Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Asvaal Prinses Deel 1

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 29 September 2017 Aantal woorde: 4900 33 Kere gelees 4

Die koue is party dae so erg dat Carina binne die vuurherd wil klim vir ‘n bietjie hitte. En somtyds doen sy dit – al beteken dit dat Vivian en haar dogters hul neuse vir haar optrek. Partykeer is dit beter om warm te slaap as om almal gelukkig te maak. Al bly die as aan haar klou, maak nie saak hoeveel keer sy bad nie…

Sy maak haar oë toe en geniet die son. Hoenders kloek om haar terwyl hulle eet. Partykeer beny sy hulle hul vryheid – en vere. Sy weet sommer dat hulle altyd lekker warm is.

‘n Klok lui in die verte. Carina klouter die groot akkerboom uit. Blare val af soos sy hoër klim tot waar sy deur die ander bome kan sien. Die chateau glim in die son, hitte golwe hang bo die wit mure al vroeg in die dag. Sy weet dat dit altyd warm daar is – haar familie en hul koue is nie daar nie. Carina sug sag en hou die chateau tussen die bome dop. Sy het al soveel drome daaroor gedroom dat sy somtyds nie weet wat eg is en wat sommer net ‘n hersenskim is nie.

Carina trek haar vingers deur haar deurmekaar krul hare en geniet vir ‘n oomblik langer die warm bries wat van die chateau se kant af kom.

Terug in die kombuis gebruik sy haar toorkrag om die vuur aan die gang te kry onder een van die stowe – nie omdat dit die maklikste manier is nie, maar omdat sy net glad nie die tonteldoos kan kry om te werk nie. Sy ril van die koue soos sy die pap in ‘n groot pot gooi met water.

Om haar gluur die klein huiskaboutertjies vir haar terwyl sy ontbyt maak. Van hulle klits eiers en melk saam, ander haal vars gebakte brood uit die oond en ‘n paar mor terwyl hulle vrugte opsny.

Carina ignoreer hulle.

In ‘n pan braai sy ‘n handvol wurms vir haarself. Sy weet dat niemand anders in die huis dit kan verstaan nie, maar daar is niks lekkerder as gebraaide wurms vir ontbyt nie.

‘Teen hierdie pas gaan ontbyt eers teen middagete se tyd klaar wees,’ brom ‘n huiskabouter.

Sy maak haar oë toe vir ‘n oomblik en probeer om nie die huiskabouters iets leliks toe te snou nie.

‘Tyd om almal wakker te maak,’ sê sy eerder vir die piepklein wimpel-feetjie wat al om die vrugte bak vlieg. Hy knik en verdwyn.

Carina dra die spierwit tafeldoek na die eetkamer en gooi dit oor die donkerbruin tafel. ‘n Bietjie toorkrag later en die tafeldoek lê seepglad. Sy sit die wit beenporselein borde, bakkies en koppies reg saam met die silwerware. Versigtig sit sy die gevoude wit linne servette reg voordat sy terug tree om te kyk of sy die tafel reg gedek het.

Vinnig verdwyn sy terug in die kombuis in om die vaas vol vrolike kweekhuis blomme te gaan haal voordat sy dit in die middel van die tafel plaas. Gelukkig het die vuil-vos-kabouter vroeg opgedaag met hulle. Sy dink nie sy sou nog ‘n oggend van trane oor die vaal tafel kon vat nie. Blomme is skaars, selfs in kweekhuise.

‘n Huiskabouter verskyn langs haar met haar ontbyt. Carina glimlag stram en gaan sit. Sy weet presies hoekom sy solank bedien word. Al wil sy hoe, sy kan nie die huiskabouters blameer dat hulle haar uit die pad wil hê nie.

Die stoom trek darem nog uit die gebraaide wurms uit en sy eet lekker soos sy hulle in haar mond pop. Haar vingers voel warm en sy glimlag gelukkig soos van die wurms kners tussen haar tande.

Haar stiefsusters kom eerste die vertrek ingesweef. Hul glimlagte verstyf en verdwyn toe hulle haar sien.

‘Ag sies man! Kon jy nie ten minste jou gesig gewas het nie?’

‘Ek weet jy het geen modesin nie, maar daardie rok word al leliker.’

Carina bly stil terwyl die wimpel-feetjie hulle wys waar om te sit. Sy het nog nooit gevoel asof sy kan kers vashou by haar beeldskone stiefsusters nie. Ten spyte van die ysige water het hulle gebad, hul hare in sierlike bollas gedoen en hul pastel rokke lyk asof daar lig in vasgevang is.

Sy weet sy lyk asof sy in as rondgerol het – meesal omdat dit nie als afwas nie, maak nie saak hoe rou sy haarself skrop nie.

Haar pa groet almal vriendelik en raak weg agter sy koerant. Die wimpel-feetjie maak sy bord vol kos en sit dit voor hom neer. So nou en dan beweeg die koerant uit die pad en sy bord word stelselmatig leeg.

Vivian sweef die vertrek in, haar saffierblou rok trek dadelik die oog. Sy is so perfek soos ‘n standbeeld. Net die trek om haar mond wys dat sy nie ‘n standbeeld is nie: dis die uitdrukking wat sy altyd het wanneer sy Carina sien.

‘Kyk hier!’ sê haar pa skielik en sit die koerant plat op die tafel neer.

Dit vat ‘n oomblik vir Carina se oë om te fokus. Selfs wanneer sy die berig klaar gelees het is sy nie seker of sy dit reg verstaan nie.

‘Die prins soek ‘n vrou!’

Haar een stiefsussie val flou. Die ander een staar net na die koerant, haar mond oop in ‘n perfekte sirkel. Hul ma loop op en af en vryf haar hande saam. Carina sien sommer hoe sy besig is om ‘n plan te maak om die prins se skoonma te word.

Al wat Carina kan dink is dat sy eindelik na die warmte van die chateau kan trek.

Haar pa lag.

Almal kyk vir hom, selfs die stiefsussie wat nog op die grond lê.

‘Met drie sulke pragtige dogters staan ek ‘n groot kans om die koninklike familie as my skoonfamilie te hê.’

Dadelik skiet Vivian se oë na Carina asof sy vergeet het dat sy ook daar is.

‘Dis vreemd dat die uitnodiging aan alle jong dames gerig is. Gewoonlik trou die koninklikes net met ander koninklikes…’ Hy lig sy skouers asof dit hom nie te veel pla nie. ‘Wel, ek het besigheid in die stad. Sien julle later.’

Die res van Carina se familie verlaat die vertrek sonder om hul ontbyt klaar te maak.

Sy kyk hulle almal verslae agterna voordat sy die louwarm wurms klaar eet.
#
‘“Prins soek ‘n vrou.” Hoe belaglik kan jy nie kry nie? Jy moet nou mooi kyk, dié frase gaan nog ‘n tendens veroorsaak,’ sê die wimpel-feetjie toe hulle twee terug in die kombuis is.

Die skottelgoed word gewas deur getoorde lappe en die ongeëete kos word in skottels gelaai deur die huiskabouters om na die bedelaars wat die strate van die stad vul te gaan. Al die verminkte soldate vind hul weg na die stad van die oorlogsveld af.

Carina kyk weg van al die kos wat haar familie gemors het.

‘Dink jy regtig hy gaan sommer net oor drie aande besluit met wie hy gaan trou?’

‘Carina, daar is duidelik iets meer aan die gang. Hoekom sal enigiemand wil trou voordat hulle nog twintig is? Veral ‘n prins?’

Sy sluk haar antwoord weg: sy weet presies hoekom sy met enigiemand sal trou wat in die warm chateau woon. Nie dat dit ‘n goeie rede is nie…

‘Mense trou vir verskeie redes,’ sê sy eerder en droog ‘n bord af, versigtig om dit nie te laat val nie.

‘Nes sekere meisies eerder in die kombuis sal wegkruip as om hul regmatige plek in die huishouding te vat?’

Carina kyk weg van die wimpel-feetjie wat reg deur haar kan sien. Die huiskabouters en al die skottels vol kos is nie meer daar nie.

‘Jy weet dat die huiskabouters weer gedreig het om te staak omdat jy in hul terrein is?’

‘Hulle dreig al vir jare.’

‘En eendag gaan hulle nog pad vat.’

Carina bêre die bord wat sy afgedroog het. ‘Goed dan. Wat dink jy wil die prins regtig hê?’

‘Wat almal wil hê as hulle nie trou vir liefde nie: geld en mag.’

Carina lag. ‘Dan het hy die verkeerde advertensie uitgestuur.’

‘Nie noodwendig nie. Jou familie het baie meer geld en mag as wat die koninklikes ooit kan droom om te hê.’

Carina kyk weg van al die toorkrag om haar en hul duidelike bande met Feërie wat niemand anders in die koninkryk het nie. Party dae is dit moeiliker as ander om voor te gee dat sy en haar familie normaal is. Sy wens sy was meer soos haar pa…

Tog, dit wat sy het kan help. Sy gooi die afdrooglap neer op die tafel en ‘n bak vol lensies tuimel na die vloer. Sy ignoreer die geluide wat dit maak soos sy haarself staal vir wat kom.

‘Gebruik jou vermoë. Dalk kom jy nog weg van die koue af,’ sê die wimpel-feetjie voordat sy die kombuis verlaat.
#
‘Ek wil na die bal gaan,’ sê Carina in die deur van haar stiefsusters se kamer.

‘Jy?’

Die beeldskone Feë lag. Carina ignoreer hulle en hou net hul ma dop.

‘Jy kan dan nie eens dans nie. Wat wil jy by ‘n bal maak?’

Hulle lag harder.

Vivian hou haar deur vernoude oë dop.

‘Die uitnodigning is vir álle hubare jong dames in die koninkryk,’ sê Carina, haar hart dawerend. Sy’s seker dat hulle dit kan hoor.

‘Jy mag gaan ás jy die volgende take voor sononder kan verrig…’

‘Ek mag?’ Carina kan dit skaars glo.

‘Ás jy al jou take verrig het.’

‘Dis nie –’

‘Sjt,’ maak Vivian haar dogters stil. ‘Ek hoor jy’t die bak vol lensies laat omval in die kombuis. Tel elke laaste een op, dan praat ons weer.’

‘Dankie.’

Carina haas terug na die kombuis. Geen wimpel-feetjies of huiskabouters is êrens te sien nie. Die omgekeerde bak lensies lê op die vloer soos sy dit gelos het.

Sy kyk vir ‘n oomblik net na die groen en bruin kolletjies op die glimmende wit vloer. Met ‘n sagte sug draai sy die bak reg en begin die lensies op te tel. Net sodra sy dink sy’s klaar kom sy agter dat daar nóg lensies op die vloer lê. Carina kruip oor die kombuis vloer en tel die klein plat balletjies op. Sy wens dat sy versigtiger kan optree en kan vermy om so ‘n groot gemors te maak. Sy tel die laaste lensie op en sit dit in die bak. Tevrede met haarself, sit sy terug. En voel nog lensies op die vloer.

‘Onmoontlik!’

Sy kyk na die bak wat half-vol is. Lensies lê die hele vloer vol soos vroeër. Carina kners op haar tande. Sy weet sommer dat Vivian – of een van haar dogters – die bak en lensies getoor het om hierdie ‘n onmoontlike taak te maak. Sy gluur vir die lensies.

‘n Gefluit buite die venster gee vir haar ‘n idee. Sy staan op en gooi die buitedeur oop. Sy fluit ‘n paar note. Die voëls word almal stil om na haar te luister.

‘Ek het hulp nodig. Kan julle my asseblief help?’

Sy fluit weer ‘n paar note en wag.

Voëls van elke soort vlieg by die kombuis in en tel die lensies op teen ‘n wilde spoed. Die bak word vol en die betowering breek soos die laaste lensie daarin gegooi word.

‘Dankie!’

Die voëls vlieg uit en los haar weer alleen in die kombuis. Sy maak die deur toe en wag. Sy weet uit ervaring dat niks so maklik is nie. Maar toe die lensies na tien minute steeds in die bak is, glimlag Carina en byt haar lip. Dit het gewerk.

‘En?’ vra Vivian toe sy die vertrek instap.

‘Al die lensies is terug in die bak.’

‘Ek sê altyd: as jy mors, moet jy skoonmaak.’

‘Jy’t gesê “take”. Wat’s volgende?’

‘Jy kan nie so vuil na die bal gaan nie. As jy al die as wat alewig aan jou klou heeltemal kan afwas, dan kan jy gaan.’

Carina se hart sak in haar skoene. Sy weet uit ervaring dat sy kan skrop en skrop maar die as gaan nooit heeltemal weg nie.

Sy gaan loop buite in die tuin. Die dooie blare kners soos bene onder haar voete. Die paar blare wat nog aan die boom klou fluister vir mekaar in die sagte bries.

‘Ek gaan nooit warm word nie. Daar’s geen manier dat ek al die as wat aan my vel en hare klou heeltemal afgewas kan kry nie.’

‘Moenie so hartseer wees nie,’ sê die boomnimf soos sy uit haar boom verskyn. ‘Gebruik hierdie seep. Dit sal alles silwerskoon maak.’

‘Dankie!’ Sy vat die glas botteltjie en kyk na die sapgroen seep daarbinne. Sy weet sommer net dat al haar wense waar gaan word.
#
‘Kyk net hoe skoon is jy! Ek’t sommer geweet jy kan dit doen as jy net eers ‘n rede het.’ Vivian skud haar kop asof sy al lankal ‘n plan moes gemaak het.

‘Kan ek nou na die bal gaan?’

‘Sodra jy vir jou ‘n rok gekies het.’

Sy maak die groot kas oop en balrokke van elke soort en kleur word onthul. Carina snak na asem. Sy’t nog nooit so baie mooi uitrustings gesien nie.

‘Onthou: jy moet skitter in jou rok. Al hoe jy die prins gaan wen is as jy dadelik sy oog trek.’

‘Ek’s seker ek sal ‘n wonderlike uitrusting hier kan vind.’

Carina moet haarself herinner om asem te haal. Meeste van die balrokke kan op hul eie staan, die mannekyne is amper onnodig. Sy loop dadelik na ‘n swart skouerlose rok wat patrone het wat skuif wanneer sy haar kop draai.

‘Nee!’ roep Vivian voordat sy aan dit kan vat. ‘Daardie rok is nie bedoel vir ‘n mense-bal nie.’

Carina knik en laat haar hand sak.

‘Bly van die donker rokke af weg. En as dit lyk asof dit ‘n lewe van sy eie het…’ Vivian hou haar vir ‘n oomblik dop voordat sy wegdraai en loop.

Die volgende rok, ook skouerloos, het swart tulle oor wit satyn. Die borsstuk is borduur met silwer en diamante is vasgewerk asof dit van die hangertjie wat aan die mannekyn se nek hang val.

Carina probeer dit aan.

Dadelik hou die diamante op skitter. Teleurgesteld trek sy dit weer uit. Terug op die mannekyn lyk dit weer reg.

‘n Rok wat amper te wyd lyk om waar te wees trek haar oog. Die van-die-skouer-af ligblou rok het pienk blomme wat in verskillende grootes orals vasgewerk is. Dit lyk nes die rok wat een van die prinsesse van Breton aangehad het by die prins se verjaarsdagbal ‘n paar weke tevore. Niemand kon hul oë van haar af hou nie.

Carina probeer die rok aan.

Maar die ligblou en pienk lyk maar vaal en vervelig.

‘n Pers satyn rok wat plek-plek lyk asof die valle vasgevang is met groot pers rose staan uit tussen al die ander. Dit het een skouerband waaraan verskeie klein diamante in klein pers rose vasgevang is. Die rok skyn helder soos al haar stiefsusters s’n.

Die oomblik toe sy dit aan het lyk dit amper so swart soos die rok wat haar geroep het toe sy die kas binnegetree het.

Sy sug moedeloos en besluit om nie meer so kieskeurig te wees nie. Carina probeer alles aan.

Die rokke met meer valle as wat sy dink nodig is, ander met boduurwerk, lint, pêrels en diamante wat dit onnodig swaar maak, rokke met meer blomme as ‘n kweekhuis en ander wat meer as een kleur is. Moue wat haar skouers vasklem, moue wat op die grond sleep, moue wat net amper daar is en moulose rokke van elke soort. Rokke wat agter haar aansleep tot op die volgende vloer as sy op die trappe is, rokke sonder ‘n sleep en rokke tussen-in.

Sy probeer dit als aan met verskeie skoene. Skoene met blare, blomme en ander motiewe uit duursame metale en juwele. Skoene so hoog dat sy skaars op hulle kan loop. Skoene so ongemaklik dat haar tone kla. Skoene so vreemd dat sy seker is dat hulle in Feërie gemaak is.

Maar maak nie saak wat sy aantrek nie, niks lyk so goed op haar soos wat dit op die mannekyne vertoon nie. Met trane wat in haar keel brand gaan soek sy vir Vivian.

‘Wat’s fout?’ vra haar stiefma die oomblik toe Carina in haar kamer instap.

‘Niks lyk reg nie. Ek het so baie rokke aangepas, maar…’ Sy haal haar skouers op.

‘Kom ons gaan kyk.’

Hulle ontmoet haar stiefsusters in die gang, klaar reg vir die bal en duidelik opgewonde. Saam gaan hulle na die groot kas.

Eers trek sy die ligblou en pienk rok aan. Weer word dit verskriklik vaal. Carina kyk glad nie na haar familie se kant toe nie – sy het die gesnak na asem gehoor toe die rok skielik verander het. Nadat sy die rok weer mooi opgehang het trek sy die pers een aan met die baie diamante en rose. Weer word dit inkswart.

‘Probeer dié een,’ sê haar stiefsuster in donkerblou. Sy hou ‘n rok van ligpienk satyn uit met die mooiste borduurwerk in goud.

Carina probeer dit aan en die rok lyk dadelik verblyk. Selfs die goue gare verloor hul glinster.

‘Die dinge gebeur,’ sê haar ander stiefsuster in liggroen wat lyk asof dit om haar sweef.

Hulle laat haar rok na rok aantrek. Maar nes vroeër op haar eie word elke rok vaal, vervelig of onaangenaam donker sodra sy dit aan het. Sy kan sien hoe baie dit haar stiefsusters pla dat niks wil werk nie. Sy kan ook sien hoe bang Vivian lyk elke keer wat ‘n rok swart word.

Êrens slaan ‘n horlosie sewe slae. Almal skrik.

‘Ek’s regtig jammer, Carina. Maar jy lyk net nie goed genoeg om na die bal te gaan nie. Ons kan môre nog soek. Daar’s baie uitrustings hier binne. Ons moet nou gaan,’ sê Vivian en lei haar dogters vinnig by die deur uit.

Al wil sy, kan sy nie haar stiefma en stiefsusters blameer nie. Dis nie hulle skuld dat alles altyd vaal lyk as sy dit aantrek nie. Dis maar net hoe dit is.

Sy trek weer haar eie vaal rok aan en gaan uit in die tuin. Sy kan die chateau se ligte sien sonder om in die boom te klim. As sy mooi luister kan sy die musiek ook hoor.

Sy sug hard en gaan sit op die rand van die fontein.

‘Ek dag jy’t gesê jy gaan die prins se hart wen en van nou af in die warm chateau woon?’ sê-vra die meervrou wat in die fontein woon. Sy haal haar rooi hoedjie af en droog dit uit voordat sy dit weer aan sit.

‘Geen van die rokke in die groot kas lyk goed genoeg aan my vir die bal nie.’

‘Natuurlik nie! Dis gemaak vir Vivian en haar dogters. Jy’s nie soos hulle nie.’

Carina kyk weg van die meervrou. Sy’t nie nodig om herinner te word dat sy anders is nie.

‘Ons kan help, as jy wil,’ sê die wimpel-feetjie. Ander wimpel-feetjies verskyn agter hom in die doringboom. Hul uitrustings gemaak van lint skyn helder in die maanlig.

‘Wat bedoel jy?’ vra Carina versigtig.

‘Ons kan jou mooi optooi in ‘n uitrusting wat nooit vaal sal lyk nie,’ sê een van die wimpel-feetjies in ‘n pienk lint rok.

‘Maar, uh, jy sal teen twaalfuur terug moet wees. Of jy gaan maar baie laf in jou vaal rok lyk,’ sê haar wimpel-feetjie maat.

‘Twaalfuur? Jy’s nie ernstig nie!’

‘Tussen jy wat per ongeluk toorkrag uit jou omgewing trek en die min voorbereiding wat ons kan doen, kan die illusie van ‘n balrok net so lank hou,’ sê hy ernstig.

‘Die illusie sal sterk genoeg wees dat nie eens jy uit die hoek van jou oog die waarheid sal sien nie,’ verseker die wimpel-feetjie in pienk.

Carina knik haar kop. Sy weet dis die beste – enigste – kans wat sy het om na die bal te gaan. Die wimpel-feetjies omsingel haar en sy probeer hard om nie histeries te raak soos liggies die duimgroote feetjies omring nie. Sy maak haar oë toe en ‘n warm briesie waai om haar soos die wimpel-feetjies hul toorkrag op haar gebruik.

‘Jy kan maar jou oë oopmaak.’

Carina maak haar oë oop en sien dat die meeste van die wimpel-feetjies terug in hul boom is.

‘Kom kyk,’ nooi die meervrou haar na die fontein toe.

Versigtig loop sy voorentoe. Sy kan skaars haarself herken.

Sy’s getooi in ‘n goue balrok met silwer sterre wat skitter wanneer sy beweeg. Haar hare is in groot krulle om haar kop met silwer sterre vasgemaak. ‘n Armband van goue blare maak haar gewrig toe en ‘n fyn goue ketting omsingel haar hand. Sy lyk soos ‘n prinses, ‘n feetjie prinses. Carina giggel. Sy byt haar lip toe sy agterkom wat sy doen.

‘Hoe gaan ek weet dis tyd om te gaan?’ vra sy die Feë om haar.

‘Hier.’ Die wimpel-feetjie in pienk vat haar hande en haar naels word pers. ‘Wanneer dit pienk word weet jy dat die toorkrag amper op is. Dan hardloop jy!’

‘Dankie.’

Sy kyk na haar goeie vriende en sluk die knop weg wat in haar keel vorm.

‘Toe, gaan wen die prins se hart!’

‘n Swart glas koets verskyn in die paadjie voor haar met perde van skadu en rook.

‘Wees terug teen middernag!’
#
Carina loop die trappe vinnig, maar versigtig, uit. Sy sidder toe sy die hitte voel opstoot van dit af. Die chateau klok lui nege slae en sy weet dat daar nie veel tyd oor is om die prins se oog te vang nie. Sy maak haar pad tussen pilare deur. Gaste getooi in weelde vul die gange, kamertjies en die groot balsaal. ‘n Orkes speel in een hoek en dansende paartjies beweeg grasieus oor die dansvloer.

Die koning sit op sy troon en hou almal dop. Carina hou nie van die manier wat hy na almal kyk nie – soos ‘n spinnekop vir vlieë. Haar oë soek die prins.

Haar een stiefsuster se naels pas presies by die donkerblou rok wat skitter met diamante wat haar soos die donkerste deel van die nag laat lyk. Niemand gaan haar vergeet nie. Haar ander stiefsuster se ligblonde hare hang los, behalwe vir agter waar dit in die vorm van rose gevleg is. Carina voel dadelik beter: sy is nie die enigste een wat toorkrag gebruik het om vanaand haar beste te lyk nie. Haar stiefma se hangertjie van verskillende groottes diamante skitter gevaarlik elke keer as ‘n meisie verby loop wat dalk die prins se oog kan trek. Hulle verdwyn gewoonlik gou, asof hulle ‘n nood het.

Sy bly weg van hulle af en beweeg uit op die stoep. Daar vind sy die prins. Hy leun oor die reling en tuur in die donker tuin in. Sy donker hare is vasgevang in sy nek met ‘n goue speld met ‘n groot robyn wat skitter in die maanlig. In die lig wat by die vensters agter haar uitspeol kan sy sien dat hy ‘n rooi baadjie saam met ‘n goue uitrusting aan het. Hy’s net so flambojant soos die res van die mans aangetrek. Selfs die swaard aan sy sy lyk onprakties.

‘Mademoiselle! Jy moet absoluut met my dans!’

Carina kyk verbaas na die man in pers wat skielik voor haar buig. Hy vat haar hand en sy moet haarself inhou om hom nie met toorkrag weg te stoot nie.

‘Die Vicomte byt nie.’

Sy kyk na die prins wat duidelik wil lag oor die skielike aksie op die stoep. Met soveel waardigheid as wat sy kan knik sy en loop in die balsaal in met die vreemde man in pers.

Teen die einde van die dans wil sy lag – of skree – oor hoe sleg die Vicomte dans. Dis duidelik van hoe die ander dansers optree dat hierdie ‘n nuwe dans is. Carina wens net dat die Vicomte meer met sy dansmeester geoefen het voordat hy haar genooi het om te dans op die dans wat net akrobate reg sal kan doen. Of die Feë. Haar stiefsusters laat die dans maklik lyk.

Dis duidelik toe die volgende liedjie begin dat die Vicomte haar weer wil vra om te dans. Sy’s reg om ‘n verskoning te gee dat sy nie verder kan dans nie toe iemand anders sy hand na haar uitsteek.

‘Mag ek?’

Die Vicomte knik stom, slaan sy hakke saam en loop weg. Carina knik skaam en aanvaar die prins se hand. Sy kyk nie dadelik na sy gesig nie. Die prins se baadjie is oor die sakke, kraag en voor geborduur met ‘n blaar motief in goud. Dit maak haar bly dat die armband wat die Feë haar gegee het by sy uitrusting pas, veral omdat niks anders lyk asof hulle vir mekaar bedoel is nie.

‘So, hoe is dit dat ek jou nie vroeër gewaar het toe almal bekend gestel is nie?’

‘Seker omdat ek nou eers opgedaag het.’

Hy lag saggies.

‘Niemand anders hier sou erken het dat hulle laat was nie.’

Carina glimlag stram, seker dat sy haar kans verspil het.

‘Dis verfrissend,’ sê die prins.

Die dans laat hulle nie toe om verder te praat nie. Dis opvallend vir haar dat sy hande nie so sag is soos die Vicomte s’n nie en laat haar dink dat die swaard wat hy vroeër gedra het dalk nie net versiering was nie.

Hy lei haar deur een dans en ‘n volgende. Die musiek, die ander dansers en die omstanders smelt weg in die agtergrond in. Dis net hulle twee. Sy voel nie eens skuldig dat sy ‘n bietjie toorkrag gebruik om ‘n goeie danser te wees nie. Iets in sy oë sê vir haar dat hy sy eie donker geheime wegsteek.

Hulle dans een formele dans na die ander sonder om te praat: hul oë sê alles. Carina se hart klop vinnger soos hy haar oor die dansvloer lei. Voor hierdie aand het sy hom nog altyd net van vêr af gesien. Nou weet sy hoekom al die meisies in die vyf koninkryke verlief op hom is: hy’s baie aantrekliker as wat sy gedink het hy is.

Vir die eerste keer sien sy uit na meer as net ‘n warm chateau wanneer sy met hom trou. Sy voel haar wange warm word en kyk weg van sy gesig af. Met skok kyk sy na haar hande. Haar naels verander kleur – van donker pers na helder pienk. Sy hoor die chateau klok elf slae slaan. Carina sluk. Sy dink nie daar gaan genoeg toorkrag wees om tot middernag te hou nie. Sy moes seker meer toorkrag gebruik het om te kan dans as wat sy gedink het.

Sy glimlag stram. Haar oë vlieg oor die skare, die deure en vind dat daar geen manier is om te vlug nie. Wagte staan orals, seker meer om die prins veilig te hou as om debutante gevangene te hou, maar steeds. Carina haal stadig asem. Die debutante! Hulle hou haar met suur gesigte dop sedert sy en die prins begin dans het.

Die liedjie eindig. Sy gebruik ‘n bietjie toorkrag om al die debutante hulle te laat omsingel. Versigtig beweeg sy tussen hulle deur en vlug by die balsaal uit. Teen die tyd wat sy die trappe voor die chateau tref het haar goue dansskoene al terug verander na haar gemaklike, plat skoene wat sy gewoonlik dra. Sy lig haar rok voor op – heeltemal onvanpas vir ‘n jong dame – en hardloop by die trappe af na die swart koets wat vir haar wag.

Hulle jaag teen ‘n stink spoed deur die strate van die stad. Sy kan meer perde hoewe op die stene hoor as wat haar eie span kan maak. Sy kyk by die agterste venster uit en sien die paleiswag op hul spierwit perde agter hulle aanjaag. Die koets vat ‘n skielike afdraai en nog een en die perde is nie meer te siene nie.

Sy kan voel dat haar hare nie meer dieselfde voel nie en die goue armband is al twee draaie terug weg. Sy glimlag toe sy haar huis herken. Al was sy nie vreeslik lank by die bal nie, het sy ‘n wonderlike tyd gehad.

Die koets trek agter die huis in waar sy vroeër ingeklim het. Sy klim uit en kyk hoe die swart koets verdwyn dieselfde oomblik as haar rok. Carina kyk verwilderd rond. Sy kan die harde slae van hoewe hoor. Vinnig gebruik sy al haar toorkrag en tower haarself om in ‘n swart hoender hen. Sy skrop-skrop naby die boom terwyl die prins en sy wagte vir haar soek. Haar hart klop nóg vinniger toe sy haar familie die huis hoor instap. Die prins en sy wagte ondervra hulle.

So vinnig soos haar hoenderlyfie kan, maak sy haar pad na die vuurherd in die hoek van die kombuis. Sy sprei haar vlerke uit om die skerp hoek om ‘n kas te maak. Haar pote gly oor die wit vloer. Sy vryf as oor haar vere en die toorkrag breek. Die kombuis deur gaan oop. Sy weet al wat hulle sien is ‘n asvaal meisie in ‘n grys rok, vas aan die slaap in die vuurherd met die as van die dooie vuur wat aan haar klou.
#




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 52
    Kommentaar telling: 241

    Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar.My wêreld draai om my twee Rottweiler seuns – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my blog https://ronelthemythmaker.wordpress.com/.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 84 gaste aanlyn