Bosveld asem
More Celeste
My ander Neus
Jung het gesê “I’d rather be whole than good.” Vir baie mense is die aarde die middelpunt van die heelal. Ons word aangekla van kettery omdat ons glo die aarde draai, ketters ook omdat daar vir die mense ook plek op hierdie aarde is om hulle drome te laat lewe, en doelwitte te bereik. Dit is so maklik, vir ander, om te sê ons is ydel en te aards, om menswees te beleef. Dit is vir hulle makliker om ander te beskuldig. Net ander het droome en drange en foute..
Die oggend se geur was vol grondasem gewees.
Die oggend en die aand ruik na die fynste parfuum, Afrika se eie asem, die ghwariebos se asem wat die fyn, massa, wit blommetjies uit stuur op die oggend- en aandwindjie om Afrika anders voor te stel. Afrika moet mens anders waardeer. Die windjie het die mooi anderster veldgeure van Afrika, vanoggend weer gedra.
Die reuk van die eerste lentereën het ‘n bekoring van sy eie. Dit is altyd so met die eerste reens. Dit is uniek. Dit is aangenaam gronderig-stowwerige-nat-reuk wat die hele neus in beslag neem met ‘n boodskap van liefde en groei en die grootsheid van die natuur. Nou sal die wêreld se plante weer kan groei en kos en saad voortbring.
Grond ruik en verskillende soorte grond ruik verskillend by verskillende geleenthede. Omdat jy baie in die grond rondkarring sal jy ook daardie reuke van elke soort grond ken. Nie omdat dit so danig altyd lekker ruik nie, maar omdat daardie reuk aangename vooruit- sigte het van mooi blomme en sterk groei van die plante. Jy druk jou vingers in die rooi gronde van Rabestraat. Jou vingers en jou neus ontleed die grond en ervaar die energie wat dit het of wat dit kort. Jy ken die lekker warm reuk van vrugbare grond as jy dit met die kompos gemeng het en dit produseer reuse blomme. Daardie wortelrige reuk as ‘n mens die plantjies uithaal en in die grond plant.
As Augustus sy winde oor die vlaktes gooi ruik dit stowwerig. Maar ‘n heeltemal andertster soort stowwerigheid as al die ander stowwerige reuke wat daar in die wêrel kan wees.
Sondag is ek vroeg by Shoprite en dan haal hulle daardie vars brood uit die panne. Dit ruik nou nie na die brood wat oorle ma uit die panne gegooi het nie, maar dit ruik na brood. Dit is nie ‘n doodgewone geur nie. Vars brood uit die panne skreeu maag toe, al langs die neus af.
Ek wil jou asseblief ander dag, op ‘n road trip, Karoo toe neem, as die Karoo in blom is. En iewers het Leipoldt geskryf, “My liewe lekker Hantamwyk! ‘n Handvol gruis en gedroogde blare , Waboomblare Ghnarrabosblare! Arm was ek gister en nou is ek ryk.” Daar is lappe kleure van wit en geel en pers en oranje tot diep oranje en met die geur van Afrika se kruie. As jy op jou maag teen die blommetjies lê dan word mens dronkerig van die intense geur van daardie plantjies. Hierdie plante oorleef suksesvol in hierdie droë wêreld danksy vindingryke oorlewingsmeganisme. Buk en ruik die geur van die Karoo. Ek wil vir jou ‘n groot bruingeel vuurpylagtige heuningblom daar in die klowe pluk en dit vir jou in jou hande gee sodat die soet heuningeur in jou neus en asem jou hele siel sal vul.
Mooi dag verder
Jou Pa