Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ALLETTA BOONZAAIER HFSTK 2

Deur neels
Datum gepubliseer: 11 Julie 2017 Aantal woorde: 1877 57 Kere gelees 3

HOOFSTUK 2

Ek is vroeg oggend wakker en besluit ek om bietjie op die strand te gaan stap. Vinnig in n kort broek en n hemp in stap ek die entjie strand toe om die sons opkoms oor die see te gaan geniet.

Ek het n gunstelingplekkie op die strand en ek is net betyds om die son oor die horison te sien kop uitsteek en deur die wolke op die horison te sien breek. Die opkomende son se strale tooi die lug in rooi en ek drink elke oomblik van hierdie pragtige sonsopkoms in.

Daar is n ligte windjie wat waai en die koel seelug teen my vaswaai terwyl die golwe aanrol strand toe en die branders met n gedreun oor die strand breek, die water opstoot en dan terugtrek.

Die seeumeeue begin oor die water jaag op soek na prooi en ek bemerk n albatros wat hoog in die lug draai.

Hierdie pragprentjie word afgerond deur drie skepe wat op die horison hulle beurt in die hawe afwag.

Ek sit seker maklik twee ure daar en dan besef ek dat ek moet gaan klaarmaak vir my besoek aan juffrou Boonzaaier, en keer die tergende vraag van haar uitnodiging terug na my toe. Dit is of ek aanvoel dat hierdie n dramatiese besoek gaan wees wat my lewe drasties gaan verander en ek is bang daarvoor.

Toe ek by die huis kom gaan stort ek en maak gereed vir die dag. Dit is so nege uur toe ek pad vat Despatch toe, sowat dertig kilometer verder en langs Uitenhage. Met die hulp van my GPS is ek halftien in die straat waar sy bly. Dit is n ouer deel van Despatch en soek ek nie lank na haar huis nie.

Toe ek voor haar huis stop drink ek die beeld van haar huis eers in voor ek uitklim. Dit is n ou huis maar baie netjies. Voor die huis het sy n pragtige blomtuin en word die erf omring deur n lae muur.

n Hele twintig minute voor afspraaktyd maak ek die Land-Rover se deur oop, vat die mandjie met die bottel KWV in die hand en klim uit.

Toe ek die voorhekkie oopstoot gaan die voordeur oop en staan juffrou Boonzaaier in die deur om my te verwelkom.

Mense wat n prentjie. Sy het haar hare losgemaak en tuimel hulle op haar skouers neer. Geklee in n vrolike bont rooi rokkie met geel blomme daarop, wat die lyne van haar ferm figuur beklemtoon, lyk sy nie n dag ouer as so dertig nie.

Sy wag op die stoep vir my met n warm glimlag en verwelkom sy my: “Baie welkom hier by my Melt. Ek wil dat jy die dag saam met my geniet en terloops my naam is Aletta”.

Ek antwoord toe ek by haar staan: “Ek glo ons gaan lekker kuier Aletta” en met die stap ons die huis in. Sy vat die mandjie uit my hand uit en stap ek agter haar aan na haar kombuis toe waar sy die mandjie op die tafel neersit en die bottel uithaal om dit in die yskas te sit. Terwyl sy die bottel in die yskas sit dwaal my oë deur die kombuis, klinies netjies met alles wat n vrou se hart kan begeer.

Teen die muur hang n elektriese horlosie en aan die een muur n klompie outydse panne en kombuis gereedskap bokant die stoof.

Sy beskou die bottel: “Mmmm my gunsteling. Ek hou van so n brandewyntjie op ys”.

“Kom ons gaan sit n rukkie in die sitkamer Melt, ek het vir ons bietjie slaaie gemaak en n stukkie vleis gemarineer wat jy nou nou vir ons kan braai”.

Ek knik my kop en stap saam met haar sitkamer toe. Dit is n klein vertrekkie maar smaakvol gemeubileer. Teen die mure hang twee groot landskap skilderye en uit haar musieksentrum vloei die sagte klanke van instrumentale musiek. Daar is ook n vertoonkas en n televisiekabinet en n orrel wat in die een hoek staan. Dit is toe ek in n stoel wil gaan sit wat Aletta my vra om langs haar op die bank te kom sit en dit maak my kop heel deurmekaar, laat my amper ongemaklik voel, het sy regtig romantiese planne met my wonder ek weereens.

Sy merk op dat ek vir die orrel kyk en dan glimlag sy n warm glimlag vir my: “Ek speel baie keer as die eensaam en alleen my vang bietjie orrel vir myself. As jy wil kan ek later vir jou n stukkie speel. Ek speel graag van ons ou Afrikaanse liedere”

“Dit sal wonderlik wees, ek is versot op ons ou Afrikaanse kunstenaars soos Ge Korsten, Virginia Lee en sommer baie ander”, antwoord ek terwyl ek in daardie staalgrys oë van Aletta Boonzaaier kyk.

Dit breek die ys tussen ons en stel Aletta voor: “Melt, die Boeing is mos al oor. Kom ons gaan gooi vir ons elkeen n brandewyntjie en dan kan ons mos lekker gesels”.

Ek staan saam met haar op en stap ons kombuis toe waar sy twee glase uithaal, die bottel uit die yskas uit en dan ons glase pak met ys. Sy gooi woordeloos vir ons elkeen n dubbel in en is ons, glase in die hand terug sitkamer toe waar ek weer langs haar op die bank gaan sit.

Ons klink glase en dan vra Aletta my terwyl sy haar hand n paar oomblikke liggies op my been laat rus: “Melt vertel my meer van jou. Van jou kinderjare, jou studentejare ag sommer alles want ek wil alles van jou weet”.

Dit is toe ek in Aletta se oë kyk wat ek skielik die gevoel kry dat hier n onverklaarbare band tussen my en hierdie vrou is en dat ek vandag gaan uitvind wat dit is.

Ek neem n slukkie en dan antwoord ek haar: “Ag wat Aletta, daar is nie veel om te vertel nie. Ek is maar n doodgewone ou wat in n spoorweghuis hier in New Brighton groot geword het.

My pa was n treindrywer en my ma was maar al die tyd n huisvrou. Na skool het hulle my universiteit toe gestuur omdat hulle geglo het ek moet verder gaan studeer”.

Ek neem weer n slukkie: “Nadat ek klaar gestudeer het het ek by Global Shipping begin werk en dit is waar ek maar nog al die tyd is”.

Ek kom dadelik agter dat Aletta nie hiermee gaan tevrede wees nie en terwyl sy opstaan sê sy vir my: “Kom ons gaan kry daardie vuur aan die gang. Die braaier staan hier op die agterstoep en dan kan ons daar gaan sit terwyl jy my baie meer van jou vertel”.

Ek staan ook op en volg haar kombuis toe. Op die agterstoep staan die braaier en alles wat nodig is vir die vuur netjies gereed gemaak. Terwyl ek by die braaier doenig raak gaan sit sy by die tafel en vra ek haar: “Wat wil jy nog weet Aletta”.

Aletta kruis een been oor die ander waar sy sit, neem n slukkie en dan vra sy: “Alles Melt alles. Vertel my van jou ouers, van jou meisies jou streke op universiteit, ek wil alles weet” vra sy terwyl sy aan my raak en ek in haar oë kyk waar duisende duiweltjies ronddans.

Haar warm glimlag en seker die brandewyn ook maak die atmosfeer gemoedeliker en begin ek vertel terwyl sy aan my lippe hang. Ek vertel haar van my ouers, ma Annetjie en pa Jan, my universiteitsdae, en kort kort raak sy aan my en sorg dat ons glase vol bly. Ek moet erken ek begin die besoek al meer saam met haar geniet.

Met die vleis amper klaar gebraai verdwyn sy in die kombuis in om vir ons te gaan tafel dek nadat sy vir my n pan gegee het om die vleis in te sit. Toe ek in die kombuis kom met die vleis is sy klaar tafel gedek en is dit toe ek die vleis op die tafel neersit wat sy haar arms om my sit en my teen haar vasdruk.

“Melt ek geniet elke oomblik saam met jou. Ek voer maar n alleen lewe hier en dit is heerlik om die dag saam met jou deur te bring”.

Ek druk haar ook teen my vas: “Dit is vir my ook lekker Aletta, “antwoord ek haar en druk my gesig so n oomblik in haar hare in wat vir my heerlik ruik.

Sy los my en maak die yskas oop om die slaaibakke uit te haal. Dat sy baie moeite gedoen het sien ek dadelik. Daar is n mengelslaai, wortelslaai koolslaai, aartappelslaai, beetslaai en dit is alles kunstig versier.

Ek sit ons skaaptjoppies in met die tang en sy skep ons slaaie in, vir my hopeloos te veel maar aan die ander kant ek is so honger soos n wolf.

Ons gaan sit teenoor mekaar, weerskante van die tafel, en dan stoot sy haar hand oor die tafel: “Melt sal jy vir ons dank asseblief”, vra sy met haar hand in myne.

Ek voldoen aan haar versoek en tydens ete vertel ek haar nog meer van my. Dit is eers toe ons klaar ge eet het wat ek besef dat sy nou alles van my af weet maar ek weet net mooi niks van haar af nie maar stilswyend staan ons op, pak die skottelgoed in die wasbak en help ek haar gou opwas en wegpak. Die oorskietslaai gaan yskas toe maar van die vleis is niks oor nie.

“So ja, nou is ons magies vol Melt en nou kan ons sitkamer toe vertrek. Ek gaan vir jou bietjie op die orrel speel en dan is dit tyd dat ek my belofte teenoor jou nakom en jou meer vertel van my”.

In die sitkamer gaan sit ek weer op die rusbank en Aletta neem voor die orrel plaas.

Die eeste nommer wat sy vir my speel is een van my groot gunstelinge, Algoabaai van Ge Korsten. Dit is of sy in vervoering raak en gly die betowerende klanke van die een treffer na die ander onder haar vingers uit die orrel uit.

Aletta speel seker n hele uur lank en voer sy my heeltemal weg met haar pragtige orrelspel. Die laaste note van “hier is n mens” sluit haar konsert vir my af en raak dit stil.

Sy draai om die orrelstoel om en kyk lank vir my voor sy met my praat: “Melt ek het belowe ek sal sal jou vertel waarom ek nooit getroud is nie en dit is wat ek nou gaan doen, ek hoop net vuriglik dat ek jou nie gaan skok nie”.

“Liwe Vader ek hoop net nie sy gaan my nou vertel dat sy verlief op my is nie want dit gaan hierdie hele dag bederf”, dink ek by myself.

Dit is mos deesdae die inding, ouer vrouens wat jonger mans aanskaf vir n katelknapie en ek sien vir baie dinge kans, maar om n ouer vrou se katelknapie te word klink darem nou nie vir my reg nie. Boonop het ek nog altyd n baie hoë dunk van Aletta Boonzaaier gehad en in my wildste drome kan ek myself nie indink om haar katelknapie te word en nog saam met haar te werk nie.




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van neels

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 164
    Kommentaar telling: 1104

    Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 51 gaste aanlyn

    Bydrae Totale