder Ridders.

‘Hardloop,’ sê die Assassyn en laat hom gaan.

Jamie het nie nodig om twee keer vertel te word nie. Hy kry die aandag van sy manne en hulle hardloop.

Hulle het nooit ‘n kans gestaan nie: die Helder Ridders, nes dié in die Donker Hof, word van geboorte af opgelei om dodelik te wees. En die Assassyn… niemand weet waar hy vandaan kom of wie hy werklik is nie.

Bloed drup van ‘n skouerwond. Jamie trek sy gesig vir die spoor wat dit los. Alhoewel die plante daarop aandring om hulle te help onstnap, gaan dit nie lank vir die ridders vat hom hulle te vind nie.

‘Hier!’ roep Ian MacKeltar.

Hy staan binne ‘n Feetjie Kring met pers sjampioene en wit blomme.

Dit moet die een wees wat Faolon van gepraat het.

Hulle klim vinnig in die kring in en wens om te onstnap.

Oomblikke later is hulle in ‘n Feetjie Kring in ‘n bos. Swartdorings is oortrek met wit bloeisels. Wit en pienk woud anemone groei orals. Welriekende wit en geel sleutelblomme kan orals gesien word.
Jamie weet dadelik dat hulle in die mensewêreld is. Die blomme het geen toorkrag nie. Hartseer volg hy die MacGregor.

‘Die ander behoort dit veilig uitgemaak het. Ek dink ons het almal goed verwar.’

‘Het hulle die ander gangetjie gebruik?’ vra Jamie.

Die ander Galno knik. Hy het gehoop dat terwyl hy afskeid geneem het van Feërie die MacGregor bevel sou neem. En hy het.

Viooltjie blou mis bedek die woudvloer en meeste van die heideland. Blouklokkies. ‘n Paar wit blommetjies kan plek-plek gesien word. Jamie glimlag. Hy weet wat die volkskunde is wat die mense in glo: wit blouklokkies wys waar Feetjies gesit het. Ja, dink hy, dis die regte plek vir my om te bly vir ‘n wyle.

‘Kregora,’ sê die MacGregor.

Blare skuif en die lug glinster. ‘n Vestingtoring verskyn.

‘Laat ek jou rondwys.’

‘Later. Ek…’ hy trek sy skouers op en draai om na die heideland, die berge en die nader sluipende mis te kyk.

Gerugte het hom van sy tuiste en sy geliefde gejaag. Hy het baie verloor; hy hoop dit bepaal nie wie hy gaan wees nie. Hy haal diep asem en laat die belofte wat lente fluister hom omhul.

###
*Hierdie storie is deel 1 van ‘n nuwe 3-deel storie wat parallel afspeel met “Die Avonture van Saphira die Feetjie Hond”.*




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 42
    Kommentaar telling: 244

    Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar.My wêreld draai om my twee Rottweiler seuns – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my blog https://ronelthemythmaker.wordpress.com/.

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 92 gaste aanlyn