Jongste aktiwiteit:

Loretta Szikra
vir
0 views

Loretta Szikra

Lees meer oor Loretta Szikra

BRONS klas

April ope projek

2.Woordeloos

Waar ons vanaand hier
op die klam sand sit
in woordelose verbasing
staar na die maan
wat die swart see
met goue glimmers verlig

Luister ons in stilte
hoe die wind haar naglied
oor en oor sing
wyl ons toekyk hoe die see
kieskeurig uitspoeg
en weer vat wat sy wil.

Soos branders ritmies
heen en weer
teen die strand kom klop
en golwe onstuimig
teen die rotse vas skop

voel ek hoe die sterre
deur my verhemelte loer
as ek sien hoe die maan
skakerings van kobalt, goud en silwer
geniepsig met haar tone
die donker dieptes inroer…

@Loretta Szikra

JUNIE – FAK projek

1.*Die hiefel en die fiefel (en gekriewel)

Sing jy van blomme?
‘wyl die vuurfeeks die septer
oor ons reënwoude swaai
Haar vlamme verleideidik
om die fynbos en Kannabas draai?

Tot daarvan net as oorbly!

Droom jy van ń kammalandse tannie?
Vol plooipleister en vullers
met lemoenronde kurwes
en ń lyf wat jou selfbeeld
ń hupstoot sal gee

maar eintlik net jou geld wil hê.

Verlang jy na die bosveldhuisie?
Waar jy snags
met oop vensters slaap
en amok met jou beminde
se hartsnare maak.

Terwyl die aarde van koers af dwaal .

Ek mis die hiefel en die fiefel
en gekriewel in my maag
as jou vingers oor my streel
en my skoenlappers ontwaak

en die lyfvryf van ons harte
op ʼn Pollenys wals…

FAK sangbundel: Titel – *Die hiefel en die fiefel

Plooipleister – grimering
Lyfvryf – styf teen mekaar dans

@Loretta Szikra

Oktober 2017 – Fees projek

2.Ek wou nee sê – maar ek het nie       

Hatfield se strate was bloupers verlig
violet sambrele het oor ons geblom
sypaadjies met pers tapyte vermom
Oktoberfees negentien-negentig…

Sou ek jou dalk weier, toe jy my saamvra –
het ek dalk nie vandag, jou ring gedra.

 Loretta Szikra

Februarie 2018 – Liefdesprojek

3.Aardsdom

Aartsdom
hake-krukke
hunker die hart deur hel
van bittersoet-stormslagweer
verlief

Loretta Szikra

Maart 2018 – Digkuns projek

3.Die skande van my hande

met die pantserlaag om my hart weggeskeur
het jy my vlyend ingetrek
in ń doolhof van leuens vasgekeer

in die prisma van ons liefdesfleur
my siel tot naaktheid oopgevlek
met die pantserlaag om my hart weggeskeur

vals motiewe met illusies van liefde verkleur
my hande met skande bevlek
in ń doolhof van leuens vasgekeer

met waarheid wat honger manifesteer
het verlore drome soos onkruid gevrek
met die pantserlaag om my hart weggeskeur

my hartspad het jý met galsteen geteer
my hartstog met afsku deurtrek
in ń doolhof van leuens vasgekeer

soos die valbyl van fabels jou skerp konfronteer
val realiteit opstandig in plek
in ń doolhof van leuens vasgekeer
met die pantserlaag om my hart weggeskeur

(Villanelle digvorm)

Loretta Szikra

Silwerklas

Julie 2018 – Oop projek

1.Geld wat stom is 

In rooidag se guldestond
fladder verwyte vlymend rond

soos vonkvlinders wat ywerig
na die sterre raap
voor ń nuwe dag
die nag se laaste asem
ylings op kom skraap

Terwyl hy heelmaak wat krom is
met geld wat stom is
koop sý hom soms
met ń varingblom om…
betaal hy vir liefde
wat hy nóóit sal ken nie
en so, ry sy hom
pond en pennie – holrug
tot anderkant die hel
en brandarm t’rug

vergete die liefde
geld kóóp mos geluk
vergete vergete, sy Judasjurk.

©Loretta Szikra

2.Letsels van liefde 

wyl sy kleure van vergifnis op ń skilderdoek verf
skraap sy hartseer oorblyfsels bymekaar
met letsels van liefde in haar hande gekerf

die gelag het sy alleen geërf
en in pekeltraanstroompies bewaar
wyl sy kleure van vergifnis op ń skilderdoek verf

verbloem sy die wrokke wat haar vrede bederf
in indigo-poele opgegaar
met letsels van liefde in haar hande gekerf

garaamtes wat dwalend oor haar hartsvlaktes swerf
het leepoog na haar gestaar
wyl sy kleure van vergifnis op ń skilderdoek verf

hartseer skakerings het in karmynsfeer verskerf
waarin ń skouspel van lig openbaar
met letsels van liefde in haar hande gekerf

soos lanfergedagtes in ń songloed sterf
kom haar woelsieke hart tot bedaar
wyl sy kleure van vergifnis op ń skilderdoek verf
met letsels van liefde in haar hande gekerf

© Loretta Szikra

Augustus 2018 – Haikoe projek

2.Winter se gô is uit

met winter geblus –
ontbied die lentebries sag
somer tot opstand
©Loretta Szikra

3.Vuurdans 

In lentefleur-trans
dans vuurfeeks verleidelik
deur winddroog grasveld

©Loretta Szikra

April 2019 Humor projek

2.Is daar whisky in die hemel? 

Met jou nou ses voet onder
– op die rotse –
V E R D R I N K
sit ek vandag
hier langs jou graf
en wonder
so sommer maar net
of daar ook whisky in die hemel is?
want sou jy tog daar wakker skrik
met ʼn dik babelas,
hoop ek daar wag ʼn kelner
met ʼn knertsie in ʼn glas
Ek hoop dat daar ʼn kroegie is
waar jy ʼn regmaker sal kry –
vóór die hel soos bokhael losbars
as die môredors die oorhand kry

Sonder lokaas na die hemel
sal jy die bus daarheen verpas …
tensy daar op jou ʼn engel wag
met ʼn dubbel in ʼn glas

Loretta Szikra

Mei 2019 projek

2.Soos mis 

Hoe kan jy my kwansuis maak glo
dat liefde oneindig is?
Netsoos die uitspansel daarbo;
eindeloos en grensloos
(soms roekeloos)
soos die loop van die suidoos

Tot teenaan my hart se deur
jaag jy die son en die maan
met blink beloftes agterna,
’n magdom sterre in kardoese
word ook hoopvol aangedra

Maanskyn en rose
kersieliefde vuur en vlam,
deur jou hipnose ingetrek
lê my verstand eenkant verlam
bedot
bedinges
bedenklik

uitgelewer aan liefde
wat soos vroegoggendmis
ewe vergangklik is

Loretta Szikra

September 2019 – Verplasings projek

1.Waar die hotnotsvye blom

Agter rooikoperduine
waar hotnotsvye purper blom;
lek ék Erebus my wonde,
terwyl ʼn nuwe dag triomfanklik
in ʼn oranjerooi songloed verskyn.

*Erebus: God van duisternis

©Loretta Szikra

Oktober 2019 – Kleur projek

1.Nuanse van verlange

As die volmaan weer
soos ʼn gloeiende topaas
boepensblink eklips,
wanneer die aarde kortstondig
voor die son insink
om die maan se lig te steel –
wens ek ons byeen
in die oomblik verbind,
voor sy smeulend deur die melkweg
die pad na haar lig weer vind.

Loretta Szikra

Oktober 2020 – OOP Projek

3.Kunstenaar

In die eklektiese denke
van die kunstenaar
‒ kluisenaar ‒
skrywer en musikant
wat óók kan sien
wat die skare sien;
dieselfde deuntjies
oor en oor hoor
en tog anders
‒ eksentriek ‒
artistiese integriteit
bo materialisme stel,
word blote negatiwiteit
weldeurdag kreatief
tot moontlikheid omskep.

Meesterlik vasgelê
in melodieë en kleur,
of vrye verse
waar digters gebroke
tower met woorde
om emosies poëties
en metries te bevry
soos hulle inspirasie
in die naakte waarheid kry ‒
selfs al wek dit geen applous nie.

Loretta Szikra

Maart 2021 – Liefdes projek

3.Agter ons maskers

n ʼn gallery diep binne my
hang vergeelde kiekies van ons

— S K E E F —

agter stowwerige glas
wat getuig van liefde
wat lank terug was;
voor ek en jy mekaar verloor het
in ʼn stormweer bestaan,
lánk voor ons liefde versmoor het
agter die maskers van pretensie
wat kleurvol oor ons hartseer span.

Loretta Szikra

Mei 2022 OOP Projek

2.Kalwerliefde

In die kosmosvelde
waar kalwerliefde
bandeloos blom,
bolmakiesie ons drome
nog om en dom;
alom hartsbegeertes
wat kleurig verweef is
tussen die sterre
en rooidag se koms.

Loretta Szikra

Junie 2022 – Winterlandskap projek

2.Skakerings van winter

Met die nanag se sterwensuur
het jy ons karos afgeskop en gepleit:
“staan op my lief, kom kyk
vóór die die winterveld se skoonheid
na sonop weer verbleik!”

Hand-aan-hand met die vleiland langs
waar Verloren Vallei idillies (stil)lewe
het jy my deur die veld gelei
– my oë het betraand
van die koue gebrand –
toe die môreson vaak-vaak
uit die blou-uur ontwaak
wyl haar ware kleure
s k o u s p e l a g t i g
aan die klipkoppies geraak het
toe die vaalgras soos glas
onder ons vellies gekraak het;
waar kammetjies met lente
in die veld op gaan kom
en engelvlerkies weer
in die klipskeure sal blom

net daar

in ‘n japtrap

in die ryptrap
van ‘n winterlandskap
was ek meteens bewus
dat die winter (hoe vaal ook al)
óók asemrowend en beeldskoon is.

Loretta Szikra

Augustus 2022 – My huis is my woning projek

3.Koue liefde

As jou hart nie is
waar jy saans (klipkoud) slaap nie
wat soek jy dan daar?

© Loretta Szikra 20220831

EERVOLLE VERMELDING

Katjiepieringliefde

Vêr weg van die betonoerwoud
se malle gejaag na niks
en knaende soeke na dít
wat eintlik kleinlik
en waardeloos is
kan ons hier
in die ou klipkasarm
waar ons brandarm
‘n klein begin met bitter min
(in die sweet van ons aangesig)
tussen brokkelrots
en grashalms gemaak het;
mekaar nog in warm omhelsing
van ‘n bloumaan se gloed
waarderend welkom groet –
waar liefde ons dag na dag
met oop arms ontvang
terwyl dit koraalrooi
langs keisteenpaadjies
tussen katjiepieringwalms blom
waar dít samehangend
aan die kruis
van ons voordeur hang.

© Loretta Szikra 20220831

September 2022 – Snelheidsprojek

1.Kopermaan se towergang

Wys my weer die glinster in jou oë
wat soos maanlig op die golfkamme blink
waar ons in liefde se dieptes versink
soos toe ons kon liefhê met groot genoeë…

…kom kyk liefling – hoe glim die kopermaan
soos sy stil uitdy bo die oseaan.

© Loretta Szikra 202209

2.kom hardloop saam my weg

Ons soek al lank ‘n huisie langs die see
waar borrelbranders teen ons skuitjie klots
en snags uispattig teen die rotse bots
wyl ons ons tyd in harmonie bestee

maar, my lief, ás jy tyd vir ons wil stop
loop dan saam my weg, tot by Kolmanskop…

© Loretta Szikra 202209

 

GOUE KLAS

Oktober 2022 – Liriese projek

1.Stilswye

Granaatrooi geheime
dwaal blosend
deur die spasies
van die gat in my siel
waar hulle
(soos verroeste krane)
bloeiend bloep-bloep drup
en afsyfer deur die krake
na die krater in my hart
waar hulle pateties
en stom rebelleer
teen my wil
en spraakverbod.

Loretta Szikra

 

Januarie 2023 – Projek NUUT

2.Voëlvry

 

Ek het die kettings
van jou mag
skakel vir skakel
afgeruk en vonkelnuut
uit die fratsgolwe
van jou stormgemoed gevlug
vêr
vêrder
v ê r w e g

tot waar die westerson
agter die kimlyn lag
en vrede triomfeer
waar ek
v o ë l v r y
van flenterliefde is
en onthef is
van jou gesag.
 

Loretta Szikra

 

Maart 2023 – OOP projek

3.As die Skedelkus kon praat

 Op ‘n genadelose geraamtestrand
waar die Atlanties met dooigety
dramaties oor niemandsland druis
verstil beenwit geheime
(misterieus)
in vergrysde koue sand
terwyl die seewind sý aandeel daarin
in die nanag se stiltes onthul
met opbruisende verwyte
wat herwaarts en derwaats
oor die koperduine suis.

@ Loretta Szikra

Mei 2023 – OOP projek

1.Sal jy onthou?

My lief,
wanneer jou liefde dreig
om my wees te laat
en die akkoorde
van my digtershart
nie langer teen die hange
van jou siel weergalm nie,
sal jý dan onthou
om dit nog ’n maal
in herinnering te roep
sodat dit verlangend kan eggo
in die gange van nostalgie
waar die lokstem van ons liefde
oor en oor in jou afdwaalhart herhaal?

©Loretta Szikra

3.Absoluut relatief

In die kroniese spel
van lig en skaduwee
waar die môrerooi
van absolute liefde
(sprokiesmooi)
deur wolke van wantroue
agressie en vrees filtreer
raak ons soms
ná intense introspeksie
verleë bewus
dat die persepsie
van liefde relatief
mities verwring
en meer obsoleet
as absoluut is.

Loretta Szikra

Junie 2023 – Winter projek

3.Hailkoe (brokkel-ys)

Brokkel-ys verdwyn
in ‘n wintervaal rotskloof
wat ‘n bergstroom baar.

Neologismes:  brokkel-ys = ys wat verblokkel
wintervaal = winter + vaal

©Loretta Szikra

 

Eervolle vermelding

Haikoe (Nog ’n winter)

die winterson bloei
‘n smeulende skemering
voor die nag opgloei

©Loretta Szikra

*opgloei

 

Julie 2023 – OOP projek

1.Dorsgety

hier, waar ek en jy
onbewoë
op ons agterstewe sit
en opgetoë toekyk
hoe Godswater
oor Godsakker
sypelend aanstryk,
delf ons eintlik lankal
die gatkant
van die onderspit

dwarsdeur
die polsende are
van moederaarde
se onherwinbare hart;
waar minerale
edelmetale
en lawende waters
onder die oppervlak
stelselmatig sak
en krimpend knak
(om ‘n dorsgety te voed)
soos óns behoeftes
skaamteloos aanteel
en onverpoosd voortwoed

 

© Loretta Szikra

 

2.Tussen dagbreek en drome

Op ‘n vergange Namibsnag
het die wind ‘n kronkellyn
tussen die duine deurgesny
en in ‘n vae newellaag
agter die horison verdwyn,
wat in nuanses van herfsrooi
fabelagtig in die glimlig
van die môreson gegloei het
terwyl ‘n nuwe dag hemelmooi
agter die heuwels uitgebroei het,
net toe nog ‘n roestraan
van die bloedmaan
in die oseaan versink
daar, waar ons liefde spontaan
tussen droomgolwe rinkink.

 

©Loretta Szikra

September 2023 – OOP projek

1.Drie skepe het jou meegevoer

omdat jy onder seile gaan
om jou sorge te verdrink
op Drie Skepe vêrweg hiervandaan

waar drank se mag jou wil verslaan
tot jou sinne sleeptong hinke-pink
omdat jy onder seile gaan

oorrompel deur ‘n spotbestaan
wat na whiskeywalms stink
op Drie Skepe vêrweg hiervandaan

tot jou weë newelagtig taan
soos jy in misnoeë versink
omdat jy onder seile gaan

daar, waar g’n nugter siel verstaan
hoe jy dóp na dóp op die rotse skink
op Drie Skepe vêrweg hiervandaan

sal liefde jou opslag teëgaan
soos jy respek volstrek vermink
omdat jy onder seile gaan
op Drie Skepe vêrweg hiervandaan

 ©Loretta Szikra

 

2.Onder jou vel

Ek wil my liefde
los en vas
oor die landskap
van jou liggaam tatoeëer
terwyl my pen grendelvry
oor jou epidermis
se kontoerlyne
heen en weer gly,
waar my ink rakelings
die senu-eindes
van jou binnehuid
sensories stimuleer
en onder die hipodermis
infiltreer en prokreëer
om perkament vir perkament
tot óns magnum opus
te evolueer.

 

©Loretta Szikra

Oktober 2023 – KORT projek

2.Breekpunt

waar vergunning
onder aanvraag
k n a k

© Loretta Szikra

Eervolle vermelding

2.Jy

… is my

lafenis

 

©Loretta Szikra

 

November 2023 – OOP projek

1.En toe moes ek weer skryf

Jou woorde het my betower
en my winterhart kom warm vryf
ek wou lag en sing en dans
en meteens moes ek weer skryf
oor sonskyn en koperduine
en geheime van die see
oor hoe die herfswind se asem
lewe aan die hawerlande gee
oor Namakwaland se blomtapyt
wat ek wil uitrol voor jou deur
en karige blombossies
wat op Karbonkelberg floreer.
Jou liefde het my hart verower
en skielik kon ek weer skryf
oor die sekelmaan se towergang
en jou hande op my lyf.

©Loretta Szikra

 

Januarie 2024 – OOP Projek

1.voor jy ontwaak

Ek wil saam met jou beleef
hoe die nag haar awendskleed
sag oor die hemelboog sleep
voor sy ure later
in ‘n stille trans
met die melkweg se oorblyfsels
in ‘n glimmergloed heengaan,
net voor ‘n nuwe dag
die nanag se stiltes
donssag binneval
om die voeltjies met klokslag
uit hul vereslaap te haal.

Ek wil sien hoe die bye
hulself in die kelkblomme verloor
en luister hoe die bome
die wind se fluistering aanhoor.
Ek moet elke nuwe môregloed
in die jou arms begroet,
sodra die nagaap
se verlangsiektjank
in die rotsklowe wegraak
terwyl jou warm asem
my menswees lawe
waar jy luilekker langs my
uit jou sluimerslaap ontwaak.

© Loretta Szikra

 

2.as ek kon

as ek kon sou ek vir jou
die wolke voor die son wegskuif
en jou eensaamheid die dieptes
van die oseaan indryf

ek sou jou hartseer vang
en aan ‘n vlinderbos ophang
waar dit sal uitdroog in die son
en met die winterbries heengaan

ek sou vir jou ‘n nagtegaal
uit die oewerbos loop haal
en dit loslaat in jou hart;
waar dit dag en nag sal sing oor liefde
waarin jy kan volhard

© Loretta Szikra

 

Februarie 2024 – Dolos projek

1.As die laaste dolos draai

vanuit rimpelhande
tuimel versteende bene
oor ’n bokvelmatjie neer
wyl die Inyanga se goëlgesange
teen die hange
van Mapochsberg uitbeur

daar, waar ‘n vroeggebore baba
tussen dood en lewe draai
sal haar voorsate se geeste
die septer nogeens
in sý guns ook moet swaai

onder die awendster
se wakenede oog
hou sy die klein lyfie
na die godestad omhoog
terwyl sy moederhart onwillig
in die vuur van noodlot brand
kleef die geur van moetie
brakbitter aan die nag
want vir háár
het die laaste dolos
gatoorkop
in die semelstof
geland.

© Loretta Szikra

 

 

 

 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Fanus Strydom het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak