Jongste aktiwiteit:

Bela-Bela

Bela-Bela

Dit is nou maar net so dat sekere mense met ʼn ingeboude kompas gebore word. Jy kan hulle enige tyd en op enige plek wakkermaak en hulle vra waar is noord. Na ʼn bietjie innerlike oordenking en interne navigasie sal hulle dan vir jou met ongelooflike akkuraatheid presies kan sê waar Noord lê.
Hierdie sub-spesie van die mensdom genaamd Humanis Nonverdwaaldes het iets in gemeen met daardie trop ganse wat van eenkant van die wêreld na die anderkant vlieg, sonder om te verdwaal – hulle kan hul pad kry in onbekende plekke, sonder om eers te stop vir aanwysings. Ek is nie van daardie subspesie nie, nee ek is van die subspesie Humanis Slegverdwaaldes. Humanis Slegverdwaaldes is ʼn subspesie wat volgens wetenskaplikes die Sahara se eens vrugbare grond tot woestynsand vertrap het in hul soeke na die see. Hierdie sub-spesie het op onverklaarbare maniere selfs in Noord Amerika aangekom, alhoewel die meeste Antropoloë glo hulle was eintlik op pad na Australië toe. Hulle het skynbaar hul pad êrens byster geraak en per ongeluk in Noord Amerika beland. Daar in Noord Amerika het hulle glo op en af gestap op soek na Australië, en so het die Grand Canyon sy ontstaan gehad. Blykbaar is dit ook in daardie tyd dat die Rooi Indiane van Amerika rooi geword het. Voor die tyd was hulle ook maar bleeksiele, maar toe die groep Humanis Slegverdwaaldes daar op die oop pleine begin op en af stap, het die Indiane glo ure lank in die son die vreemde stappers sit en dophou, met die gevolg dat hulle so ʼn diep en donker rooi vel van al die sonbrand gekry het. Hier in Suid Afrika het ons die Blyderivier Canyon en in Namibië is daar die Visrivier Canyon. Antropoloë stry heftig met geoloë oor wat eerste was, die rivier of die canyon. Persoonlike ervaring het my egter geleer as jy ʼn Humanis Slegverdwaaldes is, sorg jy dat jy altyd naby water loop en kamp maak. Ek is dus vas oortuig die rivier was daar voor Humanis Slegverdwaaldes die canyons uitgetrap het. Wat my punt versterk is die feit dat jy altyd baie sand rondom riviere kry – ʼn duidelike bewys dat Humanis Slegverdwaaldes altyd op en af langs riviere getrek het en vrugbare grond tot sand vertrap het. Dit was dus hierdie sub-spesie se op en afstap wat die grond so weggetrap het tot waar ons vandag die reuse canyons het. Hulle is dan ook die rede hoekom die Koi-San so donker en gekreukel is. Hulle het net soos daardie Rooi Indiane in Noord Amerika ure lank sit en kyk hoe die groep Humanis Slegverdwaaldes rigtingloos op en af stap, terwyl die Afrika son hulle donker brand en hulle velle kreukel. Maar ek is besig om van die punt af te dwaal, ek praat eintlik oor my soeke na Bela-Bela laat in die jaar 2002.
My broer is gevra om aanbouings by ʼn huis te gaan doen wat naby Warmbad gebou is. Pa was vir jare vervoerbestuurder en het vir jare self trokke bestuur. Hy het die land van ons beter geken as sy eie handpalm. Ek het heimlik ʼn vermoede dat die meisie op my satelliet navigasie stelsel vir Pa bel vir raad en rigting as haar inligting oor die paaie opraak; ek is net nie seker of Pa met haar Engels of Afrikaans gepraat het nie. Pa verduidelik die pad vir sy twee seuns soos net ʼn Humanis Nonverdwaaldes ʼn pad kan beduie. Ons moet vanaf Brits glo die pad na Thabazimbi vat. Na ʼn sekere aantal kilometers sal ons dan ʼn uitdraaipad na regs kry, gemerk Warmbad. Draai regs, ry nog ʼn paar kilometers en dan sal die plek waarnatoe ons gaan op regterhand lê. Dit klink vir my dis moeiliker om uit ʼn bed met kantrelings te val, as om hierdie klein plekkie mis te ry, en net na middagete vat ons die pad vanaf Benoni na Brits. Ons kom net mooi op biltongkooptyd by Brits aan, en besluit om sommer ʼn koeldrank of twee ook te koop, net om die biltong mee af te sluk. Ons het dit nie op daardie stadium besef nie, maar dit was ʼn beskikking gewees. Nadat ons proviand aangekoop het, maak ons die bakkie vol met diesel, en vat die pad na Thabazimbi toe. Alles gaan klop disselboom. Boeta het die kilometers gekyk toe ons uit Brits ry, en nou wag ons net tot ons by die afstand kom wat Pa gesê het ons regs moet draai. Toe ons naby die afstand kom wat Pa aangedui het, kry ons ʼn winkel op linkerhand, ook soos Pa verduidelik het. So ʼn entjie verder is daar toe ʼn afdraaipad na regs, maar die bord sê niks van Warmbad nie. Ek en Boeta praat kerk, werk, meisies, karre en lekker kos, terwyl ons die afstandmeter met een oog dophou. So ʼn kilometer of wat verder begin Boeta onraad vermoed, maar ek is nog heel gelukkig met ons vordering; jy sien ek is ʼn direkte afstammeling van die eerste oer-oupa Humanis Slegverdwaaldes, en ek weet niks van interne navigasie nie. Gelukkig het ons darem biltong en koeldrank om ons van ʼn gewisse hongerdood te red, anders weet ek nie wat sou daardie dag van ons word nie. Ons ry en ons ry, ek kyk later of ek nie dalk Kaïro se ligte in die verte kan sien nie. ʼn Paar kilometers verder kom ons by Thabazimbi aan. Ons stop by die eerste en beste stopplek en vra leiding. Die man wat ek daar vir inligting vra krap sy kop en kyk my ongelowig aan toe ek hom verduidelik daar is nie ʼn bordjie wat Warmbad aandui nie. “Is jy seker jy het hierdie pad gery?” vra hy terwyl hy na die pad beduie waarop ons sopas gery het. Ek probeer die man oortuig, maar ek sien ek verloor punte in die sakboekie waarin hy vir vreemdelinge punte gee vir hulle intelligensie. Hy verduidelik toe vir my en Boeta die pad na Warmbad so stadig en duidelik soos Hoffies altyd vir my Algebra probeer verduidelik het. Dit kom daarop neer ons moet terugdraai op ons varsgetrapte spore, en soos duisende der duisende vorige Humanis Slegverdwaaldes ons eie spore terugvat na waarvandaan ons sopas gekom het. Ons sal dan na soveel kilometer ʼn bordjie kry wat wys dat jy links moet draai na Warmbad. Ons moet die keer nie weer verby ry nie, ons moet tog maar by die afdraaipad draai, sluit die man sy stadige en omvangryke verduideliking af. Toe hy klaar gepraat is, vra ek hom of dit dan nou die afdraaipad is waar die troupantjie in die boom op regterhand sit? Die man knip sy oë twee keer en sug asof hy seker is ons gaan voor die einde van die dag onsself van hierdie aardbol se eindpunt afry.
Ons groet vriendelik en met ʼn laaste veelseggende druk op my skouer gee die man ʼn diep hartseer sug voor hy met hangskouers van ons afskeid neem. Ons hoef nie te stop vir proviand nie, want die eindpunt is naby en daar is nog ʼn paar stukkies proviand oor. Boeta draai die bakkie se neus Suid ( volgens Boeta, alhoewel ek seker is ons ry nou Noord-Wes. Rondom die afstand wat die man van Thabazimbi vir ons verduidelik het, kry ons weer ʼn bordjie, maar dit sê niks van Bela-Bela nie. Ons ry verby, al soekende na die bordjie. So ry ons en soek tot ons teen blaasleegmaaktyd onsself weer op Brits bevind! Nou word daar weer diesel ingegooi, koeldrank uit die blaas afgetap, en vars proviand gekoop. Ons vergewis ons van die pad, betaal vir alles en neem afskeid van Brits in die truspieëltjie. Nou word daar nie gepraat nie, daar word hard gekonsentreer. Ons kry sowaar weer nie die afrit nie, en toe ons in Thabazimbi kom, weet ek nie of die man daar wat ons met rigting gehelp het bly of verwonderd is om ons te sien nie. Weer verduidelik hy op sy rustige en oorduidelike wyse die pad vir ons. Die keer trek hy strepe in die grond terwyl hy verduidelik. Boeta draai weer die bakkie se neus in Brits se rigting, en weer kry ons net die bord langs die bad waarop geskryf staan: Bela-Bela. So ʼn honderd meter na die naambord skiet ʼn gedagte my te binne. “Boeta, wat as Bela-Bela die nuwe naam vir Warmbad is?” vra ek hom.
Boeta gooi die bakkie amper om so vinnig trek hy van die pad af. Hy rem dat die stof ons oorval soos die sprinkane die Egiptenare oorval het toentertyd met Moses. Nadat hy beheer herwin het oor die bakkie kyk hy my met nuwe respek aan; die tipe respek wat enige ouboet in die oë van sy jonger boetie wil sien. “Ek sweer jy is reg!” uiter hy in loutere ongeloof, so al asof reg wees nie iets is wat hy by my verwag nie. Weer word die bakkie se neus Noord gedraai (volgens Boeta natuurlik) en die keer draai ons af na Bela-Bela. Sowat tien minute later kry ons toe die plek presies soos Pa verduidelik het. Wat nie Pa, of die mans in Brits en Thabazimbi in gedagte gehou het nie, is die feit dat die ANC regering in daardie tyd besig was om al wat ʼn dorp- en straatnaam was, te verander. Boeta, wat nie ʼn volbloed Humanis Slegverdwaaldes is nie, wil al ongelukkig raak met die ANC oor die naamsverandering wat nou sy tyd en brandstof so gemors het. Ek daarenteen is net bly ons het ons bestemming gekry voor ons die Bela-Bela Canyon uit die aardkors uitgery het.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed