Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Afgetree

Deur HelenaMellet
Datum gepubliseer: 30 April 2017 Aantal woorde: 1750 80 Kere gelees 3

“Ek vryf net oor my neus en dan dink hy daar is iets in sy neus. Dan hardloop hy badkamer toe soos ‘n aflosatleet om in die spieël te gaan kyk”. Herman lag so hard dat hy amper van sy stoel af val. “Dis gemeen!” sê Marie ontsteld. “Wel, dit werk baie goed as jy ‘n vervelige gesprek wil beëindig. En dit werk baie goed op my kollega.” sê Herman en lag uit sy maag. Marie trek haar neus op ‘n plooi en sug moedeloos. Vir die afgelope halfuur probeer sy ‘n sinvolle gesprek met haar man hê, maar soos sy geaardheid is as dit by ernstige goed kom, maak hy heeltyd grappe van als. “So, wat wil jy met my bespreek?” vra sy vir Herman. Dit is min dat Marie in die middel van die week ‘n middagete saam met haar man kan geniet. Hulle al twee werk voltyds. Hy is ‘n polisieman en sy ‘n laerskool onderwyseres. Herman het haar gevra of hulle vanmiddag kan ontmoet vir ete, hy het iets om met haar te bespreek. “My ma tree af. Sy het geskimp vir ‘n aftree partytjie.” sê Herman met ‘n mond vol kos. “Maar sy werk dan skaars drie jaar by daai plek!” sê Marie verbaas. “Sy is darem al in haar sestigs.” verdedig Herman. Marie rol haar oë. Soos wat sy dit in die afgelope vyf jaar van haar getroude lewe al baie gerol het wanneer haar man sy ma se kant vat. Marie weet hierdie taak van ‘n aftree partytjie sal weer op haar skouers kom rus. Dina Fraser het net een kind, Herman. Haar liefling seun wat sy nog nooit van haar rokspante kon losmaak nie. Herman, haar steunpilaar, haar handyman, haar chauffeur, haar blue eyed boy. En toe hy die dag trou, val Dina se wêreld inmekaar. Pleks dat sy jubel oor die nuwe dogter wat sy ryker word, beskou sy Marie as die vyand wat haar seun onder haar neus kom wegraap het. Marie noem haar skoonma Die Ysberg. Sy is koud en ongenaakbaar en gooi uitdagings op Marie se pad wat Everest na ‘n molshopie laat lyk. As sy wat Marie is, ‘n moeilike mens was, kon sy dit nog verstaan, maar sy het haar skoonma nog nooit enige rede gee om nasty met haar te wees nie. Sy is die stil vaal muis in die hoekie wat te bang is om ‘n geluid te maak. Herman is soos ‘n kat op ‘n warm dak. Trippel rondom sy ma tevrede te hou en Marie moet maar net verbykom en help om die glimlag op Dina se nors gesig te sit.

Wanneer moet hierdie partytjie gebeur?” vra Marie. “Nou Vrydag.” antwoord Herman. “Kyk of jy van haar ou kollegas kan nooi. Ons hou dit sommer by ons huis.” Marie gluur hom aan? “En hoekom kan haar partytjie nie by haar eie huis gehou word nie?” vra sy. “My skat, jy verwag tog seker nie dat my moeder op haar ouderdom na die tyd met ‘n hoop skoonmaak werk moet sit nie?” antwoord Herman kalm en vat nog ‘n hap van sy kos. “En dit moet ‘n verassing wees.” voeg hy by. “Hoe kan ‘n partytjie waarvoor sy geskimp het ‘n verassing wees?” vra Marie sarkasties. “Ag jy weet mos hoe Mamma se kop werk, my skat. Kyk maar wat jy gereël kan kry. Ek sal sorg dat sy Vrydagaand sesuur by ons huis is.” antwoord Herman. Marie verloor haar eetlus op die plek. Sy laat sit haar onaangeraakte kos in ’n takeaway bakkie en ry Biblioteek toe waar haar skoonma die afgelope drie jaar aan diens was.
Vandag is Woensdag en sy sal moet spring as sy als gedoen wil kry. Dis nie asof sy die wêreld se tyd het om verrassingspartytjies vir ondankbare skoonma’s te reël nie.

In die parkeerterrein skraap Marie moed by mekaar. Sy is baie lief vir lees, maar het drie jaar laas ‘n boek uitgeneem. Vandat ou Dina hier begin werk het, vermy sy die Biblioteek soos die pes. Sy klim uit haar motor met ‘n swaar hart en loop die Biblioteek binne. Sy sien dadelik vir Sara en Berta, die twee vrouens saam met Dina werk. Sy loer ‘n paar keer deur die gebou, maar sien nie haar skoonma nie. ‘n Briesie van verligting waai oor haar. Marie stap na die twee vrouens agter die toonbank. Sy sal hulle vertel van die partytjie en nooi om oor te kom. Meer inligting kan sy hulle nie gee nie, want sy weet nog self nie wat om te doen vir die partytjie nie.

Die aand sit en wag sy op hete kole vir Herman om by die voordeur in te stap. Sy brand om hom die nuus mee te deel. “Jy sal nooit raai wat ek vandag gehoor het nie.” sê sy toe Herman instap en sy werksbaadjie ophang. “En jy beter sit want dit is erg, baie erg!” Herman val neer op die stoel oorkant haar en gaap lui. “Wat het jy gehoor, my vrou?” vra hy. “Jou ma tree nie af nie, sy is gefire!” roep Marie uit en klap haar hande saam van lekkerkry. “Waar kom jy daar aan?” vra Herman geskok. “Sara en Berta het my vertel. Ek was vandag by jou ma se werk om hulle te nooi. Hulle sê sy het al so baie waarskuwings gehad, dit kon nie anders nie.” vertel Marie. “Waarskuwings vir wat?” wil Herman weet. “Sy is glo baie onbeskof met kliënte.” antwoord Marie. “En die twee tannies sê dankie, maar nee dankie. Hulle gaan beslis nie haar partytjie bywoon nie, want sy het hulle lewe hel gemaak.” Herman skud sy kop ongelowig. “Dit kan nie wees nie.” sê hy. “Ag komaan Herman, dis jou ma! Wat het jy verwag?” sê Marie. “Ek neem aan ons kan die hele lawwe partytjie idee nou maar los, of hoe?” Herman skud sy kop beslis. “Wil jy hê my ma moet weer vir twee weke nie met ons praat nie? Reël die partytjie en klaar. Moet net niks sê van die afdanking nie.” sê Herman. Marie se bloed begin borrel. “Hoe moet ek vir jou ma ‘n aftree partytjie reël as ons weet sy is eintlik gefire? En wie de donner gaan ons nooi vir die ding as haar eie kolegas nie eers wil kom nie?” vra Marie en krimp dadelik ineen vir die kragwoord wat sy gebruik het. Herman trek net sy skouers op. “Jy sal aan iets dink, my liefie. Jy was nog altyd ‘n boffin met sulke goed.”

Marie voel lus en skop hom op sy skeen. Mans! Dis so maklik vir hom om opdragte uit te deel. Ou Dina gaan fout vind en sy wat Marie is, gaan weer deurloop sonder haar man se ondersteuning. Marie byt op haar tande en reël wat sy kan vir die skoonmoeder se aftree partytjie. Vrydagaand breek aan en toe Herman met sy ma by die deur instap, hang die sitkamer vol ballonne. Marie kon haar ma en ongetroude suster oortuig om die geleentheid by te woon. Ou Dina se gesig is dadelik vol verwyte toe sy die gaste sien. Marie ignoreer dit.
“Surprise!” skree almal toe die skoonma by die deur inloop. Dina se gesig bly soos ‘n hoop ongestrykte lakens. Hulle drink vonkelwyn, eet die peuselhappies en gesels oor simpel ditjies en datjies. “Dit is die verveligste partytjie ooit!” haak Dina af voor hulle aansit vir die hoofgereg. Marie laat sak haar kop. Herman se oë dans rond in sy kop. Niemand weet wat om te antwoord nie. “Mens sou dink, daar word darem bietjie meer moeite gedoen met ‘n afgetrede.” se Dina en trek haar neus op ‘n plooi. “Dis nie ‘n party nie, hier is dan nie eens mense nie!” gaan sy voort. Marie voel hoe die wag voor haar mond wegglip. “As Ma vir Sara en Berta beter behandel het, sou hulle dalk ook hier gewees het.” kap Marie. Dina vernou haar oë . “Wat sê jy daar meisietjie?” Marie sluk hard. Dadelik spyt oor wat by haar mond uitgekom het, maar haar lippe wil nie toebly nie, die wag voor haar mond het heeltemal pad gevat. “En by the way, jy tree nie af nie, jy’s gefire!” Marie se oë rek groot toe sy die woorde uiter. Net so groot soos haar skoonma s’n. Almal in die vertrek kyk na Marie en toe na Dina en dan weer na Marie. Die stilte hang soos ‘n nat kombers oor die vertrek. Dina se skrefies oë pen vir Marie vas. Marie sluk en sluk en nie Herman of enige iemand anders sê iets wat die situasie kan red nie. Marie lig haar arm stadig op en vryf heen en weer oor haar neus terwyl sy haar skoonma stip terug in die oë kyk. Dit neem ‘n paar sekondes voor Dina reageer. Marie vryf haar neus tot dit begin brand en toe sien sy Dina se hand ook opskiet na haar eie neus toe. Die twee se oë bly opmekaar. Marie se oë kyk na Dina se neus en dan weer na Dina se oë. Marie vryf weer oor haar eie neus. Dina spring op en verdwyn in die gang af na die badkamer toe.

Later die aand, loop Marie deur onder Herman se tong. “Wat het jou besiel? Ek het so mooi gevra dat jy niks voor niemand sê oor my ma se afdanking nie. “Jammer, Herman. Dit het net uitgeglip.” maak Marie verskoning, maar sy weet dit gaan niks help nie. Dina het vir Herman gevra hom haar huis toe te vat nog voor die hoofgereg bedien was. Marie, haar suster en ma het die res van die “aftree-partytjie” op hul eie geniet. “My ma gaan nou weer vir ‘n week nie met ons praat nie” se Herman. Marie bly stil, kyk hom nie in die oë nie. Sy hou haar swak en kalm soos ‘n vaal muis voor Herman wat op die warm sinkdak ronddans vir sy ma. “En van al die stress en ontsteltenis het sy nou sinusontsteking.” se Herman. “Hoe so? Sy het vir blakend gesond gelyk vanaand.” sê Marie.” Herman vou sy arms moerig voor sy bors. “Ek weet nie waar sy dit opgetel het nie, maar toe ek haar terugneem huis toe, het sy heeltyd aan haar neus gevat en gekla dat die ding haar pla.” sê Herman. Binne-in Marie juig dit. Sy het die Ysberg gewen. Vir nou.




  • TEMAS
    1 Kommentaar
    1. profiel foto van Anze

      Anze

      Mei 1, 2017

      Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April ope afdeling projek 

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van HelenaMellet

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 105
    Kommentaar telling: 75

    Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 282 gaste aanlyn