Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ALLETTA BOONZAAIER HFSTK 3

Deur neels
Datum gepubliseer: 15 Julie 2017 Aantal woorde: 2093 76 Kere gelees 2

HOOFSTUK 3

“Ek is eintlik n plaasmeisie Melt, daar van Jansenville se wêreld waar my ouers met Angoras en skape geboer het. Soos jy my vanoggend vertel het hoe jy sorgeloos en gelukkig groot geword het kan ek dieselfde sê van my jongmeisie dae op die plaas. Saam met my ouer broer was ons gelukkig en het ek tot in st 5 op Jansenville skool gegaan. Elke dag met die skoolbus gery en soos enige normale plaaskind n normale lewe gelei”.

Aletta swyg n paar oomblikke en dan trek daar so n veraf uidrukking deur haar oë voor sy aangaan: “My broer is so twee jaar ouer as ek en is hy in st 6 kosskool toe op Uitenhage. Ek het twee jaar later gevolg toe ek moes hoërskool toe gaan waar ek ook soos enige hoërskoolkind n normale lewe gelei het tot in st 9”.

Weer swyg Aletta en dan gaan sy aan: “Melt toe ontmoet ek vir Lukas een aand op n sokkie. Met sy deurmekaar bruin kuif, nes jy, het hy my voete onder my uitgeslaan.
Ons het gekys, soos hulle dit daardie dae genoem het en het ek baie lief vir hom geword”

“Lukas was n jaar ouer as ek en in matriek en dit was teen die einde van die jaar wat die liefde tussen ons te ernstig geword het en ons te ver gegaan het”

Aletta kom sit langs my en dit is asof iets my waarsku dat hier nou iets aan die kom is wat sy nog altyd alleen in die lewe dra en dat dit nou moet uit want dit verteer haar.

Sy sit haar kop tussen haar hande en toe kom dit: “Melt tydens daardie Desember vakansie het ek dit geweet, ek is swanger”.

Sy gaan dadelik aan: “Ek moes my ouers vertel maar ek het geweet dat dit vir hulle n groot skok gaan wees. Jy moet onthou daardie dae was dit anders as vandag, n swanger skoolmeisie was n absolute skande”.

Ek kan sien hierdie ontboeseming is nie vir haar maklik nie en wys ek vir haar sy moet bly sit terwyl ek opstaan.
Ek stap kombuis toe en gaan deel die laaste van die KWV tussen ons twee, gooi ys in en bring dit sitkamer toe waar ek hare vir haar gee.

Sy kyk my met dankbare oë aan en dan gaan sy aan: “Melt die aand toe ek hulle vertel het was daar n verskriklike rusie en is ek uitgeskel vir alles wat laag en gemeen is Die verskriklike skande wat ek nou oor hulle gebring het is sonder ophou ingevryf. Die predikant en die welsyn is ingeroep en is daar tussen hulle besluit dat ek na n tehuis vir ongehude moeders in Port Elizabeth moet kom”.

Iets pla my en ek hou my hand op en vra: “Aletta en die pa van jou kind, is hy nie in die geval betrek nie”.

Aletta se oë is blink van die trane en ek vat haar hand in myne om haar te ondersteun.

Sag antwoord sy: “My ouers het Lukas du Toit se ouers gaan sien maar is daar duidelik ooreengekom dat hulle nie Lukas se universiteitsloopbaan, hy wou vir n dokter gaan leer, gaan kortknip om met my te trou en pa te wees vir sy kind nie. Vir hulle was n tehuis vir ongehude moeders en aanneming die ideale uitweg”.

Aletta druk my hand eintlik seer as sy verder vertel: “Melt die bitterste was die dag toe die welsyn my op die plaas kom haal het

My pa se afskeidswoorde het in my ingebrand tot vandag toe: “Ek wil jou nooit weer sien nie Aletta. Hierdie skande wat jy oor hierdie huis gebring het is onvergeeflik en van vandag af het ons nie meer n dogter nie. As jy uit die tehuis kom kan jy maar in een van die bordele in die stad gaan werk want dit is waar jy hoort”.

Ek het in trane uitgebars en vir my ma gekyk. Die harde uitdrukking in haar oë was genoeg om my te oortuig dat sy saam met my pa stem, my broer, Gert, was nie daar nie, hy het gaan bokke dip”.

Aletta vee die trane af en in my hart kry ek haar innig jammer. Voor ek myself kon keer neem ek die glas uit haar hand uit, sit dit op die tafel neer en druk haar styf teen my vas met die gedagte: “Hierdie vrou is deur n hel wat sy haar hele lewe deur nog alleen dra en dit het nou te veel vir haar geword”.

Met haar kop op my skouer vertel sy verder: “Daardie ses maande in die tehuis was seker die eensaamste in my lewe. Ek het nagte omgehuil en ek wou nie my ongebore kind afgee nie maar ek het nie n sê gehad nie, heel anders as vandag”

Aletta sit weer regop, neem n slukkie uit haar glas uit en gaan aan: “Toe my kind gebore is is hy dadelik weggevat, ek was nie eers toegelaat om hom te sien of vir n oomblik teen my vas te druk nie, ek het net van n jammerhartige suster gehoor dat dit n seuntjie was”.

Ek val Aletta nie in die rede nie alhoewel vrae in my kop begin ontstaan en sy gaan aan met vertel: “Melt toe het hulle vir my werk by “Global Shipping” gekry danksy ou meneer Vorster, dit is nou ons huidige baas, Andries, se pa. Ons was toe nog in die ou kantore by die hawe maar saam het ons hard gewerk en met Andries later by, het ons Global Shipping gebring waar hy vandag is”.

Ek kan nie meer my nuuskierigheid inhou nie en vra: “Die pa van jou kind en jou ouers Aletta, het julle nooit weer kontak gehad nie?”

Aletta kry so veraf uitdrukking in haar oë: “Nee Melt, ek het hom probeer kontak maar hy het nie gereageer op my brief wat ek vir hom geskryf het nie. Of hy dit gekry het weet ek nie. Ek het later gehoor dat hy oorsee gaan verder studeer en werk het. My ouers het my kort en kragtig laat weet dat ek hulle nie moet kontak nie”.

Aletta neem weer n slukkie en sit dan haar glas neer: “En nou Melt gaan ek jou vraag waarom ek nooit getroud is nie beantwoord”.

Aletta vat weer my hand in hare: “Melt ek het nagte omgehuil oor my kind wat ek moes afgee. Ek het net gevoel dit sal nie reg wees om te trou en n deel van my is êrens in hierdie wêreld nie want ek het geweet ek sal my kind altyd mis en na hom verlang. Snags het ek gewonder waar is hy en word hy goed deur sy nuwe ouers versorg.

Op sy verjaarsdae het ek maar sy verjaarsdag alleen gevier en ek het besluit ek gaan hom soek. Daar het jy jou antwoord hoekom ek nooit getrou het nie Melt. Ek sou nooit my volle aandag aan my huwelik sou kon gee nie”.

Daar kom hang n swaar stilte tussen ons maar ek kry die gevoel dat hierdie storie nog nie klaar is nie maar dat Aletta ernstig wyfel of sy moet aangaan.

“Het jy nooit jou seun opgespoor nie Aletta”, vra ek.

“Nee Melt nooit, en toe, sewe jaar terug stap jy my kantoor in vir n onderhoud met Andries. Ek het my lam geskrik want vir n paar oomblikke het ek Lukas du Toit in sy jong dae voor my sien staan”.

“Melt toe ek sien dat jou geboortedatum dieselfde as my seun is het ek gedink, kan dit was dat my jarelange soektog tot n einde gekom het”.

Ek word lam en skielik bang, waarop stuur hierdie vrou af. Ek is tog nie n aangenome kind nie.

Aletta staan op en gaan sit op die stoeltjie voor die orrel, so asof sy nou skeiding tussen ons wil bewerkstellig.

“Melt ek het begin speurwerk doen en dit het n tydjie gevat voordat ek agter die waarheid gekom het. Ek het die maatskaplike werkster opgespoor wat detyds met die saak gewerk het, oud en afgeleef. Sy het erken dat my seun deur Jan en Annetje du Preez aangeneem is en toe het ek seker so twee jaar terug geweet, jy is my seun wat ek al die jare gesoek het”.

Ek voel ek word lam, my verstand weier om te glo wat ek nou gehoor het, my hele wese kom in opstand. Sy staan op en stap die sitkamer uit om n paar oomblikke later met n ou foto terug te keer wat sy woordeloos aan my oorhandig. Ek voel ek word nog lammer, ek kyk na my ewebeeld van n paar jaar terug.

Woordeloos gee ek die foto vir haar terug en gaan sit sy weer op die stoel voor die orrel met n pleit en n onsekere afwagting in daardie grys oë.

Die eerste vraag wat in my gedagte kom is as hierdie vrou die waarheid praat waarom het my ouers my nooit gesê dat ek n aangenome kind is nie en waarom het Aletta my nie twee jaar terug al vertel nie.

Aletta trek haar asem in: “Melt ek is die vrou wat jou nege maande in haar liggaam gedra het en die lewe aan jou geskenk het. Jy kan nou opstaan en hier uitloop, ek sal jou nie kwalik neem nie, ek sal verstaan”.

Dan is dit of ek kalm raak: “Aletta dit is nie so eenvoudig nie. Ek wil by my ouers weet waarom hulle my dit nooit vertel het nie, en van jou wil ek weet waarom het dit jou twee jaar geneem om my dit te vertel”.

“Ek was bang Melt. Vir my was dit genoeg om jou op kantoor te sien. Ek was bang jy verstoot my en toe jy my Vrydag daardie vraag vra het ek besluit dit is tyd dat die waarheid na vore kom. As jy my wil verstoot dan is dit jou reg om dit te doen”.

Weer kom hang daar n swaar stilte tussen ons. Deur die venster sien ek dat dit aand se kant word en besef ek dat ek n besluit sal moet neem en dat daardie besluit n groot invloed op almal se lewens gaan hê. Op hierdie stadium kan net my ouers bevestig of ek wel n aanneem kind is en dit is net daar wat ek besluit ek gaan Ashton baai toe, ek wil die waarheid by hulle hoor.

Ek staan op: “Aletta ek gaan nou Ashton baai toe. Ek wil met my ouers gaan praat en hulle kan sekerlik bevestig of dit die waarheid is”.

Vir n paar oomblikke dink ek en dan vra ek Aletta: “Is jy bereid om saam te gaan Aletta en jou kant van die storie te vertel”.

My gedagte is dat as sy nie die waarheid praat nie sy nie sal wil saamgaan nie maar dan antwoord sy my: “Ja Melt ek sal saam gaan want ek is dit aan julle verskuldig. Gee my net kans om my handsak te gryp dan kan ons gaan”.

Ashtonbaai toe moet ons deur die stadsverkeer nadat ons die dertig kilometer vanaf Despatch na die stad toe afgelê het en dan is dit so n halfuur langs die see tot op Ashtonbaai nadat jy deur die stad is.

Ons praat nie veel oppad nie en begin ek my gedagtes orden en vra ek algemene vrae soos wat haar ouers en broer se name is. So hoor ek van Koos en Susan Boonzaaier en dat haar broer se naam Gert is. Sy vertel my dat haar ouers reeds oorlede is maar dat sy deur haar broer verbied is om hulle begrafnis op die familieplaas by te woon.

Terwyl ons deur die stad ry sien ek onder die straatligte so uit die hoek van my oog dat sy die hele tyd ingedagte na buite staar en dan los sy nog n bom onder my: “Melt ek moet jou sê dat Cindy Cloete Gert se vrou, Colleen, se jonger suster is. Sy weet wie ek is en dit is hoekom ek so aangedring het dat jy haar aanstel. Ek dink dit is sy wat my ook finaal laat besluit het om jou te vertel dat ek jou biologiese ma is”.

Ek antwoord haar nie en in stilte verlaat ons die stad vir die laaste deel Ashton baai toe.

My gedagte is heel deurmekaar en voel ek boonop half skaam dat ek Aletta ooit kon verdink het dat sy in my n katelknapie sien.




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van neels

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 164
    Kommentaar telling: 1104

    Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 13 gaste aanlyn

    Bydrae Totale