Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Almal is die moeitewerd

Deur Andri
Datum gepubliseer: 20 Junie 2017 Aantal woorde: 1164 57 Kere gelees 2

’n Mossie is ‘n simbool van vryheid en God sê in Sy Woord (Mattheus 10:29-31) dat nie een van hulle op die grond sal val as dit nie in Sy wil is nie en dat ons as mense baie meer werd is as die mossies.

God het jou ‘n naam gegee:

Ouers kyk dikwels na die betekenisse van name voor hul ‘n keuse maak op wat hulle kinders genoem gaan word. ‘n Naam sê baie. Alles in die heelal het betekenis, of dit nou uit God se perspektief gesien word of nie. Die dag toe ek Oliver Gaza Mutamiza in die straat tussen die asblikke ontmoet het, het sy sterk karakter in ‘n diepe vrede na my uitgestraal.
Dit was ‘n gewone vroeë dinsdag oggend in November wat ek die kompleks se asblikke straat toe gevat het, aangesien die buurman vergeet het. Ek was kaalvoet en nog in slaapklere, maar God werk in jou of jy nou voel jy is opgemaak vir die geleentheid of nie…Ek het eers later die bybelse betekenis vir Oliver ontdek, wat vreedsaam is en Gaza wat beteken om sterk te wees. Dit het my laat dink aan jare gelede toe ek ‘n ander man ontmoet het – ‘n karwag by Florida Biblioteek – met die naam Abel Diphuko. Sy gesig het gespreek van swaar tye, sy sagte oë het gespreek van karakter ten spyte daarvan. Sy “I-love-Jesus”-keps baie opmerkbaar. Wat veronderstel was om net nog ‘n gewone draai by die biblioteek te wees, het my laat dink…My ontmoeting met Oliver het my weer laat dink aan Abel en ek was nuuskierig oor die betekenis van sy naam, wat ek ontdek het goddelikheid en geregtigheid is. Dit het nogal sin gemaak: ‘n Naam is nie toeval nie, maar ‘n geskenk van God.

Mense, jy en God:

Ek het met beide Abel en Oliver ‘n onderhoud gevoer. Die een het plaasgevind op die sypaadjie onder die vallende herfs-blare van die bome by Florida Biblioteek en die ander in die straat tussen die asblikke. Vir Abel het ek ‘n twee rand stuk gegee om dankie te sê dat hy na my motor gekyk het en die volgende dag ‘n kospakkie soos belowe. Oliver het egter heelwat meer by my gekry, dalk omdat hy meer nodig gehad het. Al wat ek weet is dat ek vir hom gesê het hy moet wag en die huis in is om vyftig rand te gaan haal. Hy het gedink ek is die huis in om leë 2 liter bottels te kry. Daar was egter net honderd rand in my beursie en die stem van God het vir my gesê dat die man ‘n honderd moet kry.
Later het ek hom sy nommer gevra en hy het gesê hy het nie ‘n foon nie. Ek is weer die huis in en het uitgekom met ‘n ou selfoon van my. Sonder vasklou aan die honderd of die heel selfoon (die een wat ek gebruik het se skerm was gekraak), het ek dit en die selfoon aan hom gegee en sy “God bless you” was ‘n tasbare seëning van God. Baie meer werd as daardie honderd rand of heel selfoon.
Ek het vir Abel gevra of hy weet wat die keps van hom sê en wat dit beteken. Hy weet en hy is lief vir Jesus. Ek het gewonder hoe dit moontlik was – hy kon dan nie eers sy Bybel lees nie? Hy het getuig van sy dankbaarheid vir elke geldjie wat hy kry, hoe min dit ook was. Hy was skielik huiwerig, half skaam om te praat. Miskien was hy selfbewus, het ek gedink, omdat hy nie ‘n goeie kommunikasie-vaardigheid het nie. Of dalk was dit omdat hy nie verstaan het hoekom ‘n wildvreemde “ander klas en ras” vrou so uit die bloute uit met hom wou geselsies aanknoop nie.

Getuienis

Abel het my vertel dat hy nie eintlik die karre oppas vir geld nie, maar as deel van sy naastediens vir God se kinders. Dit is vir hom belangriker as enige twee rand-stuk, want so het sy lewe ‘n doel gehad. En ek het dit gesnap: hy kon maar ongeletterd wees, maar hy het ‘n man met ‘n naam gebly en sy naam was ‘n goddelike getuienis van hoe ‘n kind van God moet wees.
Oliver was weer ‘n opgevoede man, geletterd, maar een vir wie die lewe sy harde en onregverdige kant gewys het. Sy ouers is ook oorlede en hy kon nie matriek klaarmaak nie weens omstandighede. Tydens my onderhoud met beide van hulle was ek heeltyd bewus van die trots wat hul uitgestraal het. Oliver se woorde oor asblik man wees: “Dis nie steel nie.” En dis daarom wat hy sê hy sy werk doen met gemak.
Hy het my egter vertel hoe sleg sommige mense hom behandel. Huis-eienaars wat hom wegjaag by die asblikke. Mense wat hom teëkom op straat en vir hom lag as hulle verby hom loop of die bediende van langsaan wat haar neus opgetrek het vir hom op my aanvraag dat sy ‘n foto neem. Dan is daar die enkeles wat genade betoon.
Abel en Oliver het so openlik die Here erken en ek het by myself gewonder: sou ek dit ook kon doen as ek in hulle skoene gestaan het? Ek wat nie eers getuig in my eie bevoorregte, gemaklike posisie nie.

Dankbaarheid

Die dag toe ek die kospakkie vir Abel gevat het, was hy meer op sy gemak gewees toe hy my vertel het dat hy vir die “madam met die groen kar” gewag het. My motor was egter nie groen nie, maar blou. Die kanse dat hy kleurblind was, was baie gering – blou en groen is nie twee algemene kleure betrokke by kleurblindheid nie, nee – hy het nie sy basiese kleure geken nie, want hy was nie op skool nie. Iets wat ek en ander so as vanselfsprekend aanvaar. Hy het egter dankbaarheid verstaan, want toe ek vir hom sy kospakkie gee het hy gesê: “kealeboga”. Ek het reageer deur in Afrikaans te antwoord: “Dis ‘n plesier.” Sy oë het verhelder, want hy’t gesnap dat ek iets van sy wêreld verstaan. So het dankbaarheid ‘n brug gebou tussen sy wêreld en myne met slegs die twee woorde “dankie” en “plesier”. Een in Tswana, een in Afrikaans. Twee mense van twee verskillende kulture, twee opbrengste. Maar beide mense. Altwee kinders van God.

Diensbaarheid

Ek het nie meer na die biblioteek gegaan nie en my herinnering van Abel het vervaag. Maar die dag toe ek Oliver ontmoet het, het ek weereens besef – ‘n mens is nie ‘n toevalligheid nie. Maar ‘n beeld na God geskape. En meer nog die twee siele – Abel en Oliver – in hul diens aan hul medemens wat so nederig soos Jesus nie net die boodskap van genade verkondig nie, maar diensbaarheid ook. Hulle is miskien gladnie belangrik vir die mense van die wêreld nie, maar vir God is hulle mense met name. En elke naam is spesiaal.




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Andri

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 6
    Kommentaar telling: 0

    Ek is 'n gekwalifiseerde 36 jarige kleuter onderwyseres wat ook naskool onderwys doen, met baie ondervinding.  Ek het 'n blad Teach Your Kid op Facebook begin en wil graag my kennis van kinders inkorporeer met my skryf.  Ek skryf graag kinderstories en artikels wat nuttig is vir ouers en onderwysers.  Ek skryf ook gedigte, waaronder geestelik, gewoon en vir kinders.  Hoop ek kan hier 'n verskil maak 🙂

    Gebruikers Aanlyn

    2 Lede, 61 gaste aanlyn

    Bydrae Totale