Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Asvaal Prinses Deel 2

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 7 Oktober 2017 Aantal woorde: 5206 50 Kere gelees 3

Carina teug gelukkig aan haar koffie. Nie eens die feit dat dit al hoe kouer word hoe langer sy drink kan haar gevoelens verander nie. Haar stiefsusters sweef die eetkamer binne, besig om oor die bal te klets en kyk nie eens in haar rigting nie.

‘Het jy enige idee wie sy was?’

‘Nee. Hoeveel keer moet ek dit vir jou sê?’

‘Ek maak net seker!’

‘Dit was nogal vreemd…’

‘Wat was vreemd?’ vra Carina.

‘O, jy moes dit gesien het! ‘n Meisie het skielik opgedaag –’

‘Laat!’

‘– en die prins vir haarself gehou.’

‘Maar elfuur is sy net so skielik daar weg.’

‘Met die prins en die paleiswag agterna!’

‘Dit is vreemd. Het sy iets gesteel?’

‘Nee.’

‘Van wat ons hoor weet die prins niks van haar af nie.’

‘En die koning het beveel dat almal moet doen wat hulle kan om uit te vind wie sy is.’

‘Het een van julle darem met die prins gedans?’ vra Carina toe die huiskabouters ontbyt inbring.

‘Nee.’

‘Hy het ons skaars raakgesien.’

‘Vanaand moet ons meer moeite met ons voorkoms doen.’

‘En jy gaan saam.’

Hulle kyk vir Carina. Sy glimlag hartseer.

‘Ek dink nie daar is ‘n rok in die groot kas wat vir my gaan werk nie.’

‘Ons gaan nie weet tot ons probeer nie.’

‘Eet jou ontbyt – ons gaan baie besig wees vandag.’

Carina het skaars haar gewone ontbyt van gebraaide wurms klaar gemaak toe haar stiefsusters haar uit die eetkamer lei. Sy weet hulle sal agterdogtig wees as sy sommer net opgee, maar sy wil eerder weer hê dat die wimpel-feetjies haar weer moet optooi as wat sy die dag in die groot kas moet spandeer waar die rokke nie deur haar gedra wil word nie.

Stoom vul die badkamer.

‘Toe, bad al daardie as af en dan doen ons jou hare.’

Die spesiale seep wat die boomnimf haar gegee het wag op die bad se rand. Weer was die sapgroen seep al die as af, al is die water louwarm.

Sy laat toe dat haar stiefsusters haar hare doen. Hulle borsel en vleg en gaan tekere. Sy kyk hoe hul hande sorgvuldig haar hare hanteer en besef dat hulle nie naastenby so goor is as wat sy altyd haarself wysgemaak het nie. Sy weet dat hulle die tyd wat hulle op hul eie voorbereiding vir die bal gebruik om haar te help.

‘Kyk hoe mooi!’

Carina kyk op in die spieël. Haar hare is in sierlike vlegsels om haar kop.

‘Ons sal kyk watter knippe en juwele reg sal lyk wanneer ons jou rok het.’

Stom volg sy hulle na die groot kas. Haar hare het nog nooit so mooi gelyk nie. Natuurlik het dit die vorige aand goed gelyk, maar dit was die wimpel-feetjies se toorkrag. Hierdie was werklik haar hare.

Haar stiefsusters tooi haar in verskillende rokke, skoene en juwele. Elke keer wat ‘n rok vaal word of juwele ophou skitter sien hulle dit as ‘n uitdaging. Dit voel asof sy alles in die kas aan probeer. Die kombinasies word vreemder. Die uitdrukkings op hul gesigte word harder. Die klere lyk als vaal as Carina dit eers aan het.

Haar stiefma beweeg uit die skudu’s waar sy hulle stil dopgehou het.

‘Genoeg! Niks hier gaan werk nie.’

‘Daar is nog baie rokke…’

‘Nee.’ Sy kyk hartseer na hulle. ‘Ek besef nou wat eintlik aan die gang is, iets waarvoor ek jare al blind voor is.’ Sy sug hard. ‘Dis alles julle oupa se skuld. Hy’t lank terug een van die Ridders van die Donker Hof kwaad gemaak. Ons het gedink om in die mensewêreld te moet leef was al straf genoeg. Veral na my geliefde suster se dood. Maar nou… Carina, jy dra die straf vir sy sondes. Die koue. Die vaalheid. Jy is vervloek met winter.’

Carina verstaan nie heeltemal nie. Sy was nog altyd seker daarvan dat die koue van haar familie af kom. Sy kyk haar ma se suster met vernoude oë aan. Sy’t nooit verstaan hoekom Vivian met haar pa getrou het na haar ma se dood nie.

‘Niemand, behalwe jy, bad in koue water nie. En niemand maak jou badwater koud nie. Dis jy. Jy trek hitte uit jou omgewing…’

Vivian bars in trane uit en vlug die vertrek, haar dogters kort op haar hakke.

Carina kyk na haarself in die groot spieël. Haar stiefma se woorde speel oor en oor in haar kop: ‘Die koue. Die vaalheid. Jy is vervloek met winter.’

Versigtig trek sy die ligpienk rok uit en hang dit weer terug waar dit hoort.

In ‘n dwaal loop Carina buite toe na die meervrou se fontein.

‘Kyk hoe mooi lyk jou hare!’ sê die meervrou toe sy uit die water verskyn.

‘Het jy geweet?’ vra Carina saggies.

‘Ek het nog altyd gehoop dat daar iets met jou hare gedoen kan word.’

‘Nie dit nie. Het jy geweet van die vloek op my?’

Die meervrou se glimlag verdwyn. Die boomnimf kom staan stil langs haar en die wimpel-feetjie land op die fontein se rand.

‘Ons het jou probeer waarsku…’

‘Maar ons mag nie inmeng nie. Nie met dít nie.’

‘En as ek in die chateau gaan woon?’

‘Dis altyd somer daar.’

‘Kanse is goed die koue in jou gaan nie veel daaraan verander nie.’

‘Maar julle is nie seker nie?’

‘Het jy gisteraand koud gekry?’ vra die wimpel-feetjie.

Carina dink daaroor. ‘Nee.’

‘Dit kon adrenalien gewees het,’ sê die boomnimf.

‘Dan laat haar weer vanaand gaan,’ sê die meervrou.

‘Ons gaan nou,’ sê haar oudste stiefsuster, dié keer getooi in rooi en diamante. Dit lyk nog meer dramaties as haar vorige rok van donkerste blou.

‘Jy lyk pragtig.’

‘Dankie. Ek hoop… Ek hoop ons kan ‘n manier kry om jou ook by die bal te kry.’

Carina druk haar, versigtig om nie haar krulle te versteur nie.

‘Lekker aand vir jou.’

Haar stiefsussie glimlag en verdwyn weer in die huis in.

‘Dis nuut,’ sê die meervrou.

‘Ek het besef dat ek hulle nog nooit regtig ‘n kans gegee het nie.’

‘Wel, al trou jy nie met die prins nie het daar darem iets goed hier uitgekom,’ sê die boomnimf.

‘Wat bedoel jy? Sy móét met die prins trou!’

‘Één van die drie sal en als sal reg wees.’

‘Dit sal beter wees as Carina met hom trou.’

‘Genoeg!’ stop die wimpel-feetjie die aardige geveg tussen die meervrou en die boomnimf. Hy fluit hard en al die wimpel-feetjies daag weer op.

‘Sy gaan vanaand die prins se hart steel. Ek sal saam gaan – niemand sal my sien nie – en seker maak dat dit regtig in Carina se beste belange is om in die chateau te gaan woon.’

Carina maak haar oë toe soos die wimpel-feetjies haar omsingel. Sy voel die hitte van hul toorkrag en wonder of háár toorkrag ook warm is en of dit net hitte steel.

Eindelik is hulle klaar en sy loop tot voor die fontein om haar weerkaatsing te sien. Haar hare is steeds soos haar stiefsusters dit gedoen het, maar het nou goue knippe en diamante in. Dit pas by haar goue rok vol goue hoendertjies en diamante.

‘Ek weet nie wat om te sê nie. Hierdie rok is nóg mooier as gisteraand s’n.’

‘Jy hoef niks te sê nie.’

‘Die hoendertjies is omdat jy gisteraand in ‘n hoender verander het,’ sê haar wimpel-feetjie maat en knip sy oog.

Die swart koets van skadu en rook word agter haar op die paadjie nader getrek deur swart perde wat amper-amper nie regtig daar is nie.

‘Toe, gaan geniet jouself!’

‘Jy sal weet wanneer dit tyd is om te loop.’
#
Carina klim die trappe buite die chateau. Die musiek wat oor haar spoel vul haar met opwinde. Sy gaan hóm weer sien.

‘Mademoiselle, jy moet saam met ons kom,’ sê ‘n paleiswag toe sy verby die sierlike pilare stap.

‘Sy hoogheid wil Mademoiselle dadelik sien,’ sê ‘n ander paleiswag.

Carina glimlag, knik en volg hulle. Al die gaste maak plek sodat sy verby kan kom. Sy’s maar bly dat die ander se giftige kyke nie regtig iets aan haar kan doen nie. Die wagte lei haar na die tuin buite die balsaal. Niemand anders word toegelaat om af na die tuin te gaan nie. Carina kyk om haar na die pragtige tuin. Sy’s verbaas dat dit ‘n lekker soel aand is. Dit was koud by haar huis en koel in die koets. Sy glimlag gelukkig. Haar vloek het geen houvas op haar by die chateau nie.

Die sterre blink op ‘n meer en Carina kan nie help om te dink hoeveel vryer die meervrou daarin sal wees as in die fontein waarin sy tans woon nie. Die prins staan voor ‘n uitkyktoring, die meer strek agter hom uit. In die kerslig wat van die uitkyktoring af kom skitter die goud van sy uitrusting. Hy draai sy kop en die saffier in die speld wat sy hare vashou in sy nek skitter in die lig.

Carina sluk. Die blou laat sy oë uitstaan op ‘n manier wat die vorige aand se rooi nie gedoen het nie. Sy maak ‘n kniebuiging en hy soen haar hand. Die manier waarop hy vir haar kyk laat haar hart vinniger klop.

‘Dis mooi hier,’ sê sy om die spanning te breek.

‘Ons het nie gisteraand tyd gekry om te praat nie.’

Hy vat haar hand en lei haar by die trappies op na die uitkyktoring.

‘Hoe is ons veronderstel om deel te neem aan die danse as ons afgesonder is?’

‘Dans is nie deel van ons twee se program vanaand nie.’

Hy trek vir haar ‘n stoel uit en sy gaan sit. Hy gaan sit oorkant haar. Die tafel tussen hulle is gevul met kerse, kristal glase en goue borde.

Haar hart klop vinnig ten spyte daarvan dat sy stil sit. Al die kleure om hulle lyk helder en vrolik. Carina glimlag vir die prins en moedig hom aan om oor sy lewe te praat. Sy lag op al die regte plekke soos hy een storie na die ander vertel van sy tyd in die weermag. Sy weet hy praat nie oor die harde werklikheid van die oorlog nie, tog sien sy dit in sy oë wanneer hy praat oor vriende wat hy nie weer sal sien nie.

Dit voel asof tyd stil staan terwyl hy haar vertel van sy drome vir sy koninkryk. Dis drome wat sy deel: ‘n einde aan die oorlog, ‘n einde aan die ellende waarin almal leef, ‘n nuwe begin. Carina kyk vir die man oorkant haar en besef dat daar meer omtrent hom is as net sy titel en chateau.

Beweging in die meer trek haar oog. Die meervrou waai haar rooi kappie en lyk ‘n bietjie paniekerig. Dadelik weet Carina dat dit tyd vir haar is om te gaan. Maar so afgesonder soos hulle is het sy nie ‘n kans nie.

Die musiek van die balsaal kan in die verte gehoor word.

‘Kom ons gaan dans,’ sê sy en staan op.

Die prins glimlag en hulle loop hand-in-hand terug na die chateau.

Op die stoep trek hy haar nader en die nuwe wals begin. Alles wat haar gejaag het verdwyn terwyl sy in sy oë staar en sy saam met hom oor die vloer beweeg op maat van die musiek. Sy sluk benoud. Dis asof hy tot in haar hart kan sien. En asof hy haar smeek om sy hart ‘n beter plek te maak.

Die musiek word meer intens. Hulle dans by die deur in en is skielik tussen ander dansers. Carina verbeel haar elke paartjie daar het dieselfde gesprek met hul oë. Sy sukkel om behoorlik asem te haal. Alles wat sy voel, alles wat sy dink hy voel, word té veel vir haar. Sy’s ‘n tree weg om in die middel van die dans te vlug. Tog voel sy veilig in sy arms.

Die musiek word stadiger en die dans eindig met die twee van hulle veels té naby aan mekaar as wat ordentlik is. Vir ‘n oomblik kyk sy in sy oë. Sy tree terug. En die debutante en ander gaste omsingel hulle. Sy vleg deur die skare en vlug die chateau.

Die koets van skadu’s en rook jaag deur die strate en skuur om hoeke met die paleiswag weer agter hulle aan. In haar erf is daar geen tyd om by die huis in te gaan nie. Sy hardloop deur die fontein en spring by die akkerboom in saam met die boomnimf. Sy hoor die hoewe van verskeie perde om haar huis en die boom waarin sy skuil hardloop. Eindelik word dit stil in die erf.

‘Vinnig!’ sê die boomnimf. ‘Gaan, voordat hulle vind dat jy weg is.’

Carina hardloop na die kombuisdeur. Bly dat sy klaar weer terug is in haar eie klere, kniel sy voor die vuurherd en vryf as van die dooie vuur oor haar voordat sy in die vuurherd inkruip en haar oë toe knyp.

Die deur gaan oop en sy kan verskeie voetvalle hoor.

‘Sien! Net my stiefdogter wat nie reg in die kop is nie,’ hoor sy Vivian vies sê.

‘Dit kon sy gewees het –’ sê ‘n mansstem wat Carina nie herken nie.

‘Hoe? Kyk net vir haar. Duidelik slaap sy al vir ure in die as.’

Carina slaak ‘n sug van verligting toe die stemme verdwyn en die kombuis weer donker word. Met ‘n glimlag raak sy aan die slaap.
#
Carina het net in die eetkamer ingestap toe Vivian, in ‘n swart rok wat aan haar klou soos rook, omvlieg.

‘Wat besiel jou? Hoe kan jy so kortsigtig wees?’

‘Ek weet nie waarvan jy praat nie.’

‘Moenie dom speel nie, dogtertjie! Een aand wat die prins en die paleiswag híér opdaag is toeval. Maar twee? Duidelik het jy iets onnosels gedoen.’

‘Ma! Ons –’

‘Sjt!’

Vivian ignoreer haar dogters. Carina hou net haar stiefma dop. Sy is nie perfek aangetrek soos gewoonlik nie en sy het ‘n wilde kyk in haar oë.

‘Nog altyd los ons jou dat jy doen net wat jy lekker kry. Meesal omdat jy nie veel toorkrag gebruik nie. Maar wat jy die laaste twee aande gedoen het… Weet jy dat jou lawwigheid alles in die wiele kan ry?’

Vivian loop op en af. Sy vryf haar hande asof sy koud kan kry, maar die sweet op haar voorkop sê iets anders is aan die gang.

‘Die wimpel-feetjies het my hare en uitrusting gedoen. Die enigste toorkrag wat ek gebruik het was om te dans en aan die einde van die aand die chateau te vlug.’

Carina voel sleg dat sy die oorsaak is van die vrees in Vivian se oë. Haar stiefma gryp haar hande.

‘Werklik?’ Carina knik. Vivian sug en byt haar lip. ‘Dan is daar hoop.’ Sy loop weg van Carina af. ‘Meisies!’ Haar dogters staan dadelik nader. ‘Ons gaan vanmiddag die wimpel-feetjies help om Carina nóg meer indrukwekkend te laat lyk vanaand.’ Hulle knik. ‘En jý,’ sy draai na Carina toe. ‘Jy verlaat nie die bal totdat die prins jou om jou hand gevra het nie. Verstaan ons mekaar?’

Die hardheid in Vivian se oë laat Carina sluk. Sy knik stom.
#
Carina staar na haar weerkaatsing in die fontein. Met drie donker Feë se hulp is dié rok nog meer indrukwekkend as die voriges.

‘n Silwer rok met silwer-wit kant beweeg om haar soos wasem. Piepklein wit pêreltjies en diamante skitter orals op haar. Haar hare is reguit in ‘n sierlike bolla met ‘n silwer hoender speld vasgesteek. Dit voel skaars of sy iets aan het. Sy kan die string pêrels oor haar rugstring voel, maar nie eens die silwer garing wat die blaar motief oor haar skouer doen krap haar nie.

Sy’s nie seker hoe sy oor dit voel nie. Vroeër het dit geklink asof daar iets vreeslik fout is en tog het Vivian net so omgedraai en reggemaak vir die bal.

Carina klim in die swart koets in en ry in stilte na die chateau. Iets was aan die gang en sy kan nie haar vinger daarop sit nie.

Die chateau glim nes die vorige twee aande. Musiek spoel oor die paadjie waar die koetse hul passasiers aflaai. Vir die eerste keer daag Carina saam met die ander gaste op en dit voel vir haar vreemd.

Sy loop verby die lang ry gaste wat wag om aangekondig te word. Sy het regtig nie nodig dat almal moet weet wie sy is en dat sy daar is nie. Sy sien hom dadelik waar hy langs die troon staan. Hy het swart en silwer aan in dieselfde mode as die vorige aande, maar iets omtrent die kleur kombinasie maak dat sy nie haar oë van hom kan afhou nie.

Carina bly in die skadu’s langs die pilare en hou hom dop. Hy glimlag nie soos die vorige aande nie. Haar oë skuif na die persoon op die troon: die koning. Weer hou hy al die gaste dop so asof hulle vlieë is. Carina ril. Van waar sy staan is dit duidelik dat hulle ‘n ernstige gesprek voer.

Die prins kyk op. Hul oë ontmoet. Hy glimlag en loop dadelik na haar toe. Haar asemhaling word vinniger.

‘Ek’s bly jy het gekom.’

Hy soen haar hand.

‘Ek ook.’

Hy lei haar na die dansvloer en trek haar nader. ‘n Wals begin en Carina laat die musiek oorneem.

‘Ek dink nie jou pa hou van my nie, u hoogheid.’

‘Noem my Marcel.’

Carina glimlag.

‘Dan moet jy my Carina noem.’

Hy glimlag terug. Selfs sy oë skitter.

‘Darem weet ek nou jou naam. Jy weet, jy het nou twee keer deur my vingers geglip sonder dat ek iets van jou weet.’

Carina hou haar glimlag in plek en probeer haar asemhaling rustig hou. Sy kyk weg van Marcel en haar oë word weer getrek na die troon: die koning kyk na hulle met vernoude oë.

‘Moenie jouself aan hom steur nie.’ Sy kyk terug na haar prins. ‘Hy hou nie van enigiemand op die stadium nie.’

Hulle hou aan dans. Soos die vorige aande hou al die ander dansers en gaste op om vir Carina te bestaan. Tyd maak nie meer saak nie. Sy’s nie eens seker of hulle dans op die musiek wat regtig speel en of hulle dalk ‘n ander liedjie hoor nie. En dit maak nie saak nie. Dis net hulle twee.

Twaalf klokslae laat haar skrik. Sy’t vir ure aaneen met Marcel gedans. Ure wat soos minute gevoel het.

‘Dalk is dit tyd vir vars lug?’ stel sy voor.

Hy knik en hulle dans na die rand van die dansvloer en glip by ‘n deur uit. Die koel lug buite die balsaal is verfrissend. Carina kan nie glo dat sy so tyd kon verloor nie. Gelukkig hoef sy nie terug te haas huis toe soos die vorige aande nie. Sy glimlag toe haar rok die maanlig laat weerkaats teen die donker tralies van die stoep.

‘Ek hou van jou.’

Carina se oë vlieg na Marcel se gesig.

‘Ek hou van jou ook,’ sê sy saggies.

‘Jy weet, daar’s iets omtrent jou. Van die eerste keer wat ek jou gesien het kon ek nie ophou om vir jou te kyk nie. En dit het niks met jou rokke te doen nie.’ Hy vat haar hand wat met haar rok begin karring het. ‘Dis jý.’

Met sy ander hand lig hy haar ken. Hulle gesigte is baie naby aan mekaar. Carina se hart klop al hoe vinniger. Die prins sak sy kop en soen haar. Sy soen hom terug.

Haar kop draai en draai toe hy terug tree. Sy haal diep asem. Sy hou hom dop, seker dat haar oë uit haar kop wil val.

‘Ek het nog nooit so lewendig gevoel soos die laaste drie aande saam met jou nie.’

Carina glimlag. Sy voel presies dieselfde.

‘Daar’s iets wat ek jou wil vra…’

Hy gaan af op een knie. Sy voel dadelik histeries.

‘Carina, sal jy my die groot eer doen om met my te trou?’

Sy sluk swaar. Haar oë vlieg orals, opsoek na ‘n weg om te ontsnap. Die swart diamant wat sy hare vashou in sy nek glim in die maanlig. Haar kop hou aan draai. Haar asemhaling word al hoe vinniger.

‘Carina?’

Hy kyk op na haar, sy oë vol emosies wat sy nie kan peil nie.

‘Staan op. Ons moet praat.’

Iets soos pyn skiet oor sy gesig voordat dit ‘n onleesbare masker word.

‘Ons hou van mekaar. Baie. Maar ek dink nie jy wil regtig al trou nie. Net vanmiddag het jy nie eens my naam geken nie. Wat weet ons regtig van mekaar?’

Die prins sug en vat haar hand. Sy volg hom by die trappies af in die tuin in. Sonder kerse lyk die uitkyktoring ‘n bietjie skrikwekkend. Hulle gaan staan teen die muurtjie naaste aan die meer.

‘My oudste broer het twee jaar terug in die oorlog gesneuwel. Dit was ‘n groot skok vir almal siende dat dit die grootste geveg tot op datum was. Baie ander is ook daardie dag dood, maar almal onthou net dat die kroonprins in daardie geveg verloor is.’

Hy hou aan om oor die water uit te kyk. Carina sit haar hand oor syne op die muurtjie en hou haar oë op die maan se weerkaatsing op die meer.

‘Ses maande gelede is my ander broer, tóé die kroonprins, vermoor op ‘n diplomatiese missie. Ek was dadelik teruggebring hier na die chateau en het nie weer voet alleen buite gesit nie.’

Hy draai na haar en vat albei haar hande in syne.

‘Ek is al wat oor is van my bloedlyn. Hierdie drie aande is spesifiek gereël sodat ek ‘n vrou kan kies. My pa gee regtig nie om met wie ek trou nie, solank ek dit vinnig doen en hom ‘n hele klomp erfgename gee.’

‘Dis verskriklik, Marcel.’

‘Dit is. Maar ek sal daarvan hou om iemand aan my sy te hê wat nie bekommerd is oor wat ander van haar dink nie. Dis hoekom ek jou gekies het.’

‘Marcel…’

‘Ek weet. My woorde kom nie heeltemal reg uit nie. Maar ek is ernstig oor jou. Uit almal wat na hierdie bal gekom het is jy die enigste een wat nie iets probeer bewys het nie. Ek…’

Hy skud sy kop en hou haar dop.

‘Dis nie ‘n goeie rede om te trou nie.’ Sy weet haar oorspronklike rede om na die bal te gaan, om met hom te trou vir die hitte van die chateau, is ‘n nóg erger rede. ‘Ek weet nie waar gaan ons van hier af nie…’

Sy kyk terug na hom. Hy hou haar hande styf vas en laat hulle skielik gaan.

‘Mense trou vir verskeie redes. Ons hou darem van mekaar.’ Hy maak sy keel skoon. ‘Maar as jy regtig nie met my wil trou nie…’

‘Dis nie wat ek gesê het nie. Ek dink net ons moet meer van mekaar weet voordat ons so iets doen. Ons het tyd nodig.’

‘Tyd is een ding wat ons nie het nie.’ Hy draai terug na die meer.

Carina weet nie wat om te sê nie. Iets silwer val op die vloer. Sy trek haar asem skerp in. Haar rok is besig om uitmekaar te val.

‘Ek’s jammer, Marcel. Au revoir.’

Sy lig die voorste deel van haar rok op en hardloop weg. Sy gaan om die chateau waar sy kan voel die koets van rook en skadu’s vir haar wag. Hoe verder sy hardloop hoe leër voel sy. Sy weet dat hy haar nie weer gaan volg nie.
#
‘Wat het gebeur?’

Carina kyk op. Sy’s nie eens seker wanneer haar silwer rok vervang is met die een wat sy aan het nie. Die son is besig om die nag weg te dryf. Haar stiefsusters en Vivian is nog in hul pragtige balrokke.

‘Hy’t my gevra om te trou.’

‘Dis wonderlik!’ sê haar oudste stiefsuster en sit langs haar in haar goudgeel rok.

‘Nee.’ Carina kyk na Vivian. ‘Nee, dit is nie.’

‘Wat het jy vir hom gesê?’

‘Ons het ‘n uitval gehad en… Ek dink ons is verby.’

‘Nee, julle is nie.’ Die wimpel-feetjie land op haar knie. Hy lyk skoon helder in sy groen uitrusting van linte teen haar rok wat die kleur van as is. ‘Die vraag het in die lug bly hang toe jy vlug. Maar ek het vir hom ‘n leidraad gelos. Die oomblik wat hy besef dat jy eintlik “ja” gesê het gaan hy hier opdaag.’

‘Hoe?’ vra Carina saggies.

‘Ek het weer saam gegaan.’

‘Wat’s aan die gang met jou hare?’ Haar stiefsuster in smaraggroen kyk na haar kop met ‘n uitdrukking tussen walging en jammerte.

‘O, dit.’ Carina vat aan die vere tussen haar hare. ‘Iets moes êrens verkeerd geloop het. Van my hare het in swart hoendervere verander.’

‘Jy klink nie juis ontsteld nie,’ sê haar stiefsuster in geel en vat aan haar nuwe vere.

‘Die wimpel-feetjies het gesê dit sal terug verander sodra die volmaan haar verskyning maak.’

‘Dis amper ‘n maand van nou af!’

Carina haal haar skouers op.

‘Dit lyk soos ‘n modegier. Kom, dan doen ons iets aan daardie rok voordat die prins opdaag,’ sê Vivian.

‘Nee.’

‘Nee? Maar hy kan jou nie so sien nie.’

‘Ek kan nie met hom trou nie.’

Vivian sug en kyk vir die lug.

‘Weet julle hoekom ek met my suster se man getrou het na haar dood? Nie? Dit was die enigste manier om die towerspreuk lewendig te hou.’

‘Watse towerspreuk?’

‘Die een wat ons veilig hou van ons vyande in Feërie.’

Carina onthou wat Vivian gesê het oor haar oupa en die Donker Ridder. Sy het gehoop die vloek op haar was die ergste van dit.

‘Een van julle moet met ‘n mens trou om die towerspreuk weer krag te gee.’

‘Enige mens?’

‘Nee. Elke twintig jaar word ‘n nuwe een deur die wimpel-feetjies gekies. Hulle weet presies wie die beste anker vir die towerspreuk sal wees.’

‘Prins Marcel.’

Carina gluur vir die wimpel-feetjie op haar knie. Na alles het hy haar aangemoedig om na die bal te gaan en haar gehelp om dit te kon doen.

‘Ek kan nie,’ sê sy. ‘Ek kan nie met hom trou nie. Dit sal nie reg wees nie.’

Sy hou vir Vivian dop. Dit lyk amper asof haar stiefma gaan ontplof.

‘Ek sal.’

Carina kyk verbaas na haar stiefsuster in geel.

‘Toor my om soos Carina te lyk.’

‘Dit kan werk,’ sê die wimpel-feetjie.

‘Dan laat ons begin,’ stem Vivian in.
#
Teen die tyd dat die son behoorlik op is het alles verander. Carina se oudste stiefsuster dra ‘n ysblou oggend rok – en sy lyk nes Carina. Haar ander stiefsuster en Vivian het klaar klere geruil en lyk reg vir die dag.

Carina hou haar stiefsuster se hand vas. Hulle kyk vir mekaar. Sy’s nie seker hoe sy oor als voel nie.

‘Dis tyd,’ sê Vivian van die kombuisdeur af.

Carina bly in die tuin. Sy kan nie kyk hoe haar prins met ‘n ander trou nie.

‘Jy weet wat aan die gang is, nè?’ vra die boomnimf en gaan sit langs Carina op die fontein se rand. ‘Jy het gevoelens vir hom.’

‘Ek weet nie waarvan jy praat nie.’

‘Ag, asseblief!’ Sy draai Carina se gesig sodat sy in haar oë kan kyk. Carina voel ongemaklik om in die sapgroen oë van die boomnimf te kyk. ‘Toe jy uitgevind het van die bal kon niks jou keer om te gaan nie. Jy sou enigiets doen om met die prins te trou en in die chateau te gaan woon. En nou kruip jy in die tuin weg.’

Carina staan op en vou haar arms.

‘Dis nie reg om met hom te trou sommer net nie.’

‘Maar jy het geen probleem dat een van jou stiefsusters omgetoor is om soos jy te lyk en dan met hom te trou om ‘n towerspreuk sterk te hou nie?’

Carina kyk weg van die boomnimf af.

‘Genoeg! Die prins is hier weg met sy toekomstige bruid,’ laat die wimpel-feetjie hulle weet.

Carina maak haar keel skoon en gaan staan aan die ander kant van die fontein en kyk in die rigting van die chateau. Haar emosies hardloop rond. Net ‘n paar oggende terug wou sy in die chateau gaan woon. En nou het sy haar stiefsuster in haar plek gestuur.

‘n Oproer van die huis se kant laat haar omdraai.

‘Ek sal gaan uitvind,’ sê die wimpel-feetjie en vlieg weg.

‘Vinnig!’ haar stiefsuster in ‘n lila rok hardloop uit na hulle. ‘Toor my om soos Carina te lyk. Die toorkrag op Meg het gebreek nie vêr hiervan nie. Gou!’

Die wimpel-feetjies sak op haar neer en lig so skerp soos die son laat Carina weg kyk. Toe sy weer haar oë kon oopmaak sien sy dat haar stiefsuster nes sy lyk. Die enigste verskil is dat die lila rok nie vaal is nie.

‘Sterkte.’

Haar stiefsuster knik en verdwyn in die huis in.

‘Hoekom het die toorkrag op Meg gebreek?’

‘Want jou prins ken jou. Niemand kan jou plek vat nie,’ sê die meervrou vanuit die fontein.

‘Hy kon nie deur die wimpel-feetjies se toorkrag sien tydens die aande van die bal nie. Het iets verander?’ vra Carina die boomnimf.

‘Het jy hom gesoen?’

Carina kyk verbaas na die boomnimf.

‘Ja.’ Sy kan voel hoe haar wange warm word.

‘Dan is hy nou onder jou betowering.’

‘Hy was lank voor die soen al betower deur haar,’ sê die wimpel-feetjie.

Perde hardloop agter die huis in. Die prins sit op sy spierwit perd met die Carina in lila voor hom.

‘Klim af,’ sê hy vir haar.

Carina en die Feë hou hulle dop van agter die fontein af.

‘Jy is ook nie mý Carina nie,’ sê die prins.

Carina snak na asem. Sy weet hoekom hy weet: hy het regtig gevoelens vir haar en dus sal geen toorkrag hom kan bluf nie. Sy tree after die fontein en bome uit.

‘Jy is reg.’

Die prins draai na haar. Hy klim van sy perd af.

‘Hoekom?’ vra hy.

‘Omdat ek nie seker was nie.’

‘En nou?’

Hulle staan reg voor mekaar. Die paleiswagte en Feë is te vêr weg om te kan hoor.

‘Jy verdien die waarheid.’ Sy hou hom dop. ‘My familie is Donker Feë. My pa is ‘n gewone mens. Maar met ons kontakte en toorkrag kan ons die oorlog eindig. As jy wil.’

Hy vat haar hande.

‘Dit sal wonderlik wees. Solank jy saam met my is.’

Carina glimlag.

‘Dit pla jou nie? Die toorkrag?’

‘Ek het al lankal geweet dat jy uitsonderlik is.’

Sy soen hom.

‘Kan ons nóú die troue reël?’ vra die wimpel-feetjie en fladder tussen hulle.

Carina kyk vir haar prins.

‘Ja.’

Sy gee nie om dat die troue vol musiek, kos, blomme en klere gaan wees wat net in Feërie gevind kan word nie. Sy gee nie om dat sy geen sê oor haar rok gaan hê nie. Al waaroor sy omgee is dat sy in die chateau saam met haar prins gaan woon. Gelukkig. Vir ewig.
##




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 52
    Kommentaar telling: 241

    Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar.My wêreld draai om my twee Rottweiler seuns – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my blog https://ronelthemythmaker.wordpress.com/.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 92 gaste aanlyn

    Bydrae Totale