Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: BOEK EN FILM

Deur Toom
Datum gepubliseer: 12 Augustus 2017 Aantal woorde: 1456 655 Kere gelees 6

‘n Jaar of wat gelede het ‘n slim duitse regissieurin in ‘n koerantonderhoud gesê, „Boek is boek en film is film.” Die vraag was, hoe daar sulke groot onderskeide kan wees tussen boeke en die films wat daaruit ontstaan.

Wat opgeskryf is, kan nie alles verfilm word nie. Dis dieselfde by „die boek van die film”. Natuurlik kan mens alles opskryf wat in die film was, maar dit sou dan etlike honderd bladsye wees oor die eerste tien minute! En soiets wil niemand deurworstel nie. So ook met die verfilming van elke sin en woord in ‘n boek. Albei media moet nood­gedwonge verkorte weergawes, met weglatings, of veranderinge voorneem „om die storie voraan te dryf”. Én om die eie „vertelstyl” te behou.

Toe die radio begin „nuusbulletins” uitsaai, het mense dit as ‘n soort voor­aan­kondiging aangesien van wat vanaand in die koerant gaan verskyn; die koerant sou dan in meer detaïl ingaan op die „kortnotisie” en almal was tevrede dat dit so was. Die radioberig sou die koerant ondersteun. Soos die „media” ontwikkel het, het hulle hul eie pad gebaan. In die nou-tyd is daar mense wat meen dat hulle glad nie ‘n koerant of radio nodig het nie want hulle kan dit in lewende, sprekende, bewegende prente op die televisie­beeld­skerm sien, heel dikwels te gelyker tyd met die gebeurtenis. Om nie eers van die „nuwe generasie” van apps te praat nie. Maar die koerante hou voet by stuk en gee „in-diepte” artikels uit hul navorsings na die oorsake, ens. van die betrokke nuus­waardigheid. Ons merk die onder­skeid tussen die vertelstyle eers wanneer ons ons ‘n ruspouse gun en deeglik ondersoek wat ons gesien, gehoor en gelees het en ons self vra wat die verskil is.

As ‘n romanouteur ‘n landskap beskryf, en hy skep ‘n gemoedsbeeld, sê maar, uit die swaar steil rotse wat oor ‘n grot se ingang hang en die duister wat daaruit loer… Of as hy die helder kleure en veelvoudige voëlgesange vergelyk met ‘n verliefde meisie se gemoed… Of hoe ook al… Dan het hy so en soveel plek, reëls, bladsye nodig om dit te doen; die leser is ingenome daarvan en verwyl lesend tien of twintig minute om die mooie, die skrikwekkende, ensovoort in sy siel op te neem. As die outeur oor iets spannendes wil skryf waar twee dinge gelyktydig gebeur, het hy so en soveel woorde, sinne, paragrawe nodig om iets te sê wat blitssnel afloop, en dit tweemaal. Die leser is verdiep in die verhaal en merk nie dat hy etlike minute nodig het om iets te lees wat lankal verby moes gewees het nog voor hy halfpad gelees het. Die toeskouer kan die duister of vrolike agter­grond sien en inneem terwyl hy die aksie vervolg. Die spannende „action”-tonele word in „egtyd” of „reëltyd” onmiddellik beleef; die toeskouer hoef nie  kan nie  minutelang wag tot dit langsaam uitvertel is nie.

Een van Charles Dickens se verhale begin met ‘n taamlik lange uiteensetting oor die sosiale toestande in Londen, ja, in gans Engeland en beskryf dan die lewens­om­stand­ig­hede van ‘n paar mense; ‘n filosofiese uiteensetting, so te sê. Die film (honderd jare later) begin met ‘n donker toneel: Bewolkte hemel waardeur ‘n huilende wind skeur wat die gebuigde bome laat heen en weer wik en kreun; ‘n vrou met armsalige kleding dra ‘n kind voor haar bors teen die koue toegewikkel en gaan lê hom in die donker hoof­ingang van ‘n groot huis. (Oliver Twist, as ek reg onthou.)

Die film, The Physician is gemaak na die boek” met dieselfde naam deur Noah Gordon. Maar boek is boek en film is film en dis op die ou ent twee verhale oor dieselfde mense in dieselfde omgewing om dieselfde tyd. Die hoof handelingsstrang is erkenbaar, die hooffigure en die plekke ook… Daarna is soveel onderskeide, hoe klein ookal, wat op mekaar bou en mekaar ondersteun, dat dit plek-plek soos twee parallel­lopende verhale lyk. Die gemoedelike, besinlike vertelstyl van die boek word uitgeruil teen ‘n met aksie gevulde styl wat voortgaloppeer soos ‘n vlugtende kwagga voor ‘n veldbrand.

Uit Rosemunde Pilcher se bundel The blue Room het duitse film­regissieurs kortverhale en sketse geneem wat in twintig tot dertig minute gelees kan word en daaruit vollengte films gemaak (om en by neëntig minute) waarby nie veel meer as die name van ‘n paar karakters oorbly nie. Jawel, film is film en boek is boek. Aan­skyn­end het altwee partye dit as iets goeds, iets lonendes beskou.

In haar lewe het Agatha Christie letterlik dosyne kriminaalromane geskryf. Haar twee groot helde was Hercúle Poirot en Miss Marple, altwee met skerp oë en, soos monsieur Poirot sê, arbeidsame „klein grysselle” in hul koppe. Daarvan het ons ‘n paar DVD’s en dááronder is twee weergawes van Four-fifty down from Paddington, die oue (s/w) met Margaret Rutherford, die nuwe in kleur met Joan Hickson. En dis daadsaaklik twee verskillende verhale: Ja, die vrou word in ‘n trein vermoor. Ja, haar lyk word oorboord gegooi en in ‘n waenhuis op die landgoed van vername mense versteek. Ja, die dokter wou erf deur die dogter te trou. Maar ongeveer hier hou die ooreenkomste op. Die „personeel” word totaal uitgeruil: By miss Rutherford lees sy speurromane en haar helper is die bibliotekaris; by miss Hickson is haar niggie haar helper, wat in diens van die snaakse ou huisheer tree sodat sy van binne haar tante kan inlig oor wat aangaan. Miss Rutherford het sélf in die huishouding kom dien… [Nou moet ek die boek gaan lees om uit te vind watter een is nader aan die „waarheid” van die geskrewe woord.] Aldus, selfs twee films van dieselfde boek kan van mekaar verskil. Radikaal verskil. Na die regissieur se wil, na sy siening van die saak.

By Cecelia Ahern, ‘n jongere skryfster (so om veertig, skat ek) wou haar fans in oproer kom want sy het ‘n boek vrygegee om te verfilm. Die rede was dat die film die boek vervlak, kitschig maak. Dit kán jawel gebeur! Die „Hay’s Code” is nie meer van krag nie, maar (Hollywood-)films word nog altyd gemaak „vir twaalfjarige kinders”, soos mister Goldwyn dit sewentig, tagtig jaar gelede uitgedruk het. Ek het hier al ‘n film van haar resenseer en daar staan: „Na ‘n idee (nie roman nie) van…” Dit klink goed.

Ongeveer so: „Ek het ‘n idee van ‘n ierse meisie wat aan buitelanders vir adopsie vrygegee is. Na jare kom die jong vrou terug en huur ‘n speurder aan om na haar ouers te soek. Dán: Haar moeder is in ‘n klooster… hmm, ‘n swygklooster, en mag nie met haar praat nie: haar vader het na Amerika geëmigreer en kom terug om by ‘n fees op te tree, hmm… dan moet daar ‘n leprichaun wees wat alle storielyntjies in die hand het  ‘n blommefee wat sê, ,Volg die blomme om jou geluk te vind.’ Sy self is versot op blomme. Waar kom julle vandaan? Ja, dan kan sy in München ‘n boekwinkel geërf het en ‘n verloofde in die steek laat… Ja, daaruit kan julle ‘n film maak. As en wanneer ek daartoe kom, skryf ek miskien ‘n eie verhaal daaroor. Ag, ja, sy raak mos in haar speurder verlief…”

Heelwat beter as om te sê, „Ag wat, die skrywer is lankal dood, ons voeg hier ‘n bietjie toe, verander daar ‘n skrapsie, bring hierdie nuwe karakter in die storie,…”

Ja, boek is boek en film is ja film. Die boek is meer besinlik, meer aandagtig, al is dit ‘n willeweste, of ‘n gruwelike verhaal van die Marquis de Sade, ‘n porno van André Gide, of ‘n halfpornografiese gruwelspeurverhaal van Mickey Spillane. Dit kos tyd om dit in te neem, te verteer.

Die film het beweging nodig, het helder-donker nodig, ook kleur as dit moontlik is, het klank nodig, praatstemme, agtergrondgeruise, musiek as dit moontlik is. En dit ís moontlik: Musiek en gesang en dans in vrolikkleurige klere. En dit moet in ‘n beperkte tyd afloop  neëntig tot honderd minute. Die boek het papier en ink nodig  en tyd. Jy kan hom by hoofstuk sewe weglê en maande later weer opneem om verder te lees.

Waarvandaan kom die onderskeid tussen boek en verfilming? Vanaf die noodwendighede wat die medium stel, of bewegend of (ek sê maar) besinlik; van die tyd tot beskikking; van hoe skrywer en regissieur die begewenheid beskou; moontlikerwys van die verskillende politiese, moraliese, estetiese ens. aanskouing van die betrokke twee mense. En die storie sou grondwetlik dieselfde wees met klein afwykinkies en waarskynlik ‘n happy ending soos Hollywood vereis.

 

©6e.Julie2016…………………..◄]:o(||(o;Þ.……………………………….tje




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. neels

      Julie 8, 2016

      Soos altyd baie boeiend Toom

    2. profiel foto van Toom

      Toom

      Julie 8, 2016

      ‘Skuus, mense!
      Die duitse titel van Agatha Christie se speurverhaal is:
      ,16:50 ab Paddington’.
      In die engelse vertaling is dit:
      ,Murder, she said’.
      GvT …………………………………………. (o;Þ

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 142
    Kommentaar telling: 133

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    2 Lede, 26 gaste aanlyn