Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: AFSKEID

Deur Kiekies
Datum gepubliseer: 27 Junie 2017 Aantal woorde: 1410 109 Kere gelees 3

Die tyd het aangebreek. Ons moet besluit hoe ons vir Seuna-kind gaan groet. Nie vaarwel nie, maar tot weder siens. Dis hierdie feit, die weersiens, wat my krag gee om soggens op te staan. Dis hierdie feit wat my die krag gee om sy klere te sorteer. Om te hou wat een van ons kan gebruik en die res in bokse, in die kar te laai. Wat my krag gee om voor Hospice se winkel stil te hou, die bokse in te dra en die dame toe te laat om dit by my te vat. Om dit nie weer uit haar hande te gryp en huis toe te vat, waar ek daaraan kan ruik en voel, nie.

Dis hierdie feit en die wete dat hy nou in vrede en algehele rustigheid, moontlik die skoonheid van silwer waterstrome, waarin goue blinklyf forelle dartel, in die hemel beleef, wat my in staat stel om my trane vir ’n wyle af te droog. Wanneer ek huil, huil nie eintlik oor hy nou dood is nie, maar omdat ek my voorstel hoe moeilik die lewe vir hom was, dat hy geen ander uitweg as sy finale besluit kon vind nie.

Iemand vra my of dit ’n begrafnisdiens of roudiens sal wees. Ek gril heen-en-weer en op-en-af al teen my ruggraat langs. Ek wil gil: ‘Neeeee, ek kan nie my kind verbrand nie. Ek kan dit nie doen nie! !’ Tog het ons as gesin al in die verlede, toe ek nog geglo het so ’n dag sal nooit kom nie, besluit dat ons eerder veras wil word, as wurmkos wees. Ek hoor my stem in die vêrte antwoord: ‘Dit sal verassing wees, maar ons gaan nie ’n roudiens hou nie. Eerder ’n viering van sy lewe. ’n Byeenkoms om afskeid te neem.’

Dis toe dat ek onthou hoe ’n groep vriende, net maande gelede, ons ou vriend by ’n kapel hier naby, gaan groet het. Daardie dag was ek so beïndruk deur die fasiliteite en die diens, dat ek ’n pamflet en besigheidskaartjie geneem het, met die gedagte: ‘Mens weet nooit wie vra of ek van ’n goeie ondernemer weet nie.’ Min het ek geweet dat ek dit self sal nodig kry.

Elke dag ontvang ek ’n horde boodskappe op Facebook. So ook op WhatsApp. Al hoe meer mense laat weet dat hulle die afskeid sal bywoon. Ek vra vir almal om te dink aan dit wat hulle altyd sal bybly van hulle vriendskap met Morgan. Hulle sal by die afskeid geleentheid kry om te vertel. Of as hulle dit aanstuur sal ek dit voorlees.

Die saaltjie huisves gewoonlik net sestig of sewentig mense. Ek besef daar gaan heelwat meer mense wees en maak planne om ekstra stoele uit te pak. Daarvoor moet ons stoele huur. ’n Honderd stoele maak die saal tjok-en-blok vol en ’n klompie ekstra staan in die portaal.

Die huislikheid van die plek laat my besluit dat ons na geen ander groter plek wil gaan nie. Ek laat weet die jong klomp dat die meisies dalk twee-twee op ’n stoel sal moet sit en die manne sal dalk agter moet staan.

Niemand huiwer nie. Vir Morgan sal hulle dit doen. Selfs al moet hulle buite die vensters staan om te luister. Ek vra ook dat vriende wat vir óns ondersteuning daar wil wees, seblief tog eerder aan sy eie vriende, kolegas en ons familie wat wil groet, ’n sitplek sal afstaan. Hulle is ook gewillig.

Teenoor Bokka, spreek ek my wens uit om die onmoontlike te vermag: ‘ek wil self die afskeidsboodskap bring.’ Hy bly stil. Hy dink. ‘Dis goed so. Ek sal self ook iets wil sê.’ Ons harte weet dis die heel laaste taak wat ons ooit, vir Seuna sal verrig. Lollapot sê sy wil ook graag die een-en-ander vertel. Saak afgehandel. Ons het nie ’n predikant nodig nie.

Intussen bewys epos-na-epos, dat daar so baie is wat ons nooit van hom geweet het nie. Twee van sy seniors by die werk, kom vertel ons hoe sy kollegas hom gerespekteer het. Hulle vereer veral sy intense verantwoordelikheid. Hulle het egter nooit geweet waarmee hy wroeg nie. Een van die manne het self ’n seun wat al vier selfdoodpogings oorleef het, met ernstige breinskade tot gevolg. Ek dink: ‘dan kies ek eerder die dood.’

Dit neem baie ure om ’n toespraak te skryf. My konsentrasie is min, my hart is vol, maar woorde ontbreek. Bokka sukkel ook. Daar is soveel onderbrekings. Ons moet ’n kis kies op foto’s wat Avbob Namibië aanstuur. Dokumente moet by Binnelandse sake onderteken word. Ons moet beëdigde verklarings by die polisiekantoor gaan aflê. Net om te verklaar dat ons niks met die dood te doen gehad het nie. Ook nie weet van ’n moontlike eggenoot en/of kind(ers) nie.

Die liggaam moet eers na Keetmanshoop en dan na Windhoek geneem word. Die distriksgeneesheer daar moet die doodsertifikaat onderteken. Soveel dokumente moet eers voltooi word. Elke epos wat begin met ‘BOEDEL WYLE ……’ laat my hart omdop en vars skok ruk ’n gat uit my borskas. My kop sing ’n irriterende lied in die trekkerige kraakstem van ’n Briel-suster. Ek smag na stilte, maar dit is ons nie beskore nie.

Almal wil kom jammer sê, hulp aanbied, koffie drink, hulle eie tragiese verhale vertel en blomme of kos aflewer. Die hele huis ruik soos ’n kweekhuis. Blomme en plante staan op elke beskikbare plat oppervlak, soms twee-twee potte en bakke.

Ek moet met die bloemis ooreenkom hoe die blomme by die saal moet lyk. Seuna was ’n natuurkind, ’n buitelewe mens. Ons besluit op een koningsprotea, omring met fynbos en een gekrulde tak in ’n ruwe kleikruik. Dáárby sal ons sy visstok en katrol rangskik.

Ek steek viervoet vas by my besluit dat ek nié die groot geraamde doodse foto wil hê, wat by meeste begrafnisse uitgestal word nie. Dis genoeg om foto’s oor ’n skerm te laat rol, wat oor die bestek van sy lewe geneem was. Sy vriende stuur ook pragtige foto’s.

My een suster en broerskind kom aan om my te ondersteun. Saam met my te huil, te lag, te wonder en my selfs vir kort rukkies normaal te laat voel.

Ek wil niks laat ophoop nie en beantwoord elke boodskap en epos. Anders sal dit later ’n onbegonne taak wees en ek wíl my waardering uitspreek. Ek wil hê elkeen moet dit hoor.

Die aand voor die diens.
Die werklikheid slaan my voor die kop soos ’n tien-pond-hamer. Die grootsheid van hierdie taak, wat ons beplan om self te doen.
‘Hoe gaan jy dit regkry,’ vra ek aan die vrou in die spieël.
Sy antwoord: ‘dis nou te laat om ander planne te maak. Jy sal net móét!’

Ons wag agter ’n toe deur, tot op die kop tweeuur en die meeste mense al sit. Genadiglik is dit ’n koel dag en met al die vensters wyd oop is daar genoeg suurstof vir almal. Die saaltjie is stampvol. Oor die luidspreker speel Heuwels Fantasties en ook Frank se ‘My Way’.

Bokka stap tot agter die podium, kyk teen die agtermuur vas en trek ’n diep asemteug. Ek hoor nie eintlik wat hy sê nie, maar sien hoe hy met sy regtervuis teen sy hart kap. Bok en Steve sing: ‘Hoe sê ’n pa vir sy seun.’

Nou is dit my beurt. Gelukkig het ek sommer drie spuite Rescue Remedy in my keel gespuit. Ek is kalm. Terwyl ek praat, sien ek hoe mense om die beurt ’n traan wegvee en dan hardop lag. Ek vertel dat ek nie vir God of vir Seuna kwaad is nie. Dat ek hom eintlik beny oor waar hy nou is. Ek verduidelik dat ek nie maar net hoop hy is daar nie en dat elke mens nie outomaties in die hemel beland nie.

Ek verduidelik dat daar ’n dag was, toe hy maar in standerd sewe was, dat hy sy hart vir die Here gegee het. Ek weet dit, want dit was tydens ons gesin se Bybelstudie dat hy gevra het: ‘Ma, hoe moet ek maak om in die hemel te kom?’ Ons het saam ’n gebed van oorgawe gebid.
En toe vra ek die vraag: ‘Het jy al gekies? Nog nie? Waarvoor wag jy?’

Daarna het Lollapot vertel van haar boeta en sy streke en geite. Ek het al die staaltjies en herinneringe voorgelees.
Nogmaals het ons gelag.
Gedink.
Gehuil.
Afskeid geneem van ons Seuna-kind.




  • TEMAS
    3 Kommentaar
    1. Viooltjie

      Junie 27, 2017

      Ai, Kiekies, dit bly maar so ‘n seer verhaal, maar julle hanteer dit na die beste van julle vermoë. Die hartseer storie het jy so oorgedra dat mens weet alles is nie hopeloos nie, daars lewe na die dood. 🙂

    2. profiel foto van Kiekies

      Kiekies

      Junie 28, 2017

      Baie dankie Viooltjie dat jy kom lees het. Om daaroor te skryf, is absoluut net terapie en onthou.

    3. profiel foto van neels

      neels

      Junie 29, 2017

      Dit is altyd hartseer Lynette maar God Almagtig pluk nou sy mooiste blomme vir die hemelse tuin en in daardie wete vind ons berusting

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Kiekies

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 25
    Kommentaar telling: 393

    Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 84 gaste aanlyn

    Bydrae Totale