Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Bang, Banger, Bangste

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 1 Junie 2017 Aantal woorde: 3106 51 Kere gelees 3

Om ‘n Beskermer te wees is ‘n belangrike werk. Daphne het nog altyd geëerd gevoel dat sy gekies was vir hierdie lewe. Veral omdat dit haar ‘n beter kans op oorlewing gee in die ondergrondse wêreld wat afgesny is van die ware weë van die Feë.

Nog ‘n verskrikte gil maak dat sy begin hardloop.

‘n Bang Elfie staan voor ‘n paar Hof snuiters en probeer hulle skild van gevaar. ‘n Swart kat met robyn oë sis as hulle beweeg waar hulle vasgenael is onder sy starende blik.

Daphne voel verward en bang oor die teenwoordigheid van ‘n Feetjie Kat in die Oniks Labirint, maar sy ignoreer dit. Dit is haar plig om die lewens van ander Feë te beskerm.

‘Feetjie Kat – naby die skool,’ stuur sy die gedagte aan elke Beskermer in die Oniks Labirint.

Almal weet dat die walglike gediertes vrylik beweeg in die Labirint wat onder die oppervlakte van die planeet strek, maar bewaking-toorkrag hou hulle uit die Oniks Labirint waar die Feë van hulle Hof woon.

Om ‘n Feetjie Kat hier te hê beteken groot moeilikheid.

Daphne raak aan die lewendige steen muur langs haar en wil dit om die Elfie en kinders weg te vat van die Feetjie Kat. Sy weet dat die kanse maar min is dat die steen sal doen wat sy wil hê dit moet, maar sy moet probeer. Net Elfies kan deur die Labirint beweeg soos hulle wil – almal anders is afhanklik van die steen se wispelturige aard. As die Elfie net sal ophou om so paniekbevange wees…

Die swart kat maak reg om aan te val nes die muur dit insluk.

Daphne vloek. Sy wou die gedierte ondervra om uit te vind hoe dit ingekom het.

Voetstappe maak dat sy omdraai.

Vier Berskermers kom stilletjies nader.

‘Dis weg,’ vertel sy hulle deur die verstand-skakel wat Beskermers deel.

Een gaan dadelik na die Elfie en Hof kinders. Twee gaan dadelik om die area deur te soek. Haar kommandant nader haar sodat sy alles kan rapporteer.

Daphne weet wat dit beteken: hulle gaan op volle waaksaamheid wees. Daar is iets verkeerd met die Labirint.
#
Dis amper ‘n week nadat ‘n Feetjie Kat in the Oniks Labirint gesien is. Al die Beskermers het op verkenningstogte gegaan deur die hele Oniks Labirint en die tonnels wat hulle gebruik om na die mensewêreld te gaan.

Maar tot dusver was daar geen teken van die Feetjie Katte nie.

Een Beskermer het selfs sover gegaan om te sê dat die Feetjie Katte aangetrokke tot Daphne is omdat sy die enigste Beskermer is wat enige interaksie met die aaklige Feetjie Katte het.

‘Dis besluit dat Daphne, Kaye en Ruhan op ‘n behoorlike verkenningstog deur die hele Labirint sal gaan om uit te vind waar die Feetjie Katte se nes is. Sterkte, Beskermers,’ sê hul kommandant.

Daphne kon dit nie glo nie. Sy is so gewoond daaraan dat die Beskermers alles deur hul gedagtes deel dat hierdie amper as ‘n skok kom, maar ‘n missie so groot soos dié een… Sy sou dink dat hul kommandant hulle die nuus persoonlik sou vertel.

Onmiddelik gaan sy na haar kamer om te pak. Wel, so onmiddelik soos die Oniks Labirint toelaat.
#
Daphne was nie daaraan gewoond om met ander Beskermers te werk nie. Daar was so min van hulle dat om in pare te werk was ongehoord. Maar om uit te vind hoe die Feetjie Katte deur hul beskermingstoorkrag kom was so raar soos groepwerk.

Die drie van hulle beweeg vinnig deur die vaal baksteen tonnels wat hul tuiste met die res van die Labirint verbind.

Hulle kom tot stilstand soos die baksteen tonnel weggee en ‘n grot gevul met groot hope sand en ‘n yswind hul verwelkom. Daphne kon sneeu ruik, al weet sy dis nie werklik moontlik nie. Miere lê stil op die hope en op die grond.

‘Miershope,’ fluister sy.

‘Ja,’ antwoord Kaye deur sy gedagtes te deel.

‘Die Labirint absorbeer legendes, volkkunde en tragiese geskiedenis van mense om te voed,’ verduidelik Ruhan, al lyk dit nie asof hy regtig wou nie.

‘Hierdie miershope is heel moontlik deur die Labirint geabsorbeer as gevolg van al die legendes oor Rageltjie de Beer wat die grootste opoffering gemaak het toe sy haar broer tydens ‘n sneeustorm lewendig gehou het in die Vrystaat eeue gelede,’ sê Kaye.

Niemand sê iets meer nie. Die spookagtige toneel was genoeg om enige vrae wat Daphne gehad het oor die die Labirint se behoefte om dele van die wêreld daar bo te absorbeer te demp.

Hulle kruip deur die deurmekaar versameling van reuse miershope terwyl hulle probeer om nie die miere in hul diepe slaap te versteur nie. Daphne was dankbaar dat sy lig van voet is – om met kwaai, slaperige miere te veg was nie haar idee van pret nie.

Die Labirint was meesal leeg. ‘n Paar spinnekoppe en kaboutermannetjies vlug soos die drie Beskermers nader, maar geen katte was in sig nie. Daphne se bene begin kramp nie te lank na middagete nie. Al was sy fiks, was lang afstande loop nie deel van haar opleiding nie.

As dit nie vir Kaye se vinnige reflekse was nie sou sy geval het in ‘n pit vol bene toe die vloer skielik weggee.

Die olifant begrafplaas was die spookagtigste ding in die Labirint. Reuse olifant geraamtes, heel moontlik ‘n paar duisend jaar oud, domineer die begrafplaas. Die geskiedenis van olifante, van hoe hulle verander het oor die millennia was fasineerend en skrikwekkend.

Hulle klou aan die mure soos hulle om die begrafplaas loop na die ander kant waar die tonnel weer aangaan.
#
Daphne word hygend wakker. Sy was natgesweet. Sy weet dat dit net ‘n koorsdroom was, maar die beelde en gevoelens wat dit gewek het voel baie eg.

Sy kyk na die slapende figure van die ander twee Beskermers. Ten minste het sy nie haar verbode droom uitgesaai nie.

Sy maak haar oë toe en asem diep in. Maar met Brandon se gesig wat nog voor haar sweef kan sy glad nie rustig word nie.

Daphne staan op en loop na die liggewende waterval. Die suiwer water hardloop orals in die Labirint en was die hoof lewegewende bron in Daphne se wêreld. Sy spat water op haar gesig. Dit help om haar weer ewewig te gee.

Alhoewel dit heeltemal onregverdig is dat sy nie saam met Brandon kan wees nie, al kan sy nie enigiemand vertel dat hulle deur die antieke lewensmaat koors gebind is nie, kan sy nie haar plig as ‘n Beskermer versaak nie. Haar Hof kom eerste. Om ‘n man lief te hê wie se lot dit is om sy onderdane te red is nie maklik nie – hy is hulle leier en sy is maar net ‘n Beskermer. Haar gevoelens sal as verraad gesien word… Daphne staan regop en pak haar slaapmat op. Daar was geen manier dat sy sal toelaat dat die ander Beskermers haar so sien nie.
#
Die tweede dag van hul reis was amper net so sonder opwinde as die eerste een. Behalwe vir die donker vorms wat in die skaduwees wegkruip.

Daphne was seker dat sy skimme kan sien wat net buite sig bly. Sy deel dit nie met haar kamerade nie. Sy ken hulle nie goed genoeg nie. Buitendien, een het gedink dat sy hallusineer of erger, met die Feetjie Katte kop in een mus is.

‘n Verlate mynkamp was die mees vreesaanjaende ding daar, dink Daphne soos hulle ‘n nuwe grot binne tree.

Tente, geel verblyk deur die son en verbruin deur stof, staan sonder lewe om ‘n paar afgelewe hout geboue: ‘n kroeg wat nog stink van goedkoop drank, ‘n winkel wat alles verkoop van suiker tot sale, en ‘n hotel met ‘n skommelstoel wat spookagtig wieg op die stoep.

Die verdrukkende atmosfeer van verwoeste drome, moord, siekte en goudkoors maak dat Daphne tot diep in haar siel bewe.

Selfs die skedel wat in die middel van die grondpad lê was nie verbasend nie.

Die flitse van geskiedenis wat gepreseveer is in die Labirint het haar so verbyster dat sy Feetjie Katte orals sien. Dit was onbetaamlik vir ‘n Beskermer om emosie te voel of te wys: sy was veronderstel om so gevaarlik soos die twee ouens saam met haar te wees.

‘Ek sien hulle ook,’ fluister Kaye. ‘Die spoke. Hulle is vasgevang in die Labirint in plaas daarvan om in die skimmeryk te wees.’

‘Hoekom?’ vra Daphne die ouer Beskermer.

‘Hulle is traumaties dood.’

‘En iets het die sluier versteur,’ sê Ruhan met ‘n frons.

‘Feetjie Katte?’ raai Daphne.

‘Ja,’ antwoord ‘n stem.

Daphne en haar kamerade is dadelik op hul hoede.

Sy sien die Chihuahua grootte rotte en probeer om nie te ril nie.

‘Ek’s Siseko,’ stel die leier van die rotte homself voor. ‘Ons het ‘n vyand in gemeen.’

‘Feetjie Katte,’ sis die ander rotte.

‘Hulle breek deur ou towerspreuke. En hulle jag ons,’ sê Siseko die rot.

‘Weet julle hoekom?’ vra Daphne.

‘Want ons is lip-lek-lekker,’ antwoord ‘n rot.

‘Dis nie wat sy bedoel het nie,’ sê Siseko en klap die ander rot oor sy kop met sy stert.

‘Hulle wil ‘n mitiese gedierte ontwaak wat vasgekeer is in die Labirint,’ sê Ruhan met sy alewige frons.

‘Die griffioen,’ sis die rotte.

Daphne het grootgeword met die verhale oor die half-leeu, half-arend monster wat die Labirint bewoners lasting geval het en somtyds geëet het voordat ‘n sterk Fee dit opgesluit het met verskeie towerspreuke.

‘Dis hoe hulle deur die beskermingstoorkrag kom. Dis dieselfde tipe toorkrag wat die monster opgesluit hou,’ sê sy.

‘Ja. En om ons te eet gee hulle net nog meer mag,’ sê Siseko.

‘Daar moet meer hieraan wees,’ sê Kaye met ‘n slinkse kyk na die rotte. ‘Anders sou julle ons nie gepla het nie – julle sou gevlug het.’

‘Dis die proteas. En sampioene wat die dwerge gebruik,’ piep een van die rotte.

‘Julle veg oor bronne,’ sê Daphne. ‘Die sampioene gee julle nagsig.’

‘En die proteas?’ vra Ruhan.

‘Heerlik,’ antwoord Siseko.

Daphne was nie so seker nie. Fynbos word nie vir eetbaarheid geken nie. Maar rotte was vreemde gediertes.

‘Ons kan julle wys,’ bied die leier van die rotte aan.

Hulle stem in en volg die rotte. Deur vreemde sytonnels en donker grotte volg hulle die oorgrootte rotte.

‘n Feetjie Kat verskyn voor hulle net om weer te verdwyn.

‘Dis die geheime tonnels,’ verduidelik Siseko. ‘Hulle hardloop orals.’

Daphne besef dat dit die manier moet wees hoe hulle in die Oniks Labirint kom.

‘Volg?’ vra Kaye net vir Daphne en Ruhan deur sy gedagtes.

Daphne knik. Ruhan ook.

‘Volg die kat,’ sê hy vir die rotte. Hulle gehoorsaam en gaan die versteekte tonnel binne.

Dit was beknop en klam – amper asof dit deur ‘n reuse mol gegrou is.

‘Of ‘n rot,’ maak Ruhan haar idee klaar deur sy gedagte aan haar te stuur.

Sy vloek amper hardop. Sy was so moeg dat sy haar verstandsverweer verminder het. Sy kan nie toelaat dat dit gebeur nie. As enigiemand haar gedagtes leer… Sy staal haarself en kyk na die rotte met dieselfde agterdog as die ander Beskermers.

Daphne voel skuldig omdat sy nie haar gedagtes heeltemal met die ander Beskermers kan deel nie. Al was dit om hulle veilig te hou.

Die tonnel maak oop in ‘n pragtige grot: groot pienk blomme met punterige blare in verskeie grotes en skakerings van pienk groei op groen bosse orals. ‘n Soet geur vul die lug.

‘Dis die grot van proteas,’ sê Siseko die rot trots soos hy hulle na die middel lei.

Gesteelde oomblikke met Brandon vul haar gedagtes. Daphne tree voor hulle in voordat die ander Beskermers kon sien. Haar kop is vol dinge wat dit nie hoort te wees nie. Iets was verkeerd.

Die oomblik toe Daphne liggewende katte sien sweef deur die lug weet sy dat sy hallusineer. Die uitdrukkings op die ander Beskermers se gesigte sou lagwekkend gewees het as hul situasie nie so verskriklik was nie.

Óf die rotte het nie geweet van die hallusineerde werk van hul kosbare proteas nie, wat sy sterk twyfel, óf dit was ‘n lokval.

Toe katte die grot binnekom wat nie sweef of liggewend is nie weet sy die waarheid.

‘Feetjie Kat hinderlaag,’ laat weet sy die ander twee Beskermers telepaties terwyl die katte hulle omsingel. ‘Rotte verraderlik.’

Sy was nie seker of die ander haar verstaan het nie. Die soet reuk van die plante maak dat sy heeltemal deurmekaar word.

Daphne se sig was waserig, die beelde verwronge, maar sy weet in watse gevaar hulle is. Al kan sy nie haar gewone sintuie vertrou nie, haar kryger-instinkte vertel haar hoe om te beweeg en wanneer. Sy gebruik nie haar wapens nie – dit was te gevaarlik met haar sintuie traag. Maar die toorkrag wat sy mee gebore is was meer as genoeg om die aanvallers met weerlig vonke te skiet en hulle te laat weghardloop.

‘Hou op met die weerlig!’ gil een van die Beskermers toe sy hom per ongeluk bydam.

Daphne sou as sy kon.

Op een of ander manier het sy beheer oor haar toorkrag verloor – miskien as gevolg van die proteas – en sy weet absoluut hoe gevaarlik dinge nou is. Selfs die rotte het gevlug.

‘n Laaste energie straal verlaat haar en slaan die grot plafon.

Kaye gryp haar en Ruhan en saam hardloop hulle vir ‘n tonnel soos die grot begin om ineen te stort.

Dit maak nie saak hoe vinnig hulle hardloop nie, die plafon val vinniger. Kaye word vasgevang in die versteekte tonnel se uitgang. Net sy kop steek uit.

‘Julle moet gaan. Julle moet terug keer na die hoof tonnels. Van daar af sal julle die grot vol sampioene vind,’ sê hy vir hulle.

‘Jy dink dis die Feetjie Katte se den?’ vra Daphne.

Kaye knik.

Dit maak sin. Dit was die ander bron wat die rotte met die katte deel.

‘Eers gaan ons jou hier uit kry.’

Daphne was verbaas om Ruhan dit te hoor sê.

‘Nee. Daar’s nie tyd nie. Buitendien,’ Kaye hoes, ‘ek’s klaar meer dood as lewendig.’

‘Ons kan jou nie los nie,’ sê Daphne, haar hart stukkend.

‘Ons werk kan nie alles wees nie,’ sê Kaye.

Daphne voel weer skuldig en skaam oor die feit dat sy nie kan ingee aan haar liefde of dit deel met nader nie. Ander kom eerste. Tog sê hierdie Beskermer dat daar meer moet wees…

‘Ek gaan die versteekte tonnels laat inmekaar tuimel. Ek kan die energie voel wat hulle verbind. Gaan! Dit kan nog grotte laat ingee.’

Daphne vee sag oor Kaye se gesig en hardloop dan weg, Ruhan reg agter haar.

Hulle kon voel hoe die hele Labirint bewe soos al die geheime tonnels meegee.

Daphne en Ruhan stop voor ‘n liggewende waterval. Dit was baie groter as die een wat hulle by gekamp het.

‘Ons kan die beskermingstowerspreuke van hier af reg maak,’ sê sy.

Haar kameraad knik.

Hulle steek hul hande in die vriesende water in terwyl hulle hul toorkrag daarin stuur om alles wat gebreek is reg te maak en die vrede en veiligheid van die Labirint weer te herstel.
Daphne kon haar toorkrag uit haar voel vloei. Sy kon voel hoe die beskermingstowerspreuke sterker word en herstel word. Toe val sy neer, vas aan die slaap omdat al haar energie haar verlaat het.
#
‘Hier, eet dit.’

Sy word wakker en sien Ruhan se glurende gesig. Sy was nie seker of hy enige ander uitdrukking het nie. Sy vat die brood wat hy aanbied. Dit was gevul met vrugte, neute en klein stukkies heuningkristalle. Soos sy dit eet word haar energie dadelik herstel.

‘As die Feetjie Katte is waar Kaye vermoed, dan sal ons van twee kante moet aanval,’ sê Ruhan. ‘Gelukkig het ons die voordeel van ‘n telepatiese band.’

Daphne onderdruk ‘n rilling. Daardie soort gedagte stroming was baie nader aan twee verstande wat een word. Sy sal elke gedagte, herinnering en gevoel wat aan Brandon gekoppel is ‘n geheim moet hou sonder om vreemd op te tree.

‘Wat is die plan?’ vra sy.

‘Ons sal ‘n manier moet uitdink om die rotte en katte uit die sampioen grot te hou.’

‘Natuurlik. Maar hoe?’

Sy dink nie nog ‘n grot instorting was ‘n goeie idee nie.

‘Hierdie,’ hy maak sy hand oop en ‘n stukkie groen rots blink in die halflig.

Daphne herken dit nie, maar dit lyk ‘n bietjie soos die steen van die Oniks Labirint.

‘Dis goed om tonnels te blok. Dit hou eintlik daarvan.’ Sy oë skitter amper so groen soos die klip wat hy vashou.

‘Dis soos steen onkruid?’

‘Presies.’ Hy plaas die klip in haar hand. ‘Ons sal elkeen een hê.’

‘En die grot vir altyd toe maak.’
#
Daphne bekruip die gleuf in die klipmuur met haar hart wat hammer in haar keel. As die Feetjie Katte haar aanvoel sal hulle haar doodmaak.

‘Gereed?’ vra Ruhan van die ander kant van die grot af.

‘Ja.’

Hy laat los ‘n hoë vlermuis kreet – laag genoeg vir katte en Feë om te hoor. Die Feetjie Katte kerm in die sampioen grot en storm uit. Daphne hou haar asem op soos hulle verby haar gaan.
Toe geen katte meer verby kom nie, besluit sy dis veilig genoeg om die grot te nader. Die sampioene skyn fosforesserend. Dit maak dat Ruhan spookagtig groen lyk waar hy by die ander ingang staan. Hy knik vir haar en gooi die groen klip in die grot in.

Daphne doen dieselfde. Sy hou die klip dop soos dit deursigtig word soos dit groei en dan van een ingang na al die ander versprei. Sy kon sien hoe dit elke gleuf toemaak en elke ingang – dit hou die sampioene binne vir ewig.

Dit laat haar dink aan hoe die koors haar probeer verswelg. Almal gaan altyd aan oor hoe wonderlik die antieke lewensmaat verbintenis is, hulle vier dit op die rare kere wat dit gebeur.
Maar niemand sal haar verhouding met Brandon, Hertog van die Oniks Labirint vier nie. Hulle sal haar brand vir verraad.

Daphne kyk verby die onkruid klip na die ander Beskermer aan die oorkant. Hy het haar eens daarvan beskuldig dat sy met die Feetjie Katte heul met minder bewys van haar skuld as die paar keer wat sy in hul teenwoordigheid was. Al laat dit haar veskriklik voel om geheime te hou van die ander Beskermers, weet sy dat die ou wat nou heel tevrede knik die een sal wees wat die vuur aan die brand sal steek as haar geheime ooit sou uitkom.

Met nuwe vrees gaan Daphne terug na die Oniks Labirint wat hopelik nou veilig is van die Feetjie Katte. As sy tog ook net veilig kon wees.




  • TEMAS
    3 Kommentaar
    1. profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

      Ronel Janse van Vuuren

      Junie 1, 2017

      Hierdie is die tweede verhaal in my nuwe reeks “Verhale van die Oniks Labirint”. Soos altyd gaan dit oor die Feë en hulle wêreld binne ons eie. Kommentaar is altyd welkom.

    2. profiel foto van Okatopi

      Okatopi

      Junie 2, 2017

      Pragtig Ronel

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 39
    Kommentaar telling: 244

    Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar.My wêreld draai om my twee Rottweiler seuns – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my blog https://ronelthemythmaker.wordpress.com/.

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 28 gaste aanlyn