Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die bokhaelpatroon wat toe nie semels was nie…

Deur Koekekranka
Datum gepubliseer: 18 Mei 2017 Aantal woorde: 1474 432 Kere gelees 10

Toe ek so ʼn paar jaar uit die doeke was, was Oupa al vir my diep in die mens se doodgaanjare. En nou is ek al Oupa se ouderdom! Verwonder my deesdae onvan-passondig oor waarheen die tyd gevlieg het, want dit voel kompleet soos gister nog dat ek op Oupa se knie gewip het as oupa so kerf-kerf aan my seepkarrietjie wat ek oor al die jare wonderbaarlik behoue laat bly het.

Ja, die lekker perdjie-ry op Oupa se knie so tussen sy vertellings in (Vandag weet ek dit was nie geselsies met my nie, maar eerder met homself praat oor sy groot verlang na reeds afgestorwenes wat hom soms so in sy alleenwêreld kom staan en kuier maak het.) was baie lekker, maar die uitpraat van Oupa so goedsmoeds voor my, so asof hy sy gisters geselsendspesiaal net met my jaloers wou deel! was lek-kerder as Ouma se varsgebakte stomende snye brood waarin die botter sommer so sonneblomgeel vanself die sny brood ingesuie het…

So sit ek toe weer op ‘n dag en Oupa vertel van sy swaer Doorsie wat ʼn blacksmid was en met ʼn tienpondhamer kon moker dat die vlamme staan. Hy sê dat, toe oom Doorsie-hulle se eersteling op nege maande gedood het, het hy man-alleen, met net tannie Doortjie se help om die wabande oor die vellings te trek, ʼn bokwa uit sy eie bosgekapte hout volledig van die grond af klaar gebou. Ja, sê Oupa, oom Door-sie sê kant-en-klaar in een-en-twintig languurdae! (Want sien, sy droefnis oor die gemis van die kind was glo baie erg en een te veel; so hy’t baie nagte deurgewerk totdat die daglig vir tannie Doortjie uitgekraal het om hom te kom koffie gee.) Darem bygesê, sê oom Doorsie, hy het die vier nawe vir die wa by ʼn samaritaan kon afbedel…

Toenterjare, so het Oupa verder vertel, het jy darem uithalermanne gekry wat kon vasvat. Daar was byvoorbeeld Grootwillem van Rietgat wat ʼn bedonsde Afrikaner-bul sommer maklik aan sy weglêhorings kon pak, hom uit die drukgang tot in die middel van die kraal kon uitsleep en daar hom laat verstaanmaak dat daar net één baas op sy plaas is en hoe en wanneer daar vir hom geluister moet word. Sommer in ʼn japtrap het die bul dan geletterd geword en sou hy, as sy pote net ʼn skryfding kon vashou, sommer die reëls van besadigdheid kon neerskryf, so duidelik het oom Grootwillem sy gal gewerk.

En ja, onthou Oupa verder, daar was ook oom Karel van Kranskop wat op ʼn dag ʼn uitgegroeide Nguni-bul uit die Trustgebied by sy beestroppie dóérrr teen die grensdraad gestaan en raakloop het. Gelukkig, sê Oupa, sê oom Doorsie dat oom Karel later vertel het dat hy darem altyd sy knipmes byderhand hou en kon hy die opstroppelisse dier teen die lyndraad vasdruk, hom oorweldig en so hom skade-loos maak om nooit weer te basterteel nie. Ja, sê die Oumens, en dit alles stoksiel-alleen en nogal sonder vangtou of spantou. Sommer so in die bloedige oopte die bulletjie gekastreer want, sê Oupa, die skraallyfuitbreekbulle van oor die draad doen moes allamintige skade so met die verkeerdteel en so aan enne… oom Karel was ʼn netjiese boer wat nie ʼn verbastery sou verdra nie!
Oupa kon insidente en meedelings behoorlik uitryg as hy die dag op sy stukke was. So vertel hy dan nou ook op ʼn keer van die halfwas Engelsmannetjie wat by oom Growwe Sarel kuierplek gekry het omlat dié nie ʼn vrou doer in Sodom en Gemora tot trouery kon ompraat nie. Volgens Oupa was die knaap gemiddeld normaal van gestalte, maar kon hy geen mens met kennismaking behoorlik in die oog kyk nie. En ons Boeremense is mos maar skrams ongeskik en agterdogtig as die oog nie ʼn bars kan kyk nie, seg Oupa. Die ware feit, dat die mannetjie ook maar soos Paulus van die Bybel met ʼn doring in die vlees die ondermaanse sy lewelank sal moet bewandel, tel toe duidelik nie vir die knapie as voordeel nie. Die verdere feit dat hy deur Godstoelate oordadig skeel van oog gebore is het hoogstens so hier-en-daar ‘n sprankelkie begrip uitgelok, maar absolute aanvaarding as ʼn potensiële skoon-seun? Nooit!
Met dié dat oom Growwe Sarel ook maar sy eie skerfie van ʼn doring in die vlees moes saamdra oor sy Gesienatjie wat so onaansienlik vanaf haar eerste ligaan-skouing vir die oog was (en dan nog te meer omdat die gepaaiery en selfs latere bewese valsprofesieë van sommige familielede dat die kind dalkies die ergste van haar onaansienlikheid mag ontgroei!) was oom Growwe Sarel maar al te dankbaar oorlat die skeeloogknapie uit allenigheid en verwerping by hulle kom vasgroei het. En Ja, vasgegroei het die meneertjie mos só behoorlik dat daar sonder om gras te laat groei besluit is dat gebooie dadelik moes loop, alle kerklike rites sonder ver-suim getref moes word en so gebeur dit dan ook net betyds dat die tweetjies nie dalk die eenwording vooruit loop nie
Oupa sê hy dink dit was oom Attie van Agter’ieberg wat sommer so onnadenkend soos wat hy maar gebek is, die vrees uitgespreek het van moontlike kinders en die wrede stryd wat sulke teder twygies van die wrede mensdom sal moet verduur.
“Mens behoort die Ingelsmens sommer voor slaaptyd stilletjies te kastreer om ʼn ellende te voorkom” was kort en klaar oom Gawie Dwarsberg se boereraat, het Oupa vertel. Dit is glo gesê die oggend van die troue…
Na die touery en die mors met konfettie in en om die Kerk, is die genooides (En diegene wat uit ongevraagde gewoonte hulleself mos alewig nooi!) toetende en rasende die kort hoofstraatjie af en om die draai op pad plaas toe. Terwyl daar gemaklik gemaak word -want boere hou mos nie lank met ʼn langmouhemp en ʼn das aan nie- staan die manne uit oorerwing hande in die broeksakke, pype in die mond en ginnegaap. En dit is juis tydens hierdie ginnegapery en sondige gebeusel met ydel woorde, sê Oupa, dat oom Growwe Sarel besluit het om sy skoonseun ʼn streep te trek. En net daar-en-dan besluit hy hy sal sy twaalfboor gaan haal, een patroon oopmaak, die bokhaelkoeëls uitgooi en in die plek daarvan onskadelike semels indruk en dan weer die pluisdoppie mooi terugsit sodat niemand enige onraad sal bemerk nie. So gesê, so gedaan.
Welwetend dat die patroon in die Twaalfboor ondkadelik is, gee oom Growwe Sarel die geweer aan die se skoonseun nadat hy al die manne saamgeroep het.
“Jy is mos nou deur die heligheid van die heilige eg met my se meisiekjint been van my gebeente en vlees van my gevleeste geworre. Niet waar?” het oom Grow-we Sarel dawerend laat hoor en voordat die knapie nog kon lip lig, gaan sy skoon-vader voort: “ʼn Skoonseun van my kan niet ʼn skoonseun van my wees als hy niet bewys kan lewer dat hy handig met ʼn geweer is niet. Hoe sal ek dan ook andersins weet en rustigheid van gemoed he dat jy inwaarheid my dogter sal kan beskerm kom die nood? Dê! Vat die geweer en kyk of jy my kan raakskiet!” en sonder ver-der praat tree oom Growwe Sarel sowat ʼn dertig, veertig treë met groot gebaar af, sê Oupa, en gaan staan handeviervoet vir die mannetjie om sy bekwaamheid met ʼn geweer te bewys.

Oupa vertel dat toe oom Growwe Sarel so wegstap, toe bekyk een van die boere die patroon en sien toe dit is bokhael! Bewus daarvan dat die knaap onwetend, maar verseker sy skoonpa ernstig gaan verwond of selfs kan dood, ruil hy toe tot  oom Growwe Sarel se nadeel die skadelose semelpatroon vir ʼn donshael om sodat, so het die omie ter goedertrou gemeen, die skade aan die knaap se skoonpa nie so bars sal wees soos die skade van ‘n bokhaelpatroon nie.

Skoonseun het met sy geankery daar op die plaas ook een ding duidelik geleer en dit is dat jy nie vir Growwe Sarel teen gaan of ongehoorsaam nie en so dan le hy aan, mik sekuur op die gatwysgedeelte en trek die skoot af! Toe die knaap sy toe-geknypte skeelogies staat en sonlig gee, toe leg oom Sarel reeds kermende gesig in die grond, agterstewe verby heuphogte die hemelruim en afneem. Oupa seg die man leg en verbaal lasterlikhede wat ten hemele skril tussen bekende en onbe-kende  vloekbuie deur  wat selfs in die hel ontoelaatbaar is hoe hy sy paar-uur-getroude-onaansienlike-dogter ʼn weduwee gaan maak deur die doodslagmarteling van ‘n skoonseun.
Mense is maar snaakse wesens, seg Oupa toe. Wanneer mens goed bedoel en in goeie trou optree kan die beste bedoelings oorkook tot ellende. En seg Oupa, die arme ingelse skoonseun is toe darem ook nie dood nie, maar so die skrik op die lyf gejaag dat hy daar onsienbaar op die plek skoon steriel geword het en ou oom Ga-wie Dwarsberg se vrese van ongewensde swangerskappe onwetend sommer ook besweer het, want, vertel Oupa, die twee onaanskoulikes het toe nooit kinders kon had nie…




  • TEMAS
    6 Kommentaar
    1. profiel foto van neels

      neels

      November 22, 2016

      Hierdie het ek nou werklik geniet. Kan ek bietjie raad gee? Laat n lyn oop tussen jou parragrawe, die vergemaklik die lees baie

    2. profiel foto van Koekekranka

      Koekekranka

      November 22, 2016

      Baier dankie vir die inloer, die lees en jou praktiese wenk. Ek sal so maak!

    3. profiel foto van Anze

      Anze

      November 23, 2016

      Hahahaha, dit was nou n kostelike vertelling!!!

    4. profiel foto van Okatopi

      Okatopi

      Junie 2, 2017

      Ja nee dit is nou meesterlik vasgevat en die tydlose taalgebruik van die ou mense laat baie herhinderinge terugkom

    5. profiel foto van Koekekranka

      Koekekranka

      Junie 5, 2017

      Baie dankie man! Lekker om weer van jou te hoor. Mooi bly.

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Koekekranka

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 88
    Kommentaar telling: 433

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 294 gaste aanlyn