Jongste aktiwiteit:

Die damduiker

Die Damduiker, deur Stephan Uys

Hier aan die einde van graad sewe (toentertyd nog Standard vyf) nooi Oom Piet die leerlingraad om te gaan waterski by Bronkhorstbaai. ʼn Pa of twee word opgekommandeer om hand by te sit, en die moeders sit koppe bymekaar vir die eet- en drinkgoete. Een Saterdag, nog voor die son kon dink om sy kop oor die horison te lig, kom almal by Sundra Laerskool se hekke bymekaar. Ma groet my asof ek nooit terug kom nie, maar Pa is nog so effe knorrig omdat ek nie gaan gras sny nie. Toe ek omdraai om na die bakkie toe te stap waarin ek sou ry, druk Pa ʼn geldjie in my sak, net ingeval die hongerte of dors my êrens deur die dag oorval. Die moontlikheid dat ek van hongersnood of dors omkom, is omtrent so groot soos die kans dat Naas Botha ʼn drop-skop sal mis! As ʼn mens kyk na die berge kos en koeldrank wat op die bakkies gepak word, wil dit lyk asof ons groepie persoonlik die oorsaak is vir Ethiopië se hongersnood.
Ons is nog besig om te laai en sitplek agter op die bakkies los te skrop, toe stop Oom Piet daar met sy motorboot. Daar is twee sulke groot swart 120 perdekrag Mercury buiteboordmotors agter op die boot, en die pa’s is nie net bietjie beïndruk met sy speelding nie. Die adrenalienvlakke skiet skielik die hoogte in en daar word soos miere gewerk om die konvooi op die pad te kry. Ma kom gee haar oudste spruit nog ʼn laaste soen; ʼn mens weet mos nooit wat kan gebeur nie.

By Bronkhorstbaai aangekom is die son al mooi op, en daar is ook heelwat minder kos oor om af te pak. Ons trek haastig laar, en dan word daar eers vergadering gehou. Eerste ding op die agenda is om die Skape van die Bokke te skei – ek is ʼn bok. Die Bokke is die kinders wat nog nooit geski het nie, en Oom Piet fokus nou op ons. “Die ervare kinders gaan eerste ski, sodat julle kan sien wat hulle doen. Julle moet hulle mooi dophou. As hulle klaar is, gaan elkeen van julle ʼn beurt kry. As dit jou beurt is om te ski, gaan lê jy terug in die water en steek jou ski’s so halfpad uit die water uit. Trek dan jou voete onder jou boude in sodat jy so half hurk-sit op die ski’s. Hou jou ski’s se punte bo die water. Al wat jy dan moet doen is om vas te hou aan die tou, die boot sal jou uit die water trek.” Ek luister aandagtig na Oom Piet; dit klink vir my of dit moeiliker is om uit ʼn boom te val, as wat dit is om te ski.
Daar is twee Skape vir elke drie Bokke, en ons word gou in vier groepe ingedeel. My groep is toe ook sommer eerste. Daar word ‘safety jackets’ uitgedeel, en dan spring ons op die boot. Toe Oom Piet daai twee motors wakkermaak, klink dit soos donderweer teen klipkoppies. Oom Piet gee petrol en daai boot lig sy neus so hoog ek dag hy gaan ʼn bollemakiesie maak. Dit jil en gil so die vissermanne begin op te katrol om huis toe te gaan! Ek hou groot-oog die twee Skape in my groep dop toe hulle gaan ski. Hulle laat dit lyk soos kinderspeletjies, en ek slaak ʼn sug van verligting – ʼn mens weet mos nooit wat kan alles verkeerd gaan nie.
Toe dit tyd raak vir die Bokke, is ek eerste by die ski’s. “Onthou boeta, hou die punte uit die water en hou net vas aan die tou”, is Oom Piet se laaste woorde aan my toe ek uit die boot klim. Ek probeer presies maak soos hy vir my gesê het, maar dit lol. Sodra ek begin hurk-sit op die ski’s, rol ek op my sy soos ʼn hond wat wil hê jy moet sy maag krap. Kry ek myself weer regop gedraai, verdwyn die ski’s se punte onder die water. Ek dobber vir ʼn paar minute daar rond soos ʼn poliesman voor aan ʼn visstok se neus wanneer ʼn groot karp besig is om die pap af te suig. Moeg-gespook voel ek later ek is min of meer in posisie en ek wys met my duim ek is reg. Toe ek daai twee motors hoor brul gryp ek daai tou vas dat my kneukels wit word. Die boot trek die tou styf, en toe maak Oom Piet éérs daardie Mercury’s se krane oop! Daai boot pluk my nie net uit die water nie; dit pluk my skoon uit die ski’s uit. Vir ʼn sekonde of twee wapper ek soos ʼn vlag in ʼn windstorm aan daardie tou, en toe tref ek die water! Nou moet ek seker eers net bietjie verduidelik. My pa praat mos net een keer, so jy moet jou luister mooi luister, en dan as jy klaar geluister het, moet jy doen presies soos hy gesê het. Sy tweede verduideliking sal maklik met ʼn klap of wat gepaard gaan. Dis soos ek grootgeword het, en dis soos ek die lewe ken. Ek ken nie vir Oom Piet te goed nie, maar ek is half skrikkerig hy verduidelik sy tweede verduideliking soos my pa, en ek is nie nou lus om ʼn paar klappe te kry nie. Die neukery kom nou met Oom Piet se instruksies en my verstaan van daardie instruksies! Oom Piet het uitdruklik vir my gesê ek moet die tou vashou, en nie los nie! As Oom Piet so gesê het, gaan ek doen presies wat hy gevra het ek moet doen. Na my uitlig uit die water, die verloor van die ski’s, en die kort vlagwappery agter die boot aan, tref ek die water! Met die dat ek die water tref, word my arms amper afgeruk, maar ek klou verbete vas aan die skitou. Later vertel my maats my ek lyk soos Superman wat vlieg, met die dat my hande so voor my uitgestrek is. Die probleem is dat ek net lyk soos Superman, ek is nie Superman nie. Die water se weerstand dwing my arms onder die water die dieptes in. My nuuskierige kop besluit om te gaan kyk wat my arms aanvang, en my lyf volg my kop slaafs agterna. En wat doen ek? Ek hou vas aan die tou! Ek is op en af soos ʼn meermin op steroïdes agter daardie tou aan! Jy weet mos as jy soms jou lyn opkatrol om te kyk of die pap nog sit, dan kom die hoek en sinker mos so bo-op-die-water, onder-die-water aangerol. Dit is soos dit met my gaan daar agter die boot – dan is ek bo, dan is ek onder. Dit is eers toe my swembroek en my lyf van mekaar wil afskeid neem dat ek so met die een hand na my broek gryp; geen man wil nou soos ʼn stuk lokaas hier deur die dam gesleep word nie. Jy weet nooit wat swem hier onder jou rond op soek na kos nie! Met die gryp na my broek neem ek en die tou finaal van mekaar afskeid. Ek hoes, proes en spoeg water; dit voel kompleet of ek ʼn enema van die verkeerde kant af ingekry het! Die boot stop ʼn rukkie later langs my, en ek word gehelp om my half-verdrinkte liggaam uit die water en in die boot te kry. Ek kies om te glo dat die trane in almal se oë trane van simpatie en empatie is, ek meen te sê, ek was baie naby aan verdrink. Hoe weet ek dat ek naby aan verdrink was? Jy mag nou dink ek oordryf, maar ʼn week na my damduikery toe passeer ek steeds damwater!




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed