Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: AFSPRAAK in ‘n PARK

Deur Toom
Datum gepubliseer: 31 Julie 2017 Aantal woorde: 785 47 Kere gelees 1

 

AFSPRAAK in ‘n PARK

[Na aanleiding van Neels Claasen se gelyknamige kortverhaal]

Die Duitsers was altyd onder die Hollywood grotes, as daarsteller, regissieur, tegnikus wat in die agtergrond met ligte werk, skrynwerker, toneelskilder – en as draaiboekskrywer. So ene was Curt Götz, wat die draaiboeke van ‘n hele reeks films geskryf het. Daartoe het hy eie werke geskryf, veral toneelstukke en -stukkies. Hy het trots verklaar, hy kon elkeen van sy eenakters in ‘n vollengte toneelstuk omwandel of uitbrei. Dit het hy ook gedoen, en van heelwat van sy stukke is wraggieswaar twee weergawes beskikbaar. Of hy dit met die volgende stukkie gedoen het, weet ek nie. Ek het dit self as eenaktertjie gelees, nie gesien nie.

Sê: Koert Ghûts

Die voorhang gaan op waar ‘n verpleegster ‘n rolstoel by ‘n bankie in ‘n park opstel. Die son kom uit die regte hoek, daar’s plek vir iemand om daar skuins teenoor die ou dame te sit en gesels, haar bene is teen die wind met ‘n wolkombers goed afgedek, haar tjalie dek haar skouers warm toe. „Dankie, Lena. Jy kan my nou alleenlaat.“

Die suster stap regs van die toneel af met haar boek wat sy ‘n entjie verder wil gaan lees. Mevrou het haar toevertrou dat sy na vyftig jare haar jeugliefde weer gaan ontmoet. Hulle ouers was soos by Romeo en Julia daarteen en het hulle uitmekaargeskeur; haar kêrel het weggetrek en êrens anders ‘n nuwe lewe opgebou. Maar nie voordat die tweetjies gesweer het om na vyftig jaar op die datum om vieruur by hierdie bank, onder hierdie boom mekaar weer te ontmoet.

Die dame sit daar en geniet die tere herfssonstraaltjies wat tussen die blare op haar wang val. „Dis nou seker al vier. Of hy gaan kom?“

En daar hoor ons voetstappe van links naderkom.

‘n Man verskyn, ‘n ouere man, goed geklee, met ‘n wandelstok wat hy eerder deur die lug swaai as dat hy daarop stut. Hy slender aan die boom verby, kyk so in die rondte, loer terug op die pad waarlangs hy gekom het, draai om, loer weer in die ander rigting, vorentoe. Hy staan penregop, wydsbeen, en leun dan met altwee hande op die knop van sy kierie. ‘n Struis blomme hang laks tussen die vingers van sy linkerhand. Hy sug en haal sy sakhorlosie uit. „Drie minute na vier. Of sy gaan kom?“

„Soek u iets? Of iemand? Kan ek miskien help?“

„Nee, nee. Is goed so.“

„Ek kom die meeste namiddae hierheen, dis my geliefste plek in die park, en ek ken die meeste mense. Kom u ook dikwels?“

„Nee, nee, ek is nie van hier nie. Nouja, lank gelede het ek hier gewoon. En – u weet hoe dit is – jong mense doen mal dinge en maak verrukte beloftes. Nouja, ek het belowe om ‘n meisie na vyftig jare onder hierdie boom weer te sien. En die vraag is, of sy ooit daaraan gaan dink. Of haar lewe ‘n heeltemal ander koers gevat het. Miskien is sy getroud en het ‘n eie familie, waarskynlik het sy ons belofte al lankal vergeet. Miskien is sy al dood.“

„Maar u het ook seker al getrou? Wat gaan u familie dink . . ?“

„Nee, nee. Ek het teveel na haar verlang. Ek kon nie ‘n ander een trou nie.“

„Ek het ook nie getrou nie . . .“

„Ja, ja, dis nie ons almal beskore nie, maar ek het uit liefde nooit aan ‘n ander meisie eers gedink nie.“

En so stolper hul gesprek vorentoe. Sy nooi hom uit om op die bank te kom sit. Hy is verlore in sy verlange na die neëntien-, twintigjarige meisie van destyds. Hy kom nie op haar naam af nie: „Amalia? Annemarie?“

„Ariane, miskien?“

„Ja, ja. Ariane! Ditsem, Ariane!“

Na ‘n tydjie kyk hy op sy horlosie. „Nou al kwart voor vyf. As sy wou gekom het, was sy al hier.“ Hy staan op, sug, gooi sy blomstruis agtelosig op die bank neer. „Totsiens, Mevrou.“ En hy stap weg in die rigting waar hy vandaan gekom het.

„Totsiens, Meneer.“

Sy wag eers ‘n bietjie, tot sy voetstappe nie meer hoorbaar is nie. „Lena, kom haal my, asseblief,“ roep sy nie alte hardop nie. „Ag,“ sê sy, as die suster kom, „ek vind my blomstruis nie…“

„Ek sien hom, Mevrou. Hy’t op die gras geval. Het u besoek gekom? O, ek sein hier lê nog ‘n struis op die bank.“

„Ja, Lena, hy het gekom. Maar hy het my glad nie eers gesien nie. Hy’t slegs ‘n neëntienjarige meisie gesoek. Dis nie net ek wat blind is nie.“

1e.August2017……..]:o((o;Þ…………..(2015)tje

[Hierdie storie behoort onder die opskrif Verhale wat ek self graag sou wou geskryf het”.]

 




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 142
    Kommentaar telling: 133

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    2 Lede, 103 gaste aanlyn