Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ALETTA BOONZAAIER HFSTK 1

Deur neels
Datum gepubliseer: 8 Julie 2017 Aantal woorde: 1664 94 Kere gelees 5

HOOFSTUK 1

Hier waar ek in my kantoor sit kan ek voel al die onderhoude voer die oggend om vir my n nuwe ontvangsdame/sekretaresse te kry het my uitgeput en moeg gemaak. Ek is al deur snaakse dames vanoggend maar kan nie werklik een kry wat in my smaak val of die vereiste kwalifikasies het nie.

Ek besluit om eers n breuk te vat en dan aan te gaan met my werk want ek glo ek is deur al die kandidate vanoggend. Vanmiddag moet ek saam met juffrou Boonzaaier, die baas se sekretaresse, wat hy vir my geleen het terwyl hy op verlof is, deur die aansoeke gaan en besluit wie ons gaan aanstel.

Die telefoon lui en toe ek antwoord is dit juffrou Boonzaaier: “Melt hier is nog n kandidaat vir die pos. Kan ek haar maar instuur, ek dring daarop aan dat jy met haar n onderhoud voer?”

Ek antwoord bevestigend want as juffrou Boonzaaier sê maak so, dan maak jy so, want naas die baas is haar woord wet hier.

Vir haar 48 jare is sy eintlik n mooi vrou en het n lyfie wat menige matriek dogter hulle naels sal laat kou van jaloesie. Daardie lyfie is ook genoeg om menige man gedagtes te laat kry en ekself het ek al gewens ek is so twintig jaar ouer. Sy sou dan beslis nie n oujongnooi gewees het nie, dit belowe ek julle.

Die deur gaan oop en juffrou Boonzaaier stap saam met die mooiste blondekop die kantoor binne.

Sjoe mense maar sy is mooi. Met daardie tuimelende blonde hare en fietse lyfie is sy genoeg om menige man se hartsnare te roer. In teenstelling met baie van die dames wat vanoggend al in hierdie kantoor was het sy duidelik voorbereid gekom en is sy ook in n netjiese baadjiepak geklee.

Ek staan op en stap om my lessenaar en stel juffrou Boonzaaier ons voor: “Melt dit is juffrou Cindy Cloete, en dit is Melt du Preez vir wie jy gaan werk as ons sou besluit om jou aan te stel”.

Ek het haar hand met n, “Aangename kennis”, en toe gebeur dinge. My bene word lam as ek in daardie groot blou oë kyk en ek hou haar hand hopeloos te lank vas voordat ek beduie hulle moet gaan sit. Met die vorige onderhoude het Juffrou Boonzaaier geloop maar met Cindy besluit sy om te bly en toe weet ek, hier kom n ding.

Juffrou Boonzaaier val ook dadelik weg: “Melt ek het klaar met juffrou Cloete gesels en na haar kwalifikasies gekyk. Daar in die koevert sal jy al haar dokumente kry as jy daarna wil kyk. Sy voldoen aan al die vereistes, is ongetroud en bly by haar ouers. Sy was in die in en uitvoer besigheid en het dus ondervinding ook. Ek sal graag wil hê dat jy haar aanstel want ek glo sy is die regte een vir die pos”.

Ek kyk vinnig deur haar kwalifikasies en vir my is dit die beste van almal wat al vanoggend hier was se kwalifikasies.

Ek sit dit terug in die koevert en kyk vir juffrou Boonzaaier: “Reg juffrou Boonzaaier, jy kan maar die nodige aanstellings dokumente uitmaak dat ek dit kan onderteken. Wanneer kan juffrou Cloete begin”, en met die staan ek op, die onderhoud is, wat my betref, afgehandel.

Juffrou Boonzaaier en juffrou Cloete staan op en weer kry ek daardie lam gevoel toe Cindy haar hand uitsteek: “Dankie meneer. Ek sal Maandag oggend hier wees want ek het reeds klaar gemaak waar ek was. Meneer kan verseker wees ek sal net my beste gee”.

Met die verlaat hulle my kantoor en met die sakie afgehandel kan ek nou aangaan met my werk. Ek is nog besig om n paar dokumente te onderteken toe juffrou Boonzaaier die deur oopstoot en Cindy se aanstellings dokumente voor my plaas om onderteken te word voor dit deurgaan personeel toe.

Wat my besiel het om die vraag te vra toe sy omdraai en terug beweeg deur toe weet ek nie maar toe vra ek: “Juffrou Boonzaaier, mag ek vra hoekom is jy nooit getroud nie? Jy is n mooi vrou en ek kan nie glo dat mans nie in jou belang gestel het nie”.

Juffrou Boonzaaier steek vas en dan draai sy stadig om. Nou weet ek, sy gaan my teer en veer omdat ek my neus in haar privaat sake druk. Sy stap terug en kom sit in stil voor my lessenaar terwyl sy my indringend aankyk met daardie diep grys oë van haar.

Dit is of daar trane in haar oë kom en dan huiwer daar so n ligte glimlaggie om haar mondhoeke en toe verras sy my met n versoek: “Melt, dit is more Saterdag. Kom kuier vir my vir en dan sal ek jou die hele storie vertel. Ek bly in Despatch en sal my adres vir jou sms. Sorg dat jy so tienuur daar is en as jy iets te drinke wil saambring is jy welkom. Daar is n braai roostertjie ook en kan ons n vleisie braai want ons gaan die hele dag kuier. Dalk kan jy my dan ook vertel waarom jy op dertig jarige ouderdom ook nog nie getroud is nie”

Ek het eintlik ander planne vir die Saterdag gehad soos bietjie gaan golf speel of te gaan visvang maar in my gedagte kanselleer ek al daardie planne want ek is nou nuuskierig om uit te vind wat juffrou Boonzzaier se geheim is.

Vieruur besluit ek ek het nou genoeg gehad en dat ek gaan loop. Toe ek by juffrou Boonzaaier se lessenaar verby gaan groet ek haar en herinner sy my aan Saterdag se afspraak: “Sien jou dan more so tien uur se kant Melt”.

“Mooi aand vir jou jufrou Boonzaaier”, groet ek haar en stap parkeer garage toe om my Land-Rover te kry en te verkas huis toe waar ek in stilte my gedagtes in orde kan kry. Op pad huis toe koop ek n bottel 3 jaar KWV want ek het n idée ek gaan dit more nodig kry. Ek koop ook vir my Kentucky want ek is niks lus vir kosmaak vanaand nie, ek wil net rustig ontspan daar in my nessie.

Ek bly in n twee slaapkamer woonstel in Blue Water Bay, langs die Swartkops rivier. Die woonstelletjie het twee slaapkamers, kombuis, en n eet/sitkamer. Nie watwonders groot nie maar vir my heel gerieflik en lekker naby die strand.

By die huis gekom verober ek vinnig die Kentucky en gooi daarna vir my n stywe dop KWV in. Ek druk n laserskyf in die speler, klassieke musiek wat ek baie lief voor is en gaan sit in my Lazy boy om in n dinkskrum in te sak en alles van hierdie dag te probeer verwerk.

Die enigste kind van Piet en Annetjie du Preez het ek in hierdie wêreld groot geword, skool gegaan en was ek universiteit toe, want my ouers, alhoewel ek streng groot gemaak is, het altyd gesorg dat ek niks te kort skiet nie.

My pa het onlangs afgetree na n jare lange loopbaan as treindrywer op Transnet en my ma was en is nog steeds huisvrou.

Hulle het n aftreehuisie op Ashton baai gekoop en sluit nou hulle ou dag rustig daar, my pa seker meer besig om vis te vang as iets anders. Dit is seker waar my liefde vir visvang vandaan kom en het ek en hy al menige ure saam langs die viswaters deurgebring

My ma aan die anderkant het my n liefde vir klassieke musiek aangeleer en was maar altyd daar, ook al die nagte wat my pa nagdiens op die treine gewerk het.

My gedagtes keer terug na juffrou Boonzaaier. Ek begin wonder waarom sy my uitgenooi het om more die dag saam met haar deur te bring. Sy is op kantoor so n geslote persoon en wat is dit wat haar laat besluit het om haar geheim met my te deel. Waar pas ek in hierdie prentjie in is n vraag wat in my kop maal.

Die volgende gedagte kom by my op. Waarom het sy my half gedwing om Cindy Cloete aan te stel, wil sy nou hier probeer Cupido speel?

Kom ons verstaan mekaar mooi. Ek is nie anti vrou nie en het in my studentedae van die pragtige goedjies op sleeptou gehad. Nadat ek begin werk het was daar ook so een of twee op sleeptou. Dit is net dat ek heel tevrede met my lewe is soos dit is en nie lus is om my lewenstyl te verander en my vryheid prys te gee nie. Ek is dus n selfgemaakte oujong kêrel en weet dat daar op kantoor n bakvissie of twee is wat lam bene kry oor my maar ek stel nie belang nie. Kantoor romanses is in elk geval net moeilikheid in hoofletters gespel.

Na nog so n dubbele KWV besluit ek om n fliek te kyk op TV wat my aandag bietjie besig hou maar toe die my ook begin verveel gaan stort ek en gaan klim in die bed nog steeds aan die wonder oor juffrou Boonzaaier se uitnodiging.

My selfoon het in die kamer gelê en het ek nie die boodskap gehoor deurkom nie en sien ek die sms van juffrou Boonzaaier af toe ek in die bed klim: “Lekker slaap Melt sien jou so tienuur se kant”.

Ek glimlag want nou is my nuuskierigheid eers geprikkel en vir n oomblik wonder ek of sy nie romantiese gedagtes het nie. Ouer vroue met jonger mans is nie meer vreemd nie en neem hulle gewoonlik in so n geval die leiding, maar wat is haar gedagte dan met Cindy.

Seker maar die twee dubbele KWV doppe wat my diep in droomland instuur en my heel romantiese drome laat droom en ek weier om daardie drome te deel. Al wat ek sal noem is dat n blondekoppie deel van daardie drome was en ons saam op die strand was.




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. profiel foto van Okatopi

      Okatopi

      Julie 8, 2017

      Mooi geskryf

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van neels

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 164
    Kommentaar telling: 1104

    Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

    Gebruikers Aanlyn

    2 Lede, 98 gaste aanlyn

    Bydrae Totale