Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Death wish 2014

Deur Viooltjie
Datum gepubliseer: 22 Junie 2017 Aantal woorde: 260 110 Kere gelees 4

Eendag, as jy dood neerslaan
mag dit wees
êrens
waar niemand van jou weet nie
soos in ‘n diep en donker dal
– weens ‘n hartaanval –
(of iets dergeliks)

en wyl jou liggaam lê en vrot,
mag die maaiers en die kewers
– namens jou –
die Here loof en dank
vir die spyse en die drank.
Mag die aasvoëls
– wat jou oë uitpik –
dankbaar wees
oor hul groot geluk
en weet
dis álles net genade.

Mag die vlieg- en brommerlarwes
hul weë vind
na die basis van jou intellek
en deur oor en oog se holtes
tot binne-in jou skedel trek
en daar
hul slymerige paadjies baan
deur jou brein
wat meestal net uit vet bestaan.

Mag dit wat oorbly
van jou lewelose lyk
met kaste – leeg van oog –
tot in die verste heelal kyk.

Mag jou gebeentes bleek en bleik

en ek hoop jou spierwit raam
sal dán nederig erken
aan die son en aan die maan;
“ek was maar net ‘n mens.”

Mag jy dan daar fossiel
tot droeë gebeentes
. . . as profiel.

*

En eendag
miljoene jare later
(van son en wind en water)
word jou oorskot dalk ontdek
(op daardie stil en eensaam plek)
deur ‘n argeoloog of reisiger
daar waar jy – in al jou glorie –
tussen sand en klippe lê

en mag hy – in al sy wysheid –
híérdie woorde oor jou sê;
“O!. . . a fossil of a human, I presume”
en
“I wonder
how a creature – such as this –
could live,
given that it’s DNA
was so extra-ordi-narily
(so very, véry)
primitive.”

© Carma Shaw
16 Junie 2014




  • TEMAS
    5 Kommentaar
    1. profiel foto van neels

      neels

      Junie 21, 2017

      Jy het my verstom met hierdie een Carma

    2. profiel foto van Ano

      Ano

      Junie 22, 2017

      Tien duime omhoog!

    3. Viooltjie

      Junie 22, 2017

      Baie dankie, Neels en Ano. Ek waardeer julle lees en kommentaar baie 🙂

    4. profiel foto van Koekekranka

      Koekekranka

      Junie 22, 2017

      Hier slaan jy ‘n koers dwarsoor jou fyner werkies in wat my totaal verstom laat oor die aaklige waarheid wat jy o so treffend goed as nietigheid van die sienbare uitbeeld. Wel gedaan!!!

      • Viooltjie

        Junie 26, 2017

        Baie dankie, Koekekranka. Ek waardeer jou saamlees en kommentaar altyd baie 🙂

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Viooltjie

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 204
    Kommentaar telling: 716

    Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat ek te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

    Gebruikers Aanlyn

    2 Lede, 73 gaste aanlyn

    Bydrae Totale