Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: DIE ALLERHOOGSTE

Deur Toom
Datum gepubliseer: 4 Julie 2017 Aantal woorde: 2493 116 Kere gelees 3

Dis ‘n polemiese artikel. Geen kru taal nie, maar religieuse fondamentaliste kan hiermee ontevrede wees:

DIE ALLERHOOGSTE

Iemand het ‘n artikel oor die ontstaan van die wêreld geskryf¹. Hy was nie daarop uit om snaaks (grappig) te wees nie, maar het humorvol ‘n lys van ons skoolwete of -kennis opgestel. En hy het nie vergeet om aan te dui dat die aanvanklike „niks” weens (nie-voorhande) warmte ontplof het en dat die „stukkies” wat „daaruit ontstaan” het, saamgedrom het om ‘n son, planete ensovoorts te maak nie, en dat by die afkoeling water „ontstaan” het. Alles uit die niet. Soos hy, weet ons almal dat dit nie so kon gewees het nie. Ook die natuurwetenskaplikes (wat my waarskynlik gaan uitskel ás hulle van hierdie rede van my te hore kom!) glo nie dat dit was nie, al skryf hulle dit mooi netjies agtermekaar vir die onwetende bloeitjies in die onskuldige skole. Hoe hét dit dan gebeur? Wat wás dan die stappe wat gevolg moes word om van daardie „niks” tot die hedendaagse alles te kom? Ás dit wel „alles” sou wees.

Vireers gaan ek so vermetel wees om te beweer dat daar nooit „niks” was nie! Ook nie niks (sonder aanhalingstekens) nie. Daar was altyd iets (sonder aanhalings­tekens). Die vraag is, wat was daardie iets? Is dit nog daar? En gaan dit altyd daar wees en bly?

Vra ons eers:

Hoe lank is altyd?

n Volwasse mens met „normale” bekwaamhede, waarnemingsvermoë en bewussyn kan seker ‘n getal / syfer van twintig tot vyftig maklik begryp, sommige kom seker met ‘n paar honderd tereg. Menige eksperte kan waarskynlik tot oor ‘n duisend as begrip hanteer. Kom ons probeer: ‘n halfdosyn eiers; neëntien Rand kos ‘n artikel; die tennis­kampioen het 6:2, 6:2, 5:7, 8:6 gewen; ons span het met 13 teen 17 verloor; in nege boulbeurte het hy twee paaltjies getrek, maar hulle het hom ses maal vir ‘n vier geslaan, in een boul­beurt glad twee sesse gemoker. Het ons nog die getalle onder beheer? KAN U DIT VIR U SÉLF VOORSTEL?

n Miljoen het ses nulle, ‘n miljoen miljoene is ‘n biljoen en het twaalf nulle;

[Origens, ‘n miljaard het nege nulle; dis ‘n duisend-miljoen (sg. amerikaanse biljoen”)]

n biljoen biljoene is ‘n triljoen en het vier-en-twintig nulle;

n kwadriljoen het agt-en-veertig nulle; ‘n kwintiljoen – ses-en-neëntig nulle;

sestiljoen, septiljoen, . . .

Genoeg?

Vir die daaglikse gebruik kan ons sê dat ‘n oomblik kom wanneer dit „genoeg!” is, en dis dan „baie”, „seer veel”, „‘n armvol”, „’n hoop”, „sommer ‘n berg”, ‘n „emmervol”, „’n hele oseaan”, „ontelbaar” of „oneindig baie”, … Iemand kan sê dat ‘n oktiljoen so goed as oneindig beteken, want niemand sal ooit daar uitkom nie, maar ongelukkig kom daarna nog een-oktiljoen-en-een!En twee. En drie. . .

Kán iemand ‘n miljoen voorstel? ‘n Duisend? Twee-honderd-ses-en-dertig miere op pad na ‘n vrot appel? Sewe-en-vyftig witborskraaie? Drie-en-twintig vers-, agtien bulkalwers en twaalf melkbokooie in ‘n kamp saam? Sewe karnallies wat in die rivier baljaar? u Het die syfers. Kan u dit verbeel, kan u dit sien, kan u dit beskryf? KAN U ENIGIETS DAARMEE AANVANG?

Ek beweer dat ons met ons dagbewussyn gewoonlik nie oor ‘n paar honderd kom nie: Die onnie op pousediens sien dat minder kinders as gewoonlik weens die griep vandag buite speel, dit lyk of byna die helfte van die vierde klas by die huis is (±100 tot 250 kinders altesaam). Die redenaar in die skoolsaal merk dat skynbaar ‘n hele klas nie daar is nie, agter vermoed hy volwassenes, waarskynlik ouers wat luister. (400 tot 600 mense – ons skool is klein) In hierdie gebied kan die twee mense nog beweeg; maar as dit ‘n duisend skoolkinders sou wees? En dan 500 ouers nog?En hoeveel onderwysers?

Iets oor die Ewigheid

Die simbool vir oneindelikheid is die „lemniskaat”, die „agt wat lê”. Dit ontstaan deur ‘n nul (O) links en regs beet te kry, en die twee duime teenmekaar te draai, om sodoende ‘n gegolfde lyn te kry, wat altyd op homself terugkeer in ‘n nie-eindigende beweging – ewigdurend. ‘n Kruispunt is slegs waar te neem omdat dit in twee dimensies geteken is; in werklikheid is dit ‘n drie-dimensionele lynbeeld van tyd in vloeiende beweging, van tyd wat vloei. Alle tyd – altyd. Die nul stel ‘n leë gat daar, daarin is niks, niemand, nêrens, nooit. Let asseblief wel: Dit is slegs tekenbeelde wat op ‘n werklikheid heen dui.

Binne-in hierdie stromende tydbaan is en was altyd die mens as gees aanwesend, nie abstrak nie, maar eg. Langsaam het die mens aangevang om vorm aan te neem: Uit hierdie vloeisel het geestige wesens hulle sélf geoffer en gesterf en in vaste stof verander. Hulle het in materie ontwikkel, eers as gas, dan in vloeibare vorm, wat dan verhard het. Dit het warmte en koue veroorsaak, en dááruit het die wêreld, die aarde en sy omgewing, aangevang om te word, soos die verskillende berigte uit verskeie bronne oor die wêreld heen ooreenstemmend vertel, totdat dít wat ons ken, ontstaan het. (Sigbare aanduiding hiervan lewer byvoorbeeld die studie onder ‘n mikroskoop van graniet en verwante oergesteente, wat uit die sigma en magma onder die aarde se kors stam: As dit genoeg vergroot word, kan in die struktuur gesien word dat dit oorspronklik eenvoudigste lewewesens was en dat hulle in die afkoelproses kristalle agtergelaat het wat soos enkele, individuele klein skelette styfgepak op- en langsmekaar lê.)

Soos die heelal al hoe meer afkoel en al hoe meer wesenhede hulle self offer, word die wêreld vir die mens voorberei, totdat hy in die gestalt van Adam en Eva vleesword en op die aarde aankom. Tot dan het die mens die heelal nie net as geeswese omswerf nie, maar hy was tydens al die hardword- en ander voorbereidingsprosesse teenwoordig, ook deur die stappe oor die plante en tiere wat tot menswees lei.

n Allerhoogste wese, of anders gesien, ‘n Basis- of Grondwese begelei die afloop van die prosesse. Hy omhul die mens of, ook anders: Die mens bevat of omvat hom. Hulle is een, dit is in die tydverloop, dit ís die tydverloop.

Vir altyd en immer

Die mens was altyd daar, dit wat ek die Allerhoogste noem, was altyd daar, die gees­wesens wat afgesterf het, was altyd daar, alles was altyd daar, en gaan altyd daar bly en wees. Die aard of aardigheid van hul bestaan kan verander: Die „gestorwe” geestige wesenhede kan weer in die geeswêreld opgeneem word – die mens word in die geeswêreld opgeneem wanneer hy sterf. Alweer anders uitgedruk: Die mens „sterf” uit die gesteswêreld in die aardse lewe in, en hy lewe voort in die wêreld van gees wanneer hy sy laaste asemteug hier uitgeblaas het.

Wat ek as die Allerhoogste kenteken, is nie vir stoflike mense op die stoflike aarde vatbaar nie: Dus soek mense ‘n moontlikheid om hom / haar / dit te benoem. So kom ons op begrippe soos die Skepper, die Heer, die Bestaans­grondlaag, of -basis, die Ontstaansprinsiep, of van Moeder Aarde, die Almagtige, die Groot Gees, die Ewige Vader, God, . . . Daarby durf ons ons nie verbeel dat ‘n halfnaakte ou mannetjie in die kleigat sit en tiertjies en mensies modeleer nie; ook nie dat ‘n eerwaardige ou koning, toringhoog met ‘n ellelange baard, op ‘n berg van ‘n troon sit en regeer nie. Dis wat gebeur het toe die mense probeer het om iets onverklaarbares met menslike, aardse woorde te verklaar, en seker was hulle welwillend en eerlik en wou slegs iets goeds doen.

Hierdie verskyning het in die verskillende tale die naam God gekry.

Die Een God

Deur die eeue heen was daar mense wat aan die Een God geglo het. Of beter: hulle het gewéét dat Hy daar is; hulle was so seker soos wat die son môre opkom dat Hy bestaan, en dat hulle uit Hom is, en Hy uit hulle. Op ‘n ander plek het ek ook oor hierdie verskynsel geskryf . Dit is seker moontlik om ‘n lys op te stel van al die religieuse bewegings wat aan die Een God geglo het en glo. Ek ken nie alle nie. Die paar waarvan ek wel kennis dra, is gou saamgestel:

# Die volgelinge van Zaratoestra, of Zoroaster, in die ou Persiese Ryk, het Hom Ahoera Mazdao genoem en Hom veral as die Bringer van Lig vereer; daarby word die innerlike verligting en die denkvermoeë gemeen. Vandag leef sy aanhangers nog as Jessiede, wat ten dele verdryf en oor die aarde versprei is.

# Die Hebreërs of Israëliete, afstammelinge van Jakob (Israël), seun van Isa’ak, seun van Abraham (wat semiete is), het Hom as Jahweh vereer, die God van Toorn, die bestrawwende Vatergod, en het Sy Woorde in die Torah opgeteken. Ook verdryf en oral versprei.

°# Die Christene, in lynregte opvolge, vereer Hom as die God van Liefde. Sy bykomende Woorde staan in die (Nuwe)Testament of Bybel, en bevat die Messiaanse Bood­skap van die Christus, die Heiland. Paulus sê, „Nie ek nie maar Christus in my”. Hulle verbrei hulleself in sendingsopdrag voortdurend.

# Die Isjmaëliete (ook semiete!), oor Isjmaël seun van Ibrahim afstammend, vereer die Een God as Al’lah besonders in Sy eienskap as God van die Geregtigheid. Sy Woorde is deur Sy profeet Mohammed in die Koran afgeskryf. Soos die Christene die Hebreërs aanvaar, respekteer die Moeslime ook die Christene en die Hebreërs: Dis vir hulle die sogenoemde „Dhimmies”, die beskutte of beskermde mede-gelowiges aan die Een God.  Ook hulle het ‘n sendingsopdrag.

# Die Baha’i, die volgelinge van Baha’Ullah, wat ‘n ryk skrifdom agtergelaat het, vereer die Een God as die God van Vrede. Wat ek van hulle weet, is: Hulle soek die interkulturele, interreligieuse gesprek om die wêreldvrede vooraan te dryf. ‘n Besonders klein groepie (5 miljoen in ongeveer 120 lande), hulle aksepteer en vereer alle ander religieuse rigtings en neem aktiv en selfbewus in alle lande aan die dialoog deel.

Eienskappe – step-by-step en trap-der-jeug

Ons sien dat die Een God baie eienskappe het, en dat op verskillende plekke te verskillende tye verskillende groepe Sy verskillende einskappe besonders vereer. Die Een God bly Een God, en bied die mensheid verskeie aspekte aan vir dit alles wat ‘n kultuur en volk in sy eie tyd en ruimte mag benodig, dog bly alle andere aspekte van krag. Die Toorngod het sy mense lief, die Vredensgod is gereg, . . . Hulle is ja Één; nee: Hy is Een.

Dit skyn so dat die Allerhoogste, die menslike „entellechie” (dit wil sê: die mens se krag om doelbewus sy volkomning na te streef), hom stuk vir stuk openbaar het, soos dit vir die mense in ‘n bevolking, vir ‘n volk op ‘n gegewe tyd en plek nodig was.

Nadat die eerste „primitiewe” kulturele en sosiale beskawingsstappe afgeloop was, volg:

# Ahoera Mazdao se geskenk van die moontlikheid om self te onderskei, te verstaan, te dink, te besluit;

# dan die besef dat daar sommige dinge is wat eenvoudig nagekom moet word, dat die geselskap die wet van toornige Jahweh moet gehoorsaam bv: om voort te bestaan;

# daarna die milde Messias, die Heiland wat individueel bemiddel, vergeef en troos en gelyktydig die mag van die bose onverbiddelik in toom hou;

# by Baha’Ullah word die gesamentlike kennis van goed en bose, helder en donker, mooi en lelik opgeneem, en dit word probeer om dit toe te pas by die lindering van die wêreld se pyn en smart.

Maar ons weet glad nie hoe Hy Hom in die tyd vóór die opskryf van geskiedenis getoon het nie, in die tyd toe ons oer-oer-voorvare, blind en naïf soos die kleuters van vandag, tastend voortgestrampel het. Watter eienskappe moes Hy aan die dag gelê het?

Op die kernpunt af

Waarnatoe het hierdie besonders lange inleiding gebring?

Daartoe dat alles wat vandag bestaan, altyd en immer bestaan het en nog altyd en immer gaan bestaan. Dat die mens altyd daar was en altyd daar gaan wees. Dat die ewigheid in ‘n bewegende stroom deur die tyd vloei. Dat as jy aan die ewigheid aan een of ander plek raak (hier en nou) dan is jy in die stroom. Dat die stroom geen begin en geen einde het nie.

En terloops, soos jy die ewigheidsteken so groot en so klein kan skryf soos jy wil – so groot is die ewigheid. Dit kan ure, jare, eeue of nontiljoene jare duur, maar dit kom op homself terug om die kringloop te sluit. Dit skyn aldus reg te wees as iemand sê: „Ek was ewig(-lank) nie by julle op die plaas nie.” „Wanneer kom die gaste / kook die koffie /, . . .? Dit duur ewig.” „Voordat die kind ophou om duim te suig / leer om fiets te ry / . . . , gaan dit ‘n klein ewigheid wees.”

As die mensheid heeltemal sou uitsterf, sou ook die heelal verdwyn. Netso: Poef! Want net die mens kán bewus die wêreld, die heelal waarneem. En as hy nie daar is nie, is daar niemand om dit waar te neem nie. Dus ís niks daar om waar te neem nie. Poef!

Maar die tydbaan van die ewigheid is nog immer daar, en die gees, die geestige mens is in die tydstroom binne. Hy ís die ewige tydstroom.

Altyd.

_________________

¹ Kyk na „Aardverwarming” deur Aikie op woes.co.za van 9e. Desember 2011, waar hy sê:
Die slim manne reken mos die heelal het ontstaan uit niks wat ontplof het en nou nog steeds uitsprei. Na ‘n tyd en ‘n halwe tyd kom daar van die niks toe bymekaar en maak ‘n son. Na nog ‘n paar tye kom van al die stukkies van die ontploffing bymekaar en maak die planete en op die een of ander manier begin die lot om die son draai, amper soos ‘n mot om ‘n lig. ... ” en nog meer.

² Kyk na my ArtikelsBybelvertalingsen „Teenoorgesteldes saambring” op INK.

³ Kyk na „Waarin glo ek?” deur moses op woes.co.za van 9e. Desember 2011, waar hy sê:

Abraham het agt seuns gehad. Die oudste was Ismael, daarna Isak, en daarna nog ses seuns. „En Abraham het weer ‘n vrou geneem met die naam van Ketúra. En sy het vir hom Simran en Joksan en Medan en Mídian en Jisbak en Suag gebaar” . (Gen 25:1-2) Die Bybel leer ons oor een seun se toekoms, die van Isak. Ismael en die ander seuns leer ons nie van in die Bybel nie, maar tog was hulle uit die nageslag van Abraham en dus deel van die verbond tussen Abraham en die HERE…

So leer ons ook dat Moses se skoonvader, Jetro ‘n priester was. „En Moses het die kleinvee opgepas van sy skoonvader Jetro, die priester van Mídian” Eksodus 3:1. So nie alle mense wat die HERE gedien het was van Israel nie. Israel word vir ons as voorbeeld voorgehou in die Bybel. Wat van die ander seuns van Abraham geword het, word nie vir ons in die Bybel geleer nie, al was hulle deel van die verbond met Abraham….” [Betoning deur my, tje]

©27e.Junie2017______…ooOoo…____________(2011)tje




  • TEMAS
    1 Kommentaar
    1. profiel foto van neels

      neels

      Julie 5, 2017

      hierdie is nou werklik baie interessant Toom

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 140
    Kommentaar telling: 133

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 98 gaste aanlyn