Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ALLETTA BOONZAAIER HFSTK 9

Deur neels
Datum gepubliseer: 7 Augustus 2017 Aantal woorde: 2073 25 Kere gelees 2

HOOFSTUK 9

Na n week word Gert uit die hospitaal ontslaan en word ons almal uitgenooi om n naweek op die plaas saam met hulle te kom deurbring met sy afskeidswoorde: “Mense ek kry n tweede kans en wil regmaak wat ek verbrou het. Ek wil julle almal op die plaas hê vir n naweek en veral vir Aletta”.

“Ons sal oor twee weke kom my broer. Ek verlang daarna om die plaas weer te sien”, en met die woorde druk Aletta haar broer teen haar vas vir n hele paar minute voordat sy hom los om Colleen te groet.

Aletta is skoon aangedaan toe hulle voor haar huis wegtrek die Vrydag middag en sit sy haar arm om my lyf. Met haar kop teen my bors swem die oë in die trane van geluk, Aletta Boonzaaier is vandag n gelukkige vrou.

Net daarna groet ek vir ma Aletta en vir Cindy en vertrek na my eie plek toe sonder enige besondere planne vir die naweek.

Vrydagaand en ek besluit ek wil vanaand net stil en rustig in my eie plekkie deurbring. Dit het lanklaas gebeur want naweke is ek of by Aletta, of by Cindy of op Ashton baai, baie keer het Cindy of ma Aletta saam gegaan as ek op Ashton baai gaan kuier.

Ek koop langs die pad sommer n wegneem ete want ek is nie lus vir kosmaak nie en nadat ek dit verober het gooi ek vir my n dubbelbrandewyn in. Met die brandewyn in die hand gaan sit ek op my stoepie om die sonsondergang te geniet. Ek asem die vars seelug in in die briesie wat waai en die sonsondergang kleur die swaar wolke wat besig is om op te steek rooi.

Ek sit nog so my brandewyntjie en geniet toe my selfoon biep en ek sien daar is n sms van Cidy af: “Waar is jy”.

Ek wil eers nie antwoord nie maar antwoord tog: “Ek sit op my stoep die sonsondergang en geniet”.

“Ek is vervelig en kan ek maar vir jou kom kuier”, kom die antwoord dadelik terug.

“Ok” antwoord ek en met n sug aanvaar ek dat my rustige alleen aand daarmee heen is.

Halfuur later stop Cindy voor my deur en dit is n vrolike Cindy, geklee in n rooi mini rompie met n rooi woltrui, want dit word maar koel in die aande, wat na my toe aangedartel kom.

Sy soengroet my en ek gaan gooi vir my n tweede rondte en vir haar ook n brandewyntjie in. Brandewyntjies in die hand gaan sit ons in die sterk skemer op die stoep. Ons praat nie en bewonder maar net die sterre wat al helderder word soos dit donkerder word. In die verte blink Port Elizabeth se ligte en ek moet erken ek geniet dit met Cindy so styf langs my.

“Melt ek hoop nie jy neem my kwalik dat ek so voorbarig was om sommer net hier by jou aan te sit nie maar ek was net nie lus vir my eie geselskap nie”, en met die skuif Cindy so bietjie nader aan my.

“Nee wat jy weet mos jy is altyd welkom hier by my”, antwoord ek en skielik wil ek nie meer alleen wees nie.

“Kom ons gaan in, dit word nou koud hier buite”, nooi ek haar in en neem die leë glas uit haar hand uit terwyl ons opstaan. Nadat ek die leë glase gaan uitspoel het sit ek vir ons bietjie musiek, ligte instrumentale musiek, op die speler en gaan sit langs haar waar sy op die bank sit. Ek kry n warm glimlag en skuif ek langs haar vas.

Ek voel aan, Cindy het iets op die hart en dit is net toe “Ek verlang nog altyd” begin speel wat sy praat.

Cindy neem my hand in hare en lê haar kop op my skouer neer: “Dit is vir my so n mooi stukkie musiek. Melt verlang jy ook soms of is dit nou net Cindy wat vanaand so simpel is om te verlang”.

“Nou waarna verlang Cindy”, vra ek.

Cindy antwoord nie dadelik nie maar dan kom dit: “Melt ek verlang na iemand spesiaal in my lewe. Iemand wat ek weet ek kan lief hê en met wie ek gaan trou en n lewe saam met hom kan deel. Verlang jy nie ook na so iemand nie Melt, jy is darem ook nie meer n kind nie”.

So het ek nog nooit daaraan gedink nie, moet ek eerlik wees. Ek geniet my lewe soos dit is maar nou maak die meisiekind iets in my wakker en ek glo sy gaan n antwoord van my verwag.

Dit is nou my beurt om met stomheid geslaan te wees en dan antwoord ek eerlik: “Cindy ek het nog nooit so daaraan gedink nie”.

Cindy het nou die onderwerp aangeroer en kom ek agter sy is nie van plan om te los nie. Met fyn diplomasie nader sy my: “Voordat ek en Aletta in jou lewe gekom het en nou met ons in jou lewe, watter lewe verkies jy”.

Sy het my en ek moet eerlik wees, my hele lewe het verander en ek kan my nie meer die lewe sonder hulle voorstel nie: “Cindy ek moet eerlik wees ek verkies dit soos dit nou is”, trap ek in die slagyster.

Dit besef ek te laat toe sy my vra: “Melt waarom sien jy dan nie vir Cindy, die vrou, raak nie. Moet ek dan die res van my lewe net jou sekretaresse en jou maatjie wees”.

Ek het nie woorde nie en swyg tot sy weer vra: “Antwoord my Melt of moet ek my bedanking indien, jou afskryf en vir my iemand anders gaan soek”.

“Sy het my”, dink ek en dit is toe wat ek besluit dat ek haar nie wil verloor nie, te hel met my idée oor kantoor romanses, ek wil haar nie verloor nie, ek het haar lief.

Ek draai haar gsig na myne toe en dan antwoord ek haar terwyl ek diep in haar oë kyk: “Cindy ek wil jou nie verloor nie, jy is te deel van my lewe”.

“Is dit al Melt. Is Cindy net iemand wat deel is van jou lewe omdat jy haar nodig het? Wel Melt ek het nuus vir jou. Maandag sal jy my bedanking op jou lessenaar kry’. En met die staan Cindy op en begin na haar handsak soek om haar sleutels te kry.

Ek besef sommer dadelik dat hier nou moeilikheid is en dat die meisiekind nou in n slegte emosionele toestand is en ek wil nie hë dat sy moet ry in hierdie toestand nie.

“Cindy, asseblief bly nog so n rukkie, jy kan nie nou ry in hierdie toestand nie. Kom sit hier by my dan vertel ek jou iets wat jou hartjie baie bly sal maak”.

Sy kyk my groot oog aan maar kom sit tog weer op die bank langs my en kyk my vraend aan.

“Cindy ek het jou lief uit my hart uit, dit is hoekom ek jou nie wil verloor nie. Ek wou dit nog nooit vir jou sê nie maar ek het jou lankal lief maar my beleid oor kantoor romanses het my gekeer om dit vir jou te sê”.

Cindy skud haar kop: “Melt ek het jou ook lankal lief, dis hoekom jy elke oggend blomme op jou lessenaar kry. Ek het net besluit dit is nou of nooit, ek wil meer tussen ons hê of ek vat my goed en loop. Ek wil ook trou en kinders hê en ek stel nie belang daarin om n verstokte oujong nooi te word nie. Met jou op die toneel is my kanse nul want almal dink ons is n paartjie. So, daar kom nou meer tussen ons of dit is n algehele breuk”.

Ons kyk mekaar diep in die oë en dan gebeur wat tussen alle verliefde mense gebeur as hulle hulle liefde vir mekaar ontdek. Ek neem haar in my arms en soen haar, warm en passievol. Haar lippe gaan oop onder myne in n warm liefdeskus wat die bloed soos resiesperde deur my are laat jaag. Sy kreun van tevredenheid en dan breek sy weg maar haar lyf bly warm en styf teen myne.

“Cindy sal jy van nou af my meisie wees”, vra ek.

“Ja Melt ja ek sal jou meisie wees maar ek wil dit ook nie vir ewig wees nie. Ek wil met jou trou en jou vrou wees meneer”, en dan vlei sy styf teen my vas, gelukkig en tevrede. Ek dink as sy n kat was het sy nou gespin.

Skielik begin dit ruis buite, dit het begin reën, en sommer met mening ook. Cindy kyk my groot oog aan: “O aarde Melt, hoop nie dit reën te lank nie want dan is ek vasgekeer hier by jou vannag”.

Asof ek sou omgee maar ek neem haar net in my arms en dan volg die volle passievolle soen wat ons albei met volle oorgawe geniet tot sy uitasem wegbreek.

“Stadig Melt, jy soen my op of probeer jy nou al die verlore maande se soene opmaak. Nie my skuld dat jy geslaap het nie, kom ons gaan maak n bietjie koffie voordat ek huis toe gaan”, kom dit uitasem van haar.

Met die woorde staan sy op, trek my op en stap ons kombuis terwyl dit al harder begin reën. In die kombuis sit sy die ketel aan en loer ek deur die kombuisvenster. Duidelik gaan dit nou vir die nag reën en draai ek om na haar toe waar sy besig is om koffie en suiker in ons koppies te gooi.

“Cindy ek wil nie spoke opjaag nie maar ek dink nie jy sal in hierdie reën kan huis toe gaan nie. Jy gaan vasreën hier by my vannag want ek gaan nie toelaat dat jy in hierdie reën ry nie. Gelukkig kan jy in die spaarkamer slaap en ek belowe jou wolf sal jou nie vang nie”, deel ek haar met n breë glimlag mee terwyl sy die kookwater in ons bekers gooi.

“Aarde Melt kom ons drink ons koffie en kyk dan op dit nie ophou reën nie. Ek het nie slaapklere of niks hier nie, nie eers n tandeborsel nie”, antwoord sy my.

“Sal maar vir jou iets leen om in te slaap en daar is n nuwe tandeborsel in die badkamer maar ry in hierdie reën gaan jy beslis nie. Bel net jou ouers en sê hulle jy slaap hieroor, anders bekommer hulle hulle dood”, is my antwoord en daarmee word die sakie beklink.

Ek leen vir haar een van my ou hemde om in te slaap en nadat sy tande geborsel het en gaan stort het word ek vurig voor die kamerdeur nag gesê en gaan slaap ons. Albei van ons weet dat daar vir ons n nuwe toekoms wag.

Saterdag oggend moes Cindy seker lank voor my wakker geword het want die eerste wat my inwag toe ek uit droomland uit ontwaak is Cindy wat voor my bed staan met n koppie stomende koffie, klaar aangetrek.

“Opstaan luiaard”, is haar eerste woorde terwyl sy die koffie op my bedkassie neersit. Haar beloning is n vuurwarm soen en bespreek ons wat ons die res van die naweek gaan doen, ons is mos nou n paartjie sien.

Ons besluit om eers na haar ouers toe te gaan en hulle die nuus mee te deel en dan na ma Aletta toe om haar te vertel.

My verassing is groot toe ek klaar gestort en aangettrek het, n heerlike ontbyt van spek eiers en roosterbrood en ek vertel Cindy onomwonde dat ek nogal hieraan kan gewoond raak, sy mag maar elke naweek kom.

“Jy mag mos maar elke naweek hier kom kuier om my so te bederf”, waag ek dit.

“Nee wag bietjie Melt, my ouers sal dit nooit toelaat nie en buitendien gaan die mense gou begin skinder. Ek is seker nog bietjie ouderwets maar laasnag was n noodgeval maar as jy soet is sal ek so af en toe n naweek by jou oorbly”, is haar skalkse antwoord.

Ons kuier die heel dag heerlik saam. Gaan loop langs die strand, eet by n strandkaffe, luister musiek en toe ons weer sien is n heerlike dag wat ons albei intens geniet het verby en word dit tyd vir haar om huis toe te gaan.




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van neels

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 151
    Kommentaar telling: 1102

    Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 64 gaste aanlyn